Afrikaans, transformasie en vervreemding op universiteite

huis-jbm-hertzog-residences

Huis JBM Hertzog Foto: residences.ufs.ac.za

Hierdie artikel is ʼn verwerking van ʼn toespraak van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat onlangs tydens ʼn byeenkoms van Kovsie-personeel in Bloemfontein gelewer is. -Red

Rudi Buys, studentedekaan van Kovsies, noem dit fundamentele en volledige transformasie. As jy nie daarvan hou nie, kan jy jou tasse vat en ʼn ander blyplek gaan soek.

“Alles sál verander! Hierdie is nie ’n gesprek nie.” “Ek gaan nie baie vrae neem nie.” En: “Ek gaan nie hieroor debatteer nie.” “Ek eis dat julle my respekteer!” sê die uitgesproke studentedekaan aan die inwoners van die koshuis JBM Hertzog. Hierdie fundamentele transformasie word ook beskryf as ʼn kulturele hernuwingsproses. As deel van die proses word Gurthrö Steenkamp, ʼn oud-inwoner van JBM, se rugbytrui uit die koshuiskroeg verwyder en persoonlike items wat aan die Boere-generaal J.B.M. Hertzog behoort het, is fundamenteel en volledig weggetransformeer.

Fundamentele transformasie sny veel dieper nog as bloot taaltransformasie. Dit gaan nie oor Afrikaans by die Universiteit nie; dit gaan oor die Afrikaanse identiteit. Dit gaan ook nie oor wat die studente praat nie, maar wie hulle is. Hulle mag nie wees wie hulle is nie. Hulle moet fundamenteel verander. Hulle moet herontwerp word. ʼn Sosiale manipulasie proses wat vergelyk met die bestes ter wêreld. Gedwonge identiteite. Jy moet word wat ek wil hê jy moet wees, en daaroor mag ons nie debatteer nie.

Die bevorderaars van dié soort transformasie glo dat die enigste moreel-verdedigbare samelewing een is waar alles vooraf ontwerp is. Vir mense wat tot die heersende interpretasie van transformasie verbind is, is slegs dinge wat ontwerp is goed – dinge wat ontluik het, is sleg. ‘n Mens hoor dit byvoorbeeld wanneer Buys vir die studente sê dat hulle, nadat JBM Hertzog se naam verander is en nadat alles van vooraf ontwerp is, wonderlik en welkom sal voel. Só ‘n ontwerp-benadering, ontwerp vanuit die niet, staan uit-en-uit in spanning met ‘n erkenning van ontluiking.

JBM is maar ʼn mikro-kosmos van die Universiteit van die Vrystaat. Stukkie vir stukkie word die instelling in hierdie fundamentalistiese transformasiedrukgang ingelei. Die hernuwingsproses word geïnstitusionaliseer en beweegruimte raak min. Alle bestaande patrone van gedrag; alle bestaande taalgebruik; alle bestaande personeelsamestellings; en alle bestaande instellings moet ‘n nuwe, uitgedinkte en abstrakte karakter aanneem, voordat dit aanvaarbaar is.

So is dit ook met personeel. ʼn Proses ontstaan waar mense hulself nie meer herken nie. Selfvervreemding, noem die bedryfsosioloë dit. Jy moet maar inval by ʼn stelsel.

Volgens Seeman in sy bekende werk On the meaning of alienation volg die proses van selfvervreemding grade van verskerping. Dit begin by magteloosheid, dan betekenisloosheid, dan waardeloosheid en uiteindelik algehele selfvervreemding.

Dit begin wanneer personeel magteloos voel. Hulle voel hulle is in die stelsel, maar nie deel van die stelsel nie. Omdat sosiale manipulasie so onnatuurlik is, moet dit van bo afgedwing word. Interne weerstand word nie geduld nie. Personeel voel ontmagtig. Personeel hoor dat daar te veel van jou ras is. Die wêreld word verseker dat jou ras in die volgende paar jaar minder gemaak sal word. Planne word gemaak en wit werknemers voel onseker. Jou ras maak saak, maar jy kan dit nie verander nie. Dit wat jy kan verander, naamlik jou uitsette, maak nie meer saak nie.

Die magteloosheid word omgesit in betekenisloosheid. Omdat hulle nie deel van die stelsel voel nie, voel personeel hulle kan nie meer tot die stelsel bydra nie. As iemand iets wil sê, word die morele stilswye van die verlede op hulle gelê. Akademiese vryheid word geoffer vir gehoorsaamheid aan transformasie. Ras word die maatstaf van aanstellings en bevorderings. Jou eie meriete is nie meer ʼn waarborg vir sukses nie. Omdat daar nie meer ʼn noodwendige verband tussen harde werk en bevordering is nie, word die gevoel van betekenisloosheid verhoog. Die einde is nie in sig nie; om die waarheid te sê, die volgende drie jaar se planne is in plek.

