Afrikaans en die senior bestuur van histories Afrikaanse universiteite

bremner gebou universiteit kaapstad

Betogers buite die Bremner-gebou by die Universiteit van Kaapstad Foto: Carla Bernardo, African News Agency

Martin Botha

Suid-Afrikaanse universiteite het in die aanloop tot die plaaslike verkiesings, die politieke speelveld geword waar #transformasie en ander politieke verbuigings gebruik word om die afvallige jeug (tydens die laaste studenteraadsverkiesings het baie studenterade of DA of EFF geword), weer agter die ANC te groepeer. Dit is goed georganiseer en verkondig asof dit ʼn rewolusie is, wat spontaan van grondvlak af ontstaan het. Ewe toevallig het dit dan ook regoor die land versprei, net soos ʼn regte rewolusie, want die jeug is moeg daarvoor dat transformasie so stadig plaasvind. As jy hierin glo, kan jy net sowel glo dat ʼn brandpoel ʼn diepkant en vlakkant soos ʼn swembad moet hê. Die probleme vir die regerende party het begin toe hul eie beplande rewolusie teen hulle begin draai het. Die EFF, SASCO en ander organisasies is nie so maklik verenigbaar nie, al word # as die samesnoerder gebruik.

Gegewe die bogenoemde, kan mens nie anders as om te vra waarom dit dan so is dat universiteite so maklik omgedop word in die stryd nie. Die groot verandering in hierdie spel het gekom met die #FeesMustFall-optog na die Uniegebou en die president se aankondiging dat daar ʼn 0% verhoging in klasgelde sal wees. Die meeste akademici, joernaliste, politici, noem hulle maar op, het oor hulle voete geval om die studente wat die aksie geloods het, te ondersteun. Daar is gerieflik vergeet dat verreweg die meeste van die studente deur middel van NSFAS-beurse studeer. Dit is egter ook so dat NSFAS-beurse nie oral bygehou het met kostestygings nie. Die argument hier kan sekerlik ook wees dat die regerende party die probleem moes voorsien het en proaktief moes optree, maar onthou dit gaan nie hier oor logika nie, dit gaan oor die ideologie. Soos party studente dit duidelik gemaak het “Let’s unite behind the #FeesMustFall campaign, we will talk later about transformation”. Die verhoging in klasgelde het geval en nou is die fokus terug op transformasie. Die gevolg hiervan is ʼn byna koorsagtige oor-die-voete-vallery om die studente, wat in baie gevalle ʼn minderheid vorm, te akkomodeer. Dit is veral die histories Afrikaanse universiteite wat verstom met hul gewilligheid om Afrikaans in hul politieke gedienstigheid prys te gee. Maar hoekom is dit so?

Hierdie vraag het ʼn veelkantige antwoord. Dit begin by die rade van universiteite, waar die samestelling van rade, met onder meer ministeriële aanstellings in hul midde, ʼn moeilike gevegsgrond geword het. Dit is hier waar die emosionele aanvalle met die politieke verlede van die land as grondslag geloods word. Dit is ook hier waar aangedring word op Engels as voertaal omdat Afrikaans dan uitsluitend is en as ʼn meganisme gebruik word om toegang te beperk. Dit is ook hier waar Afrikaanse raadslede maklik gebrandmerk word dat hulle nog nie die Rubicon oorgesteek het nie of rassiste is as hulle Afrikaans se toekoms probeer verskans.

Argumente wat deur die ministeriële aanstellings/kaders gevoer word, is onder meer dat hulle (die ANC) geveg het teen die apartheidsisteem en nou skaam is om te sien dat universiteite hul kinders steeds aan die argitektuur van apartheid blootstel, deur te verwag dat hulle in Afrikaans moet klas draf en hul lesings deur middel van onder meer tolkdienste by sommige universiteite moet ontvang. By universiteite wat al oorgeskakel het na ʼn volle parallelmediumstelsel, is die argument dit werk integrasie teen, bevoordeel Afrikaanse studente, is duur, beperk die navorsingstyd van personeel en sit ʼn vorm van apartheid voort. Die volgorde van argumente wat gebruik word, kan gevolg word deur die verskillende ou Afrikaanse universiteite op ʼn trajek te plaas, met die Universiteit van Johannesburg op die verste punt aan die een kant, waar Afrikaans bykans geheel en al uitgewis is, na die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroomkampus op die ander punt, waar Afrikaans nog sterk funksioneer maar waar die druk baie hoog is om hierdie “apartheidsenklawe”, met sy 28% swart studente, te transformeer. Universiteite of kampusse soos die Noord-Wes Universiteit se Mafikeng kampus, met ʼn studentegetal wat volledig swart is, kom nooit onder skoot nie. Hulle is mos klaar getransformeer.

