DA se Wes-Kaapse kopseer kan ’n nasionale migraine word

Mmusi Maimane, leier van die DA en ‘n moontlike kandidaat vir die premier van die Wes-Kaap. Foto: ANA.

Die chaos en verleentheid waarin die DA homself gedompel het met die vertraging van die aankondiging van sy Wes-Kaapse premierskandidaat kan óf omsit in ‘n enorme politieke migraine óf baie maklik opgelos word as almal kalm bly.

Al agt die ander provinsiale premierskandidate is aangewys, maar in die Wes-Kaap (die enigste provinsie wat deur die DA beheer word) word tans rondgeval sonder enige waarneembare oorkoepelende strategie of doelwit.

Die enigste elegante oplossing – en die een wat die minste probleme sal skep – is om die proses vir die aanwysing van ‘n Wes-Kaapse premierskandidaat van die begin af oor te doen, soos ons hieronder sal sien.

Die DA se reëls oor die verkiesing van premierskandidate is redelik eenvoudig. Dit bestaan uit drie stappe. Eerstens moet jy jouself skriftelik verkiesbaar stel vir die posisie.

Tweedens moet jy voor ‘n kieskollege verskyn, wat saamgestel word uit dienende DA-verteenwoordigers en kundiges wat breedweg simpatiek staan teenoor die party. Daar word van die kandidate verwag om ‘n beleidstoespraak te maak en vrae van die lede van die kieskollege te beantwoord.

Elke lid van die kieskollege bepunt die kandidate afsonderlik. Dan stuur die kieskollege sy lys in volgorde van voorkeur aan die DA se federale bestuur. Die federale bestuur aanvaar of verwerp dan die lys.

In die geval van die DA in die Wes-Kaap was daar drie kandidate. Die meeste stemme en hoogste punte (verreweg, volgens verskeie bronne) het gegaan aan Alan Winde, die provinsie se LUR vir landbou en ekonomiese ontwikkeling. Die tweede plek het gegaan aan David Maynier, parlementslid en DA-woordvoerder oor finansies in die nasionale parlement. Derde was Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier van die DA en provinsiale LUR vir menslike nedersettings.

Daar is ‘n bykomende reël in die DA-grondwet in verband met nominasies vir DA-verkiesingskandidaatlyste, naamlik dat die party se leier (in hierdie stadium Mmusi Maimane) die nommer een-posisie kan vul op enige kandidatelys waarop hy of sy verkies om dit te doen.

Toe die DA se federale bestuur die afgelope Vrydag vergader het om die Wes-Kaapse premierskandidaat goed te keur, is dit presies wat Maimane gedoen het. Hy het homself verkiesbaar gestel as Wes-Kaapse premier.

Dit is nie goed ontvang nie, en die federale bestuur het die kwessie uitgestel vir bespreking hierdie week. Dit het die party verleentheid veroorsaak dat die aankondiging van die premierskandidaat, wat vir Sondag beplan is, ter elfder ure uitgestel moes word – die soveelste onbeholpe optrede deur die Wes-Kaapse DA vanjaar.

So, wat is eintlik aan die gang, en hoe lyk die pad vorentoe?

Kom ons kyk eerste na die rol van die twee mees uitgesproke rolspelers tot dusver, naamlik Madikizela en Maimane.

Madikizela se rol is tans uiters bedenklik. Hy het (en hier is hy sekerlik reg) Vrydag in die federale bestuur gesê Maimane moet die nasionale aanslag van die DA lei, veral in Gauteng en die Noord-Kaap, die twee provinsies buiten die Wes-Kaap waar die ANC tot onder 50% gedruk kan word, wat die geleentheid vir koalisieregering kan skep.

Maar toe speel Madikizela die rassekaart – altyd die swakste kaart; die toevlug van die swakkeling. Want hy sê toe aan die federale bestuur dis nie net teen Maimane se kandidatuur wat hy dit het nie. Hy meen ook die DA kan nie ‘n wit man as premierskandidaat stel nie.

So as Maimane uitval en die twee wit mans (Winde en Maynier) val uit, dan land die einste Madikizela mos in die premierstoel. En dis hier ‘n geval dat iemand moet uitroep dat die keiser nie klere het nie – Madikizela doen dit vir eie gewin.

