Ope brief: Jansen het gehelp om dié nuwe kultuur te skep

Foto: Sharon McCutcheon/Unsplash.com

Deur Chantelle du Preez

Geagte prof. Jonathan Jansen

Met verwysing na u artikel “What is a university now in SA? wat op 26 Julie 2019 deur Business Day gepubliseer is, is ek verbaas dat u glo dat u die kultuur kan kritiseer wat tans aan alle Suid-Afrikaanse universiteite bestaan terwyl u as rektor van die Universiteit van die Vrystaat self ’n groot rol gespeel het in die skep en goedkeuring van dieselfde kultuur wat sedertdien ontwikkel het tot die punt waar dit nie meer beheer kan word nie.

Daar was ’n tyd toe u u invloed kon gebruik het om hierdie ondier wat u nou kritiseer, te tem.

U het ’n verpligte module (die UFS 101) ingestel, waarsonder studente nie ’n graad kon verwerf nie –’n module wat nie deur ander instellings erken word nie en nie voorsiening maak vir ’n opinie wat verskil van dié van die meerderheid nie. Studente wat dít sou doen, sou druip of met ’n onvolledige graad eindig.

Dit is dieselfde taktiek wat politieke partye gebruik om propaganda op hul kiesafdelings af te dwing. Die meerderheid studente het versoekskrifte onderteken om hierdie module te skrap. U het geweier om na die studente te luister en hierdie module word vandag steeds op hulle afgedwing.

Huidige eerstejaarstudente sê die (onakademiese) besprekingsklasse is weinig meer as ’n geleentheid om diegene, wie se mening nie met die status quo ooreenstem nie, aan te val. Die UFS 101-sessies word gefasiliteer deur persone wat in hierdie vorm van propaganda ingekoop het of wat bloot die vergoeding nodig het. Student wat dit sou waag om hul telefone tydens ’n sessie te gebruik, word, byvoorbeeld, berispe. Waarom? Omdat hulle weet dat as ’n student ’n opname sou maak van die onsin waarna hulle gedwing word om te luister, akademici elders heftig daarop sou reageer.

Universiteite is juis omgewings wat kritiese denke moet kweek en aanmoedig, terwyl dit ook vryheid van spraak moet toelaat. Dit is ’n belangrike vaardigheid wat nie maklik elders ontwikkel word nie.

Die afskaffing van studentetradisies in koshuise is deur baie studente teengestaan ​​en het gelei tot gebrek aan respek en trots by koshuisstudente. Rudi Buys, een van u eerste slagoffers en voormalige dekaan, is afgedank en moes in u plek verantwoordelikheid vir hierdie veranderinge aanvaar. Jool, serrie en sêr is bedrywighede wat in die daaropvolgende jare van die kampus verwyder is.

Ironies genoeg haal u prof. Lis Lange aan – wat ’n instrumentele rol in die verwydering van Afrikaans as onderrigtaal aan die UV gehad het, met die doel om inklusiwiteit te bevorder. Maar nou is studente verder van mekaar verwyder as ooit tevore.

Universiteite het ’n plig om die ontwikkeling van al ons amptelike tale te ondersteun en om meertaligheid en multikulturalisme te bevorder, maar dit wil voorkom asof u doel was om kulturele identiteite heeltemal te vernietig en almal te dwing om ’n verwaterde, polities korrekte denkwyse te aanvaar.

Studentebetogings, onder meer die Shimla Park-protes in 2016, is na aanleiding van hierdie gebeure gehou. Verskeie briewe, as waarskuwing oor die veiligheidsrisiko’s tydens so ’n protes, is voor die tyd aan u gestuur, maar u het ons pleidooie geïgnoreer.

Die protes was nie vreedsaam nie, aldus ʼn ondersoekverslag. In dié verslag is getuienis gemanipuleer om die meerderheid weer eens te beskerm.

Ons het probeer om ’n ramp te keer. Ons het gehelp om studente uit koshuise te ontruim toe hulle deur betogers gedreig is, en ons het tydelike akkommodasie gereël terwyl daar chaos op die kampus was. Die betogers het die C.R. Swart-standbeeld op die kampus vernietig en tot vandag toe is daar nog geen stappe gedoen teen die betogers wat geweldsdade gepleeg het of eiendom verniel het nie.

