Die gemeenskapsidee teenoor die #MustFall-beweging

np-van-wyk-louw-sentrum

Foto: Facebook.

Deur Christoff van Wyk

Uiteindelik het een “dapper” student van die Universiteit van Kaapstad uitgekom en presies gesê waaroor die hele #MustFall-beweging werklik gaan: ’n totale afbreek van alle bestaande kennis, tradisie en kultuur (lees veral hierin Westers) en ’n heropbou hiervan vanuit ’n Afrika- en spesifiek ’n Suid-Afrikaanse konteks.

Die video waarin hierdie bekentenis gemaak word, is op 13 Oktober op YouTube gepubliseer en het intussen wêreldwyd versprei, tot so ’n mate dat dit teen 18 Oktober reeds byna 680 000 keer gekyk is. Die video kan hier gesien word.

Die student voer in die video aan dat iemand soos Newton kwansuis ’n appel uit ’n boom sien val het en daaruit afgelei het wat gravitasiekrag is en toe ’n wetenskaplike formule ontwikkel het om dit te verduidelik. Sedertdien word dit oor die hele wêreld eenvoudig aanvaar as die norm, sonder dat daar enigsins besin is daaroor of dit “werk” vir mense in Afrika of ander vastelande en lande. Haar voorstel is dat alle wetenskaplike kennis soos dit tans in Suid-Afrika onderrig word, gedekoloniseer moet word. Dit behels dat wetenskap soos dit tans geleer word, in totaliteit geskrap moet word, en dat die wetenskap as vakgebied van voor af ontwikkel moet word, binne die konteks van Afrika en dan spesifiek ook Suid-Afrika. In dié verband moet verskynsels soos toorkuns en tradisionele geneeskunde ook in ag geneem word.

Meeste persone, ongeag hul ras, wat die sogenaamde Westerse wetenskap (asof daar verskillende wetenskappe is) van Newton aanvaar, begroet hierdie soort retoriek met ’n groot mate van afkeur en belaglikheid. Intussen het daar ook reeds ’n groot klomp video’s verskyn wat die spot dryf met die student se opmerkings. Sommige hiervan is selfs vulgêr.

Waar kom hierdie idees vandaan? Ooglopend is daar ’n ontevredenheid met die huidige stand van sake onder ’n groot gedeelte van die swart jeug. Hierdie jong mense voel om verskeie redes verontreg en in die steek gelaat. Hulle vaar swak op skool en universiteit en baie van hulle val heeltemal uit die onderrigsisteem uit. Die navorsingsmaatskappy Eighty20 beweer dat die matriekgroep van 2013 die hoogste slaagsyfer in post-apartheid behaal het met 78,2%. Wat hierdie prestasie egter heeltemal ongedaan maak, is die feit dat slegs 562 112 van die 1 261 827 leerlinge wat graad 1 begin het, uiteindelik die matriekeksamen in 2013 geskryf het. Daar het dus 699 715 leerlinge langs die pad uitgeval. Wat word van hulle?

Onder die studente wat wel deurdruk en hul matriek met universiteitstoelating slaag, beskik ’n groot gedeelte nie oor die nodige geletterdheid om die strawwe akademiese vereistes van tersiêre onderrig by te bring nie. Een van die groot struikelblokke is taal. Die gebrek aan moedertaalonderrig veroorsaak dat baie swart studente gedwing word om in swak Engels skool te gaan en te studeer. Die agterstand wat in die beginjare opgedoen is, word eenvoudig nie later ingehaal nie, en gekombineer met die finansiële uitdagings wat baie swart studente in die gesig staar, is daar ’n groot getal wat eenvoudig opskop. Luidens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings het swart studente in 2012 70% van die studentegetalle uitgemaak. Maar meer as 50% van studente wat ingeskryf was vir ’n drie- of vierjaargraad, het nie die kursus voltooi nie.

Wat het hierdie studente, wat met talle uitdagings en frustrasies gekonfronteer word, om op terug te val? Die antwoord is, bittermin. Hul ouers en voorouers kom uit ’n kultuur van struggle waar daar geveg is teen die stelsel wat hulle onderdruk het en dit is hierdie kultuur wat nou voortgesit word teen die “magte” wat nou die swart jeug onderdruk. Die beginsels van selfwerksaamheid, verantwoordelikheid en verdienste is totaal buite die verwysingsraamwerk van hierdie groep wat hulself tot die huidige rewolusie verbind het. Tesame hiermee word daar ook ’n identiteitskrisis beleef wat veroorsaak dat hierdie groep jong mense nie weet wie hulle is en waarheen hulle op pad is nie.

