Lesersbrief: Teater in die goeie ou dae

Ignis Jacobson van Pretoria skryf:

Galerysitplekke in die teater (Foto: Verskaf)

As kind was my oupa Peet du Plooy die koster van die Kruger Gereformeerde Kerk, in Kerkstraat regoor die Kruger Huis-museum. Hulle het in die ou pastorie reg langs die kerk gewoon.

Wanneer ons vakansies daar gekuier het, het ons gereeld die pragtige Capitol-teater besoek. Onder andere ook ʼn konsert van Gé Korsten in 1968 en die eerste oorspronklike Batman and Robin-fliek.

Daar was pragtige sterretjies wat uit die dak geskyn het. Ek onthou ook die mooi dekor en standbeelde. Onlangs het ek besluit om die teater te probeer besoek en het eers met my tweede probeerslag die ingang gevind.

Die vriendelike sekuriteitswagte by die deur het my vinnig toegelaat om in te gaan. Twee (van die vyf!) wagte het hulle sommer self aangestel as toergidse vir die teater – Amos en Johannes.

Ek en my twee toergidse (Foto: Verskaf)

Die ou teater is ʼn pragtige en indrukwekkende struktuur wat in 1931 voltooi is. Dit is ontwerp deur die argitekte Gordon Leith en William G McIntosh in ʼn Art Deco-styl, wat destyds baie gewild was.

Die gebou self is ʼn meesterstuk van argitektuur, met opvallende mure wat versier is met ornamente en beeldhouwerk. Die hoofingang word gekenmerk deur ʼn groot en indrukwekkende deur wat toegang gee tot die ruim en elegante foyer-gebied.

Die teater het ʼn kapasiteit van sowat 1 500 sitplekke, wat dit een van die grootste teaters in die omgewing maak. Waar die sitplekke was, is nou ʼn parkeergarage.

Parkering waar die stoele was met die verhoog aan die linkerkant (Foto: Verskaf)

Die ou Capitol-teater was een van die belangrikste teaters in Pretoria. ʼn Verskeidenheid vermaak is hier aangebied en dit was ʼn fees om die teater by te woon. In daardie dae was die middestad nog veilig en toeganklik vir almal.

In die loop van sy bestaan het die teater verskeie veranderinge ondergaan. Dit is gebruik vir filmteater, musiekuitvoerings en selfs vir ʼn winkelkompleks. Die Capitol was altyd deel van die ryk geskiedenis van Pretoria en het ʼn belangrike deel van die kultuur en identiteit van Pretoria geword.

Die indrukwekkende foyer met die hoofingang reg voor (Foto: Verskaf)

Ongelukkig, met die koms van filmteaters in winkelsentrums in die laat 1970’s, is die Capitol-teater op 26 Oktober 1974 vir die publiek gesluit. Wat van dié historiese gebou oorgebly het, is ʼn paar jaar gelede deur Pretoria se stadsraad in ʼn parkeergarage omskep. Dit is nou net ʼn herinnering van die gloriedae van die bioskoop in atmosferiese styl.

Dit is jammer dat so ʼn gebou verlore gaan vir ons nageslag. Dit was werklik een van die mooiste teatergeboue en watter wonderlike ervaring was dit vir my!

Ingang na die teater (Foto: Verskaf)

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.