Daar is nie ‘Suid-Afrikaners’ nie

johannesburg-ponte-gebou

‘n Stadsprofiel van Johannesburg in Gauteng. Foto: Willie/Pixabay.com

Geen persoon praat Suid-Afrikaans nie. Mense behorende tot verskillende taalgemeenskappe gebruik en koester wel hulle eie tale en beoefen eiesoortige kulture. Afrikaners het eie besondere helde en gedenk eie groot historiese gebeure net soos ander gemeenskappe hulle eie helde het en groot geskiedkundige gebeure vier.

Suid-Afrikaners is ʼn blote woord, ʼn naam vir iets wat nouliks ʼn daadwerklike bestaan voer en wat hoogstens ʼn erg skrapse inhoud het. Dis beswaarlik meer as ’n leë abstraksie. Net so is daar ook nie ’n Suid-Afrikaanse nasie nie.

Die begrippe, Suid-Afrikaanse nasie en Suid-Afrikaners herlei terug na die staat, Suid-Afrika. Dog, die staat Suid-Afrika red nie die begrippe Suid-Afrikaanse nasie en Suid-Afrikaners nie. Dit verleen ook nie inhoud daaraan nie. Dit doen die teenoorgestelde. Dit eggo die leegheid en betekenisloosheid van hierdie begrippe, want die staat, Suid-Afrika, is ʼn kunsmatige maaksel – die produk van suksesvolle koloniale politiek. Dit is die kunsmatige voortbrengsel van ʼn illegitieme, aggressiewe Britse koloniale beleid, meer bepaald van ʼn oorlogsvergryp teen die eertydse Boererepublieke; en ʼn kunsmatige Brits-koloniale maaksel in die gedaante van ʼn wet van die Britse parlement, die South African Act (Zuid-Afrikawet) van 1909, waarkragtens die staat Suid-Afrika in 1910 die lig gesien het.

Die terme Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse nasie is tans die simbole van die verkeerd benoemde ideologie van nasiebou, wat kultuurgemeenskappe ter wille van ʼn homogene Suid-Afrikaanse nasie wil vernietig. Die ideologie word ook elders in Afrika aangehang. Samora Machel van Frelimo in Mosambiek het geleer die kultuurgemeenskappe moet verdwyn sodat die (staats)nasie kon leef. Leiersfigure van Swapo in Namibië het ʼn soortgelyke standpunt ingeneem.

Die ideologie van sogenaamde nasiebou is egter reeds nagenoeg twee eeue oud. Dit is die eerste maal deur die Franse revolusionêres in opslag van die Franse Revolusie van stapel gestuur met die oog daarop om al die kultuur- en taalminderhede in die Franse staat – Bretone, Baske, sprekers van Provensaals en Oksetaan en dergelike ander – in ʼn enkele homogene Franstalige nasie in te dwing. Die Franse revolusionêres wat wesenlik linkse (staats)nasionaliste was, se voorbeeld is hierna oor die hele ideologiese spektrum nagevolg.

Dit is gevolg deur Engelse liberales in Brittanje, en deur Engelssprekende liberales in die VSA met die oog daarop om onderskeidelik Engelstalige Britse en Amerikaanse nasies te vestig. In Brittanje het die hele Keltiese rant (Walliesers, Skotte en Iere) hieronder gely en in die VSA ʼn groot aantal minderhede vanweë die afdwing van Engelse eentaligheid.

Dit is gevolg deur regse Falangiste in Spanje wat ʼn homogene Spaanse nasie tot die nadeel van minderhede soos die Katalane, Galisiërs en Baske wou afdwing.

Dit is ook gevolg in ooreenstemming met die links-gemotiveerde oortuigings van Engels en Marx, wat net enkele sogenaamde historiese nasies soos Duitsers, Engelse, Franse en Russe erken het, waarin al die ander sogenaamde agterlike volkere geassimileer moes word. (Dit is betekenisvol dat ʼn klassieke liberaal soos John Stuart Mill aan die een kant en Friedrich Engels aan die ander kant, soos elders breedvoerig bespreek is, ewe neerhalend teen klein volkere uitgevaar het.)

