‘Afrikaans? Só voel ek oor DA-parlementslid se artikel’

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Prof. Annelie Lotriet van die DA het ’n goeie artikel geskryf oor die swak posisie van Afrikaans en veeltaligheid in Suid-Afrika (Maroela Media 8 Maart 2019).

Ek stem met die meeste punte saam en sou beslis nie soveel lelike woorde gesê het terwyl ek die artikel gelees het, as sy die artikel namens die VF Plus, AfriForum of FAK geskryf het nie. Om as DA so ’n artikel te skryf, is van die mees blatante opportunisme voor ’n verkiesing wat ek nog ervaar het.

“Woorde wek, maar voorbeelde trek,” is ’n mooi Afrikaanse gesegde.

Lotriet het baie mooi woorde oor Afrikaans in haar artikel. Ek soek egter tevergeefs na voorbeelde waar dit wat sy predik, in die praktyk deur die DA gedoen is. In die afgelope 30 jaar is die enigste voorbeelde wat ek kon kry die DA se Afrikaanse verkiesingsplakkate by elke verkiesing. Dit bevestig natuurlik my punt dat Lotriet se artikel net om Afrikaanse verkiesingstemme gaan.

Maar laat ek nie met woorde argumenteer soos Lotriet nie, maar met voorbeelde. Daar is ongelukkig net ruimte vir enkele voorbeelde:

1. Grondwetonderhandelinge

Tydens die grondwetlike onderhandelinge van 1994-1996 was ek lid van die spesifieke komitee wat oor taal in die Grondwet moes besluit.

Verskeie niepolitieke organisasies het voorleggings aan ons komitee gemaak dat Engels, soos in Namibië, die enigste amptelike taal vir Suid-Afrika moet wees. Dit, terwyl Engels maar die vyfde grootste taal in Suid-Afrika was, met isiZulu eerste, gevolg deur isiXhosa en Afrikaans as derde grootste taal.

Ek het namens die Vryheidsfront verskeie voorstelle gemaak oor hoe landwyd, maar veral in provinsies, erkenning aan al die verskillende tale van Suid-Afrika gegee kan word, wetende dat Afrikaans en Engels nooit weer alleen op so ʼn posisie sou kon aanspraak maak nie.

Senator Errol Moorcraft het namens die Demokratiese Party ʼn voorstel by die komitee ingedien. Die Demokratiese Party se voorstel was dat Engels die hooftaal of lingua franca van Suid-Afrika moes word. Die Burger berig op 3 Augustus 1995 hieroor onder die opskrif “DP se omstrede Engelse taalbeleid gou bespreek.”

Hierdie voorstel van die Demokratiese party het in die ANC se hande gespeel en dit vir ons baie moeilik gemaak om veeltaligheid te bevorder. Ná openbare skok en druk het die Demokratiese Party heelwat later hierdie taalbeleid moes verander.
Hierdie voorbeeld is darem baie oud en daarom onbillik, kan geredeneer word.

2. Wes-Kaap: Hansard-beleid

Kom ek gee dan ’n meer onlangse voorbeeld: Die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat ’n eie provinsiale grondwet het. Die Grondwet van die Wes-Kaap gee gelyke erkenning aan Afrikaans, Engels en isiXhosa.

In Maart 2016 besluit die DA in die Wes-Kaap dat Engels sy voorkeurtaal sal wees en dat sy Hansarddienste daarom voortaan slegs in Engels beskikbaar sal wees. Hansard is die diens waardeur alle toesprake wat in die wetgewer gehou word, gepubliseer word. Dit terwyl die sensus toon dat die meerderheid mense in die provinsie Afrikaans praat (49%) teenoor slegs 20% Engels. Selfs isiXhosa op 25% word meer as eerste taal in die Wes-Kaap gepraat as Engels.

