Agter die skerms van Marikana

Die koppie by Marikana. (Foto: Bongiwe Mchunu)

Dit was verlede week die sewende herdenking van die Marikana-gebeure van 16 Augustus 2012.

Soos elke jaar die geval, word daar verkeerdelik in die media berig dat “34 stakende Lonmin-mynwerkers” op die betrokke dag deur die polisie doodgeskiet is. In werklikheid is 25 mynwerkers doodgeskiet. Die ander nege oorledenes was individue uit verskeie dele van die land. Volgens die statistieke was nagenoeg ʼn kwart van die 78 gewondes en 250 wat in hegtenis geneem is, nie Lonmin-werknemers nie. Tweedens was dit nie ʼn staking nie, maar bloot ʼn protesaksie.

Derdens word daar meestal geswyg oor die tien onskuldige mense wat in die twee voorafgaande weke wreedaardig deur die protesgangers vermoor is. Foto’s van die grumoorde het gewys dat twee polisiemanne en twee veiligheidsbeamptes was. Geslagsdele en tonge is uitgesny, waarskynlik om as moetie te gebruik deur die toordokters (uit Oos-Kaap) op die koppie waar die nagenoeg 3 000 protesgangers daagliks gesit het.

Solidariteit het met die aanvang van die protesoptrede sy Lonmin-kantoor aan die polisie beskikbaar gestel en het dus heelwat interaksie met die polisie gehad. Hier het die polisiebeamptes wat aan die tien wrede moorde blootgestel was, ook berading ontvang.

Wat die moetie betref, is daar geglo dat dit die protesgangers immuun sou maak teen enige koeëls indien hulle met die moetie besprinkel word. Toe hierdie inligting oor die toordokter-rituele bekend geword het, het van die polisiebeamptes uit die Oos-Kaap, wat dieselfde bygeloof gedeel het, bekommerd geword. Ander het hul kollegas gerus gestel dat hulle ʼn plan sou maak indien daar op mekaar geskiet word. Die res is geskiedenis.

Toe die polisie ná die Marikana-insident protesgangers se wapens op die toneel optel en in ʼn vraghouer plaas, het hulle vir ons gewys hoeveel van die wapens met bloed bevlek was – ʼn teken dat die wapens in ʼn stadium gebruik is om iemand ernstige leed aan te doen.

Die dag ná die Marikana-insident het die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, senior ministers en die leierskap van mynhuise en vakbonde byeen geroep. Dit was treffend dat die minister die vergadering met gebed geopen het en gebid het vir wysheid, rustigheid en insig van Bo.

Omrede die redelik onbekende mynbouvakbond (Amcu) op daardie tydstip sterk op die voorgrond begin tree het as verteenwoordiger van die protesgangers, het Shabangu ons mening gevra oor die hantering en status van Amcu.

Solidariteit se onmiddellike reaksie was dat daar eers ʼn behoorlike ondersoek moet plaasvind, en as daar bevind word dat Amcu agteraf die aanhitsing gedoen het, hulle as vakbond gederegistreer moes word. Chris Griffiths, uitvoerende hoof van Anglo American Platinum, het heftig gereageer en Solidariteit van kortsigtigheid beskuldig. Hy het aanbeveel dat die deure vir Amcu oopgegooi moes word en hulle onmiddellik moes tegemoetkom op elke forum, raad, komitee of taakspan wat in die mynbousektor bestaan.

Een van ons was egter kortsigtig…

Die uiteinde van die ministeriële gesprek was dat daar besluit is om onmiddellik met die protesgangers te onderhandel. Om die plofbare situasie te ontlont, moes die onderliggende sosiopolitieke oorsake onderspeel word en die situasie as ʼn salarisgeskil benader word.

Die onderhandelaars het bestaan uit verteenwoordigers van al die erkende mynbouvakbonde, die drie grootste vakbondfederasies, die KVBA, Nedlac, die departement van arbeid, religieuse leiers, die Kamer van Mynwese (nou die Mineraleraad) en Lonmin.

