Bande tussen misdaad en politiek in Suid-Afrika wek kommer oor kriminele bendes wat oorneem

Deur prof. Sandy Africa, Universiteit van Pretoria

(Foto: SA Polisie)

ʼn Verslag deur die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (Gitoc) wat in September 2022 gepubliseer is, voer aan dat Suid-Afrika toenemend ʼn sentrum van georganiseerde misdaad geword het wat nasionale grense oorskry.

Die prentjie wat uit die verslag na vore kom, is dat daar georganiseerde netwerke binne en buite die staat is wat geleenthede vir private gewin moontlik maak, fasiliteer en ontgin. Anders gestel, put hulle onregverdige voordeel uit ekonomiese aktiwiteit in die openbare en private sektore deur dwangmetodes te gebruik. Sommige gaan aktief te werk om noodsaaklike infrastruktuur te saboteer om hierby baat te vind.

Die sfere van openbare lewe waar misdadigers hul pad na invloed uitbuit of intimideer, word al meer. In die onlangse verlede het grootskaalse misdaad deurgesyfer na gesondheidsorg, onderwys en semistaatsinstellings. Om teen hierdie tipe wangedrag op te staan, kom teen ʼn hoë prys.

Dit is afgesien van die talle politieke sluipmoorde op plaaslike aktiviste en amptenare – hetsy vir politieke gewin of pure wraak teen diegene wat dit waag om korrupsie uit te roep.

Mafia-staat

Daar is geen twyfel dat daar ʼn groeiende ekosisteem van georganiseerde misdaad is wat die staat en die openbare lewe in die land oorweldig nie. Omdat politieke akteurs of staatsinstellings so dikwels daarby geïmpliseer word, vra sommige kommentators selfs of Suid-Afrika besig is om ʼn “mafia-staat” te word.

Die term “mafia-staat” verwys na interverweefde regerings- en georganiseerde misdaadnetwerke. In sy invloedryke 2012-artikel het die Venezolaanse joernalis en skrywer, Moises Naim, gesê:

“In ʼn mafia-staat word hoë staatsamptenare eintlik integrale spelers in, indien nie leiers nie van, kriminele ondernemings en die verdediging en bevordering van daardie ondernemings se bedrywighede word amptelike prioriteite.”

Daar is geen enkele prototipe vir wanneer ʼn staat as ʼn mafia-staat bestempel kan word nie. Die konsep word ten beste beskou as ʼn spektrum. Die mees ekstreme gevalle behels politici op die hoogste vlakke wat direkte beheer oor georganiseerde misdaadbedrywighede neem. Ander kenmerke is samespanning tussen misdaadsindikate en magtige politieke figure, geldwassery om onwettige opbrengste weg te steek, en die gebruik van geweld en intimidasie om die betrokkenes te beskerm.

Die Gitoc-verslag skram weg daarvan om die etiket “mafia-staat” te gebruik om Suid-Afrika te beskryf. Wat dit wel duidelik maak, is daar is ʼn verspreiding van misdaadnetwerke wat nie net kriminele kingpins en polities verbonde individue betrek nie, maar ook gewone mense. Hulle word om verskillende historiese redes deel van hierdie “waardeketting”. Maar Suid-Afrika bereik dalk ʼn punt waar die verband tussen misdaad en politiek volgehou word omdat daar rolspelers is wat nie wil sien dat dit verander nie.

Beveg korrupsie

Die voorkoms van kriminele elemente binne die staat beteken nie dat die hele staat ʼn kriminele onderneming geword het nie. Maar dit is waar dat baie staatsinstellings geteiken is deur misdadigers, met die samespanning van mense aan die binnekant.

Suid-Afrikaanse burgers berus egter nie by die kriminalisering van die staat nie, en daag dit aktief uit. Baie van die onthullings oor bedrog, korrupsie en nepotisme kom van beginselvaste fluitjieblasers binne staatstrukture. Ander kom van die relatief vrye media, en stemme in die burgerlike samelewing en politiek. Sommige van die misdrywe is aan die lig gebring deur navrae wat deur die uitvoerende gesag self geïnisieer is. Dit is die geval met die Zondo-kommissie, wat staatskaping ondersoek het.

