Bekwaamheid en moraliteit van politieke leiers verwag

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Van ’n politieke leier verwag ’n mens hoofsaaklik twee dinge: bekwaamheid en moraliteit. Dis des te meer die geval by leiers van groot moondhede.

Dit is twee gevaarlike eienskappe, want hoe meet jy dit?

Wat aanleiding tot dié beskouing gegee het, is die yslike vernedering wat president Joe Biden van Amerika tans in Afghanistan beleef, saam met die aftrede aanstaande maand van bondskanselier Angela Merkel van Duitsland ná 16 jaar aan die roer van sake.

Kom ons los die kwessie van moraliteit eers daar. Ek sal ook weer terugkom na Merkel, maar oor Biden kan ’n mens intussen sê dat sy bekwaamheid ernstig onder verdenking is.

Hy het goed gedoen met sy besliste hantering van die koronavirus en die manier hoe hy die skade aan Amerika se betrekkinge met sy bondgenote – deur sy voorganger veroorsaak – herstel het. Maar byna al dié vordering word oorskadu deur sy chaotiese hantering van die Afghanistan-kwessie.

Die primêre oorsaak hiervan is sy koppigheid om ’n fout te erken. Sy veiligheidsdienste het hom al maande gelede herhaaldelik gewaarsku dat sy oorhaastige terugtrekking uit Afghanistan op chaos gaan uitloop, maar hy het op ’n domastrante manier voortgegaan – met die huidige katastrofe tot gevolg.

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Dis opvallend dat bekwaamheid by die leiers van Westerse groot moondhede tans ver soek is. Angela Merkel is die enigste by wie dit voorkom, maar sy tree oor ’n paar weke af.

Armin Laschet, die man wat die beste kans staan om by haar oor te neem, kan nie eens in haar skaduwee staan nie. Dat die Christen-Demokratiese Unie hóm as kanselierkandidaat aangewys het, is ’n yslike politieke fout.

President Emmanuel Macron van Frankryk toon weliswaar baie daadkrag, maar met sy aggressiewe houding as haantjie neem hy nie sy mense saam met hom nie. Dit beteken dat hy baie teenstand kry, wat dalk met ’n vriendeliker houding geneutraliseer sou kon word.

Boris Johnson, Britse premier, maak die indruk van ’n weifelende dwaas met ’n oormaat ambisie. Hy word selfs binne sy eie Konserwatiewe Party nie algemeen geëer nie.

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Dis anders met die diktatoriale groot moondhede. Presidente Wladimir Poetin van Rusland en Xi Jinping van China het albei te make met ’n binnelandse politieke kultuur van gehoorsaamheid aan die owerheid en aanvaarding van streng regering wat desnoods afgedwing word.

Dis nie dat hulle sodanig ’n toonbeeld van doeltreffendheid is nie, maar die meeste Westerse leiers steek nogal by hulle af.

’n Belangrike vraag is uiteraard: In welke mate het leiers bewegingsvryheid, gegewe die politiek-ekonomiese, politieke en kulturele grense waarbinne hulle moet optree?

In die Weste word hul bewegingsvryheid deur die liberale veelparty-demokrasie aan bande gelê. Daardie stelsel berus op die rotsbedding van verspreiding van mag – geen enkele individu (met inbegrip van die regeringshoof) kan te veel mag vergaar nie; daar is ’n horde ander mense en instansies met wie die mag gedeel word en wat toesig oor die regeringshoof hou.

Dit beteken dat leiers soos Biden, Merkel, Macron, Johnson en ander nie net kan doen wat hulle wil nie. As hulle daardie beperking nie behoorlik hanteer nie, kan dit hul doeltreffendheid sterk aan bande lê.

Dit het Merkel nie veel gepla nie; sy het die demokratiese perke uitstekend hanteer. Sy is – ná haar voorganger Helmut Kohl – waarskynlik die mees gerespekteerde bondskanselier sedert 1949, toe die geallieerde oorwinnaars van die Tweede Wêreldoorlog toegelaat het dat Wes-Duitsland ’n eie regering kry.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

Nóg Macron in Frankryk nóg Johnson in Brittanje is gelief of gerespekteer. Dis ’n ope vraag of hulle ’n volgende verkiesing polities sal oorleef.

Biden het ná ’n goeie begin ook uitgesak, en dit geld nie net vir sy hantering van die Afghanistan-kwessie nie. Sy liggeraaktheid en onwilligheid om sy beleid en optrede aan kritiese ondervraging bloot te stel, maak geen goeie indruk nie.

Geen wonder dat sy goedkeuringskoers onder kiesers volgens gereelde peilings aan die daal is nie.