Dit is ironies dat alhoewel die Wes-Kaapse Grondwet gelyke erkenning aan Afrikaans, Engels en isiXhosa verleen en dat die DA in die Wes-Kaap in beheer is, hulle nie meertaligheid bevorder nie, maar kies om Engels alleen te gebruik. Dit terwyl ʼn ANC-beheerde provinsie soos die Vrystaat besluit het om Hansard in Sesotho, Afrikaans en Engels uit te gee.

3. Afrikaans by Universiteite

Met die aanslag teen Afrikaans as voertaal by universiteite, is die DA se standpunte verwarrend met geen werklike DA-druk op universiteitsowerhede nie.

Volgens die onderwysvakbond SAOU slaag genoeg wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes jaarliks matriek met universiteitstoelating sodat dit twee tot vier universiteitskampusse regverdig wat klasse in Afrikaanse aanbied.

Van die 36 universiteitskampusse in Suid-Afrika is slegs een, die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, nog oorwegend Afrikaans. Dit beteken dat die meeste kursusse daar nog van die begin tot die einde in Afrikaans voltooi kan word met tolkdienste na Engels.

Onlangs besoek die parlement se portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding die NWU se Potchefstroom-kampus.

In hul verslag, ná die besoek, plaas die parlementêre komitee baie druk op Afrikaans met talle ingrypende aanbevelings oor hoe die Potchefstroom-kampus getransformeer moet word. Toe die komitee se verslag in die parlement bespreek word, verras dit almal deurdat die DA al die ingrypende aanbevelings steun. Dit is slegs die VF Plus wat op die implikasies van die aanbevelings vir Afrikaans op tersiêre vlak wys en daarteen stem. (Kyk 27 Nov. 2014, Nasionale Vergadering Notule). Is een oorwegend Afrikaanse kampus dus vir die DA te veel gevra?

4. Tukkies en Afrikaans

Dalk moes ons nie verras gewees het nie. Hierdie optrede stem ooreen met die Tukkie DA-jeuglede se entoesiastiese ondersteuning vir die #AfrikaansMustFall-veldtog by die Universiteit van Pretoria. Sover ek kon vasstel het die DA nooit teen hulle opgetree nie.

5. Vaaldriehoek en Afrikaans

Dieselfde vrae moet gevra word oor waarom die DA doodstil was toe die Gautengse LUR vir Onderwys, mnr. Lesufi, met sy onredelike aksies ’n krisis in die Vaaldriehoek vir Afrikaanse skole geskep het. Uiteindelik moes die hof ingryp en red.

6. Parlementêre Koukus

In haar artikel nooi Lotriet ons uit om ’n vergadering van die DA se parlementslede by te woon om te sien hoe veeltaligheid prakties toegepas word. Hier moet ek vir dr. Laurie Bosman, voormalige DA-parlementslid en ander DA’s wat na die VF Plus oorgeloop het, as getuies nader trek. Hulle getuig presies die teenoorgestelde van hoe Afrikaans nie meer in die DA se parlementêre koukus toegelaat word nie.

Dit klop ook met die feite dat 99% van die DA toesprake in die Parlement net in Engels is. Hierdie feite kan in Hansard en deur die sprekerslyste wat taalgebruik aandui, getoets word.

Die VF Plus praat Engels en Afrikaans in die Parlement omdat ’n voorstel van my en druk van die VF Plus daarin geslaag het dat die parlement ’n vertaaldiens in al elf tale ingestel het. Tot die EFF maak meer gebruik van hierdie tolkdienste as die DA deur in hul moedertale toesprake te hou.

7. Taalmonument se begroting

Die parlementêre portefeuljekomitee vir kuns en kultuur, waarop ek gedien het, moet jaarliks verskeie monumente se begrotings goedkeur. Toe die Afrikaanse Taalmonument en -museum in die Paarl aan die beurt kom, maak die ANC en die EFF ernstig beswaar. Die ANC argumenteer dat dit “an evil” monument is wat aan apartheid herinner en dat geen verdere geld aan die monument goedgekeur moet word nie. Dit het ingrypende implikasies vir alle besoekers aan die monument asook vir die twintig personeellede wat onmiddellik hul werk en salarisse gaan verloor.

