Cameron en Johnson se uitval kan party skaad

david-cameron

David Cameron. Foto: Facebook

Die uitval tussen die Britse premier, David Cameron en sy grootste mededinger in die Konserwatiewe Party, Boris Johnson, loop uit op ʼn bloedige burgeroorlog waarvan die party self die grootste slagoffer kan word. Leopold Scholtz bekyk die saak.

Dit was die groot leier van die Tories, sir Winston Churchill, wat ʼn belangrike aspek van die Britse politiek opgesom het. In ‘n verwysing na die feit dat die regering en opposisie teenoor mekaar in die laerhuis sit, het hy gesê: “My opponente sit aan die oorkant; my vyande sit agter my.”

Daarmee het hy bedoel messe in ʼn politikus se rug word altyd van ágter – deur jou mededingers in jou eie party – ingesteek.

Die drama wat hom tans in die Konserwatiewe Party afspeel, vertoon baie hiervan. Dis nodig om eers die agtergrond te skets.

Brittanje se lidmaatskap van die Europese Unie (EU) is al dekades lank omstrede in dié land. Baie Britte meen die EU is te veel van ʼn superstaat en tas hul nasionale soewereiniteit aan.

Bowendien het die Britte hulself altyd as ʼn aparte entiteit gesien, ʼn volk met ʼn eiland-mentaliteit wat hulself nietemin as die middelpunt van die wêreld sien. Dit word uitstekend geïllustreer deur ʼn opskrif in The Times in 1913: “Fog in Channel. Continent cut off.”

Die totstandkoming van die UK Independence Party (Ukip), wat niks van die EU wil weet nie, het egter aan die Tory-stoel se pote begin saag. Cameron, wat sy land in die EU wil hou, het ingesien dat hy íets moes doen.

Hy het dus ʼn referendum afgekondig en terselfdertyd ʼn spesiale status vir Brittanje in die EU beding, in die hoop dat die kiesers sal besluit om nie die band met Brussel te knip nie. Die probleem was dat die Konserwatiewe tot op die been verdeeld is. Die EU-skeptici het Cameron se arm gedraai totdat hy toegegee het dat hulle vir ʼn Nee-stem binne die party mag ageer.

Dis waar Boris Johnson inkom.

Cameron en Johnson was tydgenote op die eliteskool Eton en aan die universiteit van Oxford, al was hulle nie juis boesemvriende nie.

Cameron is met die spreekwoordelike silwer lepel gebore, uit ʼn ryk familie, terwyl Johnson van meer beskeie afkoms is. Maar waar Cameron ʼn stewige, maar valerige indruk maak, is Johnson eksentriek en charismaties op dieselfde manier waarop iemand soos Churchill was.

Dat hy as Tory reeds twee verkiesings as burgemeester van Londen – tradisioneel ʼn Arbeider-vesting – gewen het, sê baie van hoe sy flambojante persoonlikheid die Britse volksaard aanspreek.

Johnson het nog nooit sy verterende ambisie onder stoele of banke weggesteek nie. Reeds op Eton, waar die rykmanskinders op sy “gewone” afkoms neergekyk het, het hy verkondig dat hy die “koning van die wêreld” gaan word.

Toe dit onmoontlik blyk, het hy sy visier op die naasbeste doelwit gestel. Hy sou premier word. En as iemand in sy pad staan, is dit just too bad, old boy.

Johnson het sy loopbaan begin as verslaggewer by The Times, maar is ontslaan nadat hy ʼn aanhaling van iemand gefabriseer het.

Daarna was hy Brusselse korrespondent van The Daily Telegraph, waar hy hoogs kritiese – sommige gebruik die woord waarheidsarm – stukke oor die EU geskryf het. Een van sy destydse kollegas, Sonia Purnell, skryf onlangs in The Independent: “Hy het self op ʼn keer toegegee dat hy eenvoudig ʼn ‘markgeleentheid’ gesien het om sy naam met sulke versonne stories te vestig”.

Hy het voordat hy teen vieruur smiddags sy stukke begin skryf het, eers op die plante in sy kantoor geskel om homself op te werk, sê sy.

Nietemin het die uiters Euro-skeptiese premier Margaret Thatcher hom haar geliefkoosde korrespondent genoem.

Johnson is uiters gewild en slaag daarin om sy eksentrieke aard op ʼn grappige manier oor te dra, heel anders as die platvloersheid en verbetenheid wat populiste soos Donald Trump in Amerika en Geert Wilders in Nederland vertoon. Hy word op ʼn fiets in die Londense strate gesien of spring met ʼn valskerm bo die stad uit – uiteraard nadat ʼn horde verslaggewers en fotograwe ontbied is om die petalje te dek.

Cameron het hard gewerk om Johnson aan sy kant te kry. Johnson het die premier tot op die nippertjie aan ʼn lyntjie gehou, maar uiteindelik aan die Nee-kant van die draad afgeval.

Toe hy in die laerhuis verslag doen van sy onderhandelings in Brussel, het Cameron Johnson – sonder om sy naam te noem – in wese daarvan beskuldig dat hy dit slegs doen om sy politieke loopbaan te bevorder. ʼn Woedende Johnson, wat naas Londense burgemeester ook parlementslid is, het met ʼn spierwit gesig gefluister: “Nonsens!”

Cameron het die parlement daaraan herinner dat hy reeds gesê het hy stel hom nie weer as premier verkiesbaar nie en hy het dus niks te wen nie.

Die referendum word op 23 Junie gehou. Die Mail on Sunday het onlangs ʼn peiling oor die Britte se menings gepubliseer, waaruit blyk dat 51% toe in die EU wou aanbly en 39% wou uittree. Dit vertel egter nie die hele verhaal nie, want die Ja-stemmers het met 3 persentasiepunte afgeneem, vergeleke met ʼn vorige peiling ʼn maand tevore, terwyl die Nee-kamp se steun met 3 persentasiepunte gegroei het.

Dis duidelik Cameron gaan selfs in gunstige omstandighede sukkel om die pyp te rook. En Boris Johnson se opstand teen Cameron kan dalk net die deurslag teen hom gee.

Dié burgeroorlog onder die Tories kan dié party egter slegs benadeel. Kiesers hou nooit van openlike verdeeldheid in ʼn party nie.

Of die Arbeiders, met hul openlike ekstreemlinkse leier, Jeremy Corbyn, daardeur bevoordeel gaan word, sal ons moet sien.

Intussen is dit die valerige Cameron teen die charismatiese Johnson.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.