Wat Afghanistan betref, is dit natuurlik ook waar dat sy voorganger, oudpresident Donald Trump, wat selfs nóg meer arrogant en minder bekwaam is, die huidige rampspoedige momentum aan die gang gesit het. Alhoewel Biden dit op ’n ander manier kon doen, het hy nie, en betaal tans die prys daarvoor.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Die beweegruimte van diktators soos Poetin en Xi is andersyds in beginsel aansienlik groter. Hulle hoef hulle nie aan grondwetlike beperkings te steur nie, en aangesien hulle geen wedywerende politieke kragte duld nie, hoef hulle ook nie dáármee rekening te hou nie.

Die verskil is natuurlik wel dat indien dinge skeefloop, daar veel minder van ’n korrigerende krag aanwesig is. Dit beteken verder dat die ramp dan veel groter as in ’n demokrasie is.

Die allerbeste voorbeeld is natuurlik Adolf Hitler, wat sy eie kragte en bekwaamheid hopeloos oorskat het. Maar die ineenstorting van alle kommunistiese stelsels wys dat, al duur dit dekades, daardie diktature ook nie teen onbekwaamheid en ondoeltreffendheid kon standhou nie.

Daar is slegs twee kommunistiese diktature oor, Kuba en Noord-Korea, en met hulle gaan dit nie goed nie.

Wat kan ons van dié beskouing leer?

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Wel, jy kan nie bekwaamheid en doeltreffendheid by ’n politieke leier afdwing nie. Alte dikwels – en dit geld ook vir demokrasieë – is dit die mees meedoënlose en ambisieuse politikus wat bo uitkom. Maar dis nie noodwendig die beste een nie.

Wat wel waar is, is dat die skade wat ’n ondoeltreffende en onbekwame leier kan aanrig, meer beperk in ’n demokrasie as in ’n diktatuur is.

Die ander verwagting wat aan die begin van dié artikel genoem is, naamlik moraliteit, is natuurlik ’n volledig ander saak. Ook moraliteit is iets wat dikwels by politieke leiers skort.

Dat Biden ’n einde wou maak aan ’n onwenbare oorlog wat nou al 20 jaar lank duur, sou ’n mens as moreel verantwoord kon beskou. Die kil manier waarop hy dit egter doen, sy volkome gebrek aan empatie vir die Taliban-ramp waaraan hy miljoene mense oorlewer, dui op ’n gebrek aan moraliteit.

By sy voorganger was daar ook bitter min moraliteit te bespeur.

Trouens, die enigste leier van ’n groot moondheid wie se breë beleid – oorwegend – aan die vereistes van moraliteit (soos gemeet aan die Christelike geloof) voldoen, is Merkel. En sy is op pad uit.

Die waarheid is dat die politiek ongemaklike bedmaats met moraliteit is, maar ook met doeltreffendheid en bekwaamheid. Dis nou maar eenmaal ’n feit soos ’n koei.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Ongelukkig speel beeldpoetsers, misleidende sosiale media boodskappe, en oneindige subjektiewe tv-dekking deesdae die grootste rol om ‘n bepaalde persepsie van ‘n politikus se bekwaamhede te skep. “Laat die man met die meeste geld wen!” is nou die sleutel tot politieke sukses.

Bertie

Iemand wat homself aanmeld as politikus, met geen bewese sukses in die privaatrsektor nie, sal ek met groot agterdog bejeën. As so ‘n persoon nog ‘n aanhanger van Afrika-kultuur ook is, dan sal ek sommer weet daar is moeilikheid nog voor daar ‘n rokie is.

Vrijburger

Onthou daai Biden verheerliking artikel “In Kennedy se voetspore” van die skrywer in Januarie met die presidensiele inhuldiging?

Soos die Engelse se: “That did not age well”. Nou lees dit soos ‘n satire.

Johann

Biden laat na net soveel maande veel te wense oor as ‘n “leier”. Dink ook nie Kamala het wat dit sal neem om ‘n land van enige aard te “bestuur” nie, nie eens swak te bestuur nie.
Mens is vir jou mense, of jy is teen jou mense, en as jy jou mense kan laat saamstem om teen hulle te wees, des te beter. Dink die demokrate kry dit nogal goed reg, so hulle verdien Biden ten volle, en gaan Kamala baie geniet wanneer sy oorneem.

Marthinus

Wladimir Poetin is nie naastenby n diktator nie. Toe 300 Amerikaanse soldate van die 173rd Airborne Brigade in Kief instorm, nan westers-ondersteunde staatgreep in 2014, moes Poetin by die doema gaan toestemming vra om troepe op Rusland se grens te ontplooi. En toe die krisis afgeweer is, moes hy daardie toestemming aan die doema gaan teruggee. Hy kannie doen wat hy wil nie. Rusland is daarby ook konserwatief Christelik.
Leopold, ek kannie glo dat jy so eenogig na Rusland kyk met al jou jare ondervinding nie.