Op my en ander lede se voorstel is besluit om die Taalmonument te besoek voor so ʼn drastiese besluit geneem word.

Die bestuur van die monument het moeite gedoen om ons in te lig oor al die aktiwiteite van die monument. Nadat ek die simboliek van die Taalmonument aan die ander politieke partye se parlementslede verduidelik het, was die ANC-voorsitter se opmerking teenoor my: “Dr. Mulder, this is an honest monument.” Daarna is die begroting goedgekeur. Dit beteken dat die monument met sy goeie werk kon voortgaan en dat al die werknemers, waarvan die meerderheid bruin is, se poste verseker is. Die twee DA-lede van die komitee het verkies om ander verpligtinge na te kom en het die besoek nie meegemaak nie.

Is ek dalk onnodig krities oor die DA? Sien ander wat buite die politiek staan, ook raak wat ek sien?

8. Hermann Giliomee

Prof. Hermann Giliomee, as gerekende objektiewe historikus, is so ’n persoon wat buite die politiek staan. Hy skryf in Augustus 2017 ’n artikel met die titel “Afrikaans is in crisis and the DA is silent”. Daarna spreek hy sy kommer oor Afrikaans uit in die dagblad Beeld (2/9/2017). Daarin skryf hy dat hy teleurgesteld is in die DA se rol en onbetrokkenheid om die agteruitgang van Afrikaans te help keer — siende dat so baie Afrikaanssprekendes vir die DA stem.

Ten slotte

Hopelik verstaan lesers nou my frustrasies met die Lotriet-artikel oor die DA “wat veg vir Afrikaans.” Miskien moet ek moedswillig wees en in die lig van al die voorbeelde hierbo met Ralph Emerson se aanhaling in Engels afsluit: “Your actions speak so loudly, I cannot hear a word what you are saying”.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

125 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christiaan

Hulle (DA) regeer steeds beter en skep meer werksgeleenthede. Beide doen die VF+ nie. Met ‘n werk kan ek eet, nie met ‘n taal nie. As mense môre moet kies tussen ‘n taal of om veilig/voorspoedig te wees…kies hulle elke dag veilig/voorspoedig. Afrika is nie meer “ons” sin nie en die VF+ met al sy hoe-ha skryf nie beleid of stel wetgewing in werking nie. Terwyl julle met ou politiek te werk gaan, moet ons môre gaan werk!

John

Pieter No 1 was van toeka af in die parlement en hierdie is sy langste vertoè tov Afrikaans, maar ons moet hom maar die laaang stilte vergewe… Hy is nou ‘n staatsdienspensioenaris en gerugsteun deur Gerrie se wakker brein en AfriForum se fondse kan hy ‘n woordjie waag… Pieter No 2 is ok darem daar… Hy sal terugslaan as Pieter No 3 dalk te bang is.

Nelia van Zyl

Mnr Mulder, ten einde my stem te kry, moet die betrokke politieke party my veiligheid kan waarborg, ekonomiese stabiliteit voorsien, geborge toekoms, my taal en kultuur erken en vir my leefruimte gee in ‘n land waar respek, integriteit en menswaardigheid ‘ n gegewe is. Daar is nié so party nie.

Neels

Ja Christiaan , ek weet nie waar sien jy veilig/voorspoedig in hierdie land nie . Gelukkig kan ek nog my kop gebruik , ander mense hoef nie vir my te dink nie .

Oud-stryder

Uitstekend geagte Dr. Mulder!!
Dit is tog ‘n gegewe dat ‘n sekere mate van intellek en begripsvermoë moet bestaan om enige gesprek te kan volg. ‘n Mens kan luister sonder om te hoor, of lees sonder om te verstaan, kyk sonder om te sien, ensomeer!
Hou asseblief vol met u werk; daar is beduidende ondersteuning, al word daar dikwels in die media gepoog om dit verdag te maak en te ontken.