Die ANC se nuwe tuislande

Prof. Hans du Plessis. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Dankie, meneer Lesufi, u uitsprake oor Afrikaans, Afrikaanse universiteite en skole bevestig maar net wat ons lankal weet: die ANC vernietig inheemse tale ter wille van ʼn eentalige Suid-Afrika, en die hegemonie van Engels, soos in Namibië. En die maklikste taalgeweer om mee te skiet, is Afrikaans –die oorbeklemtoning van sy politieke verlede en die miskenning van sy nierassige Afrikaherkoms en wese.

Die gevolg is dat daar oraloor nuwe linguistiese tuislande soos paddastoele opskiet, en dit net omdat Afrikaans opsigtelik vir die owerhede ʼn bedreiging is. ʼn Mens val immers net iets of iemand aan wat jou bedreig, jy vernietig net ʼn skool of ʼn universiteit as dit vir jou na gevaar begin lyk.

Miskien het te veel van ons politici oor die Asteke nagelees. Dit is moontlik dat ʼn kultuurgemeenskap van sy identiteit beroof kan word. Die Asteekse keiser Itzcoatl het in die middel van die vyftiende eeu, nadat hy die oorwinning oor sy vyand behaal het, opdrag gegee dat alle monumente, boeke of kunswerke van die verowerde gemeenskap vernietig moes word, want hy wil die bestaande tradisie met ʼn nuwe vervang. Vernietig die taal van ʼn groep sodat jy dit met ʼn nuwe kan vervang. Al beteken dit dat jy al die ander inheemse tale vernietig sodat dit met Engels vervang kan word.

Die kriminalisering van die Afrikaanse geskiedenis en die Afrikaanse taal het egter net mooi die teenoorgestelde uitwerking: dit dwing gemeenskappe in intellektuele tuislande in, veral linguistiese tuislande in die vorm van privaat onderwysinrigtings.

Ek sien dit die afgelope twee weke ook in Namibië waar ʼn mens oral privaat Afrikaanse skole kry. In Namibië het ʼn mens dit egter verwag, want Swapo was van die begin af eerlik: Namibië is amptelik ʼn eentalig Engelse land. Die vraag is nie of dit met die taalwerklikheid verband hou nie, maar die land sal Engels word.

In die geval van Suid-Afrika lieg politici van die begin af vir ons oor meertaligheid, want dit is duidelik dat ons op pad is na ʼn eentalig Engelse land. Gʼn wonder ons universiteite lieg deur hul halfgeleerde nekke vir almal oor hul sogenaamde beleid van veeltaligheid nie.

Een ding het mnr. Panyaza Lesufi, LUR vir Onderwys in Gauteng, duidelik uitgespel: daar is nie meer ʼn Afrikaanse universiteit nie, daarom is Afrikaanse hoërskole nie meer nodig nie. Die LUR is nie baie oorspronklik nie, want dit het ek lankal gesê. Wat hy nie bygesê het nie, is natuurlik dat as daar nie Afrikaanse hoërskole is nie, is Afrikaanse laerskole mos nie nodig nie en sonder laerskole is Afrikaanse kleuterskole sinloos. Die argument is nie moeilik om te vog nie: Afrikaans is onnodig – om van die ander inheemse tale nie eens te praat nie!

Gelukkig het ons owerhede nog nooit van die ou Britse lords Nelson en Milner gehoor nie. Hulle het ook gedog hulle verbied Afrikaans, toe floreer die taal …

Moet dit nou net vir die politici sê nie, maar as jy ʼn taal wil red, verbied dit!

Ek het nou hier by ons en in Namibië baie Afrikaanse skole besoek, maar nêrens het ek ʼn enkele Afrikaanse skool vir kleinbasies gekry nie. Al wat gebeur, is dat die Lesufi’s onder ons daaraan skuldig is dat hul kortsigtigheid die stig van linguistiese tuislande stimuleer. Daarom het die afskaffing van die ou kunsterade ʼn ontploffing van Afrikaanse kunstefeeste veroorsaak; daarom steun ek ʼn Akademia en daarom agiteer ek dat ons met Afrikaanse geld die Potchefstroomkampus van die NWU koop … Daarom floreer die Afrikaanse boek en die Afrikaanse musiek. Intellektuele tuislande.

