Die keuse tussen nasiestate en die ‘EUssr’

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die dekadelange naoorlogse ooreenstemming in Europa dat nasiestate in ʼn Europese “superstaat” moet opgaan is stadigaan besig om te verbrokkel. Dis te verstane dat die verwoeste en oorlogmoeë Europese state ná twee bloedige oorloë teen mekaar, ter wille van blywende vrede en ekonomiese voorspoed besluit het om eerder “saam te smelt”.

Maar die Brexit-referendum en die groei van nasionaalgesinde partye regoor Europa laat dit lyk of die gety moontlik besig is om terug te draai na nasiestate wat saamwerk eerder as saamsmelt. Een van pres. Donald Trump se voorste aanspraakmakers as Amerikaanse ambassadeur in Brussel, het nou verdere petrol op die vuur gegooi deur die EU met die USSR te vergelyk. Om sout in die geskokte Europese wonde te vryf, het hy boonop bygevoeg dat hy graag sal wil help om die EU tot ʼn val te bring net soos hy destyds die USSR tot ʼn val help bring het. Hierdie verdelende saak word later vanjaar verder op die spits gedryf in verkiesings in Nederland, Frankryk en Duitsland.

Kampe

Die twee kampe wat mekaar kwaai aankyk is die liberale internasionaliste wat ʼn al hegter Europese unie nastreef, teenoor die demokratiese nasionaliste wat ʼn terugkeer na samewerkende nasiestate voorstaan. Die internasionaliste sien die nasionaliste as verregse oproermakers wat Europese eenheid wil verbreek en lande weer teen mekaar wil opstel. Maar hulle sien hulself as progressiewe voorlopers wat almal wil vrymaak van die bande van landsgrense, die geskiedenis, kultuur en identiteit. Die nasionaliste sien die internasionaliste as ondemokratiese burokrate wat kiesers se kultuur en belange op die altaar van Europa wil opoffer, en hul identiteit deur massa-migrasie wil onderploeg. Maar hullesien hulself as demokrate wat hul lande se onafhanklikheid wil terugvat van die onverkose “Eurokrate” in Brussel. Hulle streef na politieke onafhanklikheid en ekonomiese interafhanklikheid.

Maar die vraag is watter kamp aan die “regte” kant van die geskiedenis is? Om daaroor te oordeel moet die belangrikste makro-neigings in ag geneem word.

Tien makro-neigings

Eerstens is die verbrokkeling van die voormalige USSR aanduidend daarvan dat die burokratiese sentralisme van multinasionale “ryke” nie kan standhou teen die desentraliserende impak van nuwe tegnologie nie. Natuurlik kan die kommunistiese USSR geensins met die EU vergelyk word nie, maar tegnologie bemagtig die enkeling en die gemeenskap op ʼn ongekende manier. Politieke strukture moet saam met hierdie desentraliserende kragte afwentel om demokraties te bly.

Tweedens is die Europese unie eerder die gevolg as die oorsaak van die langdurige vrede in Europa, hoewel dit vanselfsprekend ʼn goeie forum vir diplomatieke betrekkinge bly.

Derdens wil moderne volwasse mense vir hulself besluit. Demokrasie werk gevolglik veel beter as besluitneming af- eerder as opgewentel word. Besluite moet eerder nader as verder van mense geneem word, anders verander dit demokrasie in burokrasie.

Vierdens is politieke eenheid nie nodig om nouer ekonomiese samewerking te bewerkstellig nie. Mense dryf vandag regoor die wêreld met mekaar op die internet handel sonder om oor politici bekommerd te wees.

Vyfdens is Europa eerder ʼn uiteenlopende vasteland as ʼn homogene land. Wanneer te veel botsende belange saamgedwing en alles gestandaardiseer word, verswak dit nasionale eenheid en bevorder middelpuntvlietende kragte wat alles uitmekaar kan trek. ʼn Gestandaardiseerde stelsel neem nie die uiteenlopende politieke, ekonomiese en kulturele omstandighede genoegsaam in ag nie. Politieke stelsels moet tog vir die bevolking geskep word, en nie andersom nie. Veraf regerings vervreem kiesers omdat dit nie vir hierdie politici moontlik is om in voeling met hul kiesers en dié se omstandighede te wees nie. Die Europese hof wat gereeld wetgewing van lidlande omkeer, wek sterk teenstand by kiesers wat voel dat hulle demokratiese parlemente ondermyn word.

Veiligheid en migrasie

Sesdens noodsaak uitdagings soos veiligheid, migrasie, plaaslike vraagstukke en ekonomiese oorwegings regerings wat nader aan kiesers vinniger en beter besluite kan neem.

Die sewende oorweging is dat sentrale verafgeleë regerings oorhoofse besluite in die algemene belang moet neem, wat teen die belang van die samestellende dele kan indruis. Dikwels is hierdie gewaande “algemene belang” eerder die politici se eiebelang.

Ten agtste voel al meer kiesers vervreem omdat die dekadelange oorheersing van die liberale elite in Brussel se besluite oor massamigrasie sonder hulle instemming geneem is en ʼn blywende invloed op hulle toekoms gaan hê. Die kiesers in baie Europese lande voel ook bekommerd dat die voorneme om Duitsland in ʼn “Europese Duitsland” te omskep eerder tot ʼn “Duitse Europa” gelei het wat al almal voorskryf.

Die negende neiging is dat die politieke en ekonomiese beleid tans van mekaar geskei is. Europese state se regerings het nog belangrike besluitnemingsmagte, maar die monetêre beleid en al meer ekonomiese besluite word sentraal geneem. Dit lei byvoorbeeld tot groot ongelukkigheid onder Duitse én Griekse kiesers. Die een is kwaad omdat hulle vir die ander se swak besluite moet betaal, en die ander omdat hulle verarm word deur besluite wat ʼn ander land oor hulle geneem het. Party lande se voorkeur vir duur sosialistiese welsynstelsels en trae werksetiek lei daartoe dat ander lande se produktiewe bevolkings nog harder moet werk om ander te befonds.

Die tiende neiging is dat globalisering weer lokalisering aan die hand werk, hoe teenstellend dit ook al mag klink. Hoe meer mense wêreldwyd met mekaar skakel en saamwerk oor noodsaaklike vraagstukke soos die omgewing, die internasionale ekonomie en vrede, hoe belangriker word hulle eie gemeenskappe vir die meeste van hulle.

Die keuse is nie tussen multilaterale samewerking oor feitlik alles tussen ʼn magdom lande of eensame afsondering met elkeen op sy eie nie. Multilateralisme ondermyn demokrasie omdat dit magte van kiesers na burokrate opwentel, terwyl afsondering vandag nie meer moontlik is nie.

Maar daar is ʼn derde weg. Bilaterale samewerking tussen twee lande of vrywillige samewerking tussen vele lande oor sake van gemeenskaplike belang bied die beste van twee wêrelde. In so ʼn stelsel bly die oorspronklike magte by die nasionale kiesers en het hulle nie net afgewentelde magte wat weer deur die sentrale burokrasie teruggeneem kan word nie. Dis meer van ʼn Europese federasie as ʼn Europese unie. Daarom lyk dit of die beste demokratiese oplossing bly om lande se politieke onafhanklikheid te beskerm, maar ekonomies en met ander globale sake met mekaar en oor alle grense heen saam te werk. Nee, die EU is beslis nie die “EUssr” nie, maar burokratiese sentralisme ondermyn demokrasie, nasionale ekonomiese