Owerheid, nou vra jy te veel van ons!

Uniegebou in Pretoria Foto; Davinci77 via Wikimedia Commons

Uniegebou in Pretoria Foto; Davinci77 via Wikimedia Commons

Ingestuur deur Victor Correia, lektor in Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies by Aros

Gehoorsaamheid aan die owerheid is iets wat ons as Christene goed verstaan. Die Christelike gemeente in Rome is destyds daarop gewys om selfs aan die heidense regering gehoorsaam te wees (Rom. 13). Daar mag volgens die Skrif ook van Christene verwag word om belasting aan die regering te betaal. Dit is veral in die e-Toll(enaar) bedeling ‘n bitter pil vir baie van ons om te sluk. Daar kan egter gevra word waar die lyn getrek moet word? Wanneer verwag die Here nie meer van ons om aan die regering gehoorsaam te wees nie?

Ons kan dankbaar wees dat ons gehoorsaamheid aan die regering perke het. In die geval van ʼn drukgroep wat Akademia onlangs by die gelykheidshof aangekla het omdat hulle Afrikaans is, moet die streep beslis getrek word. Dieselfde kan gesê word oor die hofsaak van daardie drukgroep wat jou dwing om te laster wanneer jy hul naam wil gebruik. Hulle poog om met hul hofsake godsdiens uit skole te verban. Wat staan ons as Christene te doen as die hofsake sou slaag? Moet ons ook in hierdie gevalle aan die regering gehoorsaam wees?

In beide gevalle moet gehoorsaamheid aan God bo gehoorsaamheid aan die regering gestel word. By die saak oor godsdiens in skole sal baie dit vanselfsprekend insien, maar vir die Akademia-debakel nie. Sommige sal wonder of hulle nie nie maar hul taal moet afgee en hul Christenskap behou nie. Taal is egter nie bloot ʼn kommunikasiemiddel nie, maar ʼn gawe van God. Die wonder van Pinksterdag is dat die onderskeie volke in Jerusalem elkeen die evangelie in hul eie taal gehoor en verstaan het (Hand. 2:13).

Dus kom ons tot die gevolgtrekking dat ons nie bes kan gee in die geval van die opvoeding van ons kinders en studente in hul moedertaal nie as ʼn hof ʼn beslissing maak wat ʼn private Afrikaanse instelling dwing om Engels te word nie. Natuurlik is dit ook goed dat Akademia die saak in die hof beveg en ons hou goeie moed dat hulle ook die saak sal wen. Dit sal onder andere goed wees vir ander private instellings wat ook ʼn hoë premie op moedertaalonderrig plaas.

Waar dit egter in die toekoms kan gebeur dat uitsprake en selfs beslissings gemaak word wat die Afrikaner se taal of godsdiens raak, moet ons weet dat die loopgraaf hier gegrou moet word. Dit is op hierdie punt wat jy nie aan die regering gehoorsaam mag wees nie. As die owerheid van ons vereis om ons kinders in Engels te laat studeer en ons verbied om ons Christelike waardes in die skool uit te leef, dan moet ons vir die owerheid sê: Nou vra jy van ons te veel. Hier sal ons nie ʼn treë agteruit neem nie. Die opvoeding van ons kinders in hul taal en godsdiens is vir ons ononderhandelbaar.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Winston ·

Pragtig gestel. Ons taal en godsdiens is nie onderhandel baar nie. Grou die loopgraaf hier.

Leonard van der Dussen ·

Dis tragies dat die godsdienssaak deur ‘n Afrikaner en ‘n organisasie met ‘n Afrikaanse naam (en Afrikaanse godslasterlike akroniem) gedryf word. Dit moet ons tot selfondersoek stem dat ons nie maar net die regering kan blameer vir ons ellendes nie. Daar is ‘n gebrek aan selfdissipline in Afrikanerdom, en gebrek aan onderlinge tug en gebrek aan noulettendheid en konsekwentheid oor Afrikaans en Christelikheid.

Of taal so absolute reg is as wat (ds) Correia betoog, is nie so seker nie. Dat ons taal sy aandag en rentmeesterskap verdien, en dat dit ‘n onreg is van andere om mens se taal te misken, is onreg en die onreg moet teengespreek word. Dit blyk egter duidelik dat dieselfde taal toenemend vir beide lof en laster gebruik word; en die Bybelse begronding dat taal ‘n sodanige reg is dat dit selfs ongehoorsaamheid aan die owerheid kan regverdig, kan gerus in meer diepte bekyk word.

Nie dat Afrikaans nie ‘n groot emosionele saak en ‘n kosbare erfenis is wat werd is voor te stry nie; maar doen dit dan saam met my om nie net in die skool nie, maar ook in die besigheid te beoefen deur dokumente te druk (nie te “print” nie), deur ‘n drukker langs die bediener te installer (nie die “printer” daar by die “server” te sit nie), deur e-pos te stuur en nie “e-mail” nie); en so kan die lys aangaan. As Afrikaners bereid is om dit in hulle huise, by die kerk en in die gemeenskapslewe te doen, is daar hoop vir Afrikaans. Te lank egter, selfs nog in die vorige bedeling, was trots wees op Afrikaans eerder ‘n politieke speelbal as wat dit werklikheid en persoonlike trots in die daaglikse lewe was.

