185 jaar later steeds geanker in geloof

Deur Marné Pienaar

Retief se gebedeboekie (Foto: Verskaf/FAK)

“U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my lewenspad.” –  Psalm 119:105

As die Voortrekkers aan een ding gekenmerk kan word, is dit hul standvastige geloof. ʼn Geloof só groot dat hulle hulself en hul nageslag sou bind aan ʼn gelofte.

Met die inhuldiging van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 het ʼn kwart miljoen mense die geleentheid bygewoon en hierdie woorde van dr. DF Malan se toespraak aangehoor:

“As daardie sieldeursoekende vraag hom dan aan u opdring: Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen? … staan dan stil, en draai terug! Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar, waarop u u offers moet lê, en as dit geëis word ook uself as offerande; terug na die heiligheid en die onskendbaarheid van gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u kerk; terug na u God!”

Die geloofsvertroue van ons voorvaders word vandag nog in die Voortrekkermonument bevestig. Op elke vlak van die monument, wat vir ons as Afrikaners ʼn baken van hoop geword het, word die Voortrekkers se vertroue op God met verskeie beelde en voorwerpe uitgebeeld.

Op die friese in die Heldesaal

As jy al ooit by die Voortrekkermonument was, is daardie eerste intrapslag deur die swaar houtdeure so asemrowend soos die eerste blik op die monument soos wat hy agter die heuwels sy kop uitsteek en trots staan op Monumentkoppie.

Soos in ʼn katedraal in Europa, voel jy die grootsheid van die monument en die simboliek daarvan aan.

Geloof en afhanklikheid van God was vir die Voortrekkers deel van hul daaglikse doen en late.

Ses maal word ʼn Bybel op die friespanele uitgebeeld en veral dan ook op belangrike punte langs hul roete. ʼn Paar noemenswaardige tonele:

Op die tweede friespaneel, nog vóór die Groot Trek, sien ons die eerste Bybel. Op dié paneel word die oorhandiging van ʼn Bybel van die Britse setlaars aan die Uys-trekgeselskap uitgebeeld. Die Bybel is deur vrederegter Thomas Phillips aan Jacobus Uys, die Uys-trek-familiehoof, oorhandig as ʼn blyk van waardering vir die dienste wat hy aan die gemeenskap gelewer het.

Britse Setlaars oorhandig ’n Bybel aan Uys (Foto: Verskaf/FAK)

Geen belangrike besluit word sonder diep afhanklikheid van God gemaak nie, veral nie die verkiesing van leiers nie. Op die friespaneel waar Piet Retief goewerneur van die Voortrekkers word, kniel hy met sy hand op die Bybel.

Later ook met die aflegging van die Gelofte staan Sarel Cilliers op die kanon Grietjie. Regs van hom staan ʼn Voortrekker met ʼn Bybel onder sy arm.

In Sarel se eie woorde in sy joernaal beskryf hy dit so: “… op ʼn kanonwa [is die gelofte voorgedra] … op ʼn eenvoudige wyse so plegtig as die Heer my daartoe in staat gestel het.”

Die Uys-Bybel wat deur die Britse Setlaars oorhandig is (Foto: Verskaf/FAK)

In die Senotaafsaal

Die Voortrekkermonument stal vele Bybels van Voortrekkers uit in die Senotaafsaal. Só ook die einste Uys-Bybel wat op die friespaneel uitgebeeld word.

Die bekende tapisserieë wat ook die verhaal van die Voortrekkers tydens die Groot Trek uitbeeld, gee ook mooi insig in die daaglikse lewe van die Voortrekkers.

Op een van hierdie tapisserieë sien ons die seer wat die Voortrekkers ook langs die pad moes deurgaan, ʼn begrafnis. Langs die pad moes die Voortrekkers natuurlik afskeid neem van hul geliefdes. So ook sien ons weer ʼn Voortrekker met sy Bybel onder sy arm. Seer, maar in geloof trek hulle voort.

Sarel Cilliers lê die Gelofte af en na regs ’n Voortrekker met die Bybel (Foto: Verskaf/FAK)

ʼn Ander toneel beeld die tipiese aand in die laer uit. Aandgodsdiens, netjies aan tafel. Saam as gesin, saam as gemeenskap is ons sterk, geanker in God.

Vrijheidsreis

Ons beweeg na die nuutste uitstalling van die Voortrekkermonument, wat in April 2022 ingewy is – die Vrijheidsreis.

Dié uitstalling neem die besoeker saam op reis, van die Kaapkolonie af, na ʼn vrye en onafhanklike republiek.

Die eerste vertrek in die uitstalling is ʼn tipiese Kaapse-styl huis. Ons is op pad, maar wat pak ons in?

Vrijheidsreis-uitstalling se eerste uitstalling (Foto: Verskaf/FAK)

Op die tafel, lewensgroot, die Statebybel. Voor in elke ossewa het die Statebybel al die pad van die Kaapkolonie, van die oosgrens af gereis. Sonder God pak die Voortrekkers nie iets aan nie.

Ons reis verder, oor die Oranjerivier, ons beleef die vrees van Vegkop en stap versigtig nader aan Umgungundlovu. Die impi’s se krygskreet skep ʼn vreesaanjaende atmosfeer en jy weet Retief se moord en die moorde van Bloukrans wag op jou.

Op die onderhandelingstafel, dieselfde een waarom Retief en Dingaan onderhandel het, waarop die koopkontrak deur beide partye onderteken is, sien ons Retief se bebloede gebedeboekie, wat saam met die koopkontrak in Retief se bladsak steeds aan sy lyk aan die onderkant van KwaMatiwane (Moordkoppie) gevind is.

Die stuk van die tappeserie in die Voortrekkermonument beeld uit hoe die Voortrekkers in daardie tyd geleef het (Foto: Verskaf/FAK)

Maar jy stap uit en word gegroet deur die wonderwerke van Bloedrivier, waar 464 manskappe teen ʼn oormag van 16 000 Zoeloe-krygers opgestaan het.

“Want die eer van Sy naam sal verheerlik word, deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.”

Op elke vlak van die Voortrekkermonument, maar ook op elke vlak van ons Afrikaneridentiteit, word ons geloof in God bevestig.

  • Marné Pienaar is ‘n mediabeampte by die FAK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert ·

Kan dit wees dat wanneer n volk teen God sondig dat hy hulle terug sal neem na dieselfde omstandighede waar hulle Hom eerstens aangeroep en gevind het? Ons volk was gejag en uitgemoor maar het volkome op God vertrou en Hom gevind by die slag van bloedrivier. Daarna het ons stadig afvallig met ons gelofte aan God geraak. Waar is ons vandag.? Weer onder die Zulu? Hoekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.