Wat doen jy met jóú Afrikaans? 

taaldag afrikaans

Argieffoto.

Deur Eckhardt Bosch

Suid-Afrikaanse nuusberigte kan ʼn mens moedeloos maak. Die afgelope tyd was dit veral die berigte oor Afrikaans wat my getref het. Koerante het wyd berig dat Afrikaans in die spervuur is, veral by tradisionele Afrikaanse universiteite, en deesdae hoor ons ook by skole.

Sommige sal hulle nie daaraan steur nie, maar ander, soos ek, is negatief hierdeur geraak. ʼn Gevoel is geskep van opstandigheid of selfs onsekerheid oor ʼn mens se eie identiteit. Dié skryfstuk het ten doel om nie verder uit te brei oor die negatiewe gebeure nie, maar eerder op die toekomstige moontlikhede van Afrikaans. Dus, om hoop te skep.

Ongelukkig word Afrikaans verbind met ʼn onpraktiese stelsel wat seer en skeiding veroorsaak het. Amper 23 jaar ná 1994 is Afrikaans, glo ek, op ʼn nuwe pad, ʼn pad van kreatiwiteit en nuutskepping. Die rigting wat Afrikaans inslaan, is afhanklik van elke Afrikaansprekende. Hoe die taal gaan lyk en klink, hang af van die gemeenskap in Suid-Afrika en ook oor die hele wêreld.

Ek stel voor dat die beeld soos volg sal lyk: Eerstens, dat Afrikaans vir almal sal wees. Die taal met sy Hollandse afkoms is gevorm in Afrika, daarom is die wortels in Afrika geanker. Dit word ook in die res van die wêreld gebruik in huise van gesinne wat oorsee werk. Die indruk word dikwels gewek dat Afrikaans net ʼn wit taal is, maar nee, dit is ook ʼn taal vir bruin- en swartmense en Asiërs. Dit was my ondervinding in Stellenbosch dat ʼn Asiatiese student vlot Afrikaans kon praat en skryf. Dus is Afrikaans reeds vir almal, vir Afrika en vir die wêreld.

Tweedens moet Afrikaans ook vir die toekoms wees. As akademiese taal het Afrikaans die potensiaal om in alle sfere van die samelewing relevant te wees; naamlik die kultuur, politiek, akademie, vir  sosiale samewerking, media en tegnologie. Dit is net ʼn geval dat dit gebruik moet word en as gekose medium van handeling moet dien.

Vir Afrikaans om vir die toekoms en vir almal te wees moet mense betrokke raak. Wat ek hiermee bedoel, is dat mense die geleentheid moet aanneem om die taal vir ons huidige tyd te vorm. Die aanpassing gebeur op twee vlakke: Eerstens, die taal moet gesuiwer en gevorm word, deur byvoorbeeld woorde te vind vir nuwe betekenisse en idees. Tweedens, daar moet ruimte geskep word vir Afrikaans in die samelewing, soos byvoorbeeld  ʼn onderneming wat verkies om sake te doen in Afrikaans. Vir laasgenoemde om suksesvol te wees sal ʼn mens moet “inkoop”, of eenvoudiger gestel, saamspeel. Dit gaan verg dat elke Afrikaansprekende eerder die Afrikaanse medium kies of een self skep.

Om Afrikaans op ʼn plek te kry waar dit relevant is vir nóú en die toekoms gaan samewerking en kreatiwiteit verg. Die nóú is dan ʼn geleentheid om kreatief om te gaan en om nuwe moontlikhede te skep.

Hoe dit gaan lyk, sal afhang van die hele Afrikaanssprekende gemeenskap. Elkeen het ʼn talent en ʼn beroep. Die vraag is dan: “Hoe kan Afrikaans kreatief in daardie unieke konteks benut word?”

Ons gesin, byvoorbeeld, het begin om ʼn speletjie te speel wat vele genot bring – dit is om nuwe Afrikaanse woorde te skep en mekaar te help om alternatiewe Afrikaanse woorde te kry vir ʼn Engelse term of konsep. Dit is ons unieke manier om bietjie by te dra tot die groter Afrikaanse gemeenskap.

Hoewel Afrikaans in die spervuur is, is daar elke dag ʼn geleentheid om te wys dat Afrikaans kreatief benut kan word om relevant te wees vir die toekoms – om sodoende direk ʼn bate te wees vir Afrika en die res van die wêreld. Die slotvraag is dan: Wat doen jy met jóú Afrikaans?

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

JC ·

Dankie Eckhardt vir jou mooi woorde oor die allerpragtigste, mees aktuele, en oulikste taal onder die son!

Marlene Robson ·

Ek wil saam stem met Eckhardt. Elke afrikaans sprekende persoon, is verantwoordelik om dit ‘vlerke’ te gee, sodat dit inklusief, en nie eksklusief is nie. Terselfdertyd is dit ook belangrik om dit suiwer te hou sover moontlik. Daar is min dinge mooier en meer kleurvol as ons geliefde taal
Dankie vir n baie oulike brief

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.