’n Dosent vertel onlangs dat hy voor sy klas staan en gesels met ’n jong swart student. Hy is Afrikaans, maar gee in Engels klas. Die jong meisie sê toe vir hom sy verstaan nie hoekom die Afrikaanse mense so te kere gaan oor Afrikaanse onderrig nie. Sy vra hom toe, ewe ernstig: “Hoekom word julle nie ook Amerikaans, soos ons nie?” Die oorblufte dosent vind toe by verdere navraag uit dat sy as ’n weeskind by haar Xhosa-ouma grootgeword het in ’n landelike gebied, nadat haar ma dood is aan vigs. Sy het egter besluit om hierdie kultuur agter te laat en te verruil vir ’n kultuur wat sy as Amerikaans eien.

Die teenstrydighede wat hier gesien word tussen die #MustFall-beweging en die student wat ’n Amerikaanse, en by implikasie wit, Westerse kultuur wil aanneem, is werklik tekenend.

Die swart jeug van vandag is op soek na iets wat hulle nie kan verduidelik of eien nie, en een van die grootste redes wat bydra tot hierdie verwarring is die verlies aan ware gemeenskap.

Die mens is van nature ’n gemeenskapswese en nié ’n vryswewende individu wat slegs sy eie belange najaag nie. Vandag word laasgenoemde egter sterk voorgestaan en daar waar die individualistiese mens nog wel oorgaan daartoe om gemeenskappe te vorm, word dit slegs gesien as blote meganiese instrumente wat geskep word om in die individuele behoeftes te voorsien. Die verskraling van die gemeenskapsidee veroorsaak dat die mens nou afgesonder en verhewe word bo die idee van ’n gemeenskap in plaas daarvan dat die individu ’n spesifieke beliggaming van gemeenskap is.

Prof. Danie Goosen skryf in sy boek Oor gemeenskap en plek dat die konstituerende aspekte van gemeenskap twee kernelemente bevat, naamlik mede-verskyning en gemeenskaplike sake.

Met mede-verskyning “…. val die klem op die gebeure tussen mense, op hulle interaksie, op die saamwees in die werkwoordelike sin van die woord”.

Met gemeenskaplike sake word bedoel “… dinge wat nie noodwendig aan die jongste modegier onderwerp is nie, maar wat eerder deur ’n sekere onveranderlikheid gekenmerk word. Laasgenoemde lê opgesluit in daardie dinge wat gemeenskappe met mekaar deel en wat oor tyd heen ’n vaste karakter verwerf. Ons noem dit die gemeenskaplike sake.”

Albei hierdie aspekte moet teenwoordig wees indien daar werklik sprake kan wees van gemeenskap.

In bogenoemde voorbeelde vind ons dat albei die genoemde studente ’n uiterste vorm van mede-verskyning, of gemeenskaplike sake aanhang. Indien mede-verskyning tot die uiterste gevoer word, vind ons dat grense verwater en dat in die gees van globalisering enige persoon ’n ander taal, kultuur of identiteit kan kies en aanneem, of vervreem en afskaf. Die noodwendige gevolg is egter dat identiteit, en tesame daarmee verskillende kulture, mettertyd onder druk sal kom en bloot uitsterf soos wat gemeenskappe verbrokkel.

Indien die gemeenskaplike sake egter verabsoluteer word, lei dit dikwels tot fundamentalistiese bewegings wat hulself “… so rondom gemeenskaplike sake [mobiliseer] dat hulle hulself op ’n absolute wyse van andere buite en binne hul eie tradisie afgrens”. Hierdie afgrensing kan ook duidelik gesien word in die optrede van die studentebetogers se pogings om iets van ’n gemeenskap te vorm rondom gemeenskaplike sake. Maar, deur die weersin wat hulle vertoon vir sinvolle mede-verskyning (interaksie tussen individue en gemeenskappe), veroorsaak hulle dat hul beweging vinnig ontaard in ’n fundamentalistiese beweging wat ware gemeenskap teenwerk.

Ons het dringend weer gemeenskap in die ware sin van die woord nodig, maar dit sal vereis dat ons almal op ʼn ingeligte wyse te werk gaan met die realiteite om ons. Dit behels die identifisering van gemeenskaplike sake, asook die aanvaarbare wyse waarop mede-verskyning behoort plaas te vind.

