50 jaar gelede: staatsgreep in Chili

‘n Junta-sessie een week na die 1973-staatsgreep (Foto: National Library of Chile/Wikipedia)

11 September is nie net weens die terreuraanval op New York en Washington ʼn geskiedkundige datum nie, maar ook weens die staatsgreep in Chili in 1973, dus 50 jaar gelede.

Dit was ʼn belangrike gebeurtenis in die konteks van die Koue Oorlog. Terwyl Suid-Amerika se state vandag feitlik almal linkse regerings met sosialistiese neigings het, was dit in die 1970’s die tyd van regse diktatorskappe in dié vasteland, dikwels met goedkeuring of ten minste aanvaarding deur die VSA.

Alhoewel die destydse staatsgreep en die langdurige bewind van Augusto Pinochet vandag uit alle oorde veroordeel word weens die gepaardgaande menseregteskendings, weet min wat daartoe aanleiding gegee het en dat die bewind in die bevolking heelwat ondersteuning geniet het.

Die oorsaak vir die staatsgreep was die sosialistiese bewind van Salvador Allende, een van die ikone van die internasionale sosialisme soos Ho Tsji Min en Ché Guevara (in Oos-Berlyn is daar byvoorbeeld ʼn Allende sentrum).

Allende het wel deur ʼn verkiesing aan bewind gekom, maar slegs met ʼn relatiewe meerderheid vir sy sosialiste en as deel van ʼn wankelrige koalisie. Hy het die land chaoties bestuur en gepoog om sy fondasies, soos eiendomsreg, deur middel van nasionalisering van maatskappy en grondonteienings omver te gooi. Om sy steun te verhoog, het hy talle gratis dienste vir die armes aangebied, waarby gratis net beteken dat dit deur middel van skuld en belanstingverhogings is.

Hoë inflasie en ʼn skaarste aan daaglikse lewensmiddele was egter die gevolge van sosialistiese ekonomiese beleid. Betogings en weerstand teen sy bewind het bykans onmiddellik opgevlam en die gematigde partye soos die Christen-Demokrate, wat sy bewind aanvanklik langtand ondersteun het as die kleiner euwel, het hulle steun nou onttrek. Nuwe verkiesings het geen beslissing opgelewer nie, ook nie die aanstelling van nuwe ministers nie.

Die weerstand teen Allende se bewind het op ʼn breë front geskiet en die weermag, beginnende met die vloot, het in opstand gekom. ʼn Junta bestaande uit die hoofde van die vier militêre afdelings (vloot, leër, lugmag en polisie) het van die regering geëis om te bedank en toe Allende geweier het is die regeringsetel gebombardeer. Allende het, toe die situasie uitsigloos geword het, homself geskiet.

Augusto Pinochet, die hoof van die leer, het gou as die sterkman binne die junta uitgekristaliseer. Pinochet se bewind het 17 jaar geduur en na die aanvanklike gewelddadige fase van afreken met die sosialiste het hy die land later in ekonomiese vooruitgang ingelei. Sy liberale ekonomiese beleid, geadviseer deur Amerikaanse ekonome, was in alles die teendeel van Allende se sosialisme, en het vrugte afgewerp: lae inflasie, ekonomiese groei, werkskepping, algemene welvaart, sodat Chili in die laat 1980’s die rykste land van Suid-Amerika geword het.

Dit was ook een van die min diktature wat juis die mag van die staat verminder het deur die ekonomiese liberalisering. Sy bewind het ook later meer gematigd geraak, alhoewel daar steeds geen opposisie geduld is nie. Pinochet het in 1988 ʼn referendum uitgeroep oor die voortsetting van sy bewind, waarby die meerderheid (56%) vir die terugkeer tot demokrasie gestem het.

Pinochet het twee jaar later as president uitgetree, maar nog 10 jaar lank as hoof van die weermag en later as senator invloed uitgeoefen. Die hardhandige onderdrukking van die opposisie en gepaardgaande menseregteskendings oorskadu egter Pinochet se nalatenskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.