Lesersbrief: Sou God verpligte inentings afdwing?

Joseph Oosthuizen, predikant by die Gereformeerde Kerk Bet-El, skryf:

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Thomas Lohnes / AFP)

Omtrent ʼn jaar terug was die algemene gevoel by mense dat niemand forseer mag word om ʼn entstof te kry nie. Miskien was die rede dat mense nie hulle vryheid van eie gesondheidkeuses wou verloor nie, met ander woorde, mense het aangevoel dat regerings (en mense) nie beheer oor ander persone se liggame (en gesondheidskeuses) mag uitoefen nie.

Wat ook al die rede vir teenkanting teen geforseerde inentings was, lyk dit tog of die gety nou gedraai het. Die algemene gevoel is nou (kom dit voor) dat mense gedwing mag word om ʼn entstof te kry en dat Covid-paspoorte wel ʼn aanvaarbare praktyk kan wees. Wat is die rede vir hierdie verandering? Mense wil blykbaar weer hulle vryheid van beweging (onder andere om te kan toer) en hulle vryheid van keuse (onder andere om nie ʼn masker te dra nie) terugkry. Dit gaan dus nie meer oor ander mense se eie gesondheidskeuses nie.

Hoekom het daar van ʼn jaar gelede tot vandag toe ʼn meningsverskuiwing oor gedwonge inentings en Covid-paspoorte plaasgevind? Hoekom word woorde soos “dis die regte ding om te doen” en “jy moet ook joune kry” gebruik? Die groot rede is dat mense nie werklik in die Godgegewe reg van elke individu om self oor sy eie liggaam te besluit, geglo het nie, en so “heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Efesiërs 4:14).

Die agtste gebod (jy mag nie steel nie) veronderstel dat mense privaatbesit kan hê, en dit sluit hulle eie liggame in. Elke persoon besit sy liggaam en moet oor sy eie liggaam ʼn besluit kan neem, onder andere of hy ʼn inenting (of selfs bloeddrukpille) wil kry of nie wil kry nie. Natuurlik moet sulke keuses in geloof (Romeine 14:23) en in verantwoording teenoor die Here gedoen word (1 Korintiërs 6:19).

Die volgende slagspreuk word maklik uitgeroep as dit by die regverdiging van aborsies kom: “My liggaam, my keuse”. Wanneer iemand egter werklik net oor sy eie besitting, sy liggaam, ʼn besluit wil neem, dan geld hierdie slagspreuk skielik nie meer nie. Dan verander die slagspreuk na “Jou liggaam, nie jou keuse nie”.

Terloops, die slagspreuk “My liggaam, my keuse” kan nie gebruik word om aborsies (kindermoord) te regverdig nie, omdat die baba nie die vrou se liggaam (en dus besitting) is nie. Die ouer is wel vir die kind verantwoordelik (Efesiërs 6:4).

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek weet nie of mens rerig ‘n geloofs-argument hieroor kan maak nie. As God vir my beveel om ‘n inspuiting te vat, dan vat ek hom met ‘n blye hart want Hy sal my nie skade aandoen nie. Maar anders as wat Pfizer se president van homself dink, is hy nie God nie so ek vertrou hom nie onvoorwaardelik nie.

Daar is twee dinge wat my baie huiwerig maak: 1. omdat ek forseer word op ‘n subtiele manier (dis jou “eie” keuse, maar jy mag nie werk of rondbeweeg sonder jou prikkie nie), en 2. dit ooglopend nie oor COVID gaan nie, maar wel oor drakoniese beheer oor my en my familie se lewe.

casper ·

Koop pofkoring – Hier kom ‘n baie interessante vliek aan !!!

Pieter9 ·

Hierdie is ‘n saak tussen jou en due Here. Paulus het gese dat ons nie goed moet dien wat vir ander mense dit moeilik sal maak om God te volg nie. Hy het ook gese dat ons alles uit Geloof moet doen. Ek het my laat inent…en het geen konflik daaroor nue want die Heilige Gees het my vrede oor die besluit gegee. Dwing niemand nie – maak die saak met jouself uit.