En as Afrikaans wit was, sou dit wit tuislande wees, maar gelukkig het Afrikaans Europa lankal ontgroei en dit speel, gesels, sing en onderrig oor alle grense wat die politiek kan uitdink.

Dankie, meneer Lesufi, dat ons Suid-Afrikaners wat nie Engels is nie, nou ook die ANC se waarheid weet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Jerry ·

Baie mooi Hans. Ons moet dit alles doen deur die regte dinge net reg te doen, bedoelende dat alles wat ons doen nie gepaard moet gaan met verdere uitlokking en skoorsoek taktiek deur Afriforum/Solidariteit nie. Aan ons kant bou ons, maar aan die ander kant reageer ons deur verhoudinge verder af te breek en verdere verdeeldheid aan te vuur wat sover net dodelike gevolge vir ons mense inhou. Ons weet ons mense word bedreig en daar is n wesenlike aanslag teen ons mense, so hoekom vuur ons dit aan deur uitlokking? Ons gebouery het n silwerrandjie aan die een kant en n duistere motief aan die ander kant. Wanneer jy weer vir MM iets skryf, moet nie net die mooi kant van die muntstuk aanbied nie, bied ook die anderkant aan. Die ingesteldheid is om te reageer en onreg verder uit te lok en om geregtigheid na te streef vir elke onreg wat teen ons gepleeg word, in plaas daarvan om met ons optrede verdere onreg teen ons mense te verhoed. Wat bied Solidariteit/Afriforum werklik alles aan ons mense deur ons mense te isoleer vir selfbeskikking nadat hulle die regeerders uitgelok het om ons mense uit te sluit aan ekonomiese deelname? Kan Solidariteit/Afriforum ons mense se veiligheid waarborg, leef en laat leef waarborg ens.? Indien die antwoord nee is, waarmee is julle dan nou eintlik besig?

Sarie ·

Solidariteit het die Afrikaanse hoëronderwysinsteliings soos Soltech en Akademia begin wat nie kleurgebonde is nie almal welkom heet wat in Afrikaans wil leer. Dis een van hul bydraes tot Afrikaans.

pieter ·

Jerry, ons verskoon maar jou vooroordeel teen Solidariteit / Afriforum. Wat jy sê het niks met die feite te make nie.

Lou ·

Ek sien nie enige iets uitlokkend of iets wat verhoudings afbreek in die Prof se skrywe nie. Wat hy noem is feite en goed wat deur die politici van openbare verhoë af verkondig is.
‘n Ekskuustog dat ons lewe houding deur Afrikaners en blankes gaan ons nêrens bring nie. Ons is nou op die punt waar ons moet veg vir alles wat reg is maak nie saak wat die regering en politici daarvan dink of sê nie. Afriforum en Solidariteit is die enigste organisasies wat iets daadwerklik doen om die verval en aanslag teen die Afrikaner en blankes te probeer teenwerk

Andreas ·

Jerry se negatiwiteit begin by die renons wat hy in Flip Buys het. Gaan slaan sy kommentare in die geskiedenis na. Hy het ook in een kommentaar beduie by bly nie ver van Flip af nie. Ek was nogal ontstel daaroor.

Liamari ·

Dit sal wonderlik week as die Potch kampus oorgekoop word en geprivatiseer kan word. Kostes kan bespaar word deur met minder personeel klaar te kom. Akademia se onderrig metodes kan van die studie rigtings aanspreek. Enige student sal welkom wees, mits hy gemaklik is met Afrikaans. En voeg sommer ook weer die CHO by asb!

Charles ·

Hallo Liamari, ek gaan akkoord met die CHO, voeg dit weer by asb!

