Almal kan van Singapoer leer

Foto: (AP Photo/Vincent Thian)

Hoe sal ’n mens Suid-Afrika se regeringstelsel beskryf? ’n Breë kerk van kommuniste, sosialiste, demokrate of dalk sommer ’n kakistokrasie – ’n regering deur die swakstes en die slegtes?

Singapoer het die antwoord vir sukses: Dié stadstaat is ’n meritokrasie – sy regeerders is mense wat op grond van verdienste en bekwaamheid gekies is om te regeer.

Talle van Suid-Afrika se kabinetslede is lede van die Kommunistiese Party en daar is min sprake van meriete, nie net in die kabinet nie. Oor die totale wanbestuur en die vernietigende korrupsie hoef daar nie hier uitgewy te word nie – kredietgraderingsagentskappe soos Moody’s doen dit beter.

Daarteenoor is Singapoer die suksesvolste van die vier klein drakies saam met Taiwan, Hongkong en Suid-Korea – hul groeikoers is 7%. Singapoer is in baie opsigte die suksesvolste en Asië se droomland met sy bevolking van minder as ses miljoen.

Daar is vyf redes vir Singapoer se sukses: die pragmatiese leierskap van Lee Kuan Yew en sy opvolgers; ’n effektiewe burokrasie; effektiewe beheer oor korrupsie; besteding aan opvoeding en kompeterende vergoeding. Die beste mense word ingevoer as dit nodig is.

Die land is in 1965 gedwing om die Maleisiese Federasie te verlaat en premier Lee Kuan Yee skryf in sy memoirs van die geweldige kommer oor die voortbestaan van ’n land sonder natuurlike hulpbronne op die lang pad na ’n onbekende toekoms.

Land met minste korrupsie

En tog was die vrese ongegrond. Die PAP-regering (People’s Action Party) het eers sy landarea vergroot van 58 km² in 1959 tot 719 km² in 2016. Met sy liberale immigrasiebeleid het sy bevolking van 1,58 miljoen tot 5,62 miljoen gegroei. Die land is hervorm van ’n arm Derde Wêreldland tot die land met die hoogste bruto binnelandse produk (BBP) per kapita in die wêreld.

Besteding aan opvoeding het groot resultate gelewer en Singapoer is die Asiese land met die minste korrupsie, volgens die jongste verbruikersprysindeks (VPI-indeks).

’n Mens onthou nou sommer ook die storm wat om Helen Zille se kop losgebars het toe sy ná haar besoek aan die stadstaat gesê het Suid-Afrika het die keuse om nie nog ’n Zimbabwe te word nie as hy Singapoer navolg en dat nie alle kolonialisme sleg was nie.

Ironies genoeg was dit juis ’n Nederlander met die naam Albert Winsemius wat Singapoer se roete uitgespel het: Raak ontslae van die kommuniste in die regering – kry hulle van die strate af en uit die vakbonde uit. En sê reguit julle aanvaar hegte bande met die Weste omdat julle hulle gaan nodig hê vir jul ekonomiese program. Moenie ander lande se foute herhaal en die wiel probeer herontdek nie.

In sy eerste jare het die land klein nasies soos Israel en Switserland as rolmodelle gebruik en later Nederland en Japan se werkende resepte aangewend. Die PAP-regering het ook besluit om werk te skep en die welsynsbeleid van Wes-Europese lande en die VSA te verwerp. Daar is lande waar dit vir sommige werkers beter is om nie te werk nie. (Suid-Afrika het ’n geskatte 18 miljoen mense op welsyn)

Suid-Afrika kon ook hieruit geleer het pleks van om hegte bande met China te smee, van sy kundigheid ontslae te raak, ’n omgekeerde apartheid te bedryf en deur die vakbonde verlam te word.

Geen genade vir oortreders

In Singapoer word enigeen wat skuldig is aan korrupsie, gestraf, ongeag sy posisie, status of politieke verbintenis. Sy CPIB (Corrupt Practices Investigation Bureau) funksioneer so suksesvol dat 89% in ’n meningsopname hom hoog aangeskryf het. Die liggaam is wel onder die jurisdiksie van die president se kantoor.

’n Deel van sy sukses word toegeskryf aan die opleiding wat hulle in ander lande ontvang het. ’n Gerekenariseerde eenheid is gestig waarmee die personeel forensiese ondersoeke kan doen. Hulle kan ook inkriminerende getuienis van gekonfiskeerde rekenaars en selfone bekom.

’n Minister het miljoene in omkoopgeld ontvang. Hy het selfdood gepleeg voor hy aangekla kon word. Die CPIB se assistentdirekteur is skuldig bevind aan kriminele oortredings en is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Almal wat deur die CPIB ondersoek is, is skuldig bevind.

Woonstelle vir behuising

Met sy suksesvolle behuisingsbeleid het Singapoer sowat 1,2 miljoen woonstelle opgerig en burgers wat in openbare behuising woon, het van 9% tot 82% gestyg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

antieke antie ·

community woonstel verblyf sal nie met hierdie kulture van geen respek vir ander se eiedom nie….. hier is teveel diewe en moordenaars ….gaan kyk in ons groot stede se CBD’s….. kriminele neste… baie lande se mense sou graag die woonstelle wat in die land is maar die mense hier se mense regte is te veel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.