Die DA se grondwet maak eksplisiet nie voorsiening vir kwotas of raskaarte nie. As Madikizela meen wit mans (of enigeen anders) moet op grond van hul ras en geslag uitgesluit word, is twee goed belangrik. Eerstens tree hy totaal in stryd met die DA se eksplisiet nierassige en antiraskwota-grondwet op, en tweedens moet mens nie oor die reëls kla nadat die proses afgeloop en jy verloor het nie. Dis in elk geval ‘n ope, hoewel ongelukkige, vraag of – as ras vir gewone Wes-Kaapse kiesers ‘n faktor was – ʼn wit persoon meer van ‘n kniehalter as ‘n swart kandidaat sou wees.

Indien Madikizela oor die vermoë beskik, kan hy dit oorweeg om homself die vraag te stel wat sal gebeur as sy pogings om Winde en Maynier op grond van ras uit te knikker, binne die federale bestuur suksesvol sou wees. Indien Winde of Maynier die saak hof toe sou neem, kan daar absoluut geen twyfel wees dat die hof dieselfde bevinding sal maak as met die Patricia de Lille-debakel nie, naamlik dat die DA in stryd met sy eie grondwet, beginsels en regulasies opgetree het en dat sulke gedrag dus ongeldig sou wees.

Met Madikizela se eiewaan en ware agenda nogmaals bevestig – hy het in die verlede ook al die raskaart gespeel, byvoorbeeld toe hy tydens die DA se federale kongres in Port Elizabeth beweer het Maimane is nie werklik swart nie omdat hy met ‘n wit vrou getroud is – kan ons na Maimane se rol kyk.

Dat Maimane binne sy regte optree deur homself te nomineer, kan niemand betwyfel nie. Daar is hy Madikizela ver voor. Of dit op enige vlak polities en strategies raadsaam is vir Maimane om as Wes-Kaapse premier te wil staan, is ‘n ander vraag.

Indien Maimane bewus was van die potensieel rampspoedige gevolge van ‘n Madikizela-raskaart en/of ‘n Madikizela-kandidatuur, kan ‘n Maimane-kandidatuur geregverdig word as potensieel minder rampspoedig. Daar is egter ‘n eenvoudiger en meer elegante oplossing, soos hieronder sal blyk.

Daar is egter vier redes waarom ‘n Maimane-kandidatuur soveel kritiek ontlok soos dit reeds het.

Eerstens was dit ‘n politieke flater van Maimane om homself te nomineer. Hy moes dit deur stemmewerwing (lobbying) gedoen het sodat ander mense dit voorstel. Nou lyk hy oorywerig, verloor statuur en maak ‘n bespotting van die kieskollegeproses.

Tweedens is sy rol op die nasionale, eerder as die provinsiale, verhoog. Die leier van die DA moet die leiers van ander partye in die parlement takel. Die nasionale leier hoort in die nasionale parlement waar hy regstreeks kan deelneem aan die openbare debat en sy kiesers se belange teen, onder meer, die president se ANC-belange kan verdedig, verwoord en oordra.

Dit is terloops nie die eerste keer dat hierdie punt gemaak word nie. In die 2009-verkiesing was dit vir die DA nodig dat sy nasionale leier, Helen Zille, as Wes-Kaapse premier staan, want dis al hoe die party ‘n volstrekte provinsiale meerderheid kon kry (die syfers toon dit – Wes-Kapenaars het op die nasionale stembrief 48% steun aan die DA gegee en op die provinsiale stembrief 51,5% – nagenoeg 3,5% meer van hulle het in die provinsie DA gestem as nasionaal, en dit was die Zille-faktor.

Teen 2014 het dit nie meer gegeld nie en was daar baie druk op Zille om die ANC in die nasionale parlement te takel. Dit sou ook die probleem van twee sentrums van mag, wat die koppe van Athol Trollip en Lindiwe Mazibuko geëis het, uitskakel. Maar Zille het geweier om na die nasionale parlement te gaan, en die res is geskiedenis.

Maimane loop dus die gevaar om homself te relegeer tot ‘n provinsiale, eerder as ‘n nasionale, rolspeler – tot nadeel van homself en sy party.

