Die einde van Karabach

Karabach

Hierdie foto geneem op 1 Oktober 2023 tydens ‘n Azeri-regering georganiseerde mediareis wys wapens, voertuie en ander militêre toerusting wat deur die Azerbaidjanse weermag van Armeense separatiste geneem is. (Foto: Emmanuel Dunand / AFP)

Vir Afrikaners as klein minderheid in ʼn land met ʼn vyandige owerheid en meerderheidsbevolking is dit belangrik om van die situasie van minderhede elders kennis te neem, al verskil die situasie.

Alhoewel ek reeds verlede maand oor Karabach en die Armeense minderheid in Azerbaidjan geskryf het, het dinge sedertdien selfs nog erger verloop as destyds gevrees. ʼn Uitkoms is bereik wat op ʼn totale nederlaag van die Armeense bevolking in die Karabach-streek neerkom.

Eers het Azerbaidjan, die Latschin-korridor wat Armenië en Karabach verbind, strydig met die wapenstilstandsooreenkoms en eintlik onder beskerming van Rusland gesluit en die Armeense minderheid feitlik uitgehonger. Toe daar geen noemenswaardige internasionale protes en veral geen inmenging van Rusland se kant af was nie, kon Azerbaidjan verder gaan. Hulle het toe die deel van Karabach, wat nog onder beheer van die nie-erkende regering van Arzach (die Armeense term vir Karabach) was, in ʼn veldtog wat net ʼn dag geduur het, beset.

Die Armeense bevolking van die enklawe, sowat 120 000 mense, het dadelik na Armenië gevlug en hulle heimat vir geslagte lank verlaat sonder ʼn kans om ooit weer terug te keer. En siedaar, die Latsjin-korridor, wat vir hulpgoedere gesluit was, was nou skielik oop sodat die etniese suiwering van Karabach spoedig afgehandel kon word. Die president van Arzach is ook in hegtenis geneem en sy regering het geen keuse gehad nie as om al Arzach se strukture te ontbind en hulle aan die genade van die veroweraars oor te laat. Hulle huise sal binnekort deur Azerbaidjanse intrekkers bewoon word en die eeue oue erfenis van kloosters en kerke verniel of ten beste aan die verwaarlosing oorgelaat word.

Ten minste het die Karabach-Armeniërs ʼn moederland om heen te vlug en mense wat hulle “broers en susters” in solidariteit verwelkom, al is Armenië self ʼn arm land wat nie weet hoe om skielik soveel vlugtelinge te akkommodeer nie. Armenië het sowat driemiljoen inwoners en is sowat 30 000 vierkante kilometer groot (een derde meer as die Krugerwildtuin) en nou kom daar meer as 100 000 mense in ʼn kwessie van dae aan.

Die Armeniërs is nie net ʼn klein volk van talle in die etnies baie diverse Koukasus-streek nie. Dit is ʼn klein Christelike eiland omring deur veel groter Moslemlande in die Weste (Turkye), Ooste (Azerbaidjan) en Suide (Iran) en die eerste Christelike staat in die wêreld, sedert 301 n.C. Dié Christelike eiland is nou nog kleiner deur die verlies van Karabach en sowat 1 700 jare se beskawingsgeskiedenis in dié gebied eindig in 2023. Na die verlore oorlog teen Azerbaidjan in 2020 en die gedeeltelike verowering van Karabach was daar nog altyd die hoop en verwagting dat die Armeniërs in Karabach ten minste kulturele outonomie sou kon behou in ruil vir die herinlywing by Azerbaidjan.

Die toedrag van sake wys ook duidelik Rusland se siniese spel met klein volke binne sy invloedsfere. Rusland, self ʼn Christelike land, het hom weens die godsdienstige bande as beskermer van die Armeniërs gesien, maar het nou geen vinger verroer om hulle te beskerm nie. Trouens, Rusland as bemiddelaar het nie eers die bepalings van die vir Armenië reeds ongunstige wapenstilstandsooreenkoms nagekom nie.

Rusland se optrede is kenmerkend van enige groot moondheid (en parallelle met die VSA of Brittanje kom in ʼn mens se gedagte op): as dit sy belange dien, dan is die land die voorvegter vir vervolgde minderhede, as die minderhede egter hulle nuttigheid verloor het, word hulle vir die wolwe gegooi.

Waarskynlik gaan ook die Russiese minderheid in Oekraïne nog agterkom dat hulle net pionne in ʼn skaakspel van die grootmoondhede is, wat opgeoffer sal word as dit ʼn strategiese doelwit dien. Dit geld wel net vir die Russiese leierskap, die gewone Russe is dikwels self slagoffers van die owerheid en het baie swaargekry in hulle geskiedenis.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Die aanslag op die Afrikaner is ‘n realiteit . Dit was al dekades terug beplan en dit sal deurgevoer word . Dis die waarheid.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis waar. Die doel is dat Afrikaners se historiese voetspore teen die einde van hierdie eeu uitgewis moet wees.

Marthinus W ·

Hierdie vingerwys na die Russe is onregverdig. Die Russe het vrede bewaar, en verlede maand is Russiese vredeshouers doodgeskiet. Armenie se prez het Poetin gebel om om verskoning te vra. Wie was verlede week in Armenie? Samantha Power, hoof van USAID. Waarom noem Sebastiaan dit nie? Of Amerika se inmenging ? Die mense in Nagorno-Karabach is baie duidelik: hulle regering het hulle uitverkoop het aan die Amerikaners.

Jan ·

Ek waardeer Sebastiaan se inligting. Dit is duidelik dat Poetin die inval kon stop met ‘n telefoonoproep, maar dit was nie in sy belang nie.
Ek bid vir Genade vir die Armeniërs en Ukrainiërs en ook vir ons!

Jan ·

Dr Google berig dat rondom 20 September het Azerbaidjan losgebrand op ‘n Russiese voertuig en soldate gedood. Azerbaidjan het skynbaar om verskoning gevra.
Ek kry geen aanduiding van Armeniërs wat op Russe geskiet het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.