Die ACDP se probleem as een kwessie-party

Die ACDP-leier, Kenneth Meshoe. Argieffoto: ANA

Deur Monica Mynhardt

Die ACDP staan bekend as die Christelike party. Die een ding wat almal van dié party weet, is dat hulle op Christelike waardes geskoei is en ’n teokrasie as ideaal vir Suid-Afrika najaag. Hierdie is egter byna die enigste ding wat Suid-Afrikaners van dié party weet. Die ACDP het weens hul oormatige klem op een saak die beeld van ’n een kwessie-party begin ontwikkel, hoewel hulle nie in wese ’n ware een kwessie-party is nie. Daar is talle gevare wat hierdie beeld vir die party inhou. Gevare wat moontlik hul sukses in die komende verkiesing en potensiële vooruitgang kan kniehalter.

’n Een kwessie-party is ’n party wat sy totale bestaan en mandaat op die aanspreek van een spesifieke kwessie skoei. Daar is slegs een saak of probleem wat só ’n party poog om aandag aan te gee of te verander – alles anders is onbelangrik.

’n Goeie voorbeeld van so ’n party is die Brexit Party wat vanjaar in die Verenigde Koningryk (VK) gestig is. Die party het ontstaan te midde van sloerende onderhandelinge rakende Brexit en het uitsluitlik ten doel om te verseker dat Brexit deurgevoer word en Brittanje die Europese Unie sonder ooreenkoms verlaat. Siende dat Brexit die enigste saak is waarop die party hulself fundeer, is dit ook die enigste boodskap wat die party verkondig – alle ander beleidskwessies is bysake en word gevolglik nie daadwerklik deur die party hanteer nie.

’n Een kwessie-party het een boodskap en alle burgers weet wat daardie boodskap is. Daar bestaan geen verwarring of selfs vrae rondom ander uitgangspunte van die party nie, aangesien die één kwessie wat die party op die hart dra, noemenswaardig genoeg is om alleen te staan.

Die ACDP is in wese nie werklik ’n een kwessie-party nie. Ten spyte van die beeld wat hulle uitstraal, is die ACDP se beleid op aansienlik meer gefokus as slegs Christenskap. Die fout wat die party egter maak, is om nie hierdie genuanseerde beeld uit te straal nie. Die party het so sinoniem geword met sy een kwessie, dat alle ander beleidskwessies byna irrelevant geword het. Die ACDP is dus op ’n beleidsvlak in der waarheid nie uitsluitlik daarop uit om die Christelike geloof in Suid-Afrika te beskerm of te bevorder nie.

In die party se 2019-manifes word, onder meer, werkloosheid, maatskaplike welsyn, veiligheid, gesondheidsorg, behuising en grondbesit bespreek. Die ACDP is as party eintlik taamlik sosialisties van aard. Luidens die manifes sal dié party verseker dat die regering ’n gunstige ekonomiese omgewing vestig ten einde ekonomiese groei en werkskepping te bevorder. In teenstelling met hierdie vryemarksienings, meen die ACDP dat daar verhoogde belegging in die openbare sektor moet wees om infrastruktuur te verbeter, die jeugloonsubsidie verhoog moet word en dat verhoogde maatskaplike toelae verseker moet word. Hoewel die party noem dat hulle daarop uit is om burgers oor die medium en lang termyn onafhanklik van staatstoelae te maak, is daar steeds klem op die belangrikheid van dié vangnet van die staat. Die ACDP staan ook die stelselmatige implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voor met die doel om toegang tot gesondheidsorg in die openbare sektor te verbreed.

Terug na meer vryemarkbeginsels, staan die ACDP onteiening sonder vergoeding teen. Op die keper beskou, is die ACDP oorwegend linksgesind. Meer belangrik as die plek op die ideologiese spektrum waar die ACDP hulself bevind, is eerder dat die party soveel meer as ’n blote een kwessie- (Christelike) party is.

Daar is wel twee groot probleme wat uit die ACDP se beeld as een kwessie-party spruit. Die eerste is die spesifieke kwessie. Die probleem lê nie daarin dat daar iets fout met Christenskap of selfs enige ander geloof is nie. Die probleem is eerder dat die ACDP die beeld as een-kwessie party begin kry in ’n land waar dié een kwessie nie eintlik ’n probleem is nie. Suid-Afrika is ’n land waarin nóg Christenskap nóg enige ander geloof onderdruk of bedreig word. Byna elke groot party wat aan vanjaar se verkiesing deelneem, ondersteun geloofsvryheid – daar bestaan geen daadwerklike bedreiging vir die ACDP se een kwessie nie.

Die probleem is dan dat die ACDP hulself beywer om ’n saak te bevorder wat nooit ’n probleem was om mee te begin nie. Ernstige vrae word dus aan die kiesers rakende die party se boodskap geopper. Die ACDP word dan ’n party wat Christenskap wil beskerm en bevorder in ’n land waar dit reeds vrylik floreer.

’n Verdere probleem is dat daar ander partye aan die verkiesing deelneem wat dieselfde kwessie as die ACDP onder die loep neem, sommiges tesame met ’n verskeidenheid ander kwessies. Die ding wat veronderstel is om die ACDP te definieer en onderskei van ander partye, is nie eintlik so ’n skaarste nie. Die Christian Political Movement en die Vryheidsfront Plus (VF+) is maar twee partye wat eintlik presies dieselfde bied as die ACDP.

Die gevaar vir die ACDP, en enige een kwessie-party, is wanneer daar ’n ander party is wat dieselfde bied of doen, maar net beter. Die VF+ is waarskynlik die ACDP se grootste opponent in hierdie opsig, siende dat die VF+, ’n goed gevestigde party, tans dieselfde grootte as die ACDP in die parlement is. Die VF+ is ook op Christelike waardes geskoei, maar het nie die beeld van ’n een kwessie-party nie. Dié party het eerder daarin geslaag om, sonder om hul Christelike waardes af te skeep, hulself te vestig as party wat aandag aan ’n wye verskeidenheid kwessies gee.

Te midde van die bedreiging van ander partye, blyk die ACDP ook ’n tekort aan innovasie te hê. Die party het sedert sy bestaan dieselfde partyleier. Dr. Kenneth Meshoe het in 1993 die ACDP gestig en was sedertdien die party se leier. Met 26 jaar van dieselfde leierskorps het die aard en funksionering van die party ook maar dieselfde gebly. Eerder as om met die verandering van die politieke speelveld aan te pas en daarvandaan te verbeter, het die ACDP begin om te stagneer. ’n Tekort aan pioniersgees het die party ook tot ’n groot mate die eienskap as daadwerklike politieke mag gekos. Indien daar dus ’n ander party bestaan wat beter presteer wat die ACDP se een kwessie betref, sal dit heel redelik van kiesers wees om eerder ’n party te ondersteun wat dieselfde en soveel meer bied.

In ’n verkiesing waaraan ’n rekordgetal van 48 partye deelneem, is dit baie belangrik vir politieke partye om hulself te onderskei van die res. Politieke partye moet wat beleid, bestuurstyl en boodskappe betref, foutloos wees. Geen party kan dit bekostig om weens enigeen van hierdie gebiede voornemende kiesers te verloor nie.

Indien die ACDP noemenswaardige politieke bedingingsmag wil behou, sal hulle introspeksie moet doen op elk van hierdie drie gebiede. Die opsies is immers baie en die setels min in die verkiesing vanjaar.

  • Monica Mynhardt doen tans ’n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Spook op thaba ·

Wel hulle kan seker weds van my x die jaar. Sal nooit weer x trek vir.DA

kolla ·

Ek sal ACDP stem bo VF+. VF+ sal ek nooit stem nie weens die baie groot persentasie wit rassiste in daai party. Hulle ontkenning van Apartheid walglikhede is ook rede om te vermy.

dolf ·

Rassiste skreeu altyd die hardste ne kolla?

Maklik om in die openbaar sulke strooi te praat want jy is mos faceless en untraceable en jy kruip daaragter weg!

kom ons kyk of jy dapper genoeg is om boerboel se uitdaging te aanvaar? Ek glo nie!

Zenithia ·

Jy is bàie baie wreed. Hoe durf jy sulke belaglike uitlatings maak. Jy moes eerder eff of BLF gestem het???

Boerboel ·

Kolla ek stem nie saam met jou nie. Jy wys nou skerp naels na die VF+. Kan jy jou Bewerings staaf?

Jerry ·

Monica, dit wil voorkom of jy nou die tannie van Amerika se skryfstyl begin volg. Ooglopend word die een (gunsteling) teen die ander afgespeel. Ek sou nooit reken dat die ACDP se bestaansreg bedreig word deur ander partye nie, nog minder dat die ACDP enigsins n bedreiging inhou vir die bestaansreg van die VF. Dit blyk egter uit jou skrywe dat laasgenoemde dalk moontlik die geval kan wees en ek moet se, ek vind dit nogal interresant.

kolla ·

Monica se VF+ onderrok hang baie duidelik uit. Sy’t voorheen ook die DA so teen die VF+ afgespeel.

Lia ·

Ek stem nie saam met hierdie nie. ACDP het glad nie stagneer met ‘n een kwessie nie…..en ek glo nie daar is ‘n ander party met presies dieselfde beleid nie. Ander partye soos die VF+, praat wel van Christelike, morele waardes……….maar die ACDP praat van ‘n regering wat op die Bybel gebaseer is. Vir my is dit nogal ‘n verskil. Die boodskap wat vir my deurkom in hul manifes, is dat hul dinge sal doen soos God dit bepaal het en nie “aangepas” sal word nie.
En die feit dat hul nog die hele tyd dieselfde leier het, is ook vir my geen probleem nie. Asjy na hul leier se doen en late kyk, sy kwalifikasies ensv., is hy absoluut die regte een om hul waardes te implementeer….en ja, ek het gelees wat hul ander doelwitte ook is. Hul het beslis my stem hierdie verkiesing! Daar is paar dingetjies wat krap by die VF+, waar die ACDP volgens my aan voldoen.

Maria ·

Ek stem 100% saam Lia. Die ACDP se Ja vir God. Hulle proclaim hul geloof in God. Die Here is die antwoord. Hy se in Sy Woord dat Hy geloof in Hom sal eer. hy en slegs Hy is die redding en antwoord

Eunice ·

Ekt nog altyd vir die ACDP gestem! Ek is bitter jammer,hulle was nie sterker met ñ groter ondersteuningbasis nie

Dawid ·

Aaag,aarde tog ou boerboel en dolf word groot toe?
Kolla mag mos sy gevoel deel,waarom wil julle bek gevegte en uitdagings doen, julle is volwassenes asb?
Probeer eerder oor iets SAAMstem minderheid afrikaner en probeer brûe bou voor argumente!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.