Anderkant die politieke gebruik van skaamte en skuld

Prof. Natie van Wyk (Foto: Verskaf)

Dr. Hercules Boshoff se bydrae oor die skaamteloosheid in die Suid-Afrikaanse politiek verdien verdere besinning.

Hierdie bydrae protesteer teen die kultuurantropologiese en politieke transformasies van “sonde” tot skaamte/ skaamteloosheid en skuld/ skuldgevoelens. Wanneer die politieke diskoers deur die aanklagte van skaamteloosheid en of gebrekkige skuldgevoelens gemanipuleer word, sal mense se wantroue en verbittering net al groter word.

ʼn Noukeurige analise van skaamte en skaamteloosheid, asook skuld en valse skuldgevoelens is daarom nodig om groter onderlinge begrip te kweek, en ʼn weg te vind wat die mense van hierdie land nie nóg verder uit mekaar gaan jaag nie.

Die skaamte-kultuur as die poort na morele verval

Die begrippe skaam en skaamte, sowel as die verwante begrippe skande en skandelik kom heel dikwels in die Bybel voor. Die nuwer Bybelwetenskappe beskryf die Joodse en Griekse gemeenskappe wat in die Bybel ter sprake kom, as “skaamte-kulture”. Daar steek waarheid in hierdie perspektief, maar dit is net die halwe waarheid.

Die “Ou-Israel” sowel as die “Nuwe-Israel” (of die vroeë Kerk) was ook “skuld-kulture”, aangesien hulle voor die aangesig van God, die groot Wetgewer, geleef het. Daar bestaan egter wel kulture wat hoofsaaklik as skaamte-kulture beskryf kan word, soos sommige Asiatiese- en Afrika-kulture, wat nie hoofsaaklik volgens abstrakte wette, soos die tien gebooie en iets soos ʼn handves van menseregte, funksioneer nie. Die kenmerke van sulke skaamte-kulture lyk soos volg:

Skaamte oor verkeerde sosiale gedrag, is die saambindende krag van hierdie tipe gemeenskappe. Skaamtelose mense steur hulle nie aan die geldende reëls en gebruike van ʼn samelewing nie. Hulle is daarom ʼn bedreiging vir die samelewingsorde, aangesien hulle slegs oor hulle eie gemak, voordeel en gewin begaan is, en nie die eer van die samelewing dien nie.

Skaamte ontstaan as ʼn gevoel van sosiale blootstelling. Hierdie gevoel val nie binne die veld van regsreëls nie, maar binne die veld van sosiale verwagtinge van ʼn samelewingsverband. Hierdie verwagtinge word deur die groep bepaal, sonder die gebruik van abstrakte wette, reëls en norme.

Skaamte bestaan nie, wanneer daar geen gevoel van skaamte na vore tree nie. Skaamte word ʼn werklikheid, wanneer ander ontdek dat ʼn individu nie aan die verwagte gedragspatroon voldoen het nie. Wanneer dit aan die individu uitgewys word, kan daar ʼn gevoel van skaamte ontwikkel, maar wanneer dit nie gebeur nie, is daar nie sprake van skaamte by die spesifieke persoon nie.

Skaamte het te make met ʼn sosiale groepsgevoel. Mense skaam hulle nie net vir hulself nie, maar kan hulle ook skaam vir die gedrag van ander lede van die groep. Skaamte beteken hoogstens dat iemand die aansien in en van ʼn groep verloor het. Straf op skaamte-skeppende gedrag, is die verlies van aansien binne ʼn groep, en daarom is skaamte pynlikheid sonder morele erns en regsgevolge.

In skaamte-kulture is mag van uiterste belang, aangesien die magtiges van die groep kan bepaal of beskaming nodig is of nie. Wanneer dit in belang van die kultuurgroep of politieke party is, sal individue nie in die openbaar beskaam word nie (en natuurlik nog minder gestraf word). Die magtiges sal ook sorg dat ander instansies, soos die media, nie hulle mag gebruik om hulle lede te beskaam nie. Beskaming is die reg van die magtiges van ʼn groep, party of kultuurgroep, en word nie met opponerende kragte gedeel nie. Skandelike gedrag word daarom nie altyd ontbloot nie, maar dikwels verdoesel.