In die woorde van Goosen: “Ons mede-verskyning word deur gemeenskaplike sake begrens. So – in die samespel tussen die dinamiese mede-verskyning en die stabiliteit van gemeenskaplike sake – word gemeenskap in die volle sin van die woord moontlik.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Wie het die gesegde uitgedink: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Stephen ·

Hulle wil ook seker ook die wiel her ontwerp .Vierkantig ipv rond

Theuns ·

Uitstekende Kommentaar Christoff. Laat mens dink! Die modes operandi van ons landgenote is onverstaanbaar, ondeurdag en gevaarlik. Hulle is wel ‘n gemeenskap/trop wat dieselfde gedagtes laat realiseer om te verwoes! Die westerse beginsel van oorsaak en gevolg word as volg deur hulle geintrepeteer: ” Ons is ongelukkig oor wie ons is, asgv Apartheid(Oorsaak) daarom brand en vewoes ons (Gevolg) en nou word ons gevang as gevolg van die gevolg wat einlik die oorsaak is dat ons nou in die tronk is!” Sien julle hoekom julle beskawing nie vir ons studente werk nie? Die beginsel van ‘n vrye wil word glad nie in ag geneem nie! Groete

Pyrrho ·

Theuns, ek kan ongelukkig nie hiermee saamstem nie. Die stuk is bra onsamehangend. Of oorsaak/gevolg eksklusief ‘n Westerse beginsel is, is ook twyfelagtig. Daarbenewens moet inag geneem word dat die meerderheid van die Westerse wiskunde, wetenskap en tegnologie van ander gebiede afkomstig is. In die breër geskiedenis van die mensdom staan Afrika self nie terug nie en beskik oor ‘n merkwaardige geskiedenis. Ongelukkig het Westerse fundamentalistiese Christene die biblioteek van Aleksandrieë afgebrand, en kan ons nou net wonder oor die boutegnieke van die piramides en ander prestasies van ons vasteland.

Theuns ·

Beste Pyrrho, dankie vir jou terugvoer, My skrywe is bedoel om onsamehangend te wees in terme van die studente se omsamehangend optrede te wees! Die Oorsaak en Gevolg beginsel ontaard in ‘n bose kringloop as die studente elke keer ‘n ander oorsaak kry om hulle optrede te regverdig. Jy kan nie die “Trop” verskynsel verkwalik vir jou optrede nie omdat jy ‘n vrye wil het om nie aan kwaadwillige/misdadige optrede deel te neem nie . Sover jou verwondering vir die Piramides strek net die volgende: Dit is nie deur Aliens gebou nie maar deur die Egiptenate self. Ek sal jou eendag verduidelik hoe. Die biblioteke in Aleksandrie is deur hulle eie mense wat Moslem terroriste was, verwoes. Groete.

Oudste ·

My troetel baksteen voer ‘n beter argument as die persoon wat die dekolonalisering van Westerse wetenskaplike argument voer. Waar was jou voorvaders, sus, toe Newton hierdie teorie neergepen het?

Asjas ·

En hopelik help hulle wetenskaplikes reg. Die aarde is plat, nie rond nie. Ons sou lankal weg gesweef het aangesien daar geen gravity is nie.

lettie ·

n Baie verfrissende kyk op die huidige studente tameletjie. Dis jammer dat politiek en verdraaide propaganda aan die jeugmassa opgedis word terwyl hul nog naief is en dit soos n spons opsuig. Sekere politieke partye stook onderlangs onluste vir sogenaamde revolusie – terwyl die eindproduk nie so eerbaar is nie. Op die einde gaan dit oor mag en geld – iets wat net deur die massas verkry kan word .

lettie ·

politiekery – van sekere politieke partye wat nie n eerbare agenda het nie. Hul hits en stook onderlangs gemoedere op sodat hul die steun van die massas kry- en daardeur verkry hul slegs iets waarna hul smag – geld en mag

Asjas ·

Ag nee, my maagspiere kan dit nie meer hou met die klomp narre nie! Ek kan nie wag vir 1 April, dit gaan seker die beste gekkedag nog ooit wees.
Terloops, wie anders se appels sweef in die lug rond nadat dit van die boom afval. Myne val maar nog steeds, net soos in Newton se dae :-(

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.