Die ander kant van die geskiedenis

flip-buys-voorsitter-van-solidariteit-beweging-2018-08

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

“Wie die verlede beheer, beheer die toekoms”, het George Orwell in sy alombekende 1984 gesê. Die ANC se projek om hul politieke siening van die verlede dié meesterverhaal oor die verlede te maak, is bewys van die waarheid van Orwell se stelling. Indien die ANC daarin slaag om Afrikaners van hulle meesterverhaal te oortuig, beheer hulle ons toekoms.

Die oomblik dat Afrikaners die ANC se kriminalisering van hul verlede as die enigste waarheid aanvaar, sal hulle mos ook die ewige “straf” vir hul voorouers se sondes op hulle en hul kinders as regmatig aanvaar.

Die ANC se meesterverhaal weerklink daagliks in skole, die media, in wette en in politieke toesprake. Dit behels dat Afrikaners swart mense uit rassisme met ʼn kriminele beleid verdruk het. Die ANC het egter na ʼn lang stryd uiteindelik oorwin, en ewe vergewensgesind ʼn demokratiese bedeling met vryheid en gelykheid vir almal gevestig. Dit word eensydig voorgehou as ʼn stryd tussen goed en kwaad, waar die helde na groot opofferings gelukkig die skurke oorwin het, sodat almal lank en gelukkig saam kan lewe. Die grootmoedige oorwinnaars sit nou met die groot taak om die gevolge van die verlede ongedaan te maak. Boonop sukkel hulle nou met hardnekkige rassiste wat nie hul misdade wil erken nie, en steeds wil vasklou aan die voorregte van die verlede.

Hierdie skeeftrekking en oorvereenvoudiging van die verlede kan moeilik betwis word sonder om beskuldig te word van ʼn poging om apartheid te verdedig. Tog het dit al baie gebeur dat die misbruik van die geskiedenis tot ʼn veel groter verontregting gelei het, soos om bloedige en verdrukkende kommunistiese stelsels af te dwing.

Daarom moet die konteks van die tyd in ag geneem word om te verstaan watter oorwegings in die vyftigerjare in beleidsformulering gegeld het. Daaruit blyk dit dat die Afrikanerleiers van daardie tyd sterk beïnvloed was deur gebeure in die res van Afrika en in die kommunistiese wêreld. Ken Owen, die eertydse liberale redakteur van die Sunday Times, het gesê dat Afrikaners nie soseer deur rassisme gedryf word nie, maar deur die gebeure noord van ons grense.

Afrika

ʼn Lys van staatsgrepe in Afrika tussen 1963 en 1984, gee meer duidelikheid waarom die NP se destydse leiers nie daarvan oortuig was dat ʼn Westerse demokrasie goedsmoeds in Afrika kon werk nie: Benin in 1963, Kongo Brazzaville in 1963, Togo in 1963, Kongo in 1965, Burundi in 1966, Burkina Faso in 1966, Ghana in 1966, die Sentrale Afrikaanse Republiek in 1966, Nigerië in 1966, Sierra Leone in 1967, Somalië in 1969, Soedan in 1969, Lesotho in 1970, Uganda in 1971, Rwanda in 1973, Ethiopië in 1974, Niger in 1974, Chad in 1975, Mali in 1968, Comore in 1975, Mauritanië in 1978, Ekwatoriaal-Guinee in 1979, Guinee-Bissau in 1980, Liberië in 1980, Kenia in 1982 en Guinee in 1984.

Mag en geld

Dit het na onafhanklikwording reg oor Afrika gou duidelik geword dat bevrydingsbewegings nie soseer vír demokrasie geveg het nie, maar eintlik vir mag en selfverryking. Martin Meredith sê in sy gesaghebbende boek The Fortunes of Africa, dat die reeks staatsgrepe in Afrika mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ʼn waas verbygeflits het.

In die eerste twee dekades van onafhanklikheid was daar sowat veertig suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings. Daar was nie een geval waar ʼn Afrika-regering vreedsaam uitgestem is nie. Die gemiddelde lewensduur van Afrika-grondwette was volgens die Chicago Law School teen die eeuwending net tien jaar.

Groot manne

Teen die tagtigers was Afrika berug vir sy “Groot Manne”, militêre diktators en eenpartypresidente wie se belangrikste prioriteit was om die mag te behou. Nie een enkele staatshoof in drie dekades het homself in ʼn verkiesing laat uitstem nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers na dekades in die mag.

Uit 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ʼn enkele setel te wen nie. Net drie lande – Senekal, Botswana en die kleine Gambië – het volgens Meredith veelpartystelsels behou en gereelde vry en regverdige verkiesings gehou.

Rooi Gevaar

Daar is ook gereeld die spot gedryf met die vorige regering se siening van die sogenaamde “Rooi Gevaar”, asof daar nooit werklik ʼn kommunistiese bedreiging was nie. Die feite spreek egter vanself.

Die Britse skrywer van Animal Farm, George Orwell, het reeds net na die Tweede Wêreldoorlog in 1945 ʼn “koue oorlog” tussen die Weste en die kommunistiese Ooste voorsien. Daarna het Winston Churchill in 1946 gewaarsku dat die Kommuniste ʼn “ystergordyn” reg oor Europa laat toesak, wat miljoene mense bedreig.