Daar is ‘n tikkie ironie in die betoog vir Afrikaanse onderwys met skole – ook in die ICO-dampkring naby AROS – wat onnadenkend hulle onderwys toenemend maar in Engels bestuur: “Graad R”, waar die “R” vir “Reception” staan, pleks van “Graad 0”; die term “CAPS” is alledaags ook in daardies skole wat hulle Afrikaans hoog roem, en hierdie selfde roemers is gemaklik om vir onderwysers te adverteer en hulle vakke te kenmerk met afkortings soos “FAL” (first additional language) en nog meer ironies, “HL” (home language) by Afrikaans. So adverteer ‘n ICO-skool op die oomblik op Facebook: “…het vakante onderwysposte vir Graad 4 – 7 vir die volgende vakke : SW, Afrikaans (HL) en Engels (FAL) kontak asb..”.

Ons roem ons onderwys as Christelik, maar die humanistiese benaming “leerder” (humanisties, die mens is sterk in eie reg) is opgeslurp en het die begrip “leerling” (wat met dissipelskap verband hou) in ons onderwys verdring.

As ons wil loopgrawe grou, kom ons doen dit, en begin sommer vandag nog deur in ons eie skole ons eie taal, kultuur en die Christelike diens in alle opsigte te handhaaf en die regeringsonderwys stuk vir stuk daar uit te bestuur.

Vryheid is ‘n leefwyse, ‘n daaglikse manier van dink en bestaan wat inspanning verg, en wat vandag begin.

Hannes Noeth ·

Eina Leonard, ons het gelees – ek skuld jou ‘n knyp, maar sal dit in persoon opneem :-)

Dienkie (Dina van Niekerk) ·

Ek het gedink ek is hiper-sensitief oor sommige hedendaagse onderwysers èn predikante wat lustig meedoen aan die proses van Afrikaans-aftakeling. Die twee professies wat in 1876 die
GRA op die been gebring het, gaan nou ons “Pêrel van groot waarde” se ondergang beteken!
Afgesien van die onderwysterme waarna Leonard verwys, wemel dit in die klaskamer en van die kansel af van “awesome” “great” “beautiful” “kiddies” (ek het gedink dis ‘n baba-bok!) “hero” “game” “blessing” (dan sê hy: Ons gemeente is só “gebless”!) So kan mens aangaan, maar die groot troos is dat ‘n groot persentasie leerlinge/studente hierdie tendens verwerp!

Herman ·

Leonard, suiwer soos altyd, maar hoekom is jou eie besigheid se webblad ens net in Engels?

Leonard van der Dussen ·

Dis ‘n relevante vraag en sluit aan by die beredenering oor taal: die geld en besluitneming in die mynbou- en ingenieurskonstruksiebedryf in Suid-Afrika word in Engels bedryf. Daarby is die meeste besigheid buite Suid-Afrika se grense en in ander geldeenhede as rand. Vir so besigheid sal dit bloot ondoeltreffende sentiment wees om ‘n webblad in Afrikaans aan te hou naas die nodige weergawe in ‘n internasionale kommunikasietaal.

Ek laat dit aan jou oor om te wonder hoekom die “Careers”-afdeling beskikbare poste ten eerste in Afrikaans adverteer, en onder “Contact Us”, die Suid-Afrikaanse firma se naam net in Afrikaans weergegee word.

Die wêreld daarbuite is groot, gemeen en nie juis vir ons ‘n vriendelike plek nie, Vestig jouself egter met dienste wat uitnemend is, sodat dit werklik waarde bied, en gebruik jou gesonde verstand hoe jy kliënte bereik en daar kom inkomste in die Afrikaner-skatkis wat noodsaaklik is om juis daardie ideale waarvoor ons leef en stry, te kan nastreef.

Dit bring ons weer by die punt om daarop te wys dat daar met goeie oorleg gekyk moet word presies waar en hoe hoog Afrikaans, die taal, op die sakelys moet wees. Afrikaans sonder uitnemendheid, Afrikaans sonder internasionale mededingendheid en Afrikaans as dit ten koste van beste vakkundigheid en opleiding is, en Afrikaanse taal sonder die herwinning van Afrikanerkulturele en -gereformeerde lewenswyse, is nutteloos.

Sentiment gaan Afrikaans nie red nie. Dade is nodig, en dade wat met gesonde verstand uitgevoer word.

NS. Ons het daarin geslaag dat daar Britte, Australiërs, Batswana en nog so paar ander nasies is wat nou al die woord “saamwerk” onder die knie het. Mens gee ‘n stelsel ‘n naam in Afrikaans, loop aanvanklik in weerstand in, maar wanneer die waarde van die stelsel besef word, word die waarde mettertyd erken en word ‘n lekker Afrikaanse woord vir anderstaliges op die aardbol ‘n aangenaamheid en normaliteit. Dit kom alles daarop terug dat uitnemendheid en bekwaamheid Afrikaans bevorder; en laat ons onsself nie bluf nie: ons is raak agter in Suid-Afrika as gevolg van die saamploeter in onderwys met die sosialistiese staatsonderwys vir die massas en om aan hulle onderhorig te bly. Afrikaans raak daarmee saam agter.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.