Die gebruik van die woord nasiebou om hierdie ideologieë te beskryf, is natuurlik onvanpas, want nasies is juis nie deur hierdie soort projekte gebou nie. Inteendeel, ʼn groot aantal kleiner nasies is juis hierdeur verswak en dikwels vernietig. Walker Connor het daarom tereg opgemerk dat waarmee ons hier te doen het nie nasiebou is nie, maar die teenoorgestelde – nasievernietiging. Dit is presies om die rede dat nasiebou ʼn wanvoorstelling en ʼn verkeerde benaming is. Waarmee ons wel hier te doen het, is strategieë waarvolgens van klein nasies vereis is om hulself ter wille van ʼn homogene staatskultuur op te offer en in ʼn meerderheidskultuur op te gaan.

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Een van die sentrale oogmerke van die ANC is juis ook om ʼn enkele Suid-Afrikaanse staatsnasie op die kulturele verskeidenheid af te forseer. Die Afrikanernasie is verreweg die duidelikste afgebakende kulturele minderheid in die land en is daarom die belangrikste struikelblok in die weg na die realisering van die ANC se Suid-Afrikaanse staatsnasie. Boonop vertoon die Afrikaners in weerwil van groot uitdagings kragtige kulturele en politieke energie. Daarom is Afrikaners die belangrikste element in dit waarna die linkse nasiebou-ideoloë altyd as die nasionale vraagstuk verwys.

Die nadelige gevolge van hierdie ideologie tref natuurlik nie net Afrikaners nie. Ook die ander kultuurgemeenskappe ly daaronder. Onder daardie gemeenskappe is dit weliswaar minder opvallend en die weerstand daarteen is meer beperk, naamlik tot kleiner groeperings van intelligentsia in die geledere van hierdie gemeenskappe.

Die veelbesproke nasionaal-demokratiese revolusie, oftewel die ideologie van transformatisme soos in sy beleidsdokumente uitgestippel, verwoord die ANC se strategie van nasiebou, naamlik om ʼn Suid-Afrikaanse nasie – ʼn nasionaal-demokratiese nasie van Suid-Afrikaners – op die graf van die kultuur- en taalgemeenskappe, soos die Afrikaners, wat die werklike nasies is – tot stand te bring.

Met die voltooiing van hierdie projek moet slegs ʼn nasie van ʼn massa homogene – eenderse – Suid-Afrikaners oorbly.

Tog praat baie mense wat ver van die ANC verwyder is en die ANC se ideologie verfoei, dikwels heel gemaklik van ʼn Suid-Afrikaanse nasie en van Suid-Afrikaners. Natuurlik dui dit nie op enige vereenselwiging met die ANC nie. Waarop dit wel dui, is op politieke onnadenkendheid. Suid-Afrikaners – die lede van die Suid-Afrikaanse nasie – is per slot van rekening allermins ʼn blote neutrale beskrywing. Die gebruik van die soort terminologie kom neer op die onnadenkende en onbedoelde ondersteuning van ʼn vyandige ideologie.

Teenoor nasiebou, die Suid-Afrikaanse nasie en Suid-Afrikaners staan ʼn ander stel terme, wat ʼn teenoorgestelde stel politieke waardes versinnebeeld. Sentraal hierin is die begrippe soos gemeenskap van gemeenskappe en gemeenskapsfederalisme. Prof. Danie Goosen het bykans twee dekades gelede reeds die frase gemeenskap van gemeenskappe begin gebruik. Onlangs het Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut op YouTube die idee van gemeenskapsfederalisme verduidelik.

Hiervolgens behoort ons ons nie as blote individuele lede van ʼn algemene Suid-Afrikaanse nasie te beskou nie. Inteendeel, ons beskouing van onsself is in die eerste plek as mense wat tot bepaalde gemeenskappe behoort. Die gemeenskappe is die eiesoortige en outonome groeperings, wat op hulle beurt deel kan vorm van meer omvattende, dog minder hegte gemeenskappe, dit wil sê van ʼn gemeenskap van gemeenskappe. Volgens hierdie denkwyse is daar geen sprake van ʼn algemene homogene nasie, soos ʼn algemene Suid-Afrikaanse nasie van [individuele] Suid-Afrikaners nie. Die teenoorgestelde geld. Mense is primêr lede van – behoort aan – hul eie kultuurgemeenskappe. Hierdie gemeenskappe (nie die individue regstreeks nie) maak deel uit van ʼn bedeling van gemeenskapsfederalisme, waarin die staat ʼn rol kan speel. Van nasiebou is daar volgens hierdie denkwyse geen sprake nie. Netso is die begrip Suid-Afrikaners, wat ʼn afleiding van die sogenaamde Suid-Afrikaanse nasie is, op sy sterkste ʼn drasties afgeskaalde sekondêre aangeleentheid.