Konkreet beteken dit dat diefstal wat tot voordeel van die groep of party gepleeg word, nie strafwaardig geag word nie. Die dief mag dalk wel binne groepsverband beskaam word. Om die persoon tereg te laat staan voor ʼn regter wat oordeel op grond van abstrakte wette, is binne hierdie kultuur onvanpas.

Niks sal in ons land verander voordat ons nie almal saamstem dat iets soos diefstal sonde is, wat strafwaardig is voor God en die howe, nie. Die tweede tafel van die wet van God, wat konkreet gestalte vind in staatswette, moet eers die saambindende krag van die land word, voordat daar sprake kan wees van iets soos ʼn Suid-Afrikaanse nasie.

Indien die magtiges van die regerende party voortgaan om die begrippe van sonde en straf te ondergrawe, is hier geen vooruitsig op ʼn vreedsame toekoms nie.

Die skuldgevoel-kultuur as die poort na etiese vervlakking

Skuld is ʼn bekende en belangrike Bybelse begrip. Jesus het ons geleer om te bid vir die vergewing van ons eie skuld en aangemoedig om ander, wat ons kwaad aangedoen het, te vergewe.

“Skuld” is egter ʼn begrip wat nie slegs binne kerklike ruimtes gebruik word nie, aangesien dit ook ʼn speelbal vir kulturele en politieke debatte en konflik geword het. Hier word juis op die kulturele en politieke gebruik en misbruik van die begrip skuld gekonsentreer – met die skadelike gevolge wat dit vir die gemeenskap en die kerk inhou. Die sekulêre gebruik van die begrip skuld, toon die volgende kenmerke:

Skuld is ʼn persoonlike saak, aangesien jy besef dat jy ʼn regsnorm of ʼn geldige morele norm oortree het. ʼn Individu is alleen skuldig. Ander mense is nie saam met jou skuldig nie. Daar bestaan wel ook iets soos “kollektiewe skuld”, wat ʼn uiters problematiese aangeleentheid is, maar weens die gebrek aan ruimte word die saak eers daar gelaat.

Skuld is ook méér as ʼn blote skuldgevoel, aangesien jy skuldig kan wees sonder om skuldig te voel.

Skuld bestaan, ook wanneer dit nie openbaar gemaak word nie. ʼn Mens kan skuld daarom nie verbloem nie, aangesien die verkeerde wat in die donker gepleeg is, ʼn verkeerde daad bly.

Skuld konfronteer my met myself – met my gewete, my norm en my doen en late. ʼn Valse skuldgevoel tree na vore waar mense meen, of hulle vertel word, dat hulle verantwoordelik is vir ander se lyding en ellende, sonder dat dit ooglopend die geval is. Die media as maginstansie, is dikwels in ons tyd verantwoordelik vir die skep van valse skuldgevoelens, soos dat alle Afrikaners skuldig is wanneer een Afrikaner ander mense te na kom.

Die media kan ook werklike skuld op ʼn bepaalde en aanhoudende wyse aanbied, sodat die lesers en luisteraars mettertyd verplig voel om (valse) skuldgevoelens te ontwikkel. Hierdie “tribunalisering” van die media (om die media tot regter te verhef), wat skuldgevoelens wil skep, is ʼn pynlike kenmerk van ons tyd. Die doelwit om sekere stemme stil te maak, is net so krimineel as die daad wat ʼn werklik-skuldige gepleeg het.

Werklike skuld, die oortreding van ʼn wet of norm, volg jou gedurig deur die lewe, terwyl skaamte kom en gaan. Skuld moet óf gestraf óf versoen word, terwyl skaamte binne groepsverband, vinnig uit die weg geruim kan word deur die tydelike isolering van die individu.

Ware skuld vra om ware berou en omkeer. Ware skuld wat vergewe word, bied die moontlikheid om te verander. Skuld en skuldvergewing deur ʼn “instansie” buite die samelewing, kan daarom nie geskei word nie. Wanneer skuld nie vergewe word nie, ontstaan ʼn nuwe probleem; die probleem van “ʼn slegte gewete”; iets waaraan talle Afrikaanssprekendes ly.

Die vraag is: Vanwaar die talle “slegte gewetes” die laaste tyd? Een oorsaak moet teruggevoer word na die komiese vermaaklikheid en die ligsinnige godsdienstigheid wat talle “kerke” deesdae aanbied, en in die proses die doen van skuldbelydenis en die verkondiging van vergifnis uitskakel. Die konsekwensie van hierdie godsdienstigheid is dat die hele tema van skuld en vergewing aan die politiek oorgelaat word – ja, die wrede genadelose politiek.

