ANC-spanning: Het Ramaphosa dalk ’n plan?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die 32ste Amerikaanse staatspresident, Franklin Delano Roosevelt, se bekende aanhaling lui dat in die politiek gebeur niks per ongeluk nie. As iets gebeur, kan jy ’n weddenskap aangaan dat dit so beplan was. Wanneer dit kom by die magstryde binne voormalige vryheidsbewegings soos die ANC is hierdie aanhaling selfs nog meer van toepassing.

Die twee sentrale figure van die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op die Covid-19-pandemie is onderskeidelik president Cyril Ramaphosa en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma. Toe president Ramaphosa op 15 Maart 2020 ’n nasionale ramptoestand aangekondig het, het hy waarskynlik nie presies geweet wat die impak daarvan sal wees op die mededinging tussen hom en Dlamini-Zuma nie. Maar soos dit ’n goeie politikus betaam, het Ramaphosa nie hierdie geleentheid laat verbyglip nie.

Alhoewel die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, oftewel CoGTA soos dit in die volksmond bekendstaan, die aangewese kabinetslid is vir die uitvaardiging van regulasies om die ramptoestand te bestuur, beteken dit nie noodwendig dat dié minister die sentrale figuur moet wees met hoe die regulasies en die regering se beleid gekommunikeer word nie. Dit is ’n algemene gebruik in verskeie ander lande, soos die VSA, Verenigde Koninkryk en Suid-Korea, dat die president of eerste minister weeklikse mediakonferensies hou om die regering se plan van aksie te verduidelik en te verdedig. As leier van die land neem die hoof van die uitvoerende gesag leiding. In die geval van Suid-Afrika sien ons egter dat die mededinging tussen Dlamini-Zuma en Ramaphosa spanning veroorsaak.

Nadat Ramaphosa op nasionale media aangekondig het dat die verbod op die verkoop van tabakprodukte opgehef sal word, het Dlamini-Zuma later die week daardie besluit teruggetrek. ’n Besluit wat Dlamini-Zuma later duur sou kos.

Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Sedert die vlak 5-inperking was Dlamini-Zuma die openbare figuur wat “leiding” geneem het om die regulasies aan te kondig. Sy het ook die figuur geword wat houe vat in die hof oor die regering se regulasies. Verskeie onlangse hofsake het bevind dat die regulasies irrasioneel, onregmatig en ongrondwetlik is. Die gevolg hiervan is dat Dlamini-Zuma nie in in positiewe lig deur die breë bevolking gesien word nie.

Die navorsingsinstelling, Ask Africa, het onlangs verslag gelewer oor vertrouensvlakke van die regering se hantering van die pandemie. Altesaam 85% van mense wat deelgeneem het aan die opname, vertrou president Ramaphosa tydens die pandemie teenoor Dlamini-Zuma wat slegs vertrouensvlakke van 64% toon. En 25% van mense het volkome wantroue in Dlamini-Zuma tydens die pandemie.

In 2017 tydens die 54ste nasionale ANC-konferensie by Nasrec het Ramaphosa ’n skrapse 3% meer stemme as Dlamini-Zuma ontvang. Ná ’n hewige stryd en hierdie noue oorwinning het Ramaphosa die leier van die ANC en president van die land geword. Sedertdien het die spanning tussen die Ramaphosa- en Dlamini-Zuma-faksies binne die ANC steeds hoog geloop.

Na aanleiding van hierdie meningsopname is dit waarskynlik dat Ramaphosa steeds gemaklik sal bly terugsit sodat Dlamini-Zuma die houe teen die inperking kan vat en haar ondersteuning verswak. In die politieke landskap word die volgende verkiesing altyd as mylpaal dopgehou en deur Dlamini-Zuma in die diep kant te gooi terwyl verset teen die inperking groei, is dalk net wat Ramaphosa nodig het om sy posisie binne die ANC te verstewig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael 1 ·

My opinie is zuma was n beter pres as ramaposa en almal weet hoe zuma is en was.

Chris ·

Ek kan sien sy plan was; Word ANC Leier en die president, laat leef en laat leef diegene wat vir my is, vermy enige onstuimige waters en groet almal vriendelik na eerste termyn.

JohanR ·

Jammer maar van die goed wat Ramaphosa woor en na sy verkiesing tot President gese en gedoen het, maak dat ek lankal vertroue verloor het. Maar soos wat nou gesien word wat Dlamini-Zuma is, is ek baie bly Ramaphosa het by Nasrec gewen, Dlamini-Zuma is nie ‘n president se agterwereld nie, en hoop as Ramaphosa nie ‘n tweede termyn los slaan nie, dat die land darem iemand bestendig kry, en nie uit die geledere van NDZ, Jessie Duarte, Ace Magashule ens. Hoop om nooit weer ‘n Zuma naam in politiek, of die parlement te sien nie!

marius ·

Hy het nie nodig vir planne nie . Sy opdrag sal voor die einde van die jaar uitgevoer wees en dan maak hy soos die res van sy voorgangers . Verdwyn uit die openbare oog en leef soos ‘n koning .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.