Die invloed van Covid-19 op taal

‘n Onderwyser by ‘n skool in Alexandra berei ‘n vertrek voor vir leerders wat positief vir Covid-19 toets. (Foto: Luca Sola/AFP)

Wêreldwyd is haas geen lewensterrein onaangeraak gelaat deur die Covid-19-pandemie nie. Een aspek waaraan ʼn mens nie noodwendig dadelik dink nie, is hoe dit taal verander het.

Taal tel in gesondheidsorg

Die rol van taal tydens die pandemie was van groot belang. In die oordra van inligting oor gesondheidsake en die behandeling van siektetoestande kan misverstande wat weens verkeerde taalgebruik ontstaan, letterlik lewensgevaarlik wees.

ʼn Studie in die VSA waaroor in 2017 berig is, het byvoorbeeld bevind dat mense met beperkte Engelse taalvaardighede wat mediese behandeling deur middel van Engels in die VSA ontvang, dikwels onnodige toetse ondergaan. Daar is verder ʼn abnormale hoë voorkoms van verkeerde diagnoses en herhaaldelike hospitaalopnames onder hulle.

Dit blyk die geval te wees in alle gevalle waar pasiënte deur middel van ʼn tweede taal mediese dienste verkry. Kommunikasie in ʼn tweede taal wanneer jy aan stres of trauma blootgestel word, soos tydens ʼn ernstige gesondheidskrisis, is veel meer uitdagend en uitputtend. Dit kan juis die spanning waaraan ʼn pasiënt en sy ondersteuningsnetwerk blootgestel word, vererger.

Nie alleen sorg kommunikasie in die pasiënt se eie taal dus vir wedersydse beter begrip nie, maar pasiënte sal ook vinniger herstel weens die gevoel van emosionele geborgenheid wat hulle met die aanhoor van hul eie taal ervaar. Moedertaalsorg (as ek die woord kan skep) is dus die beste opsie vir doeltreffende mediese behandeling.

Interessant genoeg is kennis hieroor nie net in eietydse studies te vinde nie, maar ook in die ervaring van ons voorouers, soos die Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH) in Pretoria bewys. Dit is die oudste algemene, privaathospitaal, sonder winsbejag, in Gauteng met ʼn aangrypende ontstaansgeskiedenis. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was daar ʼn groot behoefte aan goeie mediese sorg. Boeregeneraals CF Beyers, JH de la Rey en CR de Wet het kennis geneem daarvan dat Afrikaners wat hospitalisering benodig, ongemaklik gevoel het in die Britse atmosfeer wat in die bestaande hospitale geheers het. Pasiënte het groot behoefte gehad aan verpleging in eie taal- en kultuurverband.

Daar is dus met fondsinsamelings vir ʼn eie hospitaal begin. In 1904 het generaal Beyers sy huis in Sunnyside vir dié doel geskenk. ʼn Inrigting met ses beddens is ingerig. Aanvanklik het dit as “Het Hollands Hospetaaltje” bekendgestaan. Deur die jare het die naam verander en het dit verhuis na die perseel waar dit vandag is. Die hospitaal se sukses is dus onder meer aan taal te danke.

Dat taal die gehalte van gesondheidsorg direk beïnvloed, is dus ʼn gegewe, maar so ook dat gesondheidsorg taal kan beïnvloed.

Pandemie en infodemie

Veral in 2020 was daar nie net sprake van ʼn pandemie nie, maar ook van ʼn infodemie, aangesien mense oorstroom is met beide noodsaaklike, betroubare inligting, maar ook vals nuus. Binne dertig dae in 2020 is 361 000 000 video’s met die onderwerp van Covid-19 op YouTube gelaai, en sowat 550 miljoen twiets wat die woorde “coronavirus”, “corona virus”, “covid19”, “covid-19”, “covid_19”, of “pandemic” bevat het. Dit gee ʼn aanduiding van die reuse-hoeveelheid kommunikasie oor dié tema.

Een van die terugskouende studies wat in 2022 onderneem is, het die vals nuus wat in verskillende tale die rondte gedoen het vergelyk, en tot die interessante gevolgtrekking gekom dat die weergawes redelik eenders in Engels en ander tale was. Die taal waarin die nuus versprei is, het dus breedweg nie ʼn betekenisvolle invloed op die emosie van die boodskappe, temas of inhoud gehad nie. Waarom die inligting geskep en rondgestuur is, is egter ʼn meer ingewikkelde saak waaroor meer kennis ingewin moet word.

Nuwe tegnologie

Navorsing oor inligtingverspreiding tydens die pandemie is nie net handig om bronne en redes vir die skep van vals nuus te ondersoek nie, maar kan ook gebruik word om modelle te skep wat vals nuus kan identifiseer en uitfiltreer. Dit is maar een manier waarop dié krisistyd help met die ontwikkeling van nuwe tegnologie en programme.