Wanneer mens vanuit ʼn universiteitsoogpunt met hierdie argumente werk, oplossings rondom die ideologieë soek, is die resultaat altyd dat Afrikaans die slagoffer is. Die vraag kan gevra word of daar dan nie leiers in die universiteitsektor is wat bereid is om in belang van Afrikaans, die land en sy toekoms, hierteen op te staan nie. Die antwoord is dat daar wel sulke leiers is (gewoonlik is hulle in die minderheid en nie in die hoogste posisies nie), maar dat hulle gemarginaliseer, gebrandmerk en deur die stelsel verwerp word, omdat hulle gedurf het om dit te doen. Dit is gewoon teen die mode om vir Afrikaans te praat en waar kom hulle in elk geval aan hul argumente, want niemand in die bestuur of die raad wil mos Afrikaans benadeel nie. Dit gaan bloot oor gelyke geleenthede. Wat dit die moeilikste maak, is dat dit meestal juis Afrikaanses is wat in universiteitsbesture en rade die pragmatiese oplossings verkondig. Hierdie oplossings is gewoonlik net ʼn trappie na die volgende stap op die trajek na die vernietiging van Afrikaans in die universiteitsektor, maar skep vir die oomblik, wat ʼn saak onder bespreking is, die verligting in raadsale dat “ons mekaar kon vind”. Soos sake staan, is ons by die meeste universiteite so ver op die trajek dat selfvernietiging van Afrikaans bykans onvermydelik geraak het. Die argument kan ook gevoer word dat dit nie regverdig is om van individue in die bestuur en rade van universiteite alleen te verwag om Afrikaans se saak te beskerm nie. Dié wat oorgebly het, is gewoon te min en te dun om dit te doen.

As mens na die huidige toedrag van sake kyk, blyk dit Afrikaans se saak is verlore. Sommige “verligtes”, soos Max du Preez, maan Afrikaanses op verskeie platforms om terug te staan, te luister en nie op te tree nie.  Afrikaanses (wittes) het hul beurt gehad. Hierdie benadering sal lei tot die besliste ondergang van Afrikaans. Die enigste oplossing vir die sektor lê in die politiek. Die regerende party moet gedwing word om ʼn positiewe kopknik, dit wil sê goedkeuring, vir ten minste 2 Afrikaanse kampusse te gee. Die probleem is dat die DA onwillig is om Afrikaans se saak te bevorder, want hulle het hulself anders posisioneer en die VF+ is gewoon te klein om die nodige impak te hê. Dit blyk dus die enigste oplossing lê daarin dat Afrikaanses (almal wat Afrikaans wil bevorder, wit, bruin en swart) moet mobiliseer. Dit blyk dat die regering net sal luister as daar op hierdie wyse opgetree word, soos die #studentegenerasie bewys het. Deur te versuim om op tree, word die individue in rade en besture wat Afrikaans se saak bevorder, uitverkoop en sal Afrikaanses ʼn stelsel kry wat hulle verdien deur hul versuim.

  • Martin Botha is die skuilnaam van ‘n senior akademikus.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Henry ·

Jammer dat hierdie ‘veelkantige antwoord’ onder ‘n skuilnaam geskied.

Dat te min akademici en studente bereid is om hul openlik teen die aanvalle op ons Taal te verset, is juis een van die oorsake vir die suksesse wat die vyande van Afrikaners reeds behaal het.

Ook-'n-skuilnaam ·

Ja, Henry, dis voorwaar jammer. Maar broodnodig, want ons poste is in gedrang. En daarmee saam ons vermoë om vir ons familie te voorsien. Maar wat hierdie skrywer skryf, laat my met trane in my oë oor die waarheid daarvan. Die mate van beskuldiging, bywoon van sogenaamde “transformasiewerkswinkels”, gedwonge prestasiebestuurstelsels wat elke jaar met rasse skrede opwaarts aangepas word (lankal verby dit waarvoor ons aangestel was), sonder die hoop van bevordering….ek kan lank aangaan. Maar, soos ek gesê het, ons mag nie lank aangaan nie. Want ons kinders moet eet, skoolgaan, opleiding ontvang. Ons is vas.

