Brexit – wat is die ekonomiese impak?

Argieffoto (Foto: CHRIS J RATCLIFFE / AFP)

Dit is nou twee jaar sedert Brittanje na ʼn lang stryd en vele terugslae uiteindelik onder leiding van eerste minister Boris Johnson die Europese Unie verlaat het.

As ’n mens die hoofstroommedia moet glo, was Brexit ʼn ramp: Sedert die aankondiging van ʼn referendum oor Brexit het die oorgrote meerderheid nuusmedia die ekonomiese gevolge van ʼn Brexit in die donkerste kleure geskilder.

Die tydskrif The European Conservative kom egter tot ʼn ander gevolgtrekking, gesteun deur syfers van die OECD (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling – ʼn samesluiting van die 38 grootste ekonomieë van die wêreld). Volgens verskeie aanwysers het Brexit geen noemenswaardige uitwerking op Brittanje se ekonomiese prestasie gehad nie. Die geringe ekonomiese agteruitgang wat wel gemeet is, is veral te wyte aan die impak van die koronaviruspandemie en verskil weinig van ander vergelykbare ekonomieë in die Europese Unie (EU). Trouens, die voorspelde ramp wat Brexit sou wees, het nie gebeur nie.

Daar is wel nou minder handel met die EU, maar dit word opgemaak deur meer internasionale handel soos wat Brittanje toenemend ’n globale rolspeler word. Een belangrike deurbraak was verlede jaar se duikbootooreenkoms met die VSA en Australië, waardeur Frankryk uitgestof is.

Daar was ʼn ekonomiese inkrimping in 2020 en ook in die eerste helfte van 2021. Die gemiddelde ekonomiese groei in Brittanje in 2020 was -1,5%. Dit is egter in lyn met ander groot ekonomieë wat steeds deel van die EU is, soos Duitsland en Frankryk. Die twee lande se ekonomiese groei was in dieselfde tydperk onderskeidelik -1,25% en -1%, dus feitlik dieselfde as Brittanje s’n. Die inkrimping word veral aan die gevolge van die grendeltydperk toegeskryf. Volgens die jongste syfers vir die derde kwartaal van 2021 lyk dinge egter meer rooskleurig vir Brittanje met 6,6% groei, die vierde hoogste groei in Europa en ver bo die ander twee groot ekonomieë s‘n. Vir 2022 word daar ʼn ekonomiese groei van 2,2% voorspel.

Ook op die langer duur beskou het Brexit geen noemenswaardige ekonomiese impak gehad nie. Daar was wel ʼn effens afname in buitelandse beleggings, maar van die voorspelde uittog van groot finansiële instellings uit Londen weens gewaande nasionalisme het niks gekom nie. Brexit het ook geen uitwerking op werkloosheid gehad nie. Nie net is die indiensneming- en werkloosheidsyfers feitlik onveranderd as ʼn mens Brittanje voor en na Brexit vergelyk nie, dit is ook in lyn met die tendense in die ander twee groot ekonomieë in Europa, naamlik Duitsland en Frankryk. Buitelandse handel het wel voelbaar afgeneem, maar weereens nie drasties as dit met ander Europese lande vergelyk word nie. Boonop het Brittanje danksy minder invoere sy handelsbalans verbeter. Brexit is op kort termyn negatief, maar is op die medium en lang termyn positief, omdat dit plaaslike produksie aanmoedig.

Dit moet ook gesê word dat vir die voorstanders van Brexit ekonomie nooit die hoofargument was nie. Dit gaan daaroor om weer politieke beheer oor jou eie land te neem.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vrijburger ·

Jip, dit is nou nie juis ‘n boodskap wat die hoofstroom media sal uitbasuin nie.

Treurwilger ·

Altyd lekker wanneer doemprofete bloedneus geslaan word.
Die voorspellings van Brittanje se heengaan is toe gelukkig voortydig en blote wensdenkery van al die welbekende ‘doomsayers’.

Dr Pieter ·

Wonder nou maar net.
Volgens Statista het die VK se BBP in 2019 met 1.4% gegroei en in 2020 met 9,9% gekrimp! Volgens die skrywer was die ekonomiese groei in 2020 1.5%
Meet ons aan verskillende standaarde? Nogal ‘n groot verskil tussen minus 9.9 en plus 1.5
Volgens verskeie bronne het die indiensneming in die VK van 2019 tot 2021 gekrimp met 1.3% ten spyte van bevolkingsaanwas.

Treurwilger ·

Hi Dok,
Jammer, maar Sebastiaan Biehl maak nie foute nie.
Dis negatiewe groei, minus 1,5% in 2020 in die artikel, soos die res van die EU ook swakker presteer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.