Erik ·

Hierdie argumente is nie so eenvoudig nie en om die Skrif te gebruik om ‘n argument te staaf, is maar nog altyd debateerbaar.

Ek as Christen, verstaan nie baie van my mede Christene se argumente as dit kom by die inenting nie. Baie van die anti-vaxxers gee vir hul kinders antibiotika wanneer hul siek raak, gaan elke jaar vir hul booster griepinspuiting, sit hul veigheidsgordels aan as hul in hul motor klim, maar glo dat God hul teen hierdie virus sal beskerm?

My argument is dat God ons wel teen hierdie virus beskerm met behulp van medikasie, en in hierdie geval die inenting. Ek ken persoonlik 2 mense wat in verskillende Covid ICU’s werk en dis eenvoudig, die inentings werk, uit die perd se bek. Die newe gevolge van Covid is dikwels soveel erger, indien jy dit oorleef, as die MOONTLIKE newe effekte van die inentting.

Ek dink wel dat verpligte inenting miskien nie reg is nie, alhoewel ek nie kan sien hoe hierdie virus gewen gaan word sonder dit nie.

Mercia ·

Dit is ongelooflik hartseer dat ons hierdie moet beleef in ons leeftyd……dat jy in der waarheid gestroop probeer word van ‘n Godgegewe konsep: vrye keuse.
Sou hierdie “plan” van dwang in enige mate suksesvol wees, gaan daar nog baie trane gestort word op die pad vorentoe………wanneer mense stadig maar seker gestroop sal word van die volgende…..en volgende…..en volgende regte wat neergelê sal word totdat daar nie eers meer ‘n skynsel van unieke menswees oor sal wees nie.
What some doesn’t want to surrender willingly , they will try to take by force and violence. So what you decide to surrender willingly, remember that they will never stop asking you to surrender more even if you claim you have nothing left…….They will shake you and draw from you every last drop.

Francois ·

Jy noem van ń “Godgegewe konsep: vrye keuse”. Kan jy enige voorbeelde noem waar God ń vrye keuse voorhou sonder ń negatiewe gevolg gekoppel aan die vrye keuse? Self Jesus het in Markus 16:16 gesê: “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.” (Afr 1983). So net soos met die “Godgegewe konsep: vrye keuse” het almal steeds die vryekeuse of hulle geënt wil word of nie, maar die vrykeuse is nie sonder negatiewe gevolge nie soos wat Jesus aangedui het.

So is daar vele voorbeelde van keuse was gemaak moet word wat almal beide ń positiewe en negatiewe gevolg het bv. Joh 3:18, Luk 6:36, ens.

Mens kan dus nie ń “Godgegewe konsep: vrye keuse” wil voorhou sonder om ook die negatiewe gevolge te wil aanvaar nie.

Francois ·

As God vir ons ń gesonde immuunstelsel gee hoe verduidelik ons die duisende Christene wat ernstig siek geword en self gesterf het?

Dirk Mostert ·

Die entpaspoort in jou selfoon is myns insiens die merk van Die Dier (Openbaring) in of op jou hand waarsonder jou reg om onder andere besigheid te doen weggeneem word. Verpligte enting is ook teenstrydig met ons grondwet. Daarby is mediese eksperimentering op mense strydig met die Nurnberg-Protokol.

Pieter ·

God het gepraat. Laat jou inent. Klaar. Dis die kaartjie na die hemel. Die NGK sê ook so.

gatgogga ·

Hoe weet ons dat God nie die aarde wil red van oorbevolking nie? Hoe weet ons dat God nie Covid gestuur het nie? God is tog per slot van sake in beheer van alles.

Indielig ·

Ek dink hy speel vir tyd . Dit gaan nie regtig oorCovid nie , Covid is vir die Wereld Ekonomiése Forum ‘n geleentheid om hulle WEF agenda van ‘n NWO te bevorder. Prof Schwab het dit in die publiek gese : ‘n geleentheid wat nie gemis moet word nie.

madels ·

Wat is die verskil tussen n man wat homself op n vrou afdwing of n vrou haar op n man afdwing en die regering wat die vaccine op ons afdwing? Ek voel niemand het n reg om enigiets op na ander af te dwing nie. Ek noem hierdie vaccine verkragting!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.