Dirk Hall ·

Dit is vir my altyd verbasend hoeveel meningd saar is. Die een so en die ander sus. Die Afrikaner sien die storie uit sy geskiedkundige ervaring en die ANC uit sy ervaring end EFF uit sy ervaring.

Die oogpunte/ervarings word in die verskillende koerante/e-koerante/blogs ens. uitgespreek. Dit geval die lesers met die voorkeur vir die meduim wat hy/sy verkies om te lees.

Die geleerde vriend hierbo skryf vir ‘n gehoor wat varbaar is vir sy mening en opinie – reg of verkeerd. Dit is ongelukkig hoe dinge werk in die lewe. Daar is bitter min mense wat vir hulle self kan dink of eerder self ondersoek wat gaande is.

Ek vir een dink Mantashe het dit die keer reg. Daar is ‘n teen-rewolusie. Die teen-rewolusie is gemik teen die rewolusie wat die ANC voer. Dit bly egter ‘n voortsetting van die rewolusie. Dit is AFRIKA. Daar is altyd en sal altyd hierdie teenstrydige rewolusie wees. Afrika se mense is ongelukkig maklik beinvloedbaar en pione van die wat die meeste bollie kan praat en die meeste niks belowe.

Die Afrikaner is egter op die staduim die bron wat enige rewolusie suksesvol sal dryf. Of dit deur die ANC of enige ander faksie gedryf word, maak nie saak nie. Die Afrikaner as vyand is die bron van pion-werwing.

Wat egter hartseer is is die feit dat die Afrikaner dit gelate aanvaar. Daar is tekens dat die eens vreesaanjaende Solidariteit ook besig is om sy stryd vir Afrikaners af te skaal. Die trant van debate in e-formaat en oor Solidariteit FM is duidelik daarop gemik om die Afrikaner te kondisioneer vir die rewolusie. Daar is ‘n meer”soft approach” houding te bespeur.

Dit is egter nie verbasend nie. Vakbonde is en bly maar ‘n marxsistiese gebruik.

Een ding moet egter onthou word dier al die partye wat poog om ander te beinvloed: –

Almal slaap nie. Die dag as daar die is wat lus word om pyp op te steek sal daar geen keer wees nie. Front Nasionaal is dalk lagwekkend op die staduim. Die Stormfronters dalk net ‘n klop kwakkers. Die gras is egter besig om te smeul.

Almal verstaan verkeerd. Hierdie is nie ‘n eie aan Suid Afrika nie. Dit is ‘n aanslag teen die Witras as geheel wereld wyd. Wie dit dryf is duidelik. Die selfde name/organisasies/politieke belange weerspieel in alle voorvalle baie duidelik.

Niemand is egter so blind as hy wat nie wil sien nie of so doof as hy wat nie wil hoor nie.

Wag lat ek my pyp en twaksak nader trek. Die grap gaan nog vir sports sorg! Mis wil ek dit nie mis nie!

Mich ·

Dankie Dirk, stem 100% saam. Ek reis gereeld en moet eerlik se ons afrikaners is so toegewikkel in ons eie klein oorlogies dat ons nie besef ons moet eintlik saam staan teen ‘n groter probleem nie. ‘n bietjie perspektief en bybelse insig sal ons almal se oe oopmaak.

Piet ·

En so is jou en Mich se mening toe ook een van hoevele menings.
Gelukkig is daar organisasies soos Solidariteit en Afriforum wat nie alleen met menings vorendag kom nie, maar ook met aksies. Aksies wat nie geweldadige absurditeite en onhaalbare Utopia’s van politici insluit nie.
Vive l’ Difference en dankie tog dat ons nie almal dieselfde twak rook nie.

Frik Lotz ·

Ons moet opstaan vir Afrikaans en nie bang wees om ons uit te spreek teen diegene wat die taal tot niet wil maak nie. Dankie aan mense soos dr. Pieter Mulder en die VF Plus wat onbeskaamd veg vir die oorlewing, handhawing en uitbou van Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.