Die ander kant van die inflasiemuntstuk

Deur Neil Emerick

Voortslepende hoë inflasie vreet verbruikers se koopkrag stelselmatig weg (Foto: Joël SAGET / AFP)

Die ergste euwel wat ʼn regering op sy mense kan afdwing, is inflasie.

Dit haal geld reguit uit die sakke van spaarders wat glo dat hulle ywerig vir hul toekoms beplan. Dit verdraai markte, skep ongelykheid en verwoes lewens. Amper so erg soos inflasie self, is die misverstand van hoe dit ontstaan.

In 2022 is ʼn aantal teorieë in die media voorgehou om die oorsake van globale inflasie te verduidelik. Dit was die konflik in Rusland; kostestoot-inflasie van die olieprys; ʼn stram arbeidsmark; of verskaffingskwessies uit China. Veral afwesig was gewone ou monetêre teorie, wat sê as jy meer geld druk, sal pryse beïnvloed word.

Dié teorie sê geld is alles, en soos alles het dit ʼn waarde gebaseer op vraag en aanbod. Aangesien geld egter die standaard is waarvolgens ons al die ander meet, kan dinge soms lyk asof dit onderstebo is. Pryse daal wanneer daar ʼn groter vraag na geld is. Daarteenoor, wanneer daar minder vraag na geld is (en groter vraag na goedere), styg pryse.

Wat voortdurend onderwaardeer word en oor die algemeen geïgnoreer word, is die konstante inflasie van die geldvoorraad deur regerings en hul sentrale banke. Sedert 2008 het hierdie instellings wêreldwyd $25 duisend miljard (ongeveer R450 duisend miljard) in nuwe geld gedruk. Hulle het elke denkbare skuldkwessie op die mark bekom in ʼn poging om rentekoerse tot nog laer (en uiteindelik negatiewe) vlakke te manipuleer.

Terwyl die Amerikaanse Federale Reserweraad dit na private skuld uitgebrei het, het sentrale banke meestal soewereine skuld gekoop, wat regerings graag wou uitreik. Die Oostenrykse regering kon selfs ʼn 100-jaar verband teen 0,88% uitreik. Die Amerikaanse nasionale skuld staan nou op ʼn verbysterende $31,5 duisend miljard (ongeveer R567 duisend miljard).

Volgens monetêre teorie is sentrale banke direk verantwoordelik vir inflasie. Die term “akkommoderend” verwys na rentekoerse wat onder die koers gehou word waarteen die mark sou stabiliseer. Hierdie glibberige term beteken dat ʼn regering se sentrale bank geld druk en effekte vinniger koop as wat die ekonomie dit nodig het.

Ons Reserwebank het erken dat kunsmatige lae rentekoerse ʼn bydraende faktor tot inflasie was toe 2022 se September-verklaring verwys het na “volgehoue beleidsakkommodasie”. In November het die Reserwebank verder erken dat die vorige omstandighede ongetwyfeld abnormaal was, omdat “beleidsnormalisering nou versnel het”.

Die realiteit is dat ons nou in ʼn wêreld van stygende pryse leef as gevolg van regerings wat môre se verbruik in vandag se verkiesingsiklus intrek. Dit plaas ʼn groter las op die toekomstige generasies van belastingbetalers.

Verminderende koopkrag

Een probleem met die manier waarop inflasie aan die publiek voorgehou word, is dat die voorgehou word as ʼn stygende indeks. Dit impliseer dat pryse toeneem, in plaas daarvan om oor te dra wat werklik gebeur – koopkrag neem af. Dink net hoe anders dit sou wees as die media die gepubliseerde inflasiesyfer sou omskakel vanaf ʼn stygende indeks na een wat van ʼn beginbasis afgetrek word. Wat as ons in die teenoorgestelde rigting sou gaan as die huidige verbruikersprysindeks wat inkrementeel aan die vlak van inflasie elke maand gemeet word?

Ons sou elke maand sien hoeveel minder die rand gaan koop deur die inflasiekoers van die indeks se krimpende waarde af te trek. Vir Suid-Afrika: As ons ons indeks op 100 in Januarie 2000 sou begin, sou dit teen Desember 2022 26,75 wees. Anders gestel, vandag kan elke rand net 27% koop van wat dit in 2000 kon koop omdat die geldeenheid se koopkrag met 73% afgeneem het. Dit is nou ʼn opskrif wat mense se aandag sal trek!

Artikel 224(1) van ons grondwet sê die “primêre doel van die Suid-Afrikaanse Reserwebank is om die waarde van die geldeenheid te beskerm in belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei”. Gegewe die afname in koopkrag oor die afgelope 20 jaar en die beperkte ekonomiese groei, sou ek sê die bank het (krimineel?) sy plig versuim. Stel jou voor as ons 0% inflasie en 5% groei gehad het, in plaas van andersom!

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, het gesê die bank se uitdruklike devalueringsdoelwit is om van ʼn geteikende inflasiekoers van 2% na iets nader aan 4% te beweeg. Indien die Bank selfs by hierdie lae koers kan uitkom gegewe vandag se “akkommoderende” beleid, sal ons dalende indeks steeds 12,8 bereik teen 2040. Dit impliseer dat jy minder as 13% van wat jy in 2000 sou hê met dieselfde rand kan koop.

Vertraag, nie val nie

Om te praat van inflasie wat ʼn hoogtepunt bereik of “afplat” is nog ʼn misleidende gewoonte van die media en sentrale bankiers. Inflasie is ʼn syfer wat ʼn persentasieverandering verteenwoordig. Wanneer ʼn joernalis sê inflasie is hierdie maand “af” omdat dit van 7,5% na 7,4% beweeg het, verswyg dit die feit dat die inflasieverhoging verlangsaam het, nie dat pryse gedaal het nie.

Ander teorieë oor inflasie kan nie verduidelik hoekom pryse nie daal wanneer die veranderlikes wat as oorsake genoem word, terugkeer na normaal nie. Wanneer ʼn oorlog verby is, voorsieningskettings herstel of die arbeidsmark stabiliseer, keer pryse nie terug na waar dit voor die krisis was nie – waarom is dit so? Hierdie een feit moet mense aanspoor om introspeksie te doen. Slegs monetêre teorie verduidelik hoekom koopkrag op ʼn nuwe en laer vlak sal wees as die aanbod van geld verhoog is.

In ʼn markekonomie berus elke besluit (om te koop, te spaar of te belê) daarop om te weet hoeveel iets kos. Hierdie grondslag word egter ondermyn wanneer regerings die rekeneenheid van geld korrupteer. Die afgelope 14 jaar dien as getuie van ʼn ongekende eksperiment om die nasionale muntstuk te knip, beter bekend as “akkommoderende monetêre beleid”.

Teen lae rentekoerse is daar geen aansporing om te spaar nie. Met geen besparing is daar geen kapitaalvorming nie en sonder kapitaal kry ons nie groei nie. Wanneer sentrale banke die geldvoorraad manipuleer tot die mate wat hulle het, moet mense voortdurend hul ontleding van waarde herbereken.

Die geskiedenis wys hierdie berekening is moeilik en dat foute gemaak word. Wat volg is resessie, werkloosheid en ondergang.

  • Neil Emerick is ʼn medewerker van die Vryemarkstigting.

Hierdie artikel het eerste op Business Day verskyn en is met toestemming van die Vryemarkstigting weer gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.