Die derde weg: Die weg van Christelike vryheid

Sou die kultuurgroepe van ons land vasklou aan die oortuigings dat “sonde” hoogstens neerkom op óf skaamte- óf skuldgevoelens, is daar geen moontlikheid dat ons gemene grond gaan vind vir ʼn uitweg uit die huidige toenemende polarisasie nie. Ek meen dat die derde weg, om oor sonde en vergifnis deur God in Christus met mekaar te praat, ons kan help om beter begrip, wedersydse respek en samewerking te bewerkstellig.

Sonde is oortredings voor die aangesig van God. Dít beteken dat ʼn handeling nie slegs dán verkeerd is wanneer dit ontbloot word nie. Om skelm, in die donker, te steel, is ʼn oortreding van God se wet. Dit word nie eers ʼn oortreding wanneer dit deur ondersoekende joernaliste uitgekrap word nie. Sou die pastore van die tradisionele inheemse godsdiensgroepe, tot wie die politici hulle wend, nie hierdie Bybelse waarheid met hulle lidmate deel nie, sal ons nooit ontspanne met mekaar kan saamleef nie.

Sonde is skuld voor God, en nie skuldgevoelens jeens ander mense nie. Sonde, in terme van ware skuld, word vergewe wanneer ons daaroor bid. Dit word ook vergewe wanneer ons diegene vergewe wat ons te na gekom het; nie wanneer ons wag dat hulle aanhoudend moet smeek om vergewing nie. Wanneer almal van ons in hierdie land insien dat ons sondaars is wat geneig is tot die kwaad, en wanneer almal van ons (die meerderwaardige moralistiese joernaliste ingesluit) deurgaans om vergewing bid, en wanneer ons mekaar vergewe vir die wandade van gister en vandag, sal ons makliker met mekaar oor die weg kan kom.

Sonde is radikale selfgesentreerdheid en die verwronge soeke na voordeel vir slegs my en my mense. Vir die skaamte-kultuur is dit onsin en vir die skuldgevoel-kultuur is dit dwaasheid. In ʼn skaamte-kultuur is dit onsinnig om eer aan iemand anders as my voorouers te betoon, en om voordeel te soek vir ander wat nie van my familie, party of groep is nie. Vir die skuldgevoel-kultuur is dit dom om nie aan “die ander” onderdanig te wees nie, en om nie hulle verwyte van miskenning en verwaarlosing ernstig op te neem nie, aangesien dít nie in jou beste belang is nie. Beide kulture dra die kenmerk van onvryheid. Die een groep is nie vry om ander se belange te dien nie, terwyl die ander groep gewillig is om ander se onderdane te wees.

Vryheid is egter die kenmerk van ʼn Christenmens. Martin Luther het dit in 1520 soos volg geformuleer:

ʼn Christen is geheel en al, ʼn vrye heer oor alles, en niemand se onderdaan nie.
ʼn Christen is geheel en al, almal se dienende kneg, en almal se onderdaan.

Hierdie paradoks beteken: Christene, diegene wat op die derde weg is, is vry en laat hulself nie gevange hou deur die mag van (voorvaderlike) tradisies, óf die morele dwang van die (eietydse) moraalprofete nie. Christene is egter ook vry, aangesien hulle almal kan dien wat hulle pad kruis en nie net diegene wat dit opeis nie.

Dit is tog wat Prediker 12:13 van ons vra: “Eer God en gehoorsaam sy gebooie”. Jesus Christus (Markus 12:29-31) het dit herhaal met sy formulering van die dubbele liefdesgebod. Wanneer almal in hierdie land vry kan wees van die self-aangestelde regters, sal daar ruimte wees om mekaar te dien. Dienende liefde bevry ʼn mens van vrees en respekteer ander se kultuurprestasie. Dienende liefde bevry ʼn mens van minderwaardigheidsgevoelens, en laat jou toe om jou eie groep se kultuurprestasies te respekteer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Ek ‘n geval waar ‘n kerk in Rustenburg skaamteloos in die eiendom mark gesit is of verkoop te word, sonder dat die gemeente daarvan geweet het, deur die kerk se beheerligaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.