‘Bekommernis oor die toekoms van SA se weggooikinders’ – maatskaplike werker

vrou-bid-vrees-dink

Foto: Ben White/Unsplash.com

Mia Slabbert, ’n veldjoernalis van die vakbond Solidariteit, het hierdie brief saamgestel na sy verskeie onderhoude met maatskaplike werkers gevoer het. Die brief is uit die oogpunt van ‘n maatskaplike werker geskryf:

Gisteraand lê ek wakker in my bed. Nat gesweet. Vir iemand in my beroep – ʼn beroep waarin jy moet toesien dat die weggooi- en vergete kinders van Suid-Afrika ʼn vir-ewig-huis, permanensie kry – is dit nie werklik ongewoon nie. Maar, gisteraand se wakkerlê was anders – dit was diep, intens en baie werklik.

Kyk, ek werk al etlike dekades lank as ʼn maatskaplike werker. Ek en my kollegas soek ouers vir babas. Ouers wat presies vir ons land se klein lyfies kan gee wat hulle nodig het – of die lyfies met of sonder spesiale behoeftes is.

Ek onthou…

Twee jaar gelede het daar op ʼn hoek by ʼn verkeerslig in Pretoria ʼn jong vrou gestaan. Sy het ʼn pasgebore baba in haar arms vasgehou. Net sy en die baba in die koue, die naelstring waarskynlik nog vas. Ek onthou die desperaatheid in die ma se oë. Daar kan sekerlik oor haar storie, haar hartseer geskryf word, net soos oor só baie ander se stories. Maar op daardie oomblik was sy alleen – ʼn desperate vrou wat pas geboorte gegee het in die wete dat haar kind eenvoudig nie ʼn rol in haar storie kan speel nie. Hoe hartgrypend tragies.

Toe die verkeerslig na rooi verander, stop ʼn onbekende vrou. Haar aandag word getrek en sy maak haar venster oop vir die jong vrou met die baba in haar arms.

“Vat asseblief net hierdie baba, tannie. My pa gaan my vanaand doodmaak as ek met die baba by die huis aankom. Vat haar, vat haar asseblief net!” smeek die jong vrou. Sy gooi amper die baba deur die oop venster na die vrou en daarmee saam word ʼn wêreld se onverwagse verantwoordelikheid aan die dame oorgedra – ʼn kind, nie haar eie nie, se lewe, se toekoms, is eensklaps in haar hande.

Deur ʼn moeilike, dog suksesvolle, aannemingsproses waarin simpatie, sensitiwiteit, moeite, tyd en báie gebed met mekaar verweef was, het hierdie weggooikind – een van duisende in Suid-Afrika – ʼn liefdevolle ek-kies-jóú-huis gekry. Sy is vandag twee jaar oud en sy is geliefd en gelukkig.

Die proses van aanneming is vandag nodiger as ooit tevore in ons land. Wanneer babas in asblikke, op ashope of in puttoilette gevind word én die aaklige eerste paar uur van hul lewe wonderbaarlik oorleef het, lê dit in ons hande en ons harte om vir hul geluk te veg. Ons tel hulle op, neem die hande van (in baie gevalle) kinderlose pare, en ná deeglike oorweging en waarneming, gaan ons met groot verwagting hof toe. Ons hoofdoel is om hul “eerste-oogopslag-liefde” vir mekaar in die hof wettig te maak. Kulture verskil, aanslagte verskil, maar die einddoel bly dieselfde – ʼn nuwe toekoms vir ʼn weggooikind.

As jy die nuus in ons land volg, sal jy weet dat kinderverwaarlosing en kindermishandeling ʼn enorme realiteit is. Ek dink vandag nog aan ʼn nagmerrierealiteit van vier jaar gelede. ʼn Pasgebore babadogtertjie is in Pretoria in ʼn put gevind. Haar skedel was gekraak, haar ogie ernstig beskadig en daar was tekens van seksuele aanranding.

Sy was net ʼn klein lyfie, tien teen een neergegooi en gebruik, maar sy het gelewe. Ek onthou nog die wurms op haar lyfie. Sy moes nie oorleef nie, maar sy het. Sy het engele nodig gehad om haar saak op te neem, om haar as ʼn individu tussen duisende te sien en om haar in die hande van engele te sit – engele wat kom herinner het dat daar nog goedheid in die wêreld oor is en dat daar mense was wat haar wou liefhê en grootmaak.

Ek lê wakker, want die departement het onlangs wysigings aan die Kinderwet aangekondig. Dit maak dit onwettig om geld te vra vir die help om weggooilyfies in liefdeshuise te kry. Ek sou dit verniet doen as ek kon, maar ek moet my eie koste dek. As ek dit egter nie kry nie, sal ek my deure moet sluit. Ek is angsbevange en bevrees dat meer babas in puttoilette en op ashope gaan beland, dat die kleintjies in ons huise van veiligheid (wat reeds só vol is) nooit hul vir-ewig-families gaan ontmoet nie en dat ons as maatskaplike werkers se kardinale rol net tot niet sal gaan.

Wanneer die departement die alleenreg op die proses van aannemings in die land het, gaan ons nie brood op die tafel kan hou nie. Dit gaan die beroep laat bloei en daarmee saam gaan daar al hoe minder engelhande moet wees wat kinders in die regte aanneemhande sit.