Ofskoon die staat, Suid-Afrika (soos baie ander state, veral in Afrika ʼn kunsmatige koloniale voortbrengsel is), vereis die ideologie van nasiebou dat ewe kunsmatige Suid-Afrikaners en ʼn Suid-Afrikaanse nasie geskep moet word. “Geskep moet word,” want tot dusver het dit nog nie gebeur nie en die vooruitsigte dat dit ooit gaan gebeur, verswak algaande meer. Daar bestaan per slot van rekening eintlik geen beduidende gemeenskaplikhede tussen mense wat Suid-Afrikaners genoem word nie. Kultuurgemeenskappe – die daadwerklike nasies – het verskillende kulture, uiteenlopende geskiedenisse, belewenisse, helde, vyande, ideale en toekomsverwagtings.

Daar is eintlik net een gemeenskaplikheid. Dit is dat sogenaamde Suid-Afrikaners binne die kunsmatige grense van ʼn koloniaal geskepte land woon. Dog, selfs dit is al hoe minder waar, want die stelling hou nie tred met die massiewe demografiese verskuiwings wat aan die gang is nie. Talle eertyds wit buurte het byvoorbeeld oor die afgelope dekades eers ras-geïntegreerd geraak waarna die blankes op groot skaal padgegee en hulle elders gevestig het. Eertydse wit skole, wat ook eers ʼn rasse-integrasieproses ondergaan het, het daarna ʼn grootskaalse wit vlug beleef en is nou basies eksklusief swart skole.

tafelberg-kaapstad-liggies

Tafelberg in Kaapstad. Foto: Counselling/Pixabay.com

Betekenisvol is dat dit ook gebeur in skole in dele van Johannesburg, wie se grootliks wit Engelstalige inwoners eens vir hulle onberispelik liberale en nie-rassige beskouings bekend was. Afrikaners op hulle beurt, toon navorsing van Solidariteit, is besig om hulle op nagenoeg dertig plekke te sentreer. Gevolglik is Afrikaners geografies beskou, nie meer Suid-Afrikaans nie, maar ʼn volk van ʼn beperkte aantal sentra waar beduidende getalle Afrikaners toenemend saamtrek.

In die lig hiervan, is die begrip Suid-Afrikaners nie net ideologies onvanpas nie. Dit is bowendien ʼn onakkurate beskrywing van die politieke, kulturele en demografiese realiteite.

Wanneer in politieke kommentaar, nuusberigte en ander kontekste na Suid-Afrikaners en die Suid-Afrikaanse nasie verwys word, is dit dus eenvoudig, ideologies geïnspireerde woordgebruik of bloot onakkurate beskrywings van feitelike situasies. Afhangende van die situasies waarna verwys word, is meer akkurate woordgebruik noodsaaklik.

Woorde en frases soos die publiek, of groot dele van die publiek, gemeenskappe of etlike of verskeie gemeenskappe, of baie/talle mense of bloot almal of dergelike ander opsies is afhangende van die situasies en gebeure wat ter sprake is, meer akkuraat en gepas. Hierdie en dergelike terme staan telkens vry van die ideologiese besoedeling van nasiebou en die verkeerde voorstelling van ʼn sogenaamde Suid-Afrikaanse nasie.

Laat ons eerder ʼn gemeenskap van wedersyds respekterende gemeenskappe wees, as individuele lede van ʼn nasie van Suid-Afrikaners wat nie werklik bestaan nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

John ·

… en Machel se weduwee word toe Mandela se weduwee en binnkort is sy SA se weduwee. Geen woord word gerep oor die wereldwye nuwe orde om alle mense tot een niksseggende raslose, kultuurlose, ongelowige, enkeltalige ‘bloep’ te verander nie. Een Mamoniaanse draak sal dan die verwyingsraamwerk word wat elke brein wil deurvrot tot slawerny aan die gruwelike. Ons moet bewus word van dit waarmee ons te doen het.

Gert ·

Fantastiese artikel! Ek dink hierdie kan ook in verband gebring word met “alles vir almal” politieke partye soos die DA se dilemma van hoe om te besluit watter kant om te kies in elke konfliksituasie wat opduik in so ‘n land.
Eintlik was die konsep van apartheid dus nie heeltemal ‘n misdaad teen die mensdom nie.

