Op dun plekke waar die sluier lig

D (Foto: Verskaf)

Deur Rosa Duvenhage

“Heaven and earth are only three feet apart, but in the thin places that distance is even smaller.” – Keltiese gesegde.

Ek verkyk my aan die digte miskombers terwyl ek my tekkies vasmaak. Die fynste fyn waterdruppeltjies sweef gewigloos in die atmosfeer rond en dit lyk asof daar ’n spierwit donskombers oor die landskap getrek is. Alles lyk vanoggend anders. Die gladde water van die meer lyk misterieus en onheilspellend. Oral hang ragfyn waterdruppeltjies aan spinnerakke en selfs die kolganskuikens se donsvere is nat.

Ons draf padlangs al om die meer. Die lug is klam en ruik na sout en mos. Reusegeelhoute staan soos wolkekrabbers in ’n ry met hulle koppe hoog in die wolke. Iewers in die mis fluit ’n arend en die bekende paadjie voel soos iets uit ’n spookstorie.

Warm gehardloop gaan ons op ’n reëling naby die water sit. Ons trek ons tekkies uit en stap sommer so met ons drafklere in die louwarm meerwater in. Die mis is digter as vroeër die oggend en dit word een van die mees sensoriese ervarings van my lewe. Die kombinasie van koel oggendlug, louwarm meerwater en melkwit mis verwar my sintuie. Ek voel so lig soos ’n veertjie, asof ek iewers tussen hemel en aarde sweef. Iewers op ’n heilige plek waarvoor daar nie woorde is nie.

In die week na die spesiale ervaring lees ek ’n Ierse Keltiese spreekwoord raak, wat sê: “Die afstand tussen die hemel en die aarde is net drie voet van mekaar, maar op sekere plekke is die afstand baie kleiner.”

Hierdie Keltiese Iere glo daar is dun plekke (thin places) op aarde waar ʼn mens nader aan God is as op ander plekke. Hulle verwys na hierdie dun plekke as ’n plek waar die sluier wat die hemel en die aarde van mekaar skei, gelig word en jy die glorie van God kan sien. Is dit nie ongelooflik mooi gestel nie?

Volgens die artikel is dun plekke gewoonlik heilige plekke soos katedrale, moskees en kerke, maar nie vir almal nie. Ek dink dadelik aan Westminster-abdy in Londen. Ons was so opgewonde om die kerk te besoek. Die gebou was asemrowend maar vir my was die ervaring leeg. My ma het dit weer heeltemal anders ervaar. Sy het met ’n knop in haar keel en trane in haar oë ’n dun oomblik beleef.

Ek onthou my eerste dun oomblik soos gister. Ek weet nie presies hoe oud ek was nie, maar daar was ’n laatmiddag donderstorm. Toe die wolke wegtrek en die son uitkom, het ek buite gaan speel en op ’n klein gaatjie in die grond afgekom. Ek het plat op my boude in die modder gaan sit en gekyk hoe duisende rysmiere by die gaatjie uitborrel. Daar het iets in my hart gebeur. Dit was asof ek vir die eerste keer bewus geword het dat daar iets groter is as wat die oog kan sien; iets wat die penne van my binnelandskap geskuif het.

Daarna het ek baie dun oomblikke ervaar op die mees ongewone plekke. Op ’n miershoop in die middel van ’n grasveld terwyl die dag vir die nag plek maak en dit behoorlik lyk of die horison aan die brand is. In die Swartberge terwyl die sneeu uit die hemel neersif en die ruwe landskap in ’n sagte, donsige skildery verander. Op ’n lughawe iewers in die vroeë oggendure tussen slaapnewels, sterk koffie en kontinente. ’n Niemandsland waar vreemdelinge vir net ’n oomblik in tyd skouer skuur.

Op ’n snerpende koue dag in ’n piepklein kroegie in Bath. Die toonbank was blink gepoets, die sjerrie was warm en die atmosfeer gelaai met die rykdom van eeue se stories. Op my slaapsak in die sand langs die Oranjerivier, met die Melkweg wat van hoek tot kant strek en waar meer sterre verskiet as wat enigiemand kan tel.

(Foto: Verskaf)

Agterop ʼn weldoener se bakkie in ’n tropiese reënbui, iewers tussen twee dorpies in die noorde van Thailand nadat ons die bus verpas het. Op my knieë iewers tussen die hemel en die diepblou see, waar ek bakhand uit ’n rivierstroom water drink. In die neonatale intensiewesorgeenheid waar drie perfekte lyfies in ’n ry lê en ʼn mens weet dat jy weet dat die sluier vir ’n oomblik gelig is.

Dun ervarings is een van daardie raar dinge in die lewe wat ’n mens nie kan beplan of forseer nie. Dis een van daardie dinge wat jou laat besef dat die lewe oor meer gaan as jou eie pyn, begeertes en teleurstellings. Dis asof die skaal waarmee ʼn mens jou lewe meet net weer gekalibreer word; jou binnelandskap word afgestof en jou tentpenne word ’n bietjie geskuif om vir die nuwe juweel in jou ervaringswêreld plek te maak.

Ek dink aan Moses by die brandende bos en die Israeliete in die woestyn, wat vir die eerste keer die vuurkolom en die wolkkolom in die hemel gesien het. Ek dink aan Petrus wat vir Jesus op die water sien loop het. Ek dink aan die muntstuk in die vis se mond en aan Saggéüs in die vyeboom, en ek besef dat ons lewens met stories oor dun ervarings deurweek is. Dis niks nuut nie. Dalk is dit net God se manier om ons aan te moedig om te leef. Om soms die bospaadjie te vat in plaas van die snelweg.

Mag ons meer bewustelik leef. Mag ons gereeld sprakeloos wees as die sluier lig en ons God se glorie ervaar. Mag ons gereeld in verwondering staan oor die afstand tussen die hemel en die aarde wat twee treë is, maar soms heelwat kleiner.

  • Rosa Duvenhage woon saam met haar gesin in die skilderagtige dorpie Groot-Brakrivier. Duvenhage is ‘n onderwyser by Laerskool Vorentoe en ‘n ma van twee. 

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Dis kosbaar

waar jy die glorie van GOD kan sien

om te kyk en te waardeer dat dit SY skepping is

gaan kyk na jouself in ‘n spieël
‘n veldblommetjie
dou druppel

dankie vir die plasing van hierdie berig, Maroela Media

MARISSA ·

ROSA, dit is treffend en intiem. So mooi geskryf.
Jou inspererende skryfstyl is uniek en ons kan die Here se liefde deur jou woorde ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.