Chili-verkiesing lewer keuse tussen twee uiterstes

Jose Antonio Kast (Foto: Ernesto BENAVIDES/AFP)

In die presidents- en parlementsverkiesing die afgelope naweek in die Suid-Amerikaanse land Chili het twee kandidate van uiterste kante van die politieke spektrum koning gekraai.

Jose Antonio Kast, kandidaat van die regsgesinde partyalliansie Frente Social Cristiano (Christelik-Sosiale Front), het die meeste stemme (28%) op hom verenig. Kort agter hom met 26% het die vêrlinkse kandidaat, Gabriel Boric van die alliansie Apruebo Dignidad (Ek keur waardigheid goed), gevolg. Al twee sal na die uitklopronde in Desember vanjaar deurgaan.

Kast se hoofpunte was die stryd teen misdaad, onwettige immigrasie en die terugkeer na die liberaal-ekonomiese beleid van die vrye mark, terwyl Boric vir die uitbou van die welsynstaat en bereiking van gelykheid staan, asook die stryd teen klimaatsverandering. Sebastian Piñera, die tans regerende gematig-regse president, het nie weer gestaan nie en het ook geen voorkeur uitgespreek nie.

Ander kandidate met beduidende steun was Franco Parisi, liberale ekonoom van die Partido de la Gente (Party van die mense), en Sebastian Sichel, kandidaat van die hoofstroom regse alliansie Chile Podemos Mas (Chili, ons kan meer), met 13% elk. Yasna Provoste van die gematig-linkse Nuevo Pacto Social (Nuwe maatskaplike pakt) het 12% ingepalm en Marco Enriquez-Ominami van die linkse Progressiewe Party het 8% gekry. Die gematigde hoofstroompartye het swak gevaar, terwyl nuwe, populistiese partye en kandidate oor die algemeen goed gevaar het.

In die gelyklopende parlementsverkiesing het Chile Podemos Mas die meeste setels verower, gevolg deur Apruebo Dignidad, terwyl Kast se alliansie eerder beskeie gevaar het. Chili het ʼn politieke stelsel vergelykbaar met die van die VSA, met twee parlementskamers: Die Huis van Afgevaardigdes en die Senaat, en ʼn president met ʼn sterk uitvoerende rol wat deur die bevolking en nie deur die parlementslede verkies word nie.

Veel hang nou af van die ander kandidate se aanbevelings vir óf Kast óf Boric. Soos met elke uitklopronde sal die kandidate na die middel toe skuif om die maksimale steun te probeer trek. Provoste het reeds haar steun aan Boric toegesê en dit kan aanvaar word dat Enriquez-Ominami ook na Boric sal leun. Parisi en Sichel se voorkeure is dus deurslaggewend. Sichel keur Boric se beleid af en neig eerder na Kast. Ook Parisi is polities nader aan Kast. Indien Kast in die uitklopronde wen, sal die vreemde situasie intree dat ʼn regse president die nuwe, linkse grondwet moet help implementeer. Kast se eie alliansie het ook slegs 12% van die setels in die Huis van Afgevaardigdes gewen en hy sal in elk geval kompromieë moet aangaan.

Gabriel Boric (Foto: MARTIN BERNETTI/AFP)

Chili het die laaste jare duidelik na links beweeg, gedryf deur studenteproteste ten gunste van meer gelykheid, oftewel ʼn sosialistiese welvaartstaatsmodel. Die vryemarkbeleid en lae belasting het talle geleenthede geskep en die land in sy geheel geweldig laat ontwikkel, maar dit het natuurlik ook verloorders opgelewer en die koste vir mediese dienste, vervoer en opleiding laat styg. President Sebastian Piñera, eintlik ʼn liberaal-konserwatiewe, het onder die druk van massabetogings en geweld toegegee en meer welsynsspandering ingestel asook die groen lig vir ʼn referendum oor ʼn nuwe, meer linksgesinde grondwet gegee, wat met ʼn groot meerderheid aanvaar is. Die goeie steun vir Kast in die verkiesing kan as ʼn reaksie vertolk word: Aansienlike dele van die bevolking voel dinge beweeg nou te ver na die linkerkant.

Die verkiesing moet ook in die groter Suid-Amerikaanse konteks gesien word. Die keuses beweeg tans oral weg van die gematigde hoofstroompartye na die uiterstes aan weerskante. In talle lande regeer daar intussen vêrlinkse presidente, soos in Peru, Bolivië en Venezuela. In Venezuela bestaan daar lankal reeds ʼn sosialistiese diktatorskap wat verkiesings manipuleer en die veiligheidsmagte op die bevolking loslaat om aan bewind te bly.

Ook Argentinië, Chili se buurland, het met die laaste verkiesing na sosialisme teruggekeer, maar vaar swak daarmee. In Brasilië, lank deur sosialiste regeer, kon die vêrregse Jair Bolsonaro egter die laaste verkiesing wen en ook elders maak populisties-regse bewegings opgang. Chili is die mees gevorderde land in Suid-Amerika en amper op die vlak van ʼn Westerse land te danke aan sy vryemarkmodel waarmee egter al hoe meer gepeuter word ter wille van gelykheid. Ook die immigrasie van armes van so ver weg soos Venezuela en Haïti bring vrees dat Chili na die vlak van ʼn Derdewêreldland sal afgly.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Interessant hoe die regsgesinde partye in enige land altyd vír vryemark en beveiligde landsgrense is, terwyl linkses hoofsaaklik ‘n welsynstaat en versnelde immigrasie bevorder?
Dit laat die vraag of linkses óóit verder as hul neuse kan dink.
Wat is hul planne vir wanneer die onvermydelike gebeur en belastingbetalers ‘n bedreigde spesie raak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.