Jerry ·

Indien enige Afrikaner dink dat om te sentreer in Suid Afrika is die oplossing, dan moet hy maar eerder weer n bietjie dink! Daar waar jy sentreer, daar gaan die aanslag teen jou versterk. Dit sal net een telefoonoproep en een boodskap op sosiale media vat om in groot getalle uit Afrika in te stroom na daardie areas en townships reg rondom op te slaan. Daar is twee eenvoudige voor die hand liggende oplossings, maar wat ongelukkig buite die denkraamwerk van die huidige Afrikaner touleiers val. Selfverryking, deur n Afrikaner sakeryk te sentreer, het sonder slag of stoot die oorheersende denkrigting van die Afrikaner geword, wat gegewe die benarde situasie, na enige grashalmpie wat uitgehou word, sal gryp! Dit is n goeie sakeplan, maar nie n goeie teenstrategie vir die Afrika ideologie se aanslae wat sal volg nie! Al wat die Afrikaner besigheidslui met hierdie denkrigting gaan bereik is groter blootstelling van die Afrikaner en sy belange. Om te sentreer is n swak strategie en alles behalwe in Volksbelang, maar doen maar so voort, want in julle geval sal net die tyd julle dit leer!

Pieter ·

…behalwe natuurlik as die hele gemeenskap breek met die vorige bedeling se arbeidspraktyke, en daar waar hulle konsentreer hulle ook hul eie arbeid verrig. Demografie is inderdaad ‘n onstuitbare werklikheid, maar eie arbeid en selfwerksaamheid maak vry. Ek gaan dit verder waag, dat indien die Afrikaner dit nie kies nie, nie konsentreer in ‘n bepaalde gebied nie, nie eie arbeidspraktyke vestig nie en nie eie instellings op die been bring en uitbou nie, die kans op oorlewing bitter klein is. Dink jy werklikwaar dat mens minder van ‘n teiken, eenkant en afgesonder is? Nee, ek glo dat ons juis moet konsentreer, want ‘n gemeenskap het krag. Ons kan so ook met die selfvertroue en behoud van die eie, in verhouding tot ander gemeenskappe treë. By grense ontmoet mense mekaar, ontdek mense die self en die ander. ‘n Gemeenskap van gemeenskappe, gaan sin teen die huidige liberale waansin bied, want identiteit, erfenis, kultuur is ‘n werklikheid wat mens, ongeag jou politieke oortuiginge of voorkeure, sal moet verreken. Maar soos jy sê, tyd sal leer. Ek sal maar, in plaas van om op die uitslag te sit en wag, tussen en saam met my eie mense in Orania aan ‘n toekoms bou.

Philip ·

Ek stem natuurlik saam met Pieter
Die tyd het klaar geleer. Na 27 jaar was daar nog geen moord of ernstige misdaad op Orania nie. Die koue, stadige oorlog wat teen blootgestelde Afrikaners, verspreid oor die land, gevoer word sou in ‘n korter tydperk meer opvallend gewees het vir diegene wat steeds die ou afgod: Suid Afrika, aanbid. Dit het my lank geneem om die kopskuif te maak dat “Suid Afrika” van die staanspoor af die probleem was en nooit die oplossing nie. Ek wens ek het Prof Malan se artikel 30 jaar gelede al gelees. Ek sou woedend gewees het vir hom maar dit kon my gedagtes beinvloed het dat ek my lankal van die afgodediens van “ons vir jou Suid Afrika ” bekeer het. Voor ons gesin uiteindelik na Orania verhuis het was ons gewaarsku dat Orania ‘n teiken sal wees. Wat was ek dan vantevore? ‘n Slagoffer. Dis wat. Wanneer die magte van duisternis klaar is met hul ‘slow war’ en oorgaan tot volskaalse oorlog en hulle visier op Orania vestig sal Johannesburg en Pretoria reeds tot as verbrand wees. Die krag gaan afgaan, broer Jerry, en dit gaan nie weer aankom nie. Na drie dae gaan al die winkels leeg gestroop wees. Jou selfoon gaan nie werk nie. Na een week gaan almal se kos op wees. Kragopwekkers raak stil, nêrens is brandstof nie. Dit raak skemer, dan kom die massas. Jy hoor geweerskote, jy raak vreesbevange en wens jy was in Orania.