Daar was talle gevalle waar nie-betogende studente geviktimiseer en geïntimideer is. Die oortredende studente wat deur onlustepolisie in hegtenis geneem is, se borgtog is deur die universiteit betaal. Watter gevolge het sulke studente ooit ervaar gedurende u tyd as rektor? U het sonder veel moeite toegegee aan byna al die eise in enige memorandum wat deur betogende studente aan u oorhandig is. Dit het bygedra tot die gevoel van “geregtigheid” wat ons vandag by studente sien, sowel as die “normalisering van geweld” waarvan u praat. U het nie daarin geslaag om studente, wat die naam en beeld van die universiteit in onguns gebring het, te dissiplineer nie; tog voel u dat u hierdie studente se gedrag nou kan veroordeel asof u sonder enige blaam is.

U is inderdaad reg wanneer u sê dat “universiteite die gevaar loop om niks meer te word nie as instellings vir tegniese opleiding wat outomate vir die arbeidsmark uitspoeg, gestroop van kritiese denke, onafhanklike redenering en ’n sin vir fatsoenlikheid”.

Dít is die toekoms van Suid-Afrikaanse universiteite, tensy individue die meerderheid begin teenstaan. Maar hul pogings sal nutteloos wees vir so lank daar onkundige individue soos u in universiteitsbesture is, en wat ’n groot salaris ontvang om beleidsveranderings te maak wat tot geweld en vandalisme onder studente lei.

Die enigste manier om so ’n kultuur op universiteite te voorkom, is dat universiteitsbesture moet ophou dans na die pype van betogers en politici en moet begin om waardes van wedersydse erkenning en erkenning onder studente te bevorder.

  • Chantelle du Preez is AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
M Jansen

Nooit ooit sal ek vergeet hoe prof Jansen n haarkapper in Centurion gekritiseer het wat hom na bewering nie kon help vanweë sy unieke tipe hare nie. Só gebeur dit toe mos met my ook (nogals óók in Centurion) dat die haarkapper my reguit hare so skewekop aankyk en sê dat hulle nie met my “tipe” hare werk nie. So besef ek toe: dit was toe nooit n kwessie van die velkleur onder my hare wat die probleem is nie, maar dat die dametjie pleinweg net eenvoudig nie weet hoe om my tipe hare te sny en te stileer nie.… Lees meer »

Trots Afrikaans

Dit is presies dieselfde paadjie wat nou by Puk gevolg word. Die koshuis-kultuur en gees word met alle mag en gesag deur die universiteit se bestuur doodgedruk. Dosente wat nie Afrikaans magtig is nie, word aangestel om kursusse aan te bied waarvoor studente in Afrikaans geregistreer het. Sodoende word Afrikaans al hoe meer uitgefaseer. Verder is die studierigtings uiters verpolitiseerd en word studente aan die grootste klomp snert blootgestel. Ek kan nie wag dat ons kinders klaar studeer nie en ek hoop dat Solidariteit se planne vir ‘n Afrikaanse universiteit so gou moontlik kan realiseer. Veral as daar ook rigtings… Lees meer »

Gert

Ek was self by ‘n ope dag waar Prof Jansen dit gestel het dat Afrikaans nooit sal verdwyn by Kovsies terwyl hy daar is nie. Presies ‘n jaar later het hy dit self afgeskaf.

Theoman

As oud kovsie is dit vir my n bitter pil om te sluk as ek lees en hoor van oud studente wat Jansen aan my alma mater gedoen het, dankie Chantelle vir jou eerlike en opregte openbaaring en kennis wat jy eestehands onder die swak en moedswillige bestuur van die “sogenaamde” Rektor Jansen ondervind het. Toesiens Kovs.

Therese van Schalkwyk

Puik opsomming van Jansen se vernietigingswerk op die Kovsiekampus.
Tragies vir enige oud-Kovsie.
Jonathan Jansen was egter, en is moontlik vir baie Afrikaanssprekendes nog steeds, ‘n groot held. Vroeë kritiek was bitter onwelkom. Tog jammer dat dit so lank neem vir oë om oop te gaan.