Die erns van Zwane se waansinnige handves sink in

dr-anthea-jeffery

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing van die IRV. Jeffery is ook die skrywer van ‘Race Relations in South Africa, Reasons for Hope 2017’, wat middel-Februarie uitgegee word deur die IRV.

Deur dr. Anthea Jeffery

Die minister van minerale bronne, Mosebenzi Zwane, het gelyk wanneer hy die nuwe mynbouhandves ’n “revolusionêre instrument” noem. Een van die hoofdoelwitte daarvan is om die staatsmynmaatskappy te bevoordeel, en om te help met die toename van die nasionalisering van myne sonder vergoeding. Die regering beweer dit sal voorspoed verbeter, maar internasionale ervaring met staatsmynmaatskappye elders toon die teenoorgestelde. So ook die graad van onbevoegdheid, ampsmisdryf en korrupsie wat reeds sigbaar is by baie van Suid-Afrika se belangrikste staatsbeheerde ondernemings (SBO’s), waaronder Petro SA, Eskom, Transnet, Prasa, Denel en SAL.

Volgens die nuwe mynbouhandves (wat op 15 Junie 2017 in die Staatskoerant gepubliseer en tans tydelik agterweë gehou is hangende ’n geregtelike ondersoek oor die wetlikheid daarvan) moet aansoekers om prospekteringsregte “’n minimum van 50% + 1 aandeelhouding van swart persone hê” (of eenvoudig gestel, 51% swart eienaarskap). Houers van mynregte (teenswoordig of toekomstig) sal 30% swart eienaarskap moet hê – in vergelyking met die huidige 26%.

Die vereiste van 51% swart eienaarskap vir nuwe prospekteringsregte sal noodwendig baie groot rolspelers daarvan weerhou om regte te bekom. Tog moet bestaande myne gereeld nuwe prospekteringsregte bekom om by te hou met ontdekking en toekomstige planne. Hierdie klousule sal hulle egter “afsny van die lewensaar van vars mineraalstorting” (om Warren Beech, die hoof van mynbou by die regsfirma Hogan Lovells aan te haal), tensy hulle hul SEB-eienaarskap tot 51% laat styg en meerderheidsbeheer aan ander afstaan.

Onder die nuwe handves sal mynboumaatskappye wat “mynbates” wil verkoop, verplig word om voorkeur te gee aan maatskappye wat 51% swart eienaarskap het om dit te koop. Die handves verduidelik nie hoe sulke bates gedefinieer moet word nie. Dit dui ook nie aan hoe lank hierdie voorkeuropsies in werking moet bly of hoe daar op kooppryse besluit moet word nie.

Hierdie beperking kan van toepassing wees op baie prospekteringsverkope wat nou voorlê. Anglo American sal byvoorbeeld verskeie van sy Suid-Afrikaanse filiale (dogtermaatskappye), waaronder Kumba Iron Ore, wil verkoop. Onder die nuwe handves kan hulle verplig word om dit aan ’n maatskappy met 51% swart eienaarskap te verkoop.

Lonmin, wat reeds ’n tekort aan geld het, het melding gemaak van die moontlikheid dat dit reserweruimte by van sy aanlegte wil verkoop om mynbedrywighede te onderhou. As hierdie reserweruimte as ’n “mynbate” geld, kan dié soort verkooptransaksie op dieselfde manier genoodsaak word.

Een instansie wat voordeel gaan trek uit hierdie handves is heel moontlik Suid-Afrika se staatsmynboumaatskappy. Dié maatskappy, die African Exploration Mining and Finance Corporation (African Mining), is in 1944 gestig en was onaktief tot 2007, toe dit deur sy ouermaatskappy, die Central Energy Fund, opgewek is.

Sedert African Mining in 2011 vir steenkool begin myn het, was daar verrassend min teenkanting vanuit die private sektor – al het die Kamer van Mynwese die behoefte vir die regering om ’n “gelyke speelveld” te verseker, beklemtoon. Soos die mynbouregdeskundige Peter Leon egter uitwys, is dit moeilik om regverdigheid te bereik as African Mining vir geld staatmaak op belastingbetalersinkomste en ’n medestaatseenheid (die departement van minerale bronne of DMB) wat hulle met ’n menigte myn- en prospekteringsregte subsidieer.

In 2016 het die DMB ’n konsepwetsontwerp voorgelê wat gemik was daarop om African Mining as ’n aparte maatskappy met nuwe mag te vestig. Onder hierdie wetsontwerp sal dit in staat wees om mynregte van die DMB te bekom, sy eie mynwerksaamhede te onderneem, en “aandele of ander belange” in maatskappye wat reeds betrokke is by mynbou te bekom.

Die nuwe handves sal African Mining help om hierdie doelwitte te vervul. Die reël wat 51% swart eienaarskap vir die verlening van prospekteringsregte vereis, sal help verseker dat hierdie regte daarheen gaan eerder as aan die gevestigde rolspelers in mynbou. Die verdere vereiste dat alle mynbates eers aan maatskappye gebied moet word wat 51% swart eienaarskap het, sal hulle help om aandele en ander bates van bestaande maatskappye ook te bekom, soos hulle dan ook beplan om te doen.

Die duur verpligtinge wat op hoofrolspelers in die mynbedryf gelê word onder die nuwe handves, kan hulle ook aanmoedig om al hul mynbates te verkoop, en African Mining sal dan ’n voorkeurreg hê om dit te koop. As die mynregte van bestaande maatskappye gekanselleer word omdat hulle nie die nuwe handves nakom nie – en volle nakoming sal byna onmoontlik wees om vol te hou – sal African Mining boonop op die kantlyn wag vir die DMB om hierdie nuut beskikbare regte te verleen.