Waardeloosheid volg op betekenisloosheid. Spanning ontstaan tussen personeel se waardes en dié van die Universiteit, en personeel beleef waardeloosheid. Nuwe waardes word gevestig. Eenvoudige, stok-strakke begrippe van goed en kwaad word gebruik. Die verlede is kwaad en die hede is goed. Die norme en waardes wat my gevorm het, is kwaad. Ek hoor dat die morele skuld wat deur my en my voorgeslagte opgebou is, net te veel is om in my geslag te betaal. Nuwe waardes, maar dit is nie my waardes nie.

Personeel begin geïsoleerd voel. Dit is net ek wat nog ek is. My identiteit is nie meer die instelling se identiteit nie. Trouens, my identiteit is juis ’n probleem vir die instelling. Alles moet fundamenteel verander en ek pas nie meer in nie. Dit lyk nie meer vir my of ek deel is van die groter prentjie nie.

Maar ek is ek, en ek kan nie fundamenteel verander nie. Personeel begin alleen voel.

Dit is op hierdie punt wat personeel vervreemd van hulleself begin voel. Hulle herken hulleself letterlik nie meer nie. Hulle begin onttrek en doen net wat nodig is. Depressie tree in. Hulle tree aggressief op en baie hou net kop bo water tot die aftreewal gehaal is. Die water is al hier net onder hulle neuse en hulle kan nie bekostig om golwe te maak nie.

So ’n toedrag van sake is onaanvaarbaar. Ons mag eenvoudig nie toelaat dat personeel hierdie vlakke van vervreemding bereik nie.

Vervreemde werknemers wat hulle selfvertroue verloor het, is ’n groot verlies. By ʼn akademiese instelling beleef ons tans die betreurenswaardige situasie dat sommige top akademici hulle akademiese selfvertroue verloor. Selfs ʼn Senaat kan só geneutraliseer word, omdat idees afgekondig en nie ontwikkel word nie.

ʼn Sosiale manipulasieproses onder die dekmantel van fundamentele en ingrypende transformasie behoort egter nie fundamentele en ingrypende akademiese debat te oorleef nie.

Sosiale manipulasie en denkpolisie is verkeerd oral, maar veral by ʼn akademiese instelling. Hier behoort vryheid te wees en ʼn kultuur van kritiese denke. Dosente moet dit wéés en studente moet dit léér. Hier moet ʼn vibrasie van debat wees. Die hernuwingsproses moet fundamenteel uitgedaag word. ʼn Universiteit moet dit uitskreeu: “Hier is gesprek, hier gaan baie vrae gevra word, hier gaan gedebatteer word.”

Op universiteite het ons ons akademiese selfvertroue verloor, want daar is ʼn aanval op wie ons is. Ons mag nie wees nie, daarom kan ons nie sê nie.

Hierdie verskynsel is nie net ʼn Kovsie-verskynsel nie, maar ʼn nasionale verskynsel. Daar is nasionaal ʼn fundamentele transformasieproses; alles moet verander. Die instrument wat gebruik word, is die ideologie van verteenwoordigendheid. Die nasionale rassedemografie moet oral presies weerspieël word. Alles moet oral presies dieselfde lyk en klink. ʼn Sosiale manipulasieproses met ʼn reuse omvang: ʼn Gemeenskap wat oral dieselfde lyk (al is dit nog nooit in die geskiedenis van die aardbol bereik nie).

Hoe absurd hierdie ideologie ook al is, daar is nog nie ʼn akademiese antwoord daarop ontwikkel nie. Universiteite het hulle kritiese stem verloor. Ek is op die NWU se raad en ek beleef ook daar steriele akademiese debat. Die groot nasionale projek se momentum is net so groot dat, hoe verkeerd dit ook al is, daar nie tans ʼn antwoord ontwikkel word nie.

My versoek aan akademici en alle personeel is, daag hierdie absurde sosiale manipulasieprogramme uit. Publiseer daaroor, debatteer daaroor, vra daaroor. Moet dit nie aanvaar nie.

Skryf veral oor alternatiewe, raak betrokke in die stryd om idees. Die Rektor het nie die alleenreg tot idees wat afgekondig kan word nie.

Gaan omhels akademiese vryheid. Neem u Authentica Habita op. Die reg van vryheid van die student met sy oorsprong uit die Italiaanse Universiteit van Bologna wat al uit 1188 dateer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Jessica ·

Die NWU se “taakspan”-debakel is ‘n goeie voorbeeld. Klassieke ANC-identiteitspolitiek wat deur ‘n kamma-onafhanklike, met die hand uitgesoekte groepie op die PUK afgedwing word – die Afrkanistiese identiteit van ‘n ANC-utopie, onder die dekmantel van “institusionele kultuur”.

Gaan die NWU se universiteitsraad nou ook soos ander universiteitsrade pens en pootjies vir Blade & Kie se verspotte agitprop val?

En so by the way: wié hét besluit dat die sg. “taakspan” onafhanklik is?