Zach Coetzee ·

Poth kampus terugkoop van owerhede: Is dit nie beter as ‘n ‘nuwe stad’ om weer ‘n kultuurruimte te bied wat oorloop van geskiedenis en infrastruktuur nie? Sal dit heelhartig en met daad ondersteun. Saam met goeie strukture van Solidariteit- groep sal dit voorwaar ‘n groot tree uit die moeras van aftakeling wees en kern vir voortreflikheid. Hoe die owerheid van die dag sal reageer en teen watter prys is uitdagings.

John ·

… mens val ook iets aan om dit oor te neem en te besit… iets wat jy nie het nie en/of nie self kan/wil skep nie maar vrees-lik begeer. Nog ‘n rede is omdat ander groepe jou beìnvloed om dit te doen of as ‘n middel tot ‘n ander doel. Sedert Brittanje die Kaap beset het, is Engels met mag en mening afgedwing. Afrika, Indiè en Sjina benut nou Engels vir werkskepping en verryking. Dit is ook die taal van die rubberboot na beter drome in Europa. Soos destyds aan die Kaap word die Boere soos onwaardige inwoners behandel en hul taal met mening beveg. Geen vieslike resep begin oornag nie…

JAN ·

Ja en skielik is Afrikaans omskep van onderdrukker tot bevryder.
Die ware Afrika renaicance uiteindelik.

Gert ·

Dit klink na ‘n briljante idee om die Potch-kampus te koop. Wat behels dit? Koop mens die geboue en toerusting? Behoort die perseel tans aan die staat? Kan mens dalk net die kampus huur?
Werd om te oorweeg!

Jimmy ·

Dit sal miljarde rande kos om te koop. Hou nuwe akademies baie basies deur geboue landswyd te huur. Net soos wat Varsity College en Pearston doen. Die dae van mega kampusse is in elk geval lankal getel.

Manie van Worcester ·

Ag vader is daar niks beter as die kommunistiese anc kreet viva, daars mos werklik ordentlike afrikaanse uitroep van bludskap ook

piet piet ·

Baie goed gesê daar moet meer aandag gevestig word op die diskriminasie van die wit minderhede, die land het wette wat diskrimineer teen witmense onder die vaandel van regstellende aksie ,en dit na 25 jaar van sogenaamde demokrasieë, de klerk en hernus kriel het die volk belieg en sodoende ons kinders onderdrukte gemaak in die land waar hulle gebore is .Ek verstaan nie hoekom n land waar die minste van die minderhede hulle taal en skole moet opoffer net om die goed dedisiplineerde skole te sien vergaan nie ons betaal vir die skole want verniet onderwys is net vir die meerderheid beskore en so ook die staats gesupsideerde vervoer na die skole.

Manie van Worcester ·

dalk mis jy dit. VF+ doen dit met mag en mening

Charles ·

Prof, die ANC verkul vernaam die swart bevolking in Suid-Afrika. Dit sal swartmense SO GOED DOEN om hul rug te draai op ANC propaganda, en wanneer daardie denkskuif gemaak gaan word, gaan dit wonderlik wees vir die mense. Die rede is dat Afrikaans so ‘n wonderlike, vars en opbouende taal is, jy kry meer uit dit as net die blote Taal. Afrikaans is derhalwe meer as net ons Geliefde Taal, dit is ‘n leefwyse. Trouens, die argument kan miskien gemaak word dat dit met kognitiewe ontwikkeling help en algemeen opbouend is en beskawingsvlakke verhoog!
Afrikaans is wonderlik.
Wanneer koop ons Pukke? Ek sal gewis my bydrae maak sodat alle Afrikaners en Afrikaanse aldaar kan swot ! Kom ons bring ‘n fonds op die been en doen dit.

Elizabeth ·

Dankie vir dié inspirerende brokkie, prof Hans …. sê ek ook mos lankal! Niemand sal ons onderkry nie. En (ek weet nie …) is groot dele van die PUK-kampus nie deur Afrikanergeld gebou nie??? Maar nietemin, kom ons koop hom weer! Al kos hy wat, dit sal ‘n winskoop wees!!

