Amnestie vir Katalonië-separatiste

katalonië

‘n Pro-onafhanklikheidsvlag en ‘n Europese Unie-vlag word in September 2015 geswaai. (Foto: AP Photo/Manu Fernandez)

Die Spaanse parlement het verlede week met ʼn meerderheid van 187 uit 350 stemme besluit om amnestie aan diegene verantwoordelik vir Katalonië se afskeidingspoging in 2017 te gee.

Die sleutelfiguur daarby is die destydse Katalaanse premier Carles Puigdemont, wat tans in België in ballingskap is.

Die regeringskoalisie bestaande uit die Sosialiste van eerste minister Pedro Sanchez, die linkse alliansie en verskeie streekspartye, het vir die amnestiewet gestem – die opposisie bestaande uit die konserwatiewe Volksparty en die regse Vox het daarteen gestem. ʼn Soortgelyke amnestiewet is vroeër vanjaar afgekeur, waarby die party van Puigdemont, Junts pel Si (Saam vir Ja) dit verwerp het omdat dit nie vêr genoeg gegaan het nie.

Dit het gelui dat “dade van terrorisme” van die amnestiewet uitgesluit is. Volgens die Spaanse grondwet word ʼn afskeidingspoging ook as “daad van terrorisme” beskryf, selfs as dit sonder geweldpleging geskied. Puigdemont het gevrees dat hy dus steeds vervolg kan word. Die nuutste amnestiewet het terrorisme so omskryf soos wat dit internasionaal verstaan word, naamlik as dade wat met geweld en lewensverlies verband hou.

Sanchez en sy koalisie het die keer vêr agteroorgebuig om Puigdemont en sy party te akkommodeer. Omdat Sanchez se koalisieregering uiters wankelrig is, is hy op elke stem aangewese en kan nie sonder die ondersteuning van Junts pel Si regeer nie. Die Sosialiste beweer die amnestiewet is om versoening en rus in die langdurige konflik rondom Katalonië te bring, maar die opposisie is briesend omdat die separatiste nie gestraf word vir hulle hoogverraad nie.

Die amnestie gee vir Puigdemont geleentheid om weer na Spanje terug te keer en maak selfs die deur oop om weer as premier van Katalonië, wat juis in Meimaand vanjaar verkiesing hou, te staan. Katalonië se selfbeskikking is na die amper-afskeiding ingekort en Puigdemont sal sy taak daarin sien om dit weer te herstel. Of hy weer sy streek sal wil probeer afskei, sal die tyd leer.

Puigdemont en ander separatiste het die wêreld in afwagting gehou toe hulle in Oktober 2017 eers ʼn referendum in Katalonië gehou het teen die wil en wet van die Spaanse staat – waarin 90% uiteindelik (egter met slegs 43% deelname) vir onafhanklikheid gestem het. Twee weke na die referendum het Puigdemont die skare byeengeroep en die onafhanklikheid uitgeroep, maar die juigende skare net daarna ontnugter toe hy aangekondig het dat hy dit op ys sit en met die Spaanse regering daaroor wil onderhandel.

Die Spaanse regering, destyds onder leiding van die Volksparty, wou egter niks weet van onderhandeling nie en het dadelik op die separatiste toegeslaan en ook Katalonië se outonomie ingeperk. Talle is in hegtenis geneem, Puigdemont self kon nog betyds die land verlaat en het in die Belgiese hoofstad Brussel ballingskap gekry. Niemand weet wat sou gebeur as hy die onafhanklikheid nié op ys gesit het nie, maar daadwerklik uitgevoer het. Katalonië het geen weermag nie, net sy eie polisiemag, en indien die Spaanse weermag sou ingryp, kon dit in ʼn burgeroorlog ontaard.

Die Europese Unie (EU) het ook ʼn dubbelsinnige rol gespeel: terwyl in die geval van Kosovo se afskeiding van Serwië die meeste EU-lande dit steun (met uitsondering van Spanje, wat juis geen presedent wil skep nie), het Katalonië geen internasionale ondersteuning gehad nie.

Alhoewel Spanje in die laaste dekades al hoe meer federaal geword en verrykende magte aan volke en streke met eie tale en kultuur, soos Baskeland en Katalonië toegestaan het, word vir afskeiding en referendums oor die saak glad nie voorsiening gemaak nie. Anders staan sake byvoorbeeld in Groot-Brittanje en Kanada, waar twee deelstate, Skotland en Quebec, wel wettige referendums oor onafhanklikheid kon hou, al is dit dan verwerp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.