Lesersbrief: ’n Engel op ons skool se dak

Rosa Duvenhage skryf:

Rosa Duvenhage.

Dis ’n ysige Maandagoggend in Grootbrakrivier. Ek stop op my gewone plek, maar vanoggend voel niks gewoon nie. Terwyl ek uit die motor klim, voel ek hoe die skoenlappers in my maag bollemakiesie slaan.

Ek stop vir ’n oomblik onder die amandelboompie voor my klas soos ek elke oggend doen voor ek die dag aandurf. Die boompie is oortrek met sagte pienk bloeisels en ’n soetigheid hang in die lug. Die horison is in skakerings van oranje gebaai wat soos rokerige spookasems op die rivier lyk. Die see is vanoggend nog onder ’n miskombers weggesteek en iewers roep ’n seemeeu.

Dis vandag die eerste keer in 18 maande wat ons ’n normale skooldag gaan hê. Met “normaal” bedoel ek vol klasse, een rooster en twee pouses vir die hele skool. Die laaste 18 maande was soos om die Comrades met ’n klippie in jou skoen te hardloop. Nes jy dink jy het nou uiteindelik die derduiwel uitgesorteer, dan duik hy weer op in die vorm van ’n nuwe rooster, klas, protokol of gier wat nog seerder as die vorige een maak.

Vanoggend se skoenlappers in my maag gaan oor baie meer as net die klippies van die laaste 18 maande. Dit gaan oor die 33 paar ogies wat vanoggend soos sardiens in ’n visblik, ’n meter uitmekaar voor my gaan sit.

Sal ek hulle veilig kan hou? Sal ek die wysheid hê om elkeen van hulle emosioneel by te staan ná die trauma van ’n oupa se dood, ’n pappa se werksverlies, ’n mamma op ’n ventilator? Sal ek uit my maag kan lag, grappies kan maak en die balans kan kry tussen genoeg werk en genoeg speel om die skool ’n lekker en veilige plek te maak? Sal ek hulle kan verseker dat hulle teen die einde van die jaar slim genoeg sal wees om die volgende graad aan te pak?

Terwyl ek nog deur my berg onsekerhede delf, groet Carel hard en luidrugtig oor die parkeerarea. Soos ek teruggroet kruip daar ’n glimlag om my mondhoeke en ’n hemelse vrede kom maak nes waar die skoenlappers nou net nog was.

Sien, Carel was ’n paar jaar terug ’n graad 4’tjie in my klas wie se hand altyd eerste in die lug was as ek gevra het wie wil bid. Carel is egter nie ’n man van baie woorde nie, en meeste van die kere het sy gebed uit net een sin bestaan. Hy het gebid vir ’n engel op die skool se dak.

Vir die soveelste keer in my onderwysloopbaan besef ek dat ek net so baie die student as die leermeester is. Ek sluit my motor se deur en terwyl ek by die skoolgebou instap, bid ek vanoggend met ’n rustige hart en Carel se geloof vir ’n engel op ons skool se dak.

  • Rosa Duvenhage woon saam met haar gesin in die skilderagtige dorpie Groot-Brakrivier. Duvenhage is ‘n onderwyser by Laerskool Vorentoe en ‘n ma van twee. 

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Patch

Pragtig geskryf. Ek bid ook vir ‘n engel op jul skool se dak, op my huis se dak, my ouers se dak, my sussies se dak, my skoonouers se dak en skoonsussies se dak en so ook al my vriende se dakke.

Swerwer

Pragtige diep Vrou/Ma/Onderwyseres wat die belange van ander op haar hart dra, wat nog omgee. Jy is beslis ‘n Engel.

Rassie

Die eenvoud van ‘n kind se gebed maak ons grootmense soms klein mensies

Boerkind

Pragtig!