ʼn Ander terrein waarop leemtes uitgewys is, is wat onderrig aan mense met spesiale behoeftes aanbetref. In die verlede was persoonlike kontak en toegang tot hulpmiddels deurslaggewend, maar tydens die wêreldwye inperkings moes onderrig noodgedwonge aanlyn en kontakloos plaasvind. Tolking na en van gebaretaal was dan soms onmoontlik. Dit het die kollig geplaas op die behoefte aan tegnologie wat hierdie leemtes kan oorbrug.

Selfs vir ontwikkelende tale was aanlyn onderrig moeilik. In haar artikel op The Conversation, “COVID was a setback for indigenous languages: South African lecturers on what went wrong” beskryf Sisanda Nkoala hoe plaaslike studente wat skielik weg van kampusse was en nie toegang gehad het tot al die tegnologiese hulpmiddels wat daar beskikbaar is nie, moes sukkel om hulle tale te skryf met sleutelborde wat nie voorsiening vir al die tekens maak wat hulle tale benodig nie.

Selfs al het onderriginstellings hulle dus toegelaat om werksopdragte of vraestelle in hulle eie taal te beantwoord, is die assessering bemoeilik deur hierdie gebrek. Sy spreek die hoop uit dat dié frustrasies ook daartoe sal lei dat die intellektualisering en tegniese ondersteuning van meer Suid-Afrikaanse tale bespoedig sal word.

Taalontwikkeling

Hoewel die oorheersing van sterk internasionale tale, en veral Engels in massakommunikasie tydens die pandemie die groei van kleiner inheemse tale benadeel het, het alle tale in dié tyd tog uitgebrei, veral wat woordeskat aanbetref.

Nuwe terme soos self-isolasie, sosiale afstand en grendeltyd het byvoorbeeld in Afrikaans deel van ons daaglikse spreektaal geword.

In sommige gevalle het tale op die pandemie se uitdagings gereageer deur nuwe woorde te skep. In ander is bestaande woorde en uitdrukkings aangepas om ʼn nuwe betekenis te kry, of het die gebruik daarvan van oorwegend akademiese na algemene spreektaal verander. Dink byvoorbeeld aan kudde-immuniteit en intubasie in laasgenoemde verband.

Hierdie veranderinge het ook nie eensklaps gebeur nie, maar deurentyd saam met die verloop van die pandemie ontwikkel. Selfs in Engels moes woordeboeke aangepas word om by die taalontwikkeling by te hou.

Ten slotte

Hoewel ons dus nie noodwendig 2020 en selfs ook 2021 as die beste jare van ons lewens sal onthou nie, het die pandemie, infodemie en wisselende mates van paniek waarmee daarop gereageer is, tog unieke geleenthede geskep vir ontwikkeling op vele akademiese terreine en navorsing hieroor.

Die mediese veld is uiteraard die eerste voorbeeld waaraan ʼn mens dink, maar taal het net so ʼn dinamiese groeitydperk beleef. In verskeie gevalle is die leemtes in ʼn taal of kommunikasiemodel as gevolg van probleme tydens die inperkingstye geïdentifiseer. In ander het die spoed waarteen woordeskat en uitdrukkings ontwikkel het om verstaanbaar met alle gemeenskappe en alle lae van die bevolking te kommunikeer, nuwe lewe in tale geblaas.

Noudat die lewe wêreldwyd weer na die ou bekende “normaal” terugkeer, is dit die ideale tyd om ʼn bestekopname te doen oor die Covid-19-taalervarings, beste praktyke wat tydens die pandemie gevolg is, asook leemtes wat deur taal en meegaande tegnologie aangevul kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henning ·

Alana Bailey plaas met hierdie artikel haar vinger stewig op die pols van ‘n aktuele probleemstelling: hoe betroubaar is nuus en inligting wat nie in Afrikaans verskyn nie, vir ons as Afrikaanssprekendes? Alana se artikel laat mens nie alleen regop sit nie, maar por die leser aan om ‘n saak wat ons almal raak, deegliker in oënskou te neem. Ek moet eerlikwaar sê dat ek nie so oor die onlangse pandemie, die infodemie en gesondheidsorg gedink het nie. Dankie vir ‘n prikkelende, uitstekende artikel Alana.

Alana ·

Baie dankie Henning. Die onderwerp interesseer my al meer, want ongeag wat ‘n mens se mening oor die pandemie is – dit het ons lewens geraak en weer bewys hoe taal gebruik kan word om ‘n mens ten beste of ten kwade te manipuleer. Verder is dit ook interessant om te sien hoe historiese gebeure taal beïnvloed. In ons leeftyd is dit seker een van die gebeure met die grootste internasionale impak. Ek waardeer die kommentaar!

JvR ·

Daar het deffinitief veranderinge ingekom. Voor 20 Maart 2020 was die woord “lockdown” n fliek se naam. Geen werklike betekenis. Ons het op skool geleer die spaanse griep was n epidemie. Toe skielik n pandemie. My woordeskat het natuurlik baie gekruid uitgebrei hoe verder die “nood toestand” geneem was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.