Die grootste Sol-Tech-skenking nóg

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die eerste graaf vol grond op die bouterrein van Sol-Tech se nuwe kampus omgespit. Foto: Reint Dykema.

En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ‘n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.” (Markus 12:42-44)

Deur Monica Mynhardt

Een Donderdagoggend in September, buiteseisoens warm, het Solidariteit onverwags hul grootste skenking vir die nuwe Sol-Tech-kampus nóg ontvang.

In ʼn netjiese ou Mercedes het ʼn netjiese ou oom en tannie by die Solidariteit-hoofkantoor aangekom. Met ʼn geblokte knopieshemp, broek te hoog opgetrek en geesdrif nog hoër, het die oom en tannie doelgerig na die hoofgebou gesoek. Ek loop dié twee raak waar hulle effe verlore op die regte plek, maar by die verkeerde deur ingestap het.

“Kan ek oom-hulle help?” vra ek.

Sonder om te groet antwoord die oom met saaklike opgewondenheid: “Ons is hier om geld te gee vir die nuwe Sol-Tech-kampus.” Sonder om homself of die tannie ooit voor te stel, maak dié twee ʼn blywende impak.

Ek stap saam met hulle na die deur van die ontvangsdame wat hulle aanvanklik misgeloop het. Die ontvangsdame verwelkom hulle en verduidelik die prosedure wat gevolg moet word wanneer mense skenkings wil maak:  ʼn Mens moet ʼn debietorder teken waarin jy maandeliks ʼn vasgestelde bedrag aan, in hierdie geval, die Solidariteit Boufonds maak. Hierdie geld word dan aangewend om bouprojekte, onder meer die nuwe Sol-Tech-kampus, te finansier.

“Ek het nie ʼn bankrekening nie,” verduidelik die oom. “Ek is ʼn pensioenaris wat nie ʼn bankrekening het nie, maar ek het R500 kontant in my beursie wat ek vandag aan die Sol-Tech-kampus wil skenk.”

“Ja,” val die tannie hom in die rede, “en ek het in hierdie stadium nie regtig veel geld nie, maar ek het 250 bakstene wat ek graag vir die kampus wil gee.”

Oplaas stap die oom en tannie terug kar toe. Iets is anders aan die oom se stap, iets ligter. Hy stap dalk R500 armer weg, maar ongetwyfeld ʼn ewige nalatenskap ryker.

My hart vermurwe.

Dié twee bekende vreemdelinge bring die besef by my tuis: Elke skenking wat ons nog vir Sol-Tech ontvang het, is vanselfsprekend oneindig kosbaar. Daar is egter iets anders aan hiérdie skenking. Die twee oumense het nie uit oorvloed oorvloedig gegee nie. Hulle het uit die weinig wat hulle het, álles gegee.

Iewers het hulle ʼn saak raakgesien waarvoor hulle bereid was om meer te gee as wat hulle kon, en meer as waarvoor ons ooit kon hoop. Met dié gebaar het R500 en 250 bakstene soveel meer as net R500 en 250 bakstene geword.

Dit het twee mense geword wat gló in die tuiste en toekoms van ʼn volk. Dit het ʼn generasie geword wat onthou hoe moeilik dit was om tot hier te kom. Dit het ʼn herinnering geword van die redes dat ons bly. Dit het die Afrikaner se identiteit van onwrikbare bymekaarstaan vir vooruitgang geword.

In die seisoen van oënskynlike wanhoop waarin ons land tans verkeer, het ʼn ou oom en tannie op ʼn warm lentedag in September my buiteseisoens opnuut hoop gegee.

  • Monica Mynhardt is ’n navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Sarel Strydom ·

Dit is die geheim wat ons nog nie aangeler het nie. Die vyand juig oor ons “mismoedigheid” en selfs Satan lag van lekker kry. Hoe meer Positieweteit ons openbaar hoe makliker sal die stryd raak.

Sarel ·

Positiweteit behoort aan God
Negatiweteit is die vrug van die vyand

Dolf ·

Bou Sol-Tech en Akademia in die Suid Kaap, Orania of Weskus en dan sal ek ‘n stewige bydrae lewer. Dit sal die begin wees van iets groots.

AndrewL ·

Nee Dolf, Orania het net ‘n hospitaal nodig met personeel wat nie daar is vir die “job” nie, maar vir die werk.

KrokodilBotha ·

Dolf, gaan kyk na die landskaart. Daars nog n Vrystaat, Transvaal en n Natal. Dink die oos kaap is te ver , ja. hehe

Sven ·

Andrew, begin klein en groei. Wie weet, eendag kan ‘n mediese skool daar gestig word.

Wielspore ·

Puik, dat twee mense van hulle waardevolle erfenis aan afrikaans skenk.

sweis ·

Wat n positiewe verhaal kan net dink wat gedoen kan word as elke afrikaans sprekende mens 500 rand gee dan koop ons n provinsie van die onderdrukkers.

