AfriForum en die omstrede BELA-wetsontwerp

Alana Bailey.

Op 15 November 2022 is AfriForum se mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) deur my aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys gelewer.

Dit het geskied in aansluiting by die uitgebreide kommentaar en senior regsmening wat AfriForum in 2017 en weer in Junie vanjaar hieroor by dié komitee ingedien het. Die kontroversiële wetsontwerp kom inderdaad al ʼn lang pad.

Dit is ʼn gesonde beginsel dat wetgewing gereeld hersien word om seker te maak dat dit aan die veranderende eise van die samelewing beantwoord. Blote hersiening van tegniese aspekte is geen probleem nie, maar die minister van basiese onderwys en verskeie van haar amptenare het deur die jare al soveel aanvallende uitlatings teen veral die Afrikaanse gemeenskap en skole gemaak, dat daar min vertroue onder dié gemeenskap in die bona fides van hierdie wetsontwerp is. Die inhoud daarvan dien as net meer motivering vir die wantroue.

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel verkeer al jare lank in ʼn krisis, met 80% wanfunksionele skole, onaanvaarbare hoë vlakke van geweld op skoolterreine en van die swakste taal- en wiskundegeletterdheidsyfers in die wêreld, soos onder meer die TIMSS en PIRLS internasionale peilings aantoon.

In die Internasionale Monetêre Fonds se verslag van 2019, Struggling to make the grade: a review of the causes and consequences of the weak outcomes of South Africa’s education system word die land se swak ekonomiese groei direk aan die lae gehalte van die onderwysstelsel toegeskryf. Die staat faal dus jammerlik met die wyse waarop dit die onderwysstelsel bestuur.

ʼn Mens sou verwag dat die BELA-wetsontwerp op die genoemde geletterdheidsuitdagings sal fokus, maar vele van die wysigings wat dit aan die Suid-Afrikaanse onderwyswet van 1996 voorstel, is bloot daarop gerig om net nog meer mag en hulpbronne in die hande van die staat te plaas.

AfriForum se vernaamste besware teen die wetsontwerp handel oor hierdie magsentralisasie en die bedreiging wat dit vir die voortbestaan van Afrikaanse skole inhou.

Verteenwoordigers van organisasies wat genooi is om voorleggings aan die parlementêre portefeuljekomitee te maak, het net ʼn spreekbeurt van vyftien minute gekry en moes daarna ook vrae van die komitee beantwoord. AfriForum se mondelinge voorlegging het daarom hoofsaaklik op sleutelbesware teen bepalings van die wetsontwerp gekonsentreer.

Toelatingsbeleid

AfriForum is van mening dat artikels 4(d) en 4(e) van die wetsontwerp wat oor skole se toelatingsbeleid handel, glad nie aanvaar moet word nie. Dit stel voor dat die finale sê oor skole se toelatingsbeleid wat tans by ouerbeheerliggame berus, die verantwoordelikheid van provinsiale onderwysdepartementshoofde moet word.

AfriForum sien geen rede waarom die bestaande artikel 5(5) van die skolewet gewysig moet word nie. Nie alleen het die amptenare nie die kapasiteit om hierdie aanvullende werkslas te hanteer nie, maar belangriker nog, sal die verskuiwing van die besluitnemingsmag vernietigend vir die gees van die huidige vennootskapsmodel, met wisselwerking tussen die demokraties verkose beheerliggame en die staat, wees.

Uitsprake van die howe in die Ermelo-, Welkom- en Rivonia-hofsake, waarna breedvoerig in AfriForum se skriftelike voorlegging verwys is, erken die noodsaaklikheid en geldigheid van so ʼn gemeenskapsgedrewe model. Die bestaande bepalings van die grondwet, skolewet, provinsiale en ander wetgewing is voldoende om die toelating en inskrywing van leerders te reguleer en vir regstelling in die geval van dispute te sorg.

ʼn Skool se beheerliggaam is die mees geskikte instelling om die skool se toelatingsbeleid te bepaal omdat dit grondvlakkennis van die skole en die gemeenskap, hulle omstandighede, die skool se kapasiteit en beskikbare hulpbronne het.

Die voorgestelde wysigings sal hierdie funksie van beheerliggame betekenisloos maak, aangesien die finale besluit oor toelatingsbeleid nou in die hande van die staat sal lê. AfriForum staan staatsbeheer van hierdie aard teen.

Taalbeleid

Soos met die toelatingsbeleid, het artikel 5 van die wetsontwerp ook ten doel om die bevoegdhede van beheerliggame ingrypend te verskraal deur die finale goedkeuringsbevoegdheid oor ʼn skool se taalbeleid aan die provinsiale departementshoof te verleen. Tans berus dit ook by beheerliggame.

Daar is weereens geen rede waarom die bestaande bepalings van die skolewet hoegenaamd gewysig moet word nie. Hierdie bestaande bevoegdhede is onderhewig aan die grondwet, skolewet en toepaslike provinsiale wetgewing om enige vorm van rasse- of ander diskriminasie met betrekking tot taalbeleid en die implementering daarvan te voorkom.

Verskeie uitsprake van die konstitusionele hof het verdere duidelikheid aan die wetgewende raamwerk verleen. In die saak oor Ermelo Hoërskool se taalbeleid, het dit byvoorbeeld in die uitspraak verklaar:

Its primary function [met ander woorde die funksies van die ouerbeheerliggame] is to look after the interests of the school and its learners. It is meant to be a beacon of grassroots democracy in the local affairs of the school. Ordinarily the representatives are parents of learners and of the local community and are better qualified to determine the medium best suited to impart education in all the formative utilitarian cultural goodness that comes with it.