In 1948 het die Sowjetunie Wes-Berlyn versper, en moes Westerse vliegtuie vir langer as ʼn jaar lewensmiddele met ʼn lugbrug aan die beleërde stad voorsien. In 1949 het die moorddadige Mao Zedong en sy Kommunisteparty in China die bewind na ʼn burgeroorlog oorgevat, en moes miljoene Chinese na Taiwan vlug. In 1950 het die Koreaanse Oorlog uitgebreek toe die Noord-Koreane met die steun van die Sowjetunie en China Suid-Korea ingeval het. Westerse magte het die Suid-Koreane in die oorlog wat tot in 1953 geduur het, gaan help. Miljoene mense is in die oorlog dood.

In 1955 word die Warschau militêre verdrag tussen kommunistiese lande geteken. In 1956 onderdruk die Sowjetunie die Hongaarse opstand teen die kommunistiese regering met geweld. In daardie selfde jaar dreig die Sowjetunie Londen en Parys met ʼn kernaanval nadat Brittanje en Frankryk die Suez-kanaal beset het om die nasionalisering daarvan deur Egipte te probeer keer.

In 1962 dreig daar weer ʼn kernoorlog met die Kubaanse missielkrisis, toe die VSA met ʼn ultimatum reageer toe die Sowjetunie basisse vir kernvuurpyle op die voorstoep van Amerika probeer oprig het.

In 1965 breek die Viëtnamese Oorlog uit tussen die kommunistiese Noorde en die Suide – ondersteun deur die VSA. Die Noorde wen in 1975 nadat die VSA onttrek het. Mao Zedong begin ʼn “kulturele revolusie” in 1966 wat tot in 1976 duur, en miljoene Chinese sterf in hierdie tyd. In 1968 vind die Praagse Lente Opstand plaas, waar die Warschau state ʼn opstand in Tsjeggo-Slowakye teen kommunisme onderdruk.

Marxistiese groepe kom in 1974 in Angola en Mosambiek aan bewind, terwyl Robert Mugabe met veral Chinese steun Zimbabwe in 1980 oorneem.

Geskiedenis

Die ANC het die reg om sy kant van die geskiedenis te stel, maar dit is nie die enigste kant nie. Afrikaners het dieselfde reg, omdat daar nie net “een” geskiedenis is nie. Die ANC se geskiedenis is nie ons geskiedenis nie. Elke gemeenskap sien homself as die sentrum van wêreld, en beskryf sy verlede as die sentrale verhaal van die mensdom, het prof. Samuel Huntington, die Harvard politieke wetenskaplike, gesê. Daarom is die geskiedenis baie meer ʼn stryd van “reg teen reg”, as net tussen reg en verkeerd.

Afrikaners het die reg en plig om ter wille van ons toekoms ʼn ewewigtige weergawe van ons verlede te bevorder. Ons kan nie op ons knieë leef nie. Ons mag, ons moet en ons sal voortbou op die tydlose waarhede van vryheid, veiligheid en voorspoed wat ons voorouers oor die eeue vir ons nagelaat het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Hoeveel aanvalle en moorde moet nog plaasvind Mnr Buys?
Hoeveel bloed moet nog vloei?
Soos jy in jou boek gesê het, ons kan die boere red, maar nie die plase en die boere nie.
Boere se plase is soms hulle enigste besitting en inkomste. Dit is nie vir n boer nie so maklik om net sy diere te verkoop en pad te vat nie.
Hoe gaan die boere oorleef met n ekonomie wat reeds in flarde is. Hoe Mnr Buys?

Dirk ·

Wanneer daar ‘n baie groot bedreiging jou kant toe kom, dan skrik en hol jy verward rond en dan soek jy hulp en antwoorde. Wanneer so bedreiging jou eers bietjie in die grond rond gerol het en jou in ‘n gat gegooi het, dan gee jy nie meer om of iemand met jou saamstem nie, en of julle die selfde oortuiging het nie. Al wat dan pla is of jy die nag gaan oorleef en of die ander persoon dalk kan help met ‘n kombers, dalk water, en miskien dalk kos. Elkeen wie Orwell se 1984 gelees het behoort goed te weet waarvan ek praat. Die stewel in die gesig.
Totalitarisme.
Die enigste verweer is om hegte gemeenskappe met goei kommunikasie te hê. Dit is nie moontlik om dit te hê met baie voorwaardes en vooropgestlede idees nie. Mens moet besef die ander ou is ook ‘n mens soos jy met basiese behoeftes soos jy. En daar mag ‘n dag kom dat ons mekaar nodig het. Al is dit net ‘n woord van waarskuwing. Ek dink aan Ezra Pound, 8 Mei tot 24 Mei. 1945. Oorlewing.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die kommunistiese leermeesters was en is uitstekende leermeesters van die ANC. Hierdie leermeesters besef die waarde van persepsiologiese oorlogvoering: om beheer oor die denke van hul vyende te bekom en hulle denkslawe van ‘n kommunistiese bedeling te maak.

Dringend tyd dat elke Afrikaner intens bewus gemaak word van die omvang, diepte en belangrikheid van persepsiologiese oorlogvoering.

In sy werk “1984” skrywe George Orwell: “For long period the High [Die heersende klein Elite] seem to be securely in power, but sooner or later there always comes a moment when they lose either their belief in themselves or their capacity to govern efficiently, or both. They are then overthrown by the Middle, who enlist the Low on their side by pretending to them that they are fighting for liberty and justice. As soon as they [Middle] have reached their objective, the Middle thrust the Low back into their old position of servitude, and themselves [Middle] become the High. …”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.