Frik Lotz ·

Baie goeie en interessante artikel. Ja, daar bestaan nie eintlik iets soos n Suid Afrikaanse nasie met n unieke taal en kultuur nie. Ons bly almal in Suid Afrika en het Suid Afrikaanse burgerskap, maar dis ook eintlik al. Suid Afrika bestaan uit n hoeveelheid van volke, tale en kulture en dis iets waarna gekyk moet word, want almal het die reg op selfbeskikking en dit moet toegepas word. Selfbeskikking is die enigste uitweg en oplossing vir Suid Afrika se probleme.

Werner ·

Wat ‘n goeie artikel! Baie akkuraat. Destyds vertel iemand my dat hulle iemand ontmoet het by ‘n eetplek in Londen. “Jy sal nie glo nie, dis toe ‘n Suid-Afrikaner!” En net daar besef ek: Dit beteken absoluut niks. Dit vertel my niks van die persoon se taal, kleur, etnisiteit, kultuur of maniere nie. Niks. Behalwe dat ek nou weet daardie persoon woon geografies in die suide van Afrika. Wat ‘n niksseggende konsep, die “Suid-Afrikaner.” Nee wat, ek is ‘n Afrikaner. Nou weet jy sommer baie meer van my.

Henry ·

In die kol Werner.
My familie en ek het kort na oorle’ Mandela se vrylating ons bedanking as Suid Afrikaners ingedien, maar het ons Afrikanerwees behou. Lg word by die dag meer gekoester, kosbaar…
Moet ongelukkig nog van hierdie droewe land se paspoort gebruik maak wanneer ons na ons stamland(e) reis. Ironies dat ons nou ten duurste betaal vir visums wat voorheen nie vereis was nie en wat vir seker nooit so duur was nie.
Wonder hoekom???
Toemaar ek weet.
:-)

rassie ·

In multi-kulturele lande soos Kanada en Switzerland praat geen Kanadees Kanadees nie en geen Switzer praat Swits nie. Daar is nie sulke tale nie. Net Switzerse-Duits, Frans, Italiaans is die amptelike tale in Switzerland.

Of mens nou daarvan hou of nie hou nie, of ideologies daarmee saamstem of nie, is die feitlike situasie dat ‘n burger van die geo-politieke eenheid genaamd Suid-Afrika ‘n onderdaan van die Suid-Afrikaanse staat is en by definisie dus ‘n Suid-Afrikaner is. Indien nie, is die betrokke persoon staatloos, wat in die praktyk nie moontlik is nie.

Die enigste wyse waarop mens nie meer ‘n Suid-Afrikaner kan wees nie is om ander land se burgerskap te verkry of om binne die bestaande grense politieke soewereiniteit te verkry.

Klaarblyklik is die eerste uitweg vir derduisende Afrikaanssprekendes die makliker opsie en is hulle dan nie meer Suid-Afrikaners nie.

Die opsie van algehele politieke etno-kulturele onafhanklikheid met ‘n eiesoortige staatsbenaming binne Suid-Afrika is duidelik nie moontlik of werkbaar nie.

Die Switzerse model met maksimum kulturele beskerming binne grootliks etno-kulturele geografiese gebiede onder Federale regering , verander ook nie die nasionaliteit van die vier etno-kulturele groeperinge daarbinne nie. Almal is steeds Switzerse burgers.

Dus is die enigste wyse om nie ‘n Suid-Afrikaner te wees nie om ander land se burgerskap te verkry. Tot dan bly ‘n Suid-Afrikaner staatkundig ‘n Suid-Afrikaner, wil of nie.

Henry ·

Ag rassie
Alles wat jy te sê het oor die wetlike aspekte van burgerskap, is oorbekend en stokou nuus. Dit is ongelukkig nie waaroor Prof Koos se skryfsel handel nie.

My weiering as sg Suid Afrikaner, het te make met die de facto werklikhede/vryhede van hierdie droewe land se burgerskap. Ons individuele vryheid van keuse om nie as Suid Afrikaners, maar as Afrikaners geïdentifiseer te word, is ons keuse. Of dit deur jouself of wie ookal erken word, aldan nie, is van geen belang nie.

Terloops. Ons en talle pelle het donkiejare se verblyfservaring buite die RSA se grense. Genoeg om te weet dat ons nie langer die wetteloosheid en onvermoëns van ‘n korrupte regime kan verduur, of vergoeilik nie. Nog minder om ons stilswyende goedkeuring te verleen deur onsself as Suid Afrikaners te identifiseer.