Ek sidder. Ek voel jammer dat voornemende aanneemouers dalk nie meer ʼn opsie gaan hê oor wie hierdie sensitiewe en emosionele pad met hulle gaan stap nie. Wanneer ek deesdae hierdie nuus aan hulle oordra, is hul reaksies dieselfde – hul hande gaan na hul bors toe en gaan lê sag oor hul hart. Hulle snak na asem en hul hart huil. Die drome van ’n huis vol vreugde en kinders en lag lê versplinter.

Ons is baie onseker. Ons kliënte is onseker. Ons kinders is onseker. Ek lê wakker en ek hoop met alles in my dat hierdie wysigingswet nie tot gevolg sal hê dat al hoe meer ouerlose kinders die lewe alleen moet aanpak nie; dat ons nog ’n weggooikind se hand sal kan vat en saam met hulle ’n pad sal kan stap tot hulle vir-ewig-familie hulle kom haal.

My angs oorweldig my elke aand.

Here, help ons kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

IK ·

Ek is stom . . . Wat ek wel weet is dat die aandag van die regering nou is by die aankla vir moord van iemand wat uitvoering gegee het aan mense se wense wat smag om hierdie lewe te verruil vir die ewigheid, nl. genadedood.

Jerry ·

Die angs wat dreig om n maatskaplike werker te oorweldig behoort aangespreek te word deur ingryping van Afriforum/Solidariteit. Maak projek “staan saam vir die regte van weggooikinders” deel van die Helpende Hand projek!

Tanya Olivier ·

Ek ondersteun die Maatskaplike Werkers se oogpunt en stellings, maar ek stem glad nie saam oor die pleidooi nie. Ons land se Aanneemings proses is so belaglik, die hoeveelheid “red tape” waardeur mens moet gaan en dan is jou kans 0 in elkgeval. Hoe moet ons n verskil maak as die proses so onmoontlik is, die kinderwet is belaglik want kinders word eerder by kriminele en verslaafdes geplaas voor n huis met n goeie toekoms gekeur word. Ek en my man kan nie kinders he nie, maar na al die “red tape” en al die toetse en al die geld, is daar vir ons gese: “Jammer, ons diens nie julle area nie.” Dan is daar nie genoeg van n erns om “weggooi kinders” te help nie.

Amanda ·

Ek het ook al aansoek gedoen vir aanneming. Ek is wel nie getroud nie maar is volwasse, stabiel en verdien ‘n goeie salaris. Het toe al 22 jaar vir dieselfde maatskappy gewerk. My aansoek is nie eers oorweeg nie, aangesien ek enkel lopend is.

Aanneem mamma ·

Ek stem 100% saam met jou. Maar, wat as die departement die ENIGSTE plek is waardeer aannemings kan geskied? Het jy al die chaos in die departement beleef – dit is skrikwekkend. Met die hulp van maatskaplike werkers, waarvoor ons met ons aanneming moes betaal, was ons proses om in die hof te kom net ‘n bietjie makliker gemaak. Ek sidder as ek dink ek moet self departement toe gaan, die duisende vorms self kry, invul, weer teruggaan want daar kort dalk een of hul het weer die maand aan een verander. Ek sidder want ek weet hoe deurmekaar die departement nou al is, hoe ons leers al weggeraak het, hoe gereeld ons ‘n nuwe maatskaplike werker gekry het om ons saak te hanteer, dan begin alles van voor af want sy ken ons nie. Die departement het toe ons aangeneem het in 2018 nie eers EEN aannemingswerker in diens gehad nie! Maar hulle wil alle aannemings self hanteer – dit gaan nie werk nie.

Delarey ·

Die wet en die proses is duidelik kompleks en as leke verstaan ons dit nie.

Dit wat egter nou in die plek daarvan voorgestel word blyk egter duidelik ondeurdag en problematies te wees. En soos soveel keer in die verlede word die advies van kundiges en ervare mense ignoreer.

Here ek bid vir moed en vir ‘n deurbraak. En dat u ons sal bewaar in ons stryd vir die Lig. Tot eer van U Naam Vader.

Stephanie Gernandt ·

Ek sit hier en ween saam met jou. Ek voel jou pyn en angs en jou werk wat só jou erns is dat jy maklik depressie kan kry…
MAAR WAT DOEN SA se regering… Hoekom voed ouers hul kinders nie beter op nie….. Waar is voorbehoeding….
Ek het self ‘n aangenome seun grootgemaak. Hy was net ‘n week oud, gelukkig met goeie geskiedenis.
Dit kos egter geld, en dis nie kleingeld om ‘n kind groot te maak. Aanneming is ook NIE ‘n maklike opsie vir ander mense nie. En oor die kleurgrense aanneem nóg moeiliker, want nie alle mense is gemaklik daarmee nie. Maar my hart ween nou hier waar ek sit met die lees van jou ervaring as maatskaplike werker. Ek is ‘n grondslagfase juffrou en beleef ook intens maatskaplike probleme van sommige kinders in die laerskool. Dis altyd die kind wat daar onder ly.

STERKTE, STERKTE STERKTE met jou moeilike taak.
Die Lotto organisasie behoort nét geld uit te betaal aan instansies soos skole en maatskaplike dienste en ouetehuise.
Groete uit die Bosveld
Stephanie Gernandt

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.