Hierdie kulturele heilsaamheid wat gemeenskapsbetrokkenheid skep, moet ten alle koste beskerm word en nie deur staatsinmenging en -beheer belemmer word nie.

Dit wil voorkom asof hierdie wysigings ingestel word ten einde die staat se onvermoë om infrastruktuur te voorsien, te verbloem. Druk wat weens die tekort aan skole ontstaan, word toenemend op enkel-, dubbel- en parallelmedium Afrikaanse skole geplaas om hulle te dwing om Engelssprekende leerders te akkommodeer.

Dit gebeur ten spyte van die feit dat Afrikaanse enkelmedium openbare skole jaarliks ​​afneem en dat Afrikaans as onderrigmedium by minder as 10% van openbare en onafhanklike skole in die land gebruik word.

Om enkelmediumskole te dwing om meer onderrigtale te akkommodeer, is geen oplossing nie. ʼn Verslag deur die Verenigde Nasies se Spesiale Rapporteur vir Minderheidsregte, prof. Fernand de Varennes, skets uitdagings wat dubbel- en parallelmedium-instellings in die gesig staar, soos die onvermoë om die gebruik van meer as een taal in ʼn enkele instelling te balanseer, die tekort aan materiaal van eenderse gehalte in beide tale en die gelykwaardige assessering van studente.

Hy voeg by dat sprekers van minder dominante tale dikwels onder druk geplaas word om “redelik” te wees en om die erosie van hulle taal en die toenemende gebruik van die dominante taal te aanvaar sonder teenspraak. Oplaas het dit die afskaffing van die minder dominante taal tot gevolg, tot nadeel van die sprekers daarvan.

Moedertaalonderrig is die beste vorm van onderwys. Waar dit bevorder word, ervaar lande meer ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit. ʼn Verhoogde aanbod van enkelmedium-moedertaalskole word in Suid-Afrika vereis, maar hierdie wetswysiging gaan dit nie laat gebeur nie.

Ander besware en slotsom

AfriForum het ook besware teen en vrae oor die grondwetlikheid van verskeie van die ander artikels in die wetsontwerp, byvoorbeeld artikel 14 wat handel oor die openbaarmaking van beheerliggaamslede se finansiële belange. Die vereistes daarvan druis in teen wetgewing wat individue se reg op privaatheid beskerm. Artikel 16 handel oor besluite oor die verkryging van leer- en onderrigmateriaal en kom ook neer op staatsbemagtiging ten koste van beheerliggame.

Na AfriForum se mening bedreig verskeie van die voorgestelde wysigings in die wetsontwerp dus die sukses en optimale funksionering van openbare skole. Die vergrote mate van staatsbeheer sal vertroue in die openbare skolestelsel en ouerbetrokkenheid ondermyn. Dit sal fataal wees, want deelname van ouers en die gemeenskap is noodsaaklik vir die lewering van hoë gehalte onderwys.

Die staat is op makrovlak by onderwys betrokke en behoort nie op mikrovlak by die bestaande bevoegdhede van beheerliggame in te meng nie, tensy die norme en standaarde wat tans vir dié liggame geld, nie nagekom word nie. In sodanige gevalle bied die bestaande bepalings van wetgewing, saamgelees met die uitsprake van Suid-Afrikaanse howe, voldoende voorsorgmaatreëls om in te gryp waar nodig.

Dit laat die vraag ontstaan ​​waarom daar hoegenaamd wysigings aan die verantwoordelikhede van beheerliggame voorgestel word en wat die onderliggende politieke agenda is.

AfriForum het in die voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee beklemtoon dat min sedert 1994 gedoen is om te voldoen aan die ondernemings van destyds dat taal en kultuur beskerm sal word. Hierdie wetsontwerp se wysigings, wat betrekking het op die toelatings- en taalbeleide, kom na AfriForum se mening neer op ʼn berekende aanval op Afrikaanse onderwys, terwyl dit geen verligting bied aan die sprekers van ander inheemse tale nie.

Sou dit geïmplementeer word, sal dit op ʼn onherstelbare, eensydige en permanente verbreking van die grondwetlike skikking wat in 1994 bereik is, neerkom.

In AfriForum se skriftelike voorlegging is maniere voorgestel waardeur staatsbeheer verminder kan word en die desentralisasiemodel uitgebou kan word om beter onderwys aan almal te bied. Die huidige fokus op hierdie kwessie bied ʼn unieke geleentheid om die openbare skoolstelsel te heroorweeg.

AfriForum het dus weer ʼn beroep op die parlementêre komitee gedoen om die huidige wetsontwerp te verwerp en van nuuts af oor dié kwessies te besin.

Wat gebeur nou verder?

Vandeesmaand loop die mondelinge voorleggings aan die komitee ten einde. Die volgende proses wat gaan volg, is ʼn openbare raadplegingsproses oor die wetsontwerp wat vroeg in 2023 landswyd sal plaasvind.

AfriForum sal ook hieraan deelneem en die publiek aanmoedig om hulle stemme by hierdie sessies te laat hoor, sodat die gevaar wat die wetsontwerp vir gehalte moedertaalonderrig en gemeenskapsregte inhou, afgeweer kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.