Covid-19 kan die platteland laat herleef

Dr. Eugene Brink.

Dit is ’n onweerlegbare feit dat snelle verstedeliking wêreldwyd en dus ook in Suid-Afrika plaasvind.

Sowat twee derdes van Suid-Afrika se bevolking leef reeds in stede en hierdie proses gaan nie sommer maklik op groot skaal omgekeer word nie. Terwyl slegs sowat 30% van die wêreldbevolking in 1950 in stede gewoon het, woon die meeste van die wêreld se bevolking deesdae in stede. Daar is al voorspel dat sowat 70% van die aarde se bevolking teen 2050 in stede woonagtig sal wees.

Veral stede in ontwikkelende lande groei teen ’n snelle tempo – nes hul bevolkings in die algemeen. In 1950 was daar slegs twee megastede (gedefinieer as stede met meer as 10 miljoen inwoners), te wete New York en Tokio. In 1995 was daar reeds 14 en vandag is daar meer as 20 – meestal in armer streke en vastelande soos Afrika, Asië en Latyns-Amerika.

Die meriete van verstedeliking kan as positief én negatief beskryf word. Hoe dit ook al sy, verstedeliking is onafwendbaar, soos die gegewens hierbo aandui. Stede was sedert die nywerheidsrewolusie ’n werk-trekpleister vir arm plattelanders en dit is vandag steeds só danksy ’n ekonomie van skaal wat arbeid benodig. Stede bied ook die geriewe, verbruikers en geleenthede wat tot groter sosiale mobiliteit en ontwikkeling lei. Stede ontvang ook in die algemeen meer hulpbronne van politici en geniet meer prestige. Sommige stede is vandag weliswaar belangriker as lande!

Andersyds skep stede ook (noodwendig) verskeie euwels, soos krotbuurte, erge verkeer, besoedeling, haweloosheid, werkloosheid en misdaad. Veral in Derdewêreldlande, waar daar nie behoorlike dienstebeplanning plaasvind om nuwe inkommers in stede te integreer en te akkommodeer nie, is hierdie uitdagings besonder akuut. Kyk maar na stede soos Delhi en Lagos.

Selfs gesogte stede in ryk lande, soos New York en Los Angeles, is besig om te verval weens swak beleid en die gevolge wat daarmee gepaard gaan. Hordes ondernemings asook ryk en middelklas-indiwidue en gesinne is besig om Kalifornië en veral San Francisco en Los Angeles te verlaat weens hoë belastings, misdaad en algehele verval.

Meer plaaslik is Johannesburg en ander dele van Gauteng onderhawige gevallestudies. Meer as 10 000 mense stroom maandeliks na die Goudstad in die hoop om ten minste beter dienste as op die lang vervalle platteland te bekom. Johannesburg is egter hopeloos onvoorbereid hiervoor en selfs onder beter omstandighede sou dié sukkelende metro nie die mas opkom nie. Daar moet water, riolering en paaie vir hierdie nuwe inkommers – waarvan meeste in die townships of in die haglike stadskern gaan woon – aangelê word.

Weens verskeie faktore wat reeds vir ’n geruime tyd waarneembaar is, soos emigrasie en treurige ekonomiese groei, kan begrotings nie byhou by die vereistes vir dienslewering nie. In 2020 het Covid-19 en die gepaardgaande inperkings verdere geldelike amok gemaak weens dalende belasting-inkomste en werkloosheid.

Insgelyks het meer maatskappye en organisasies ook hul werknemers van die huis af laat werk. Maar meer as wat Covid-19 nuwe tendense skep, werk dit eerder bestaande tendense des te meer in die hand. Tegnologie het die tradisionele kantoor al vir ’n wyle getransformeer en fisieke teenwoordigheid negeer. Baie mense hoef lank nie meer fisiek op kantoor te wees nie en niemand weet wanneer die einde van Covid-19 werklik gaan aanbreek nie. Baie ondernemings wou juis begin bespaar op kantoorruimte. Kleiner kantore en die gebruik van tegnologie vir kommunikasie gaan dus slegs meer van ’n norm word.

Dit gaan ook daartoe lei dat baie mense wil ontsnap van die stede en straks eerder net periodiek stad toe gaan om meer eksklusiewe goedere aan te koop. Hierdie mense is byvoorbeeld lankal moeg vir die verdringing van hul taal en kultuur in die stede, sowel as vir die verval wat deesdae ewe groot afmetings in die stede as op die platteland aanneem. Hulle kan hul kinders ’n vryer en meer argelose omgewing gee om in groot te word as in die stad. Hulle kan ook meer tyd saam met hul kinders deurbring en minder tyd in die verkeer.

Dit is egter so dat die verval op die platteland in Suid-Afrika in die algemeen erger is as in die stede. Dit is ook so dat dit darem nie oral die geval is nie. Die ineenstorting in sekere landelike munisipaliteite klink miskien katastrofaal, maar dit is in der waarheid nie altyd die geval nie. Daar is ’n toenemende aantal voorbeelde op die platteland waar sekere of alle dienste de facto en ook de jure deur die gemeenskap bestuur word nadat die munisipale bestuur in duie gestort het.

Hierdie soort selfbestuur gaan in meeste wêrelddele noodsaaklik word aangesien die staat se hulpbronne en vermoë ontoereikend is. En dit is baie makliker vir gemeenskappe om in klein dorpies en die platteland toe te pas as in die stede. In hierdie bondige artikel wil ek nie voorgee dat verstedeliking goedsmoeds omgekeer of gestuit gaan word nie – inteendeel. Ek dink wel dat ’n trek na die stiller platteland wat reeds besig is om onder die middelklas plaas te vind, waarskynlik gaan versnel. Veral Suid-Afrikaanse stede is om verskeie redes onvolhoubaar en tegnologie maak dit moontlik vir die middelklas om teensiklies op te tree en ou plattelandse tuistes te bewoon of om as moderne pioniers nuwes te op te soek en ontwikkel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.