Aanvalle in Sri Lanka vra vir hulp aan Christenminderhede

Katolieke nonne woon ’n begrafnisdiens by vir die slagoffers van Sondag se bomaanval by St. Sebastian-kerk in Negombo, Sri Lanka. (Foto: Gemunu Amarasinghe, AP)

Vanjaar se Paasnaweek sal onthou word vir die bloedige aanvalle op Christene in Sri Lanka op Paassondag. Sowat 300 mense is in byna 10 bomaanvalle dood terwyl soveel as 500 verdere slagoffers beseer is. Die aanval is uitgevoer deur ’n Islamitiese terreurgroep met die ondersteuning van ’n internasionale terroriste-organisasie.

Die veiligheidsmagte in Sri Lanka is reeds tien dae voor die aanval gewaarsku dat ’n terreurgroep ’n aanval op Christenkerke beplan, maar die waarskuwing is nie ernstig opgeneem nie.

Die Christenbevolking in Sri Lanka is ’n klein minderheid wat 6% van die land se bevolking van een-en-twintig miljoen mense uitmaak. Hoewel daar die afgelope paar jaar nooit ’n groot aanslag teen hulle gepleeg is nie, was daar gereeld dreigemente. Die president van Sri Lanka, Maithripala Sirisena het, toe hy in 2015 president geword het, onderneem om haatmisdaad teen minderheidsgroepe te ondersoek. Daar het niks van sy beloftes gekom nie.

Terwyl daar die afgelope tyd, heeltemal tereg, heelwat in die media op die aanval in Christchurch, Nieu-Seeland, waarin meer as vyftig Moslems vermoor is, gefokus is, neem die toenemende aanslag teen Christenminderhede wêreldwyd krisisafmetings aan en het die Westerse wêreld, onder meer die media, dit vir te lank onderspeel.

Christene maak ’n minderheid uit in groot dele van Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Asië. Sedert die 1970’s het Christengemeenskappe in lande soos Egipte, Sirië, Irak, Iran en Libië meestal daarin geslaag om deur onderhandelde skikkings met outoritêre leiers vir hulself veilige enklawes te kon verseker. In baie van hierdie lande is Christene stilweg toegelaat om ekonomies en kultureel te floreer.

Wat die afgelope paar jaar gebeur het, is egter rampspoedig vir hierdie Christengemeenskappe. Die oorloë in Libië, Irak en Sirië en die val van diktators, wat baie keer Christenenklawes in ruil vir steun of minstens geen teenstand, vry laat bestaan het, was baie sleg vir Christenminderhede. Verder het die toenemende aanslag van Islamitiese terreurgroepe enorme bedreigings vir Christene van Nigerië in Wes-Afrika tot Kenia en Soedan in Oos-Afrika, die Koptiese Christene in Egipte en eeue oue Christengemeenskappe oor die hele Midde-Ooste gehad. In Sri Lanka bestaan die Christendom reeds byna 2 000 jaar. In Sirië is een van die oudste Christengemeenskappe in die wêreld van 25% van die bevolking tot slegs 10% vandag verminder. Christene in Sirië is tydens die burgeroorlog deur verskeie Islamitiese terreurgroepe geteiken.

Hoewel baie Westerse leiers dit nooit wou erken nie, het diktators soos Moeammar al-Ghaddafi, Saddam Hoesein en Bashar al-Assad Christene tot ’n groot mate in hul lande beskerm. Moslem-minderhede in veral Westerse lande geniet vandag sterk ondersteuning uit die Moslemwêreld. Die wyse waarop die bou van moskees in Europese lande deur, onder meer, Turkye en Saoedi-Arabië moontlik gemaak word, is maar een voorbeeld daarvan.

Die sekularisasie van Westerse lande is vir die Christenwêreld baie sleg. Een rede waarom dit so is, is juis die feit dat Westerse lande nie meer, ten spyte van die noodkrete van talle Christenorganisasies, vir Christenminderhede in veral Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Asië intree nie. Wat Paassondag in Sri Lanka gebeur het, is tragies. Dit is egter deel van ’n groter krisis wat reeds vir jare in talle lande met Christenminderhede oor die wêreld heen afspeel. Westerse lande het ’n plig om vir hierdie Christenminderhede te begin intree.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ZAR ·

Hoekom is die hoofstroom media so stil? Want Christen slagoffers pas nie hul relaas nie.

Judge Dredd ·

Ek wag nog vir die Katolieke en Moslem Imams om handjies vas te hou en saam te bid, soos met die NZ aanval.
Lyk my dit gaan nie gebeur – wonder hoekom ?

Annie Webb ·

Moskee in Kaapstad het Sondag diens gehou vir slagoffers van Sri Lanka wat deur predikers en mense van ander kerke ook bygewoon is. Die prediker van die moskee en Media24 noem nie dat dit Christene is wat deur radikale Islam aangeval is nie, maar gee wel verkeerdelik te kenne dat dié aanval weerwraak vir die een in Christchurch was en dat daar tans gewelddadige aanvalle van Christene se kant af ook plaasvind. Waar? Die ou in NZ het namens homself opgetree. En radikale Islam voer oral ‘n skrikbewind. Maar ek wag nog om gewone Moslems te hoor sê: “Ons is nie almal so nie.” Eerder as om voor te gee dis ‘n “godsdiensoorlog” van twee kante af.

Dries du Toit ·

Om n minderheid te wees in enige deel van die wereld raak bitter gevaarlik, hetsy dit n christen, volk, ras of selfs n kapitalis is

Wse ·

Jaco, dankie vir die artiekel. Ons moet bande smee met die vervolgde
Christine in afrika en asië en leer om vas te staan want ons vervolging staan dalk ook voor die deur. En as ons hulle help, help ons onsself ook so.

humor ·

Die Bybel se profesiee kom dag na dag tot vervulling. En net soos dit vandag nie met erns opgeneem word nie so sal dit wees tot aan die einde. Soos wat ons erns het oor eie grondgebied en selfbeskikking moet ons begin erns maak met die aller belangrikste, nl. die KONINKRYK van CHRISTUS.

Kobie ·

Annie, alles wat jy sê is in die kol. Ek stem100 persent saam met jou.

Marthinus Willemse ·

Daar is tans `n oorlog teen ons Christene, en dis nie net in lande waar ons `n minderheid is nie. `n Jood, David Horowitz, skryf in sy jongste boek ‘Dark Agenda: The War to destroy Christian America’ dat linkses, sekulariste en ander, die land in `n goddelose, sondige gemeenskap wil verander, waar godsdiens geen rol speel nie. Hy sê in `n onderhoud met Newsmax, dis `n fout om te dink Christene word net in die Midde-Ooste, Verre Ooste en Afrika vervolg. In Amerika word die oorlog deur die Demokrate gedryf omdat Christen-waardes bots teen hulle delusies van sosiale geregtigheid. Alles omtrent Christendom is verwerplik vir hulle; wit mense, mans, heteroseksuele mans is almal skuldig aan iets, terwyl gays, vroue, mense van kleur aan alles onskuldig is.

Nog `n Amerikaanse skrywer en joernalis, Robert Bridge, skryf dat Hillary Clinton en Barack Obama nie gesê het dis Christene wat vermoor is nie; hulle het albei getweet dis “Easter worshippers”. Die woord “Christen” is iets wat hulle klaarblyklik weier om te gebruik. Maar, hulle is nie bang om Islam by die naam te noem as hulle lede vermoor word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.