De jure is ons SA burgers, paspoort gewys, in naam – die hele kaboedel.
Maar ek en sovele van ons het steeds die vryheid van keuse om ons nie as Suid Afrikaners, maar as Afrikaners, te identifiseer.
Is maar hoe dit is.
:-)))

Hercules ·

‘n Kultuur is nie minder simbolies of fiktief as ‘n nasie nie. ‘n Mens assossieer jouself binne verskeie sfere, soos familie, vriende, kultuur, staat, godsdiens (waaronder daar verder onderskeide tussen denominasies voorkom) ens. Ek is van mening dat die skrywer die wig te diep indryf tussen die sfere, en dat die eensydige kritiek teen individualisme (sonder om ook op die winspunte te wys van beskerming van individuele regte wat deur die moderne staat totstand gekom het) die gevaar loop om op die soort kollektiwisme uit te loop wat ons land in die verlede en in die toekoms duur te staan gaan kom.

Chris du plessis ·

Mooi! Behalwe dat Afrikaners nie as “gemeenskappe” verspreid oor SA sal oorleef nie – hiervoor is die meerderheid té groot.
Territoriale selfbeskikking enigste waarborg vir ons voortbestaan as volk.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Chris,
Dit is die antwoord. Ongelukkig wil die magte agter die skerms dit nie he nie. Kulturele oorlewing kan slegs “apart” geskied anders word ons ‘n Smartie nasie. Ons probleem is dat ons “volk” nie bereid is om op te staan en te werk na selfbeskikking nie. Ons baklei op sosiale media ons gevegte en dan voel ons tevrede. Ons tyd loop uit -1838 le voor die deur.

r ·

Ag Henry,

Het self 20 jaar in die buiteland gebly en weet al daai dinge.

Weet ook wat die Prof bedoel. Beteken nie ek moet met hom saamstem nie.

As jy weier om ‘n Suid-Afrikaner te wees en daarop aandring om as Afrikaner erken te word en niemand erken jou eintlik as Afrikaner nie, wat doen jy persoonlik op die oomblik daaraan om erkening te kry?

Hoe ookal jy jouself identifiseer of nie identifiseer nie gaan jou en jou pelle wat oorsee gebly het niks help as julle nou hier bly nie. Jy en al jou pelle wat oorsee gebly het en nou hier bly is, indien julle nie intussen anderland burgerskap gekry het nie, is steeds Suid-Afrikaners.

Die droom en die werklikheid is nie dieselfde nie. En ek hoop jou vryheid van keuse rondom jou identiteit help jou ook vorentoe met die praktiese uitlewing van jou identiteit. Ek neem aan jy doen iets praties daaromtrent. Indien nie, gaan jy ‘n Suid-Afrikaner bly. Wil of nie.

Henry ·

ag r

Ek het geen las met ‘n ego wat my dwing om as ‘n Afrikaner erken te word nie. Sal altyd ene wees. Met of sonder jou goedkeuring. Enige siel mag ‘n eie standpunt oor enige onderwerp huldig. Mos.

My pelle en ek wat oorsee gebly het en wat nou in hierdie droewe Afrikastaat met ‘n korrupte regime woon, sal nie nou, of vorentoe, Suid Afrikaners wees nie. Ek wil nie myself herhaal nie, maar lees gerus weer die Prof se artikel. Jy hoeffie saam met hom te stem nie, maar dit mag vir jou help om my en my pelle wat oorsee gewoon het, se reg op standpunte oor hierdie ou sakie onder die knie te kry. Meeste van my pelle en ek wat oorsee gebly het, se kinders en ander familie het sonder veel aanmoediging laaaankal reeds na beter oorde buite hierdie land se grense verhuis.

My pelle en ek wat oorsee gewoon het, is te armlastig en te oud om in state aanvaar te word, waar ons sou wou woon. Nou loop lê ons maar so dikwels as moontlik op die nekke van die kjeenirs en familie wat so lekker bly in die oorsee waar my pelle en ek so lank gewoon het.

:-)

André Badenhorst ·

Uitstekende en breedvoerige artikel in ‘n tyd wat ryp word vir so ‘n debat.

