Die gees(te) van ons tyd

Theuns Eloff (Foto: Verskaf)

Voor so ʼn belangrike verkiesing as wat 2024 s’n gaan wees, is dit nuttig om ʼn bietjie stil te sit en na te dink oor die tyd en plek waarin Suid-Afrika dit self bevind.

Is ons by ʼn historiese oorgang, nie net polities-staatkundig nie maar ook op ander samelewingsterreine? Die Duitse woord “zeitgeist” (in Afrikaans goed vertaal met “tydsgees”) beteken volgens die meeste woordeboeke “die herkenbare gees of gemoedstoestand in die besondere tydperk in die geskiedenis, soos uitgebeeld deur die idees en oortuigings van daardie tyd”.

Dit was relatief maklik om “die tydsgees” in vroeër tydperke te definieer, omdat die wêreld nie naastenby so kompleks was as wat dit die afgelope 100 jaar geword het nie. Die “Aufklärung” was byvoorbeeld die tydsgees gedurende die sewentiende en agtiende eeue in Europa. As ʼn intellektuele en kulturele beweging word dit (terugwerkend, natuurlik) beskou as ʼn keerpunt in die geskiedenis van wat later die “Weste” genoem sou word. Dit was gedurende hierdie relatiewe lang tyd dat die menslike rede, kennis en kritiese denke bestaande norme uitgedaag en soms vervang het.

Natuurlik was die “Verligting” net in Europa en tot ʼn mindere mate in die kolonies van die verskillende wêreldheersers sigbaar. Die res van die wêreld – soos die ooste en die grootste dele van Afrika – het dit nie ervaar nie. Daar was geen globalisering of tegnologie wat lande en kulture aan mekaar verbind en wedersyds verander het nie. Die tydsgees van Wes-Europa was een van rasionele denke en kennis.

As ʼn mens egter na vandag se wêreld kyk, is dit bykans onmoontlik om net een tydsgees te identifiseer en definieer. Die ontploffing van kennis, die manier waarop dit geberg en oorgedra word en die verstommende ontwikkeling in tegnologie veroorsaak dat daar nie meer net een tydsgees is of kan wees nie, en dat die tydperke waarin ʼn tydsgees oorheers al hoe korter word. Die toekoms storm letterlik op ons af.

Om dus enigsins sin te maak van die tyd waarin ons onsself bevind, sal daar erkenning moet wees dat daar tans in die wêreld meer as een tydsgees is.

Soms oorvleuel hulle en soms kom van hulle tot ʼn einde. Dit sal ook goed wees om in gedagte te hou dat daar met betrekking tot enige tydsgees, oorsake en gevolge is. Soms mag wat ʼn mens op die eerste oog opslag as “tydsgees” definieer, dalk eerder die oorsaak of gevolg van ʼn ander tydsgees wees. Sekere tydsgeeste het ʼn korter leeftyd as ander, en ander kan oor tyd ʼn verandering oorgaan.

In ʼn 2019 akademiese artikel oor die begrip tydsgees, kom prof. Monika Krause van die London School of Economics tot die gevolgtrekking dat ʼn tydsgees die beskrywing van spesifieke kulturele patrone in die onderskeie samelewings en wêreldwyd is. As ʼn mens dus na vandag se internasionale situasie kyk, kan ses faktore geïdentifiseer word wat moontlik as “kulturele patrone” gedefinieer kan word:

  1. Die gebrek aan goeie polities-staatkundige leierskap internasionaal. In klaarblyklike kontras, vind ʼn mens dat die “sterkman leierskap” steeds in die VSA en Rusland aanvaar word (Poetin en Trump).
  2. Die oënskynlike verswakking van globalisering, aangevuur deur opkoms van etniese mobilisering en etniese identiteit. Dit sluit die groei van Islam in Europa en Afrika in – hoofsaaklik deur wettige en onwettige immigrasie/ vlugtelinge. Daar is aanduidings dat, as die situasie nie verander nie, Moslems in die volgende 10-20 jaar die meerderheid van kiesers in Frankryk en sommige ander lande in Europa gaan wees. Hierop reageer baie Europeërs met ondersteuning aan politieke partye met standpunte wat anti-immgrante en -vreemdelinge is.
  3. Die krag van die internet en veral sosiale media, met die gepaardgaande fopnuus. Die invloed van sosiale media is so oorheersend dat baie mense (veral jongmense) hulle sienings en soms selfs hulle “waardes” op sosiale media kry. ʼn Verdere newe-effek is jongmense wêreldwyd se kultuur van toe-eiening: die samelewing skuld my iets, en ek wil dit kry sonder harde werk. Die toename van fopnuus en gemanipuleerde nuus is so sterk dat sommige praat van die “post-waarheid”-era.
  4. Die opkoms van wokeness en politieke korrektheid in veral die Weste het ʼn sterk invloed op universiteitskampusse en die sakewêreld. In die sakewêreld kan dit veral gesien word in die klem wat institusionele beleggers (die “groot” fondse) op ʼn maatskappy se “ESG” faktore plaas: die omgewing, sosiale kwessies en korporatiewe bestuur. Hiervolgens behoort maatskappye nie in die eerste plek wins te maak om aan aandeelhouers te keer nie, maar moet groter klem op nie-finansiële faktore plaas, ook omdat klimaatverandering onafwendbaar is en gestuit moet word. In die geledere van studente en akademici kom dit na vore in die totale verwerping van historiese figure en leiers wat nie volgens hulle (die studente en akademici) waardestelsel opgetree het nie. Hierdie bewegings is dus totaal a-histories.
  5. Daar is ʼn Engelse gesegde wat lui: “Demography is destiny”. Dit beteken dat die bevolkingsgroei in ʼn land uiteindelik ʼn beduidende impak het op die toekoms van so ʼn land. Wat vandag gebeur is dat welvarende Westerse lande se bevolkingsgroei negatief is, en dat die lande wat nader aan die onderkant van die welvaartsleer is, se bevolkingsgroei hoër is as wat hulle lande se ekonomieë kan bekostig. Dit beteken dat byvoorbeeld die Franse nog gouer ʼn getalleminderheid in die land van hulle geboorte gaan wees, as gevolg van ʼn baie lae bevolkingsgroei aan die een kant en instroming van nie-Franse aan die ander kant.
  6. Laastens, maar nie die minste nie, ondervind die wêreld tans die snelle ontwikkeling van Kunsmatige Intelligensie (KI) – waarvan byvoorbeeld ChatGPT ʼn verskynsel is wat almal met toegang tot ʼn slimfoon of skootrekenaar vrylik kan gebruik. Baie ander moontlikhede van KI laat by baie mense die naderende gevoel van magteloosheid.

Die futuroloog Bernard Marr het in Oktober 2023 tien tendense geïdentifiseer wat volgens hom die wêreld in 2024 en verder gaan definieer. Dit oorvleuel op ʼn paar plekke met die ses hierbo genoem.

Hieronder tel die opkoms van intelligente masjiene, dit wil sê, kunsmatige intelligente; dat klimaatsverandering al hoe meer ʼn politieke kwessie sal word; dat die generasiegaping net groter gaan word; dat die sogenaamde kulturele oorloë sal voortwoed (ondersteun deur sosiale media); en dat daar al hoe meer migrasie en mobiliteit gaan wees. Nuwe tendense wat Marr identifiseer, sluit in die ewolusie van werk, met groter klem op vaardighede en voortdurende leer; dat verstedeliking sal voortgaan en skerp toeneem; en dat die hele onderwysstelsel herbedink sal moet word.

Die bogenoemde patrone of tendense skep ʼn raamwerk om die tydsgeeste van 2024 te bepaal. Myns insiens is die sterkste tydsgees op internasionale vlak, die een van tegnologiese ontwikkeling, meer spesifiek die ontwikkeling en vinnige toepassing van KI. Dit word gevolg deur migrasie en mobiliteit (as gevolg van die grondliggende verandering in werk). Derdens is daar ʼn groeiende tydsgees van etniese nasionalisme, soos wat veral Europese lande hulleself deur migrasie en vlugtelinge bedreig voel. Die vierde tydsgees is dié van wokeness en politieke korrektheid, maar is hoofsaaklik beperk tot Europa en die VSA. Of hierdie vier tydsgeeste ʼn onmiddellike internasionale keerpunt gaan veroorsaak, is moeilik om te sê, maar dit sal in die volgende vyf jaar wel ʼn beduidende impak hê.

Waar laat dit Suid-Afrika en ons toekoms – veral met ʼn mate van politieke verandering wat na 29 Mei 2024 ʼn werklikheid kan word?

Die vier groot tydsgeeste hierbo genoem, is uiteraard ook op ons van toepassing, maar in wisselende mate. KI gaan nie ʼn onmiddellike keerpunt bring nie, aangesien Suid-Afrika en die res van Afrika altyd ʼn tree of wat agter die nuutste internasionale ontwikkelinge is.

Die tweede (migrasie en mobiliteit) is iets wat ons reeds deeglik ervaar. Enersyds verlaat goeie (wit en swart) breinkrag die land steeds, op soek na beter werksomstandighede, ʼn meer stabiele omgewing en veiligheid. Andersyds sien ons die impak wat die instroming van migrante uit die res van Afrika op ons skaars hulpbronne het. Daarom sal xenofobie en afrofobie nog lank met ons wees. Die groei in etniese nasionalisme het nog nie in Suid-Afrika wortel geskiet nie. Dit waarvoor Afrikaners hulle kollektief beywer, moet meer as kulturele bewussyn en vryheid beskou word. Informeel en op grondvlak is etnisiteit egter steeds ʼn werklikheid, of dit nou tussen Zoeloes en Xhosas is of tussen Tswanas en bruin mense.