Coenraad ·

Noem my maar allerhande dinge, maar dis reeds te laat. Alles is reeds deurtrek met ´n perverse anti- Afrikaanse ideologie. Soos die rympie sê: Neem bestek van wat jy kan verander en berus in dit wat jy nie kan nie.

Du Toit Maritz ·

Dirk doen wonderlike werk, en hy verdien ons almal se ondersteuning. Ek is ‘n groot bewonderaar.

Maar ek wonder ook of dit nie te laat is nie. Die heel groot probleem is dat so baie mense om ons die “transformasie” ondersteun, en selfs help dryf. Die joiners en hensoppers is maar nog met ons, soos altyd. Die verskil is hulle is nou akademici, besigheidsleiers, professionele mense, en dies meer. ‘n Nasie wat nie meer wil bestaan nie, sal noodwendig verdwyn. Ons het nie meer die dryfkrag wat nodig is nie. Ons is nie soos die Jode, die Kurde, die Baske of die Skotte nie. Helaas.

Maar ek is meestal verkeerd. Ek hoop ek is hierdie keer weer verkeerd.

Michael Viljoen ·

Is hierdie nie dieselfde proses wat plaasgevind het toe die Britse koningkryk beheer geneem het oor SA nie. Het hulle ook nie net so probeer Afrikaans verwyder nie. As ‘n leerder Afrikaans op skool gepraat het was hy in ‘n hoek alleen gesit met ‘n hoed op sy kop (met woorde daarop wat ek nie onthou nie). Dit is op die einde van die dag niks meer as ‘n probeerslag om Afrikaans en die Afrikaanse mense te vertrap en te vernietig nie. Kyk maar na alle geskiedkundige “oornemings” wat misluk het omdat die nasie nie dit laat staan het nie. Ons as witmense moet net saam staan. OPHOU ONDER MEKAAR BAKLEI EN OPHOU NEERKYK OP MEKAAR. Saam staan en saam werk.

Peter Rossfour ·

Ek stem saam met Coenraad en Du Toit Maritz, ek glo dis klaar te laat. Sodra iemand die ANC of Zuma, of Malema se naam noem, skreeu die “joiners en hensoppers” “O nee! Rassisme!”, maar dis juis hierdie mense wat besig is om die Afrikaner en die blanke in hierdie land te ondermyn en te vertrap. Enige iemand wat nog glo dat die amper daaglikse, gruwelike plaasmoorde bloot krimineel van aard is staan soos die spreekwoordelike Volstruis met sy kop in die sand! Plaasmoorde is maar een deel van n fyn beplande offensief teen die blankes.

Michael Viljoen sê “Ons as witmense moet net saam staan. OPHOU ONDER MEKAAR BAKLEI EN OPHOU NEERKYK OP MEKAAR. Saam staan en saam werk.”

Ai tog, Michael, as dit maar moontlik was. Wanneer Gurthrö Steenkamp, ʼn oud-inwoner van JBM, se rugbytrui uit die koshuiskroeg verwyder word plus persoonlike items wat aan die Boere-generaal J.B.M. Hertzog behoort het, en die studentedekaan van Kovsies, dit “fundamentele en volledige transformasie” noem en boonop sê “As jy nie daarvan hou nie, kan jy jou tasse vat en ʼn ander blyplek gaan soek!” is ek bevrees is die skrif aan die muur.

Kulturele transformasie? Om wie te pas? Die “nuwe” bedeling? Moet ons skaam wees vir ons herkoms? Skaam dat ons Blank is? Skaam dat ons tradisies het wat eeue lank bestaan? Moet ons stilbly as die land om ons verkrummel en n stad soos Pretoria skielik TSWANE word? Wie het ten slot van sake hierdie land gebou tot wat dit vandag is?

Ek sidder as ek dink wat vir my kinders en hulle kinders wag.

Leendert van Oostrum ·

Dirk,

Wat jy sê oor studente en dosente is nog veel meer waar van skole. Veral die nuwe CAPS-kurrikulum skep omstandighede wat kinders van hulself vervreem.

Selfs die kleintjies van ses jaar oud word doelbewus onderwerp aan ‘n werkweek van ten minste 35 uur wat hulle al die tyd en energie ontneem wat hulle nodig het vir natuurlike ontwikkeling volgens hul individuele ontwikkelingsprofiel. En dan het ons nog nie die kurrikuluminhoud bespreek nie.

Die onderwysers word onderwerp aan dieselfde omstandighede wat jy vir dosente beskryf.

Die term “vervreemding” is deur Karl Marx geskep om ‘n fatale nadeel van die industriële revolusie te benoem. Dit het eers later plek gekry in die psigologie. In die neo-Marxistiese kritiese pedagogiek word vervreemding doelbewus geïnduseer om presies die soort sosiale manipulasie waarvan jy praat teweeg te bring.

Ek lees verlede week ‘n gekeurde akademiese artikel deur ‘n kritiese pedagoog uit Israel wat tot die gevolgtrekking kom dat slegte skole juis goeie skole is OMDAT hulle vervreemding bevorder en uiteindelik revolusionêre gedrag kweek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.