China se ekonomiese model bereik sy grense

Die Chinese yuan (Foto: moerschy/Pixabay)

Al vir sowat twee dekades is een van die hooftemas in gesprekke en meningsartikels die “feit” dat China binnekort by die VSA sal oorneem as wêreldleier, met die geïmpliseerde sentiment dat die outoritêre politieke en ekonomiese model verhewe is bo die Westerse liberale markekonomie.

Sonder twyfel het China enorme ekonomiese opgang gemaak en is daar geen vergelyking tussen die China van die 1980’s en die China van vandag nie. Dit was waarskynlik ook die regte besluit wat die destydse kommunistiese leier Deng Xiaoping geneem het, naamlik om kapitalistiese elemente toe te laat sonder om alle leisels uit die hand te gee.

Rusland het in die 1990’s gewys wat in so ʼn geval gebeur as ʼn kommunistiese ekonomie oornag oopgestel word: gewetenlose oligarge met konneksies gryp die mees winsgewende elemente van die ekonomie, gewoonlik grondstowwe, sonder om vir ʼn werklike ontwikkeling te sorg. Rusland is tot vandag toe struktureel ʼn derdewêreldekonomie, wat grondstowwe uitvoer en verder omtrent alles invoer.

China daarteenoor het sy nywerhede sterk ontwikkel en ook die trappe geklim van goedkoop massaproduksie van klere en plastiekartikels na meer gesofistikeerde produkte soos motors en rekenaartegnologie. Die staat het ook massief in infrastruktuur belê, wat die voorwaarde vir ontwikkeling is.

Die remskoen wat maak dat China se ekonomie nie die VSA s‘n in die afsienbare toekoms sal verbysteek nie, is die voortgesette, selfs al hoe groterwordende beheer deur die kommunistiese party. China het dit reg gekry om van ʼn primitiewe landbou-ekonomie na ʼn nywerheidsekonomie te vorder, maar die volgende stap na die kennisekonomie word net halfhartig betree, omdat kennis nie in ʼn staatlike dwangbuis kan ontwikkel nie.

Met ander woorde, die regering het die land en sy mense gehelp om nie meer te kruip nie, maar om te loop, maar wil nou keer dat hulle vlieg. Dit het reeds sy uitwerking op die bevolking: minder word gespandeer en belê. Terwyl daar in die kapitalistiese ekonomie ʼn vertroue in die stelsel is (jy kry waarvoor jy betaal, jou geld is veilig in die bank of in beleggings), is daar in kommunistiese stelsels weens die onderdrukkende aard groot wantroue, wat daartoe lei dat burgers probeer bedrieg en om hulle geld wegsteek.

Hoe negatief die staatlike inmenging is, kan geïllustreer word aan die hand van een van die bekendste Chinese maatskappye, die handelsplatform Alibaba. Met sy stigting is dit geprys as die “Chinese Amazon” en het ʼn potensieel veel groter mark as Amazon betree met China se groot opkomende middelklas in ʼn land met 1,3 miljard mense teenoor die reeds taamlik versadigde Amerikaanse middelklas in ʼn land met 340 miljoen inwoners. Alibaba se stigter Jack Ma was vir die Chinese leierskap weens sy kapitalistiese ingesteldheid en kritiek op elemente van die ekonomiese model dadelik ʼn bedreiging en is, saam met Alibaba, aan bande gelê. Drie jaar gelede, kort voor die Covid-19-pandemie, was Alibaba en Amazon se aandeelprys taamlik op dieselfde vlak. Alibaba het, anders as Amazon, glad nie gebaat by die sluiting van talle winkels tydens Korona nie en het sedertdien omtrent 60% van sy waarde verloor.

Veral die pandemie het die almag en die deursettingsvermoë van die Chinese leierskap gewys. Wat aanvanklik geprys is as doeltreffende bekamping van ʼn wêreldwye gevaar het die ekonomie erg skade aangedoen. Daar was sedert die einde van die pandemie ook geen doeltreffende inisiatiewe in China om die ekonomie te stimuleer nie.

In kommunistiese lande soos China (en die vroeëre Sowjetunie) is die ekonomie ʼn middel tot ʼn doel – naamlik om die heersende elite te verryk, die bevolking met geld en verbruikersgoedere stil te hou en om die land internasionaal sterker te maak, terwyl dit in ʼn Westerse demokrasie die doel is om almal se welvaart te vermeerder, al beteken dit ook groter ongelykheid.

Verder het China se groot groei in die verlede veel te doen met die “inhaaleffek”, om miljoene mense van die landelike laer klas na die stedelike middelklas te lig, asook met groot openbare infrastruktuurprojekte deur middel van staatsfondse. Dié fase is grootliks afgesluit en daar is nou geen resep vir verdere ontwikkeling nie. Westerse lande beskik al vir dekades oor ʼn groot middelklas en hulle ekonomieë groei ook sonder die “inhaaleffek”, omdat die ekonomiese stelsel mense in staat stel om self ondernemings te begin en om hulle geld vrylik te belê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Uitmykoker ·

Waardevolle insigte, baie dankie daarvoor Sebastiaan. Ek vertrou dat hierdie artikel ook in die Uniegebou gelees sal word.

Groen Ghoen ·

Baie waar, dankie vir ‘n goeie artikel. Die enorme skuld wat ontstaan het in die polities beheerde Chinese vaste eiendomsbedryf is blykbaar op die punt om in te plof. Die implikasies vir S.A. se kommoditeits uitvoere is katastrofies. Kan dit die spreekwoordelike kameel se rug breek?

Republikein in die Wes Kaap ·

Statistieke toon wel dat gemiddelde Chinese se welvaart skerp toegeneem het sedert 1980. Korrupte elite word summier tereggestel. Die Chinese het die vermoë om langtermyn te beplan, en doen dit al vir duisende jare. Sedert die 1980s implementeer hulle elke vyf jaar ‘n 5-jaar plan. Hulle 5 jaar planne tot en met 2050 is reeds in plek en kan aangepas word na gelang van omstandighede, en die 5 jaar planne na 2050 word nou gefinanliseer. Kom ons wag en kyk in watter rigting China beweeg.

Goldy ·

Baie goed geskryf, dankie. Die inhaaleffek maak dit maklik om aan die begin te groei, soos ons in die tyd na die 2de boereoorlog tot in 1970 gegroei het, Mens kan lag vir die ANC wat so sterh hoop op China, maar China se groei is sommer gou al uitgehol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.