Die staatsmynmaatskappy se verkryging van prospekteringsregte, mynregte en mynbates sal dus heel moontlik vinnig voortgaan as die nuwe handves eers van krag is. Dit sal help om die toenemende nasionalisering van myne sonder vergoeding tot stand te bring waarvoor die ANC-jeugliga en ander ANC-alliansies lankal vra.

Reeds in 2009 het die jeugliga daarop begin aandring dat die nasionalisering van myne noodsaaklik is om swart Suid-Afrikaners “ekonomiese vryheid” van wit oorheersing te gee. Hulle het selfs ’n beroep gedoen op die vestiging van ’n staatsmynmaatskappy wat ten minste 60% van alle nuwe mynbeleggings sou besit en die eienaarskap van bestaande myne spoedig sou uitbrei.

In September 2016 het die jeugliga hierdie oproep laat herleef en gesê daar is al lank ’n “strategiese behoefte vir die nasionalisering van myne”. Hulle wou presies weet wanneer die wetsontwerp wat die staatsmynmaatskappy sou vestig deur die parlement aanvaar sou word, en het daarby gevoeg: “Sodra dit in werking tree, moet dit eienaarskap en beheer van die groot myne in die land neem.” Die nuwe handves sal help om hierdie doelwitte te bereik.

By die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in 2012 het hulle teen die volkome beslaglegging op mynmaatskappye besluit omdat die vergoeding wat betaalbaar sou wees meer as R1 triljoen sou wees. Die wetsontwerp is egter ’n nuwe “revolusionêre instrument” (soos mnr. Zwane sê) wat kan help om ’n indirekte en toenemende proses van nasionalisering van myne teweeg te bring.

Die ANC en sy bondgenote in die jeugliga en elders hou daarvan om voor te gee dat oorgrote staatseienaarskap en beheer van die mynbedryf sal help om die voordele van Suid-Afrika se wonderlike minerale rykdom te vermeerder en te versprei. Internasionale ervaring wys egter dat staatsmynmaatskappye oor die algemeen misluk, en slegs daarin slaag om ’n fraksie te produseer van wat die private sektor kan vermag.

Die redes is eenvoudig – en moet met alle Suid-Afrikaners resoneer. Staatsmynmaatskappye word oor die algemeen gekwel deur swak bestuur, toenemende ondoeltreffendheid en dalende mededinging. Hulle sukkel ook om geld te genereer vir nuwe of uitgebreide mynbedrywighede – en veral wanneer openbare skuld hoog is, belastinginkomste staties is of krimp, en regerings baie ander eise stel aan die openbare beursie.

Die belangrikste struikelblok op die pad na sukses is gewoonlik slegte regering. Staatsmynmaatskappye (om die versigtige woorde van die Extractive Industries Source Book te gebruik) word dikwels gevange gehou deur klein en bevoorregte elite-groepe, wat hulle vir hul eie gewin eerder as vir nasionale belang gebruik.

In die praktyk word myninkomste wat deur staatsmaatskappye gegenereer word dikwels verdoesel en dan oorgeplaas na individuele oorsese bankrekenings. Hierdie risiko is veral sprekend in Suid-Afrika, waar die vinnige verryking van die Gupta-familie gewys het hoe maklik openbare hulpbronne gebruik kan word en uit die land verdwyn met die hulp van magtige politici.

Die nuwe mynwetsontwerp het baie ander skadelike gevolge. Sy waarskynlike rol in die bystaan van die staatsmynmaatskappy is egter rede genoeg om dit af te keur. Eerder as om die stygende armoedevlakke in Suid-Afrika teen te werk, sal dit die ANC verder bemagtig en sy sosialistiese doelwitte bevorder. Dit sal ook groot rykdom en mag aan ’n beperkte groep van korrupte politici en hul gunsteling- kapitalistiese kornuite bring.

  • Dr. Anthea Jeffery is die hoof van politieke navorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).
  • Hierdie artikel is oorspronklik op die webwerf Biznews.com geplaas en met die toestemming van die IRV gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Rupert Ashford ·

1. Die klousules sal nie eindig nie net soos AA tans.
2. Die regeringinstansie sal sy myne en lisensies uiteindelik aan hulle ou vriende uit China en Indie verkoop om die prez en kornuite in die ANC verder te verryk. Die people kan gaan doppies blaas…

Eish ·

Soos Mnr. Rupert gesê het, gewettigde diefstal.
Die helhool spoed na sy einde.

Koos1 ·

Wat het gebeur met daai myne waarby Zuma se neef betrokke was?
Hierdie is ‘n wen resep vir werkloosheid en ekonomiese ondergang vir die land!
Onthou, ons land maak staat op ons goud om ons in tel te probeer hou in die wêreld. As ons goud weg is, wat kan ons die wêreld aanbied? See en Berge? Dit het baie lande. Die groot 5? Dis die hele Afrika vol?

Robert ·

@koos1: ek dink jy is bietjie agter. mynbou is lankal nie meer die prioriteit inkomste verdienste vanaf die buiteland vir hierdie land nie. Gaan google maar dan sal jy sien.

Koos1 ·

Robert, ek sal saam met jou stem, maar kan ons land bekostig on 20 – 30% van ons BBP te verloor? (Kan ons aanvaar dat mynbou so 20 – 30% werd is?). En goud se waarde het die afgelope 15 – 20 verbubbel, so dit is ‘n baie veilige belegging.
My punt is eintlik, dat ons land niks kan bekosting om te verloor nie. Enige iets wat ons gaan verloor se direkte gevolg gaan werkloosheid wees, maar nou ja, soos ek al voorheen gesê het, die huidige regering voel niks vir die landsburgers nie!

Lampies ·

En steeds dink die talle DA-ondersteuners dat Maimane ‘n haas uit die hoed gaan trek….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.