Annami Simon van Durbanville skryf:
“Neem haar na B17,” sê een van die susters nadat ’n aangename en bekwame Indiër-dokter sy voorlopige diagnose gemaak het.
Dis nog pikdonker buite. Ek lê en wonder hoe laat ons by Mediclinic Cape Gate aangekom het. Nie dat ons juis hoef te gewag het nie. My inligting was op die stelsel en ek is so te sê onmiddellik deur ’n swart verpleegster na ’n bed in ongevalle geneem. ’n Tweede het ’n drup ingesit en ’n derde wat haarself skertsend as die vampiersuster voorgestel het, het bloed getrek. Byna ongemerk is daar ’n EKG-masjien aan my gekoppel en direk daarna is ek vir X-strale na die radiologie-afdeling. In die middel van die nag. Vinnig. Tjop-tjop. Daar was nie eens tyd om my are plat te skrik voor hulle my bloed getrek het nie.
“Waantoe moetik uber?” singvra ’n vrolike bruin portier met ’n windmaker rastabolla en twee blink oorringe in die een oor.
“B1,” help ek hom.
“Nee, B17,” kom dit van die suster agter ons.
“Ag, moetie worry nie, mevrou. Mevrou het sieke ma net die ‘1’ gehoor.” Hy lag vir sy eie grappie. “Die pasiënte hie’ hoor ma ammal sleg. Sieke vannie pyn.”
Ek kan nie help om ook te lag nie en ontspan effens. En vir die eerste keer dink ek daaraan hoe ’n hospitaalbesoek waarskynlik sal verloop as ek my mediesefondsvoordele moet ruil vir die gevreesde en suikerbedekte Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).
Vir die volgende twee dae kry ek puik diens wat die nodige hulp en behandeling, gereelde doktersbesoeke, deeglike monitering, heerlike kos met “Word gou gesond”-kaartjies, ’n silwerskoon kamer, lugreëling en welwillendheid insluit.
’n Week later stap ek by ’n daghospitaal in vir ’n gastroskopie. Die opname, narkose en prosedure verloop seepglad. Die bekwame dokters en personeel ken hul storie en die eet- en drinkgoed agterna word deur ’n bedagsame personeellid na my gebring. En ek wonder vir die tweede keer wat my te wagte sal wees indien die sogenaamde NGV op ons almal afgedwing word.
Ja, my mediese fonds kos my heelwat. Maar vir daardie geld (wat my eie is en nie ander belastingbetalers s’n nie) kry ek puik mediese versorging deur deeglik opgeleide en ervare dokters, spesialiste en mediese personeel; moderne tegnologie en toerusting (in werking en in stand gehou); ’n skoon kamer, skoon (en beskikbare) bed en badkamergeriewe. En ek hoef nie te vrees dat my kos in ’n onhigiëniese kombuis (indien enige) voorberei sal word nie.
Terloops, nie een van die dag- of privaat hospitale wat ek of my familie die afgelope tien en meer jaar besoek het, se personeel is slegs wit nie. Inteendeel, die professionele gehaltediens word deur swart, bruin, wit en Indiërdokters en mediese personeel gelewer.
Gemoedsrus oor die welstand en mediese versorging van my en my dierbares is vir my ’n saak van lewe of dood. En ek wil en sal dit nié vir ’n ondeurdagte, ondoeltreffende staatsmonopolie – wat nie eens aan die minimum vereistes van gesondheidsorg voldoen nie – verruil nie.
Ware woorde!
Ek weet. Dit is obseen en heeltemal outrageous dat mense wat mediese fondse kan bekostig, in staatshospitaal gehalte omstandighede sal moet doodgaan. En mense, make nou mistake, ons gaan vrek soos vliee. Ook ons kinders en kleinkinders.
Katerinadiekat. ek kanselleer hierdie stelling in die naam van Jesus. Psalm 118:17 I shall not die, but I shall live, and recount the deeds of the LORD.