Die Chinese keiser is kaal

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Die jaarlikse sitting van die Chinese parlement wat verlede week in Beijing afgeskop het, het die eerste stappe gedoen om volle beheer oor Hongkong, die semi-outonome stad wat sedert 1997 deel van China is, maar volgens ’n eie politieke stelsel regeer word, te verkry.

Verder was die boodskap van Chinese leiers by die parlementsitting, wat ook bekend staan as die Nasionale Volkskongres, duidelik dat inmenging deur ander lande in hul sake nie geduld sal word nie. Die Chinese regering is ook duidelik in hul doelstellings om Taiwan, ’n eilandstaat waarop China aanspraak maak, weer deel van die Chinese Volksrepubliek te maak.

China se versigtige gedrag in die Suid-China See, veral sedert Hongkong in 1997 deur die Verenigde Koninkryk volgens sekere voorwaardes aan China oorgedra is, het verlede week waarskynlik finaal tot ’n einde gekom. Die meer aggressiewe militêre optrede in die Suid-Chinese See en die Oos-Chinese See maak reeds vir enkele jare die Amerikaners, Japannese, Filippyne en Suid-Koreane bekommerd.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

Terwyl China die afgelope vier dekades die vrugte van vryhandel met die res van die wêreld gepluk het, het die kommuniste in China seker gemaak dat ekonomiese vooruitgang op geen manier hul magsgreep op die Chinese bevolking verswak nie.

Verder is verlede week se magsvertoon ook weerligafleiers van die ernstige vrae wat tans oor China se hantering van die koronapandemie gevra word. Volgens inligting is president Xi Jinping reeds op 7 Januarie van die ernstige aard van die koronavirus, en die feit dat die virus van mens-tot-mens oorgedra kan word, ingelig.

Die Chinese regering het eers op 20 Januarie amptelik erken dat die virus hoogs aansteeklik is. Teen daardie tyd het mense uit Wuhan, China reeds die virus na tientalle lande oor die ganse aarde versprei.

Veiligheidsmagte staan gereed tydens betogings in Hongkong. (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

President Jinping is vanjaar in die middel van sy tweede termyn as president van China en daar word verwag dat hy in 2023 gaan probeer om selfs tot ’n derde termyn verkies te word. Die Kommunistiese Party in China is volgende jaar 100 jaar oud. Die koronapandemie het dus op ’n baie kritieke tydstip vir Jinping en die Kommunistiese Party uitgebreek.

Tydens die Volkskongres van 2010 het die Kommunistiese Party besluit dat die bruto binnelandse produk (BBP) van die Chinese ekonomie teen die einde van 2020 verdubbel moes word. Verder is daar in 2010 besluit dat “absolute armoede” teen 2020 orals in China uitgewis moes wees. Met die Chinese ekonomie wat tydens die eerste kwartaal van 2020 met byna sewe persent gekrimp het, lyk dit asof beide hierdie doelwitte nie bereik gaan word nie.

(Foto: Ng Han Guan/AP)

Die Chinese regering het dus drie wapens oor. Magsvertoon word gevolg deur effektiewe onderdrukking van enige interne opstande. Interne opstand word gekeer deur vryheid van spraak en om ’n vrye media te belemmer. Derdens speel die Chinese regering ’n fyn internasionale spel met propaganda oor hoe goed hy die pandemie hanteer het en hoeveel hy doen om ander lande by te staan.

Die vraag is egter so eenvoudig: Kan China vertrou word? Op die globale politieke verhoog lyk Jinping tans redelik geïsoleer. Baie internasionale maatskappye herbedink hul afhanklikheid van Chinese produksie. Die verhouding tussen China en die VSA is op ’n nuwe laagtepunt.

Die kommunistiese Chinese keiser staan toenemend kaal. Ons sal moet wag en sien of die res van die wêreld gaan aanhou voorgee dat die keiser ’n kleed aanhet. Een of ander tyd sal die naaktheid van die Chinese kommunisme wel ontbloot en erken moet word.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Geen land ter wereld mag so magtig word dat hul seggenskap kry in ander lande. Dit laat die deur oop vir enorme korrupsie en later ook volksmoord.

Die Wolf ·

Deur selektief van hulle te koop verseker dit dat dat jy nie afhanklik van hulle is nie, en n manier om hulle terug aarde toe te bring. Ongelukkig het hulle al die kloue diep ingeslaan in sekere lande , RSA ingesluit.

Therese ·

En terwyl China “die vrugte van vryhandel gepluk het”, het Westerse leiers en sakemagnate hul gierige oë gesluit vir menseregtevergrype in China.
China het alreeds begin met boikotte van produkte van die lande wat ‘n Covid19-ondersoek aanvra.
Glo nie dit sit in die VN óf die WGO óf die EU se broek om Kommunistiese China maniere te leer nie.
President Jinping is oral welkom en die president van die VSA is die wortel van alle kwaad.
Go figure!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.