ANC-mislukkings en gemeenskapsfederale oplossings

Deur Reiner Duvenage

Reiner Duvenage

AfriForum se nuutste navorsingsverslag beklemtoon sleutelrealiteite oor die skaal van ANC-regeringsmislukkings, sowel as die gemeenskapsfederale planne wat verwesenlik moet word om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms aan die suidelike punt van Afrika te bewerkstelling.

Regeringsgrootte

In die verslag se eerste afdeling, word die buitensporige vergoedingspakkette van hoë ampsdraers in Suid-Afrika blootgelê. Suid-Afrika het een van die grootste kabinette ter wêreld, bestaande uit 28 lede. Om die absurditeit hiervan te illustreer, het die VSA slegs 15 kabinetslede.

Suid-Afrika se hoë ampsdraers verdien ook byna dubbel die salaris van ander lande in Suid-Afrika se BBP-per capita groep soos Botswana en Thailand, sonder dat hul luukse byvoordele in ag geneem word.

Uit die verslag word dit duidelik dat die rojale vergoeding wat die land se ministers ontvang nie deur die regering se prestasies geregverdig word nie. Ter illustrasie van die regeringsprobleme wat Suid-Afrika kwel, lê die verslag regeringsmislukkings in ʼn aantal sleutelareas bloot.

Onderwysstelsel

Suid-Afrika se onderwysstelsel onderpresteer vanweë miljarde rande se wanbesteding en wanbestuur. ʼn Voorbeeld hiervan is NSFAS (die nasionale finansiële hulpskema vir studente) wat in 2020-2021 vir onreëlmatige besteding van R77,49 miljard verantwoordelik was.

Staatsentiteite

Wat ondernemings in staatsbesit betref, wys die verslag op reuse-probleme by Denel en Transnet. Die verval van Eskom is egter die mees kommerwekkende gevolg van die ANC-regering se wanbestuur van hierdie sektor. Eskom het vroeër internasionale toekennings gewen en energie aan baie lande in Suidelike Afrika verskaf.

Tog het dit onder ANC-bestuur oor die laaste dekades weens wanbestuur, korrupte praktyke en die rassediskriminerende indiensnemingsbeleid van swart ekonomiese bemagtiging verval. Die gevolg van Eskom se agteruitgang het daartoe gelei dat die beurtkrag wat tydens 2022 geïmplementeer is, reeds meer is as die vorige rekordjaar van 2021.

Natuurlik is die skade wat deur beurtkrag veroorsaak word onberekenbaar as gevolg van buitelandse belegging wat die land verlaat, maar daar word ook geskat dat dit die land al ʼn miljoen werksgeleenthede gekos het.

Gesondheidsorg

Op die gebied van gesondheidsorg misluk die ANC-regering ook klaaglik. In die mees onlangse nasionale oudit van gesondheidsdepartemente het slegs die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement ʼn skoon oudit ontvang. Misdaad bly ʼn epidemie in Suid-Afrika en misdaadstatistieke toon dat die regering steeds misluk in sy mees basiese taak om sy burgers veilig te hou.

Infrastruktuur

Suid-Afrika se pad- en spoorinfrastruktuur is in ʼn kritieke toestand, wat lei tot grootskaalse ekonomiese skade. As gevolg van die wanbestuur van Suid-Afrika se water- en sanitasie-infrastruktuur word ʼn watertekort teen 2030 voorspel. Dit is maar enkele voorbeelde van die mislukkings van die regering wat in die verslag uitgelig word.

Oplossings

Teen hierdie agtergrond, kom die verslag eerstens tot die gevolgtrekking dat die regeringsprobleme beide prakties en ideologies van aard is. Dit volg dat die ANC nie net in praktiese terme misluk om noodsaaklike dienste te lewer en korrupsie in die openbare sektor te verlig nie, maar ook ideologies faal om die basis vir groei en welvaart in Suid-Afrika te verskaf.

Dit is omdat die ANC-regering vasberade ʼn beleid van sentralisasie en verhoogde regeringsbetrokkenheid in alle sfere van die samelewing implementeer.