Die derde rede hoekom ‘n Maimane-kandidatuur ‘n slegte idee is, is omdat hy nie ‘n Wes-Kapenaar is nie. Hy woon nie in die provinsie nie, stem dus nie in die provinsie nie en is dus – om die Kaapse woord te gebruik – ‘n inkommer. Bowendien sal sy kandidatuur beteken in die hele grote Wes-Kaapse DA is daar niemand wat goed genoeg is om premiersmateriaal te wees nie, wat ‘n enorme klap in die gesig van elke Wes-Kaapse DA-lid is.

Die vierde rede hoekom ‘n Maimane-kandidatuur ‘n slegte idee is, is omdat sy veldtog as nasionale DA-leier veronderstel is om te fokus op Gauteng en die Noord-Kaap, waar daar ‘n wesenlike kans is dat die gesamentlike opposisie die ANC uit die kussings kan lig met die DA wat in daardie provinsiale regerings kan dien en, as die opposisie kan saamwerk teen die ANC soos in 2016, selfs die leidende rol kan speel. Die Wes-Kaapse DA kan eintlik vir homself sorg.

So wat is die oplossing? Die oplossing is om die proses van vooraf oor te doen. Vra vir nominasies, volg die kieskollegeproses en laat die federale bestuur dit goedkeur of afkeur. As Maimane meen daar moet nog kandidate wees, moet hy hulle nader en kan hy vir sy voorkeurkandidaat stemming maak (lobby), hoewel liefs nie in die openbaar nie, want as sy voorkeurkandidaat nie die paal haal nie, gaan dit vir hom moeiliker wees om met die wenner saam te werk.

Daar is oorgenoeg goeie kandidate in die Wes-Kaapse DA. Dis byvoorbeeld verbysterend dat dr. Ivan Meyer, provinsiale LUR vir finansies, nie verkiesbaar was nie.

Wat wel absoluut duidelik is, is dat die Wes-Kaapse proses op ‘n skoon lei sal moet begin, anders sit die party in sy hartland met ‘n gemors wat maklik vermy kan word, maar rampspoedig kan wees as dit nie stylvol opgelos word nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

tokkie ·

Ek is bevrees die DA het homself in die voet geskiet. Dit gaan ‘n moeilike verkiesing vir hulle in 2019 wees. Kan dalk die Wes Kaap verloor met al hul dinge

Paul ·

Ek het hierdie ding die naweek sien kom. Dit was ‘n absolute strategiese fout van Maimane, waar hy die DA se Nasionale leier is, om hom vir die premierskap van die Wes Kaap beskikbaar te stel. My gevoel is, al vir paar jaar, dat hy het ‘n probleem daarmee dat die leier in die Wes Kaap nie swart is nie. (Hy het mos in alle geval ‘n probleem daarmee dat die DA as ‘n te wit party gesien word.) Oplossing is, Maimane moet nie verkiesbaar wees nie, en die Wes Kaap moet ‘n inheemse leier as premier kies. Hierdie nóg ‘n debakel gaan hulle duur te staan kom, ook Nasionaal. Dalk is Maimane ook nie die Nasionale leier waarop die DA eens gehoop het nie.

Hennie ·

Presies, en as hy hom nou gaan vasknoop as premier aan die Wes Kaap, hoe gaan die Wes Kapenaars dit sien, hy wat van buite daardie gebied is? Ook, hoe gaan die ander provinsies se DA kiesers dit ervaar, gaan hulle hom nou as Premier van die Wes Kaap én Nasionale DA leier aanvaar? Waarom wil hy werklik die leisels daar oorvat, omdat hy voel dat hy nie beheer daar het nie? Is Maimane se probleem nie ook dat die premier van die Wes Kaap, en die Burgemeester kry tans meer blootstelling, dwarsdeur Suid Afrika, as wat hy as Nasionale DA leier kry nie en nou wil hy daardie wind vang?

Johan ·

Maimane is a broken man in charge of a party with signs of braking up.

Daan Erasmus ·

Genadiglik is Mmusi gedwing om te bedank. Nou is dit nog net Madigazella wat die ras kaart moet terughou.

waarheid ·

Dankie tog ek stem nie DA nie – wat ‘n klomp narre – die hele spul van hulle.

Jerry ·

Die enigste oplossing vir die DA is om beide, Maimane en Madikizela, te fire! Die huidige DA leierskap is geweeg en te lig gevind!

Johan ·

Ek glo dat mnr Dan Plato heel opgewasse is om die Burgemeester van die Stad Kaapstad te wees. Hy word sterkte en voorspoed toegewens.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.