Rupert Ashford ·

Kan mens erens die navorsing van Solidariteit onder oe kry en die dertig sentra se name sien?

Jerry ·

Pieter, sentreer druis loodreg in teen die Afrika ideologie van nasie bou en sal noodwendig tot konflik lei. Dit stel die Afrikaner bloot teen n groter aanslag wat geloods sal word. Deur nie te sentreer nie verskans die Afrikaner homself binne die breer SA samelewing en is hy nie n bedreiging vir enige iemand nie. Dan kan daar ook nie n swart teen wit konflik ontstaan nie, want witmense kan nie dan uitgesonder word en geblameer word nie! AfriForum en Solidariteit het egter met hulle politieke agenda reeds n wig so diep ingedryf tussen die Afrikaner en Afrikaner en swartmense dat die ANC openlik verklaar dat hulle die Afrikaner sal isoleer en maniere gaan leer van nasie bou. Dit beteken dat die ellende vir die Afrikaner gaan vererger deur wetgewing en vervolging en baie meer of jy nou sentreer of nie. Danksy Solidariteit en AfriForum se skoorsoekende en ondermynende agenda is spontane versoening nie meer n moontlikheid nie, slegs gedwonge versoening. Dit plaas die Afrikaner by twee opsies, om te emigreer of “to face the music”! Solidariteit/AfriForum het misluk vir n volkstaat, die behoud van Afrikaans by universiteite, straatname/plekname/standbeelde, om plaasmoorde te verhoed. Mislukking met grondhervorming het reeds begin. Wat is dus die kanse dat sentreer gaan misluk, uiters hoog! Solidariteit/AfriForum bou n sakeryk met ledegetalle wat groei uit die ellende van Afrikaners! In die land van die blindes is Solidariteit/AfriForum die eenoog koning!

Philip ·

Jerry, ek het tien jaar gelede al die storie gehoor dat dit ons skuld is dat Suid Afrika nie werk nie, omdat ons moeilik is. Tipiese linkse standpunt om die slagoffers te blameer vir hul lyding:
“Sy moes nie so laat alleen geloop het nie, haar rokkie was te kort.”
“Dis omdat die Jode al die geld vir hulself gehou het en die Duitsers swaargekry het.”
“Plaasmoorde gebeur omdat boere so rasisties is.”
Die realiteit is dit: Daar is mense wat jou haat. Nie oor apartheid of armoede of Afriforum nie, net omdat jy JY is. Dis nie redelik nie, dis nie debateerbaar nie en dis nie geneesbaar nie. Jy kan daaraan niks doen nie. Jy kan jou nie daaruit praat of koop nie. Hulle wil jou en al jou geliefdes dood he. Jy is hul gunsteling tipe slagoffer, een wat skuldig voel en blaam aanvaar daarvoor. Soos ‘n bang brakkie dink jy hulle sal jou miskyk as jy net lank genoeg jou kop kan wegsteek maar jammer, jy is die sagte teiken. Om ‘n wegkruiper te wees gaan nie werk nie. Om ‘n joiner te wees nog minder. Jou argument was in die laat tagtigs dalk nog verdedigbaar maar tyd het anders geleer. Suid Afrika gaan vou en anders as Zimbabwe is daar geen aangrensende land wat kan help nie. Oorlog is nie ‘n uitweg nie maar oorlewing is moontlik. Ek wens Mnr Lekota was staatshoof maar die massas verkies CR, JM. Sterkte daar buite, vriend.

Wessel ·

Philip, jy kan in al elf landstale met hom praat, maar jy kan nie sy ingesteldheid verander nie.

Paul ·

Jerry, en wat van bv die Sjangaans, Tsongas, Vendas, Ndebeles, Zulu’s, Xhosas en andere etniese groepe wat van nature in die land in hul eie gebiede saamgetrek het, tot vandag toe is daar gebiede waar hulle “tuisland” is, kyk maar bv daar uit die noorde langs Die Wildtuin af, Natal, die Oos-Kaap, baie egter het al verstedelik, miljoene. Dan sê jy daar is nie konflik tussen swart etniese groepe nie? Jou storie hou nie water nie. Kyk hoe sukkel die ANC om hulle bymekaar te hou.