Sann ·

‘n Mooi stukkie skryfwerk oor twee mense wat gee met hulle harte, en iemand wat ontvang het met hulle harte. Dit is hoe konings gebore word.

Stephan de S ·

Dit is inderdaad die grootste bydrae ooit. Die oom en tannie laat my trane in die oë kry…….dis hoe die Afrikanersaak oor jare beredder is. Jammer oor die paar “spotters”wat afbreuk doen aan hierdie ongeëwenaarde gesindheid wat in die artikel openbaar is. Ek s so bly dat iemand die gelykenis vd doringboompie aangehaal het…..hoe gepas!

WMirabilis. ·

Dit is hoekom ek met hart en siel glo dat ‘die vertrapte doringboompie’ soos in Totius se Vergewe en Vergeet, stadig maar seker weer uit die stof sal opstaan.

DT ·

So ‘n pragtige goedvoelstorie is wat ons elke dag benodig. Dankie onbekende Oom en Tannie!!

Ruben ·

Sol tech is wonderlik meer as dit…my vraag is net die studente wat daar gaan studeer en hulle grade kry…hoeveel gaan bly en hoeveel sal nie so gou as moontlik land uit nie?

Kobus ·

Ek onthou toe ek as tien jarige kaalvoet seuntjie in Boksburg geld ingesamel het vir ‘n nuwe Afrikaanse universiteit in Johannesburg. Elke 5c sal ‘n baksteen kon koop. 7 jaar later was ons die eerste studente by RAU se nuwe kampus.

Piet ·

Lank ‘n verbintenis met RAU gehad. Hierdie een MAG ons nie laat gilp nie. Groot gebedsask en Geloof.

jaco ·

waar gaan Sol-Tech se afrikaanssprende wit en kleurlingstudente almal werk kry? weet hulle van die nare werklike waarheid van regstellende aksie? Moenie sê hulle gaan almal in Australië, Amerika en Europa werk kry nie. Duisende van hulle kan so n verhuising nie bekostig nie.
En hoe gaan Sol-Tech se personeel by regstellende aksie verbykom? as die personeel n sekere getal oorskry of as die finansiele omset n sekere bedrag oorskry, MOET regstellende aksie toegepas word. Dit help ook nie om die personeel met kleurlinge te laai nie. selfs in die wes-kaap word besighede al reeds gedwing om personeel volgens die nasionale demografie aan te stel. dit benadeel kleurlinge net soveel as wit mense. moet ook nie die skoonmaker of die tea girl op die direksie sit nie. dis window dressing en die dept van arbeid soek juis vir sulke goed. boetes is swaar en kan besighede, ook Sol-Tech, laat vou.
My besware hierbo is nie gebaseer op negatiwiteit en fatalisme nie; inteendeel, dis gebaseer op harde ware feite.
Ek dink nie dit gaan werk nie. 10 jaar dan is Sol-Tech en Akademia down the drain.

Petrus ·

Daarom is dit beter om hierdie instansies in Orania te bou.

Omgee ·

Met tegniese vaardigdhede hoef jy nie vir ‘n “baas’ te werk nie. Dit is baie makliker vir ‘n goeie ambasman of vrou om ‘n eie besigheid te begin en hoeg nie bak-hand te staan vir ‘n werk nie.

Petrus ·

Die probleem, Omgee, is dat vakmanne wat hul eie besighede bedryf steeds vir werk moet tender. Daar staan wittes agter in die ry, al is hul tenders die laagste. En sodra die besigheid groei is die inspekteur van die staat in jou kantoor om vas te stel of daar swart bestuurders is. Later moet hulle ook aandele ontvang. Selfs die bankbestuurder sal vrae vra. Voor jy weet is jou besigheid onder die water en jy sit met die skuld.

Jerry ·

Dit is n baie positiewe en unieke mooi storie met n gepaste bybelse aanhaling, maar sonder die oom en tannie se name en van sal dit, maar net n baie positiewe en mooi storie bly. Hoekom dan as ons Afrikaner heldin se storie, maar ook naam, Racheltjie de Beer so bekend is, word hierdie twee bekende vreemdelinge se storie vertel, maar die name van ons weerhou, vra ek nou met trane in my oe.

Anoniem ·

Die oom en tannie doen dit nie vir die “fame and glory” nie. Onthou die Bybel: as jy goed doen, moet die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie

Charles ·

Geseënd is die Here, Sy seen is op ons Mense en ons geliefde Taal!

Hanlie ·

Vreeslik baie dankie Oom en Tannie. Hoop Liewe Jesus seen julle met hierdie wonderlike daad wat julle vir ons Taal doen. Aan die wat dink dit gaan nie werk nie, by GOD IS ALLES MOONTLIK!!!

ou joe ·

Nie R500,00 of 250 bakstene armer nie maar ‘n duisend maal ryker.

hercu ·

loof die Koning uit die diepte van my hart!

#saluut#

mag die genade en vrede van Jesus, die liefde van Abba Vader en die alomteenwoordige ervaring van die Heilige Gees vir altyd by julle twee dapper mense wees —> Shalom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.