ʼn Koppie geluk vir Vadersdag

annelize-jansen-van-rensburg

Annelize Jansen van Rensburg. Foto: Verskaf.

Annelize Jansen van Rensburg van Auckland, Nieu-Seeland, skryf:

Sou ’n held ’n koppie as vervoermiddel nodig kry om ’n belangrike heldedaad te verrig, wie is ons om te stry? ’n Held moet doen wat ’n held moet doen. En as die situasie vra vir ’n koppie, laat dit dan ’n koppie wees.

By ’n pretpark staan en wag ek en ander ouers met ons kinders in ’n ry by een van die ritte. Die kinders is hiperaktief as gevolg van te veel suiker en adrenalien en dus totaal onbeheerbaar. Ons moes noodgedwonge tydelike dissipline-amnestie verleen. Weens die tegnologie-evolusie in ons DNS is dit deesdae deel van die mens se natuur om gedurig na een of ander klein skerm te staar. Spoedig het die meeste ouers die selfoonstarende posisie ingeneem. Ons is so verruk deur ’n gestileerde, virtuele wêreld, dat goue oomblikke in die regte lewe ons dikwels verbygaan.

So ’n goue oomblik was besig om te ontvou by die rit langs ons, die koppies-en-pierings-ryding. ’n Pa het saam met sy seuntjie op die platform van die rit gestap, soos wat ouers dikwels doen om die kinders te help. Hierdie was egter nie jou gewone man op straat nie. Moeder Natuur het aan hom ’n groot postuur gegee, wat hy oordadig aangevul het met spiere en ekstra massa. En iewers is daar ’n tatoeëerkunstenaar wat al ’n goeie sommetjie geld uit hierdie man gemaak het. ’n Kombinasie van drie verskillende haarstyle het op sy kop gepryk – en nie een was juis voorbladmateriaal nie. Sy kleredrag kon die gemiddelde mens die indruk gee dat hy dalk pas van ’n bendevergadering kom. Die somtotaal van sy voorkoms het daarop gedui dat hy die tipe man is wat eers klap en dan praat. Die tingerige seuntjie, ongeveer 5 jaar oud, was ’n vrolike konsternasie van huppelende bene, arms wat beduie en ’n mond wat teen dubbelspoed praat en lag. Sy gesiggie was geverf soos Spiderman s’n.

pa-vadersdag-pa-en-kind

Foto: Josh Willink/Pexels.com

Die kind het in een van die koppies gewip en afwagtend na sy pa gekyk. Die pa het nie omgedraai en geloop soos die ander ouers nie, maar ongemaklik rondgestaan; duidelik geïnteresseerd in die koppie. Nee, dit kon nie wees nie, kon dit? Inderdaad. Hierdie pa se lot was vooraf bestem: hy moes die koppies-en-pierings saam met klein Spiderman ry.

Hy het die koppie eers van die een kant bekyk, dan van die ander kant, sekerlik om ’n paar logistieke berekeninge te maak. Nie dat daar ’n wye verskeidenheid van moontlikhede is om aan boord van ’n koppie te gaan nie. Dit was duidelik dat ’n paar kritiese puntjies rakende die wette van die wetenskap en natuur uitgedaag gaan word; swaartekrag, spasie en balans. En dan praat ons nie van die arme man se waardigheid nie.

Ek het vir ’n paar oomblikke weggekyk om aandag aan my kind te gee. Toe ek terugkyk, was die pa in die koppie. Om te sê dat hy in die koppie gesit het, sou nie die volle waarheid wees nie. Eerder, hy het die koppie beset. Hy het met moeite gewikkel om meer gemaklik te probeer sit, maar spoedig opgegee. Hy wou dalk voorgee dat alles piekfyn was, aangesien daar mense was wat na hulle gestaar het. Sy verleentheid was inkrimp-pynlik om te aanskou. Klein Spiderman was natuurlik onbewus van sy pa se benarde situasie. Opgewondenheid was in volle blom op sy gesiggie. Hy het net een mens raakgesien: sy pa. Een kyk na daai gesiggie en die pa se gesig het merkbaar sag geword. Pa en seun was in gelyke maat betower, die een deur die ander. Die liefde, inderdaad, verdra alles, bedek alles.

Die twee was ’n koddige gesig in daai koppies-en-pierings-pretrit: die groot,  ruwe weergawe van ’n man – die enigste volwasse passasier- en die tingerige kind. Mense wat verbygestap het, het twee keer gekyk, maar die pa se breë glimlag het gewys dat hy nie meer omgegee het nie. As waarmaker van sy kind se wens, was hy nou meester van die situasie. Beide van hulle se beker, of dan koppie, het oorgeloop.

As gevolg van gewigsverspreidingsprobleme het hul koppie nie so gereeld gedraai soos wat dit moes nie. Die pa het elke nou en dan die koppie langsaan se rand vasgevat om hulle weg te stamp sodat hul koppie momentum kon kry om te draai. Met elke draai het Spiderman opnuut gekraai van plesier – wat pa aangespoor het om dit weer te doen. Hulle het hope pret gehad. ’n Goue herinnering is gebore, nie net vir hulle nie, maar vir elkeen van ons wat dit gesien het.

Wat ’n man, wat ’n held, wat ’n pa.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Hasie ·

Wat ‘n pragtige storie Annelize. Ook die beskrywing van hoe hier oulike pa lyk, 10 uit 10 vir dit en jou storie.
Wens so dat baie pa’s hierdie kon lees.

John ·

…. watter spul arrogansie… As dit die soort mense is wat SA verlaat het, skryf in Engels. Afrikaners hier haak nie so uit in die verhewe meerwaardigheidsrat nie. Watter soort pille moet die kinders in daardie land soggens voor ontbyt drink? Skryf ‘n Engelse boek en stuur een vir jou queen.

Linda ·

So pragtig beskrywe dat dit gevoel het asof ek daar was en dit self waargeneem het. S Aners, wat vir redes van hulle eie verhuis het, hou hoog julle eie kultuur dan kan die kleingoed maar in ‘n ander taal onderrig ontvang – hier sal hulle steeds tuis wees, want ons word ook maar verplig om ons kinders [lees kleinkinders] in ‘n ander taal onderrig te laat ontvang.

Cornelia ·

Annelize, jy het die gawe om ‘n toneel en omstandighede met kostelike humor te vleg tot by die hoogtepunt van hoe groots die wedersydse liefde en geluk tussen ‘n pa en sy seuntjie sigbaar en tasbaar, ‘n ewige indruk maak op die wat dit in die verbygaan of wagstaan, met nadenke eer. Jy skryf ‘n storie met pikante waarneming en styl. Sal hierdie liefdes verhaal altyd onthou. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.