Frans C ·

Die beginsels vervat in die artikel mag korrek wees,maar die werklikheid is dat toe die Blankes in Suid Afrika vir die keuse gestel is en die NP die volgende propagandawortel
vir hul neuse rondgeswaai het op referendum-plakkate:
‘n Veilige toekoms vir ons en ons kinders.
Vreedsame naasbestaan en gelykwaardige geleenthede.
Ordentlike hervorming en redelikheid.
Die beskerming van groepsbelang deur eie besluitneming.
Die bevordering van gemeenskaplike belange deur samewerking.
Sterk en doelgerigte leierskap.
‘n Eendragtige en weerbare Suid-Afrika.
Ekonomiese, politieke en maatskaplike stabiliteit.
Die handhawing van ordelike regering en standaarde.
Veiligheid, vryheid en voorspoed deur geregtigheid.
En op grond daarvan die volgende vraag moes beantwoord:
“Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”
was die uitslag:1 924 186 ‘JA” (68.73%) en 875 619 ‘NEE’ 32.17%.

85% van die stemgeregtigde kiesers ( 3296 800) het deelgeneem,met Durban en Kaapstad die voorbokke in die ‘JA” stem met 85%.Pretoria 57% en slegs Pietersburg
‘NEE” 57%.

Die realiteit is dus,dat die meerderheid Blankes ingekoop het in De Klerk se Utopia
en tans daar bedroë van afkom en dus Suid Afrikaanse onderdane is,of jy nou daarvan
hou of nie.

aj ·

As jy Afrikaans gebore is (soos ek) dan kan jy nie anders wees … selfs al probeer jy.

En dit is goed so!

Selle storie met Zoeloes, Xhosas, Sothos of Shangaans.

Prof Koos is reg … en my ervaring is dat die ander groepe (nasies) Afrikaners AANVAAR soos hulle is (ha …. ha..) … reeds vir 100 jaar!

Kom ons wees maar trots onsself … ons kan tog nie anders nie!

As ander nie daarvan hou nie … is dit hulle probleem.

Frans C ·

Die NP was na die oorweldigende steun,dws steun van die wat wel besluit het om te stem,’n 2de referendum onnodig was en dus met onderhandelinge voort grgaan.
‘n Grondwet is net so goed as diegene wat dit moet toepas en vrywaar ‘n mens nie van die toestand waarin die land tans verkeer nie.

Die NP het onderhandel met ‘n party wat oorweldigende steun van die meerderheid
van die mense van Suid Afrika geniet het.Sonder om my eie beuel te blaas het ek die uitslag van die verkiesing korrek voorspel tot ergenis van my NP -vriende waarvan sommige ,so waar geglo het,dat die NP die verkiesing sou wen!!

Die NP se strategie was verkeerd en het ‘n stryd aangeknoop waarin daar net een winnaar was.Die regte strategie sou ‘n beraad tussen die verskillende bevolkingsgroepe en nie politieke partye wees.In so’n onderhandel ooreenkoms kon ‘n vetoreg oor belangrike sake van spesifieke belang vir elke volk ingebou word,soos bv moedertaal
onderwys ens.

Wessel ·

Vir die regdenkendes hier bo in die kommentare wil ek graag die volgende vraag vra: En veronderstel Julius of daardie man van die BLF dop hier onder in die kommentare uit met hul wilde stellings, hoe redineer jy rondom die realiteite met hulle?

aj ·

“Ag ou Julius ‘die verskriklike’ gaan speel ‘boetie maak vir baba bang’ met jou maatjies!” “Voert!”

“Andile ou seun … waarmee het jy jou pyp laas Saterdag ? gestop?” “Verander jou twak, want daai goed waarmee jy laas Saterdag gestop het laat jou hallusineer!” ‘Probeer liewer gewone Cannabis soos al die ander politici dan kry jy ook die ‘Koembaija’ gevoel!

ha… ha…

Stripes ·

Ek het Koos Malan se stuk gelees en toe die kommentaar en daarna weer Koos se stuk gelees. Hy is duidelik in die politiek want hy praat baie maar sê wat my aanbetref niks defnitief nie. Die kommentaar neem aan dat hy bedoel soos wat hulle elk dink maar dit is nie wat hy gesê het nie. Dit is so goed ek wil toilet toe gaan en vertel dan eers ‘n 10 minute lank storie oor hoekom ek nou eintlik moet opstaan. Twak man, ek gaan toilet toe en klaar. Ek is gebore in Suid Afrika, is ‘n burger van die Republiek van Suid Afrika en enigeen wat nie daarmee saamstem nie, kry jou ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.