Swak kommunikasiestrategieë maak dit moeilik vir gewone burgers om te bepaal hoe die staat op hierdie uitdagings reageer. ʼn Voorbeeld hiervan is die regering se besluit om die weermag te ontplooi om sekuriteit by verskeie elektrisiteitsopwekkingsfasiliteite op te skerp. Ons gaan nog moet wag en sien of die ontplooiing die dade van sabotasie sal kan stuit wat, soos beweer deur Eskom-seniorbestuur, ʼn groot faktor in die verergerende energiekrisis is.

Soos met die Julie 2021-onluste, wat veroorsaak is deur die arrestasie van oudpresident Jacob Zuma vir minagting van die hof, is daar botsende openbare uitsprake van kabinetsministers oor noodsaaklike sektore en dienste wat deur misdaad geraak word.

Die politieke ekonomie van georganiseerde misdaad

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ʼn formele sektor (“eerste ekonomie”) en ʼn informele sektor (“tweede ekonomie”). Ekonome noem dit ʼn dubbele ekonomie. Hierby moet ʼn “derde ekonomie” gevoeg word – die onwettige ekonomiese aktiwiteite wat hierbo beskryf is, wat in die formele en informele ekonomieë ingesypel het.

Die oorvleueling tussen die wettige en die onwettige ekonomieë in Suid-Afrika is kompleks. Selfs groot, multinasionale maatskappye kan ook in die geheim betrokke raak by onwettige bedrywighede ten spyte van hul skoon uiterlike voorkoms.

Aan die ander kant buit misdadigers dikwels kwesbare mense uit waar die staat nie in basiese behoeftes voorsien het nie: hulle bied werk, geleenthede en inkomste. Dit is ʼn verskynsel wat nie net in Suid-Afrika gesien word nie, maar in die hele Afrika.

Die vooruitsigte

ʼn Deel van die herstel wat Suid-Afrika benodig om politieke en misdaadnetwerke te ontknoop, is beter polisiëring en sekuriteitstrategieë. Die staat moet sy gesag kan laat geld in belang van die meerderheid wetsgehoorsame burgers wat eerlik in ʼn klimaat van sekerheid wil leef.

As die misdaad-politiek-nexus doelbewus volgehou word deur die samespanning van invloedryke akteurs binne die staat, gaan dit baie moeiliker wees om af te breek.

Die hulpbronne wat bestee word om misdaad aan te spreek, sal ondoeltreffend wees. Die spook van korrupte, buigsame of gekompromitteerde mense in die strafregstelsel sal die toekoms meer onstabiel maak. Geweld en dreigemente teen diegene wat teen georganiseerde misdaad opstaan, sal meer algemeen word.

Die verslae van die Zondo-kommissie, die spesiale ondersoekeenheid, fluitjieblaserverslae, werk deur ondersoekende joernaliste, navorsing deur akademici, dinkskrums en burgerlike organisasies wys alles hoe die gly na ʼn kriminele staat gestuit kan word. Die strafregstelsel moet misdadigers aan die pen laat ry en nie padgee vir strafloosheid nie.

Selfs belangriker as misdaadbekamping is om die moeilike vrae te vra oor hoe gewone mense by georganiseerde misdaad betrokke raak, en hoekom die land se demokrasie meer gepolariseer word.

As die haglike sosio-ekonomiese toestande voortduur, is daar alle waarskynlikheid dat georganiseerde misdadigers sal voortgaan om die teenstrydighede in die samelewing uit te buit, en georganiseerde misdaadmarkte sal uitbrei.

Daar is baie op die spel. Om te keer dat Suid-Afrika ʼn volledige “mafia-staat” word, behoort ʼn prioriteit vir almal te wees. Dit sal ʼn belangrike kwessie van kommer vir kiesers word voor die nasionale algemene verkiesing in 2024.

  • Prof. Sandy Africa is ‘n medeprofessor in politiek by die Universiteit van Pretoria.

Oorspronklik gepubliseer op The Conversation
The Conversation

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan is daar sekere ekonome en politieke kommentators wat glad nie slapelose nagte het nie.

Truman Burbank ·

90% van die georganiseerde misdaad word “tenders” genoem

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Puik artikel. Dankie.
Rusland is die rolmodel van ‘n mafiastaat vir die Luthulihuis-mafia in Mzansibabwe (gewese koloniale Suid-Afrika). In wese het die Suid-Afrikaanse kriminele regstelsel in die stof gebyt.
Ek haal my hoed af vir die joernaliste van Daily Maverick vir hul pro-aktiewe ondersoekende joernalistiek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.