Die laaste tydsgees (wokeness en politieke korrektheid) is (ongelukkig) in Suid-Afrikaanse intellektuele kringe welig aan die groei. Dit word sterk gedra en gedryf veral deur seker akademici en die media. Politieke partye pas dit toe wanneer dit hulle agenda pas. Dit gaan egter geen groot keerpunt bring nie, en mag oor die volgende paar jaar selfs verswak.

Is ons in Suid-Afrika by ʼn keerpunt wat die onderskeie tydsgeeste betref? Tot ʼn mate, maar nie ingrypend nie. Gaan die waarskynlike partypolitieke verandering ʼn invloed daarop hê? Nie onmiddellik nie, maar met verloop van tyd, wel. Die belangrikste is om aan ʼn mens se eie waardes vas te hou, nugter te bly oor die tydsgeeste om jou en jou eie verantwoordelikheid na te kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Wakker persoon moes al hierdie dinge reeds in 1987 voorspel het…

Marthinus W ·

Pnt 5: demografie. Poetin en sy woordvoerder, Dmitri Peskof, het die afgelope week die opmerking gemaak dat demografie Rusland se Achilleshiel is. Daar word nie genoeg Russe gebore om die land oor 30 jaar te bestuur nie. Hulle betaal reeds subsidies (“bonusse”) aan families wat meer as drie kinders kry.

Die Nederlandse argitek Thomas Rau, propageer n heel nuwe ekonomiese model, waar mense nie dinge koop nie, maar eerder huur, by die vervaardiger. Dit beteken dat die produk van beter gehalte gaan wees, en dat daar geen afval, gemors, gaan wees nie. Bosch neem deel aan die projek, en bou n yskas wat aan n persoon verhuur word teen 10 euro per maand. Na 15 jaar word die yskas afgetakel, en nuwe een word gebou. Philips maak nou gloeilampe wat 15 jaar of langer kan hou, ens. daar is n onderhoud met Rau, “The end of ownership”. Ons kan dus n beter toekoms bou, mits ons kreatief is, en eerlik met onsself wees: ons is nie die middelpunt van die heelal nie; moeder natuur is; ons is tydelike werkers.

Hendrik ·

Ek weet net van 2 gemeenskappe wat ver vooruit gekyk het en nou 30 jaar skarrel die demokrate rond om te red wat nog te redde is. Hierdie 2 gemeenskappe het water, krag , riolering ,veiligheid en ander gemeenskapsdienste. #Kleinfontein en #Orania.

chris ·

Die krag van die internet en veral die sosiale media en gepaardgaande fopnuus. Hierby kan gevoeg word,asook die verswakking in die geloofwaardigheid van die hoofstroommedia weens die feit dat hulle nie meer objektief berig nie,maar na die pype dans van hul aandeelhouers en korporatiewe rolspelers en net ‘n sekere narratief dryf soos met die pandemie van onlangs.

OW ·

@ Rep in die Wes Kaap.Dit is soos jy sê.Ek dink die rolspelers van daardie tyd tot begin van demokrasie in 1994 was so vasgevang in die verandering wat sou plaasvind,Mandela wat moes geweld afsweer om vrygelaat te word,die beïndiging van NP apartheid en KP partisisie,die skryf van die nuwe grondwet,dat min aandag aan voorspellings gegee is.

Pieter ·

Hendrik Orania is ‘n museum vir die Afrikaners. Mense gaan daarnatoe gaan om te kyk hoe lewe Afrikaners soos mense nou doen vir die Boesmans. Daar is een pad en dit is vorentoe.

skurweberg ·

Hierdie artikel het ‘n intelektuele gesprek ontketen wat lanklaas ervaar is. Wonderlike menslike insigte wat vanuit ‘n posisie van integriteit gevoer word, word geopenbaar en behoort gestimuleer te word. Dis ‘n voorreg om alles te lees.

Goldy ·

Maar waarom potch getransformeer en Christenskap weggevat, kyk hoe lyk die nalatenskap nou. Daars oral slaggate en dwlms op die bult, wat n nalatenskap.

Goldy ·

Pieter gaan kyk eers voor jy praat, daars dienste, geen slaggate, veiligheid, jongmense wat leer en aan toekoms bou, en belangrikste, hoop vir groei. Hou op so eenogig wees en maak jou kop oop vir beter werkende alternatiewe.

Hendrik ·

Pieter ons woon in Kleinfontein al vir 16 jaar. My hare rys as ek sien hoe Pretoria agteruit gaan en as ek elke dag huis toe gaan is Kleinfontein nie ‘n museum nie maar ‘n leefwyse waar Boere-afrikaners aktief hulle kultuur uitleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.