Tweedens, moet die inhoud van die verslag, tesame met die regering se ideologiese besetenheid, gemeenskappe inspireer om die dringendheid te erken waarmee hulle die regering se mislukkings moet teëwerk.

Die sukses van AfriForum en die Solidariteit Beweging (saam met hul meer as 500 000 lede) bewys dat dit moontlik is om vir ʼn hoopvolle gemeenskapsfederale alternatief te werk. Hierdie alternatief berus op ʼn benadering van selfdoen sodat gemeenskappe staatsbestand kan word.

In reaksie op die mislukkings in die onderwysstelsel en die bedreiging van Afrikaans as onderrigmedium, het die Solidariteit Beweging ʼn wêreldklas Afrikaanse beroepskollege, Sol-Tech, gestig. Dit het ook ʼn Afrikaanse universiteit, Akademia, opgebou wat dit moontlik maak vir studente om gehalte moedertaalonderrig te ontvang.

Hierdie hoogs suksesvolle inisiatiewe wys dat gemeenskappe uitstekende onderwysinstellings kan ontwikkel wat aan hul behoeftes voorsien en broodnodige vaardighede skep, buite die invloed van die sentralistiese regering se mislukkings.

Om die mislukking van die SAPD wat in die verslag geïllustreer word te dwarsboom, het AfriForum 159 suksesvolle buurt- en plaaswagte gestig wat Suid-Afrika se strate patrolleer en gemeenskappe veilig hou. Dan is daar natuurlik ook AfriForum se meer as 150 landswye takke wat ʼn reeks noodsaaklike dienste lewer waar die regering versuim om dit te doen.

Hierdie praktiese voorbeelde illustreer hoe mense (meestal vrywilligers) agter ʼn gemeenskaplike saak verenig kan word as plaaslike strukture in plek gestel word.

Die sukses van AfriForum en die Solidariteit Beweging beklemtoon dus die besonnenheid van die politieke filosoof Alexis de Tocqueville se aanhaling dat “plaaslike instellings vir vryheid is, wat skole vir wetenskap is”.

Al is die uitdagings groot, moet mense die verval van die Suid-Afrikaanse staat sien as ʼn geleentheid om eienaarskap oor hul eie lewens te neem en vir ʼn gemeenskapsfederale toekoms te werk.

  • Reiner Duvenage is ‘n veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Pleks som jy dit net op die wiele het afgekom en daar is nie bevoegde motorwerktuigkundiges om dit reg te maak nie ,konsentreer al jou tyd om die weskaap wat nog vir nou funksioneer om dit ‘n onafhanklike staat te maak van Afrika en gebruik dan die bevoegde mense om die weskaap met al sy mense te bemagtig om die voorspedigste land in Afrika te word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis al oplossing Harley. Stats SA se jongste sensus sal vir ons wys dat die meeste Afrikaanssprekendes in die WK woon, ook Afrikaners. Pretoria is Flip se hoofankerdorp, saam met 29 ander. Maar buite die WK vou hulle die een na die ander. Selfdoen maak die lewe gemakliker, maar dis duur en moet boonop sien hoe lede migreer na die WK. Solidariteit kan ons help met afstigting en opbou. Die reset knoppie is reeds gedruk.

Groen Ghoen ·

Dit is ‘n eerlike en objektiewe verslag. Eerder dit as om aan die neus rondgelei te word deur hersinskimme van “Slimstede” en ANC koppeswaaiers se valse pryssange. Laat diegene wat nie deur die ANC verblind is nie die skrif aan die muur lees en dit begryp. Voordat die S.A. Titanic die ysberg tref.

H.A. ·

Wat sê die wêreld van die anc ? Ja, hulle is tjoepstil, want hulle ondersteun kommuniste so onder deur die tafel.

annie ·

Wie kan bewys lewer dat die ANC ooit vooruitgang en voorspoed vir SA beoog het? Dit is bloot ons ander se persepsie. Oor byna 30 jaar het verval eerder as groei plaasgevind. Doodslag, ondergrawing en vergrype is aan die orde van die dag en nag. Dit is tyd om te aanvaar dat die uurwerk kantel. Tye en klimaat is altyd aan die verander. 2023 se woord van jaar is ‘oorlewing’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.