ʼn Tussenganger het die protesgangers op die koppie genader en gevra dat hulle tien afgevaardigdes uit hul geledere moes aanwys wat hulle in die onderhandelinge sal verteenwoordig. Ná drie dae het die tien afgevaardigdes by Rustenburg se burgersentrum opgedaag waar die onderhandelinge begin het.

Dit was ʼn frustrerende begin omrede al tien afgevaardigdes aangedui het dat hulle nie Engels magtig was nie en tolke nodig het – dit is ʼn ou truuk wat gebruik word om gedurende die vertolking tyd te kry om jou antwoord te oordink.

Die eerste vraag aan die afgevaardigdes was: “Wat is julle eis?”

Tot ons verbasing kon hulle nie die vraag beantwoord nie, al het 34 van die groep hul lewens opgeoffer vir hul stryd. Nadat hulle lank gekoukus het en vele oproepe gemaak het, het hulle ferm geantwoord dat hulle R12 500 eis.

Ons opvolgvraag was dat hulle moes verduidelik of dit betrekking het op ʼn totale kostepakket, basiese salaris of netto salaris. Hierdie vergoedingsbegrippe is herhaaldelik verduidelik totdat die afgevaardigdes ná ʼn lang gekoukus en weer eens vele oproepe aangedui het dat hul na ’n “basiese salaris” verwys het.

Die afgevaardigdes het egter kort daarna heelwat addisionele eise ter tafel gelê waarvan die meeste op byvoordele betrekking gehad het. Dit was vreemd, want Lonmin-werknemers het toe reeds al die basiese byvoordele geniet.

Die onderhandelinge het egter in sirkels beweeg en die afgevaardigdes het nie oor enigiets standpunt ingeneem nie. Gedurende etenstye het ek waargeneem hoe biskop Jo Seoko van die Anglikaanse Kerk strategie met die afgevaardigdes bespreek het (in Engels nogal).

Ná ongeveer ʼn week van onproduktiewe onderhandelinge het Lonmin ons meegedeel dat hulle foto’s van die afgevaardigdes geneem het en nadat hul mynvlakbestuur die foto’s bestudeer het, hulle nie ʼn enkele persoon herken het nie. Hoewel effe van ʼn verleentheid vir Lonmin se senior afvaardiging wat te goeder trou onderhandel het, moes hulle by die afgevaardigdes verneem of enigeen van hul in Lonmin se diens was – inderdaad was geeneen van hulle Lonmin-werknemers nie.

Die tien afgevaardigdes is toe met ʼn nuwe groep afgevaardigdes vervang wat dié keer eers as Lonmin-werknemers geverifieer moes word. Hierdie groep het Amcu onmiddellik by die onderhandelinge betrek.

Intussen het Lonmin se onderhandelaars ons vertroulik ingelig dat Simon Scott, hul waarnemende uitvoerende hoof, ʼn opdrag van hul maatskappy in Londen ontvang het dat hulle niks mag sê of ontken wat die regerende party kan omkrap nie.

Die gevolg was dat Lonmin hulself amper geensins teen enige aantygings verdedig het nie en ʼn onderdanige houding ingeneem het. Lonmin se onderhandelaars het toe aan Solidariteit inligting begin lek, wat ons weer aan die media gelek het. Byvoorbeeld, toe die media berig het dat Lonmin se rotsoperateurs slegs R4 000 per maand verdien het, is ons voorsien van betaalstrokies van rotsbooroperateurs wat meer as R10 000 per maand verdien het. Een operateur het gemiddeld R18 000 per maand verdien omrede hy nie gestop het sodra hy sy daaglikse kwota gate geboor het nie, maar tot aan die einde van die skof bly werk het en sodoende ʼn substantiewe produksiebonus verdien het. Die rede waarom enkele rotsbooroperateurs wel slegs R4 000 verdien het, was omdat hulle dikwels afwesig was van die werk, of dit was individue wat die vorige maand ʼn sogenaamde “verlofvoorskot” op hul salarisse ontvang het.

Die vyf weke lange onderhandelinge het elke dag om 10:00 begin en meestal ná middernag geëindig. Dit het ʼn ruk geneem vir die afgevaardigdes en Amcu om ons ander mynbouvakbonde te vertrou, voordat ons later na hul kant “oorgeskuif” het en saam begin koukus het.

Gerhard Viljoen, Solidariteit se voltydse verteenwoordiger by Lonmin, het later die koukusvergaderings begin aanvoer en sodoende die afgevaardigdes en Amcu na ʼn skikking gelei. Opsies van Lonmin se onderhandelaars is agteraf met sommige van ons gedeel, wat ons dan onopvallend met die afgevaardigdes getoets het, en met die hoofonderhandelinge (“plenary session”) is dit weer subtiel ter tafel gelê. Ons het ook opgemerk hoe Joseph Mathunjwa, Amcu se president, wat nie by die onderhandelinge was nie, en biskop Jo Seoko, wat wel in die onderhandelinge ingesit het, deurgaans telefonies met mekaar in verbinding was.

ʼn Skikking is uiteindelik bereik toe Lonmin se finale aanbod so verpak is dat die afgevaardigdes en Amcu oortuig was dat hul ʼn 22%-verhoging vir die “stakende werkers” beding het (18% daarvan was in ʼn vorige meerjarige ooreenkoms vervat, maar hulle het dit nie besef nie). Biskop Seoko en Mathunjwa het ná ondertekening die ooreenkoms rondgeswaai en dit as ʼn reuseoorwinning vir die werkersklas beskou.

Nou, sewe jaar ná Marikana, is Marikana-dag totaal deur Amcu en die EFF gekaap; Amcu se ledetal het van 30 000 tot nagenoeg 180 000 lede gegroei; die EFF het Marikana as hul afskopplatform gebruik; die EFF en Amcu se twee leiers is skatryk; Amcu het in 2014 vir vyf maande in die platinumsektor en in 2018/’19 vir vyf maande in die goudsektor gestaak – beide stakings was gewelddadig en vernietigend; Lonmin was onlangs op die randjie van ineenstoring en is deur Sibanye-Stillwater oorgeneem; weens Marikana en die vyf maande staking is 15 000 werkgeleenthede by Lonmin alleen vernietig; en die Rustenburg-omgewing se ekonomie is geknak.

Om jaarliks die dood van 34 mense te herdenk, is nie verkeerd nie. Dit kan egter nie gedoen word deur oor die wreedaardige moorde van tien onskuldige mense te swyg en ander feite rondom die tragiese gebeure vir populistiese gewin te verbloem nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Disselboom ·

Dis ysingswekkende maar noodsaaklike kennis en harde nugterheid wat Gideon du Plessis hier oordra. So moet die geskiedenis van die onderwysamptenare wat in Soweto grusaam vermoor is in 1976 in die maande voor 16 Junie 1976 ook opgediep word om balans te kry, en kan die vertellinge van swart-op-swart barbarisme in die townships wat baie polisiemanne en dienspligtiges bv in die 1980’s beleef het, ‘n keer ook maar saamgestel word – die volle verhaal is nie op die tafel nie.

Stephan de S ·

Dankie vir hd eerstehandse inligting….waaroor sekerlik min mense beskik….die media ingesluit.
Ek het onmiddelik onthou dat destyds met Sharpeville het dieselfde verswyging vd vooraf wreedhede en moorde op polisiemanne……. wat direk bygedra het tot die uiteindelike skietery……plaasgevind het. Daar s niks soos eerstehandse getuienis nie. Weer dankie.

Lou ·

Die werkers het seker nou nog nie die geld opgemaak wat hulle in die vyf maande verloor het nie. Maar hulle dink dit was ‘n groot oorwinning gewees.
34 + 10 mense dood, 15000 werkgeleenthede weg teenoor ‘n 22% verhoging. Mens het ‘n Zuma wiskunde kwalifikasie nodig om daai som te laat klop !

John ·

Ons polisie ly nou aan ‘n Marikana-sindroom. Die minister praat baie en die polisie doen niks tydens onluste nie. Dit gaan ons duur te staan kom. Die ontplooiing van die Weermag in die Kaap is ‘n uitvloeisel. Die Marikana-mini-oorlog tussen ‘n gewapende opgepompte groep en die polisie is daarna deur unies gekaap en misbuik. Nou wil die verloorders in die geveg se naasbestaandes vergoed word omdat hulle verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.