Liamari ·

Potch universiteit is inelkgeval deur die Teologiese skool gebou en deur die Afrikaner uitgebrei. Die huidige bedeling wil ons laat verstaan dat dit “hulle” s’n is sonder dat hulle enige aandeel in die ontstaan of uitbou van die universiteit bygedra het.

Elmarie ·

My liewe Prof.
My mentor.
Die man wat my die onderwyser gemaak het wat ek is. Passievol. Járre lank onderrig ek aan Huistaalsprekers hierdie lieflike hartstaal.

Nou het ek die voorreg om ons mooiste taal aan tweede en derde taalsprekers te onderrig. In ń verskriklike Ingelse stad. Wat ń voorreg en wonderlike uitdaging om leerders te laat lief word vir Afrikaans. Wat ń voorreg om vir hulle gedigte te lees op so ń manier dat hulle die wonderlikste dinge daarin kan raaksien.

Hoe wonderlik as hulle saamlag oor hulle sukkel met G en R en dit ekstra hard saam met hulle juffrou sê. Inderdaad en karnallie en genade en geseënd word vir hulle mooi.

En
Sit jou hand voor jou mond
sê die hoender vir die hond,
sê die aap vir die skaap
as jy nies of gaap…

laat hulle met ń rapritme en breë glimlagte by my klas uitstap.

Nooit sal hierdie liefde verdwyn nie. Mag almal met magtige inheemse name en vanne wat glad nie eers naastenby Ingels klink nie, maar sê wat hulle wil. Ek weet wat ek weet!

Dankie, liewe Prof.

jaco ·

Waarom verengels alles? Sover ek weet kom die Engelse taal vanaf ‘n land met die naam Engelsnd op ‘n eiland in Wes=Europa. Dit word al eeue lank deur nogal wit mense bewoon en hulle het met hulle British Empire op ‘n stadium een derde van die wêreld deur gehate kolonialisme en rassisme beheer en ORAL was die Engelse taal van onderdrukking.
So dis net vreemd dat een sogenaamde wit taal van onderdrukking nou maar net met ‘n ander wit taal van onderdrukking vervang word.

Swannie ·

Al wanneer ek skaam is om te sê ek is Afrikaanssprekend, is wanneer ek na die gaste op RSG se programme luister.
Dit hakkel, dit stotter, sinne word so herhaal dat dit klink of daar `n eggo op my radio is.
Om nie eens te praat van die finanseële program nie. Die gas ( NIE die aanbieder nie), praat soms so onsamehangend dat ek wonder of hyself weet wat hy wil sê.
Dit is sulke tye wat ek wonder hoekom almal so baklei vir Afrikaans as dit so swak gepraat word.

Duiwelsadvokaat ·

As julle Pukke wil koop sal julle gou moet maak…let wel as hulle dit sal toelaat. Die kaders, verraaiers en hanskakies is fluks besig om afrikaans daar weg te werk. En nee, moenie die mooipraatjies van inklusiwiteit wat die RAAD predik glo nie…vra die goedgelowige skapies wat by Maties en Tuks gebeur het. Eers het die CHO verdwyn..toe Totius…toe die Maroen Puk kleure…toe is die Afrikaanse kampusrektor vervang met iemand wat nie ‘n woord afrikaans kan praat nie…die tolkdienste se geldkraantjie word toegedraai…en volgende is Afrikaans in die visier. Die hiennas sirkel..en julle sal moet vinnig speel. Een ding is egter seker, ons en Afrikaans is op onse selwers aangewese vir oorlewing…net soos in 1902.

Boer ·

Die soetste taal klop in my hart.

Die boodskap wat ek ook aan my kinders gegee het: Praat Engels beter as ‘n Engelsman.

Ek beny die boere wat enige ander inheemse taal van hul tong laat rol. Daar is net iets anders in daardie situasie.

aj ·

Kom ons prop in by die Afrikaanse wolk van KENNIS wat toeganklik is vanaf enige plek op aarde in plaas daarvan om te belê in ouwêreldse beton geboue op ‘n spesifieke geografiese plek.

Die totale diaspora van Afrikaanses kan baatvind by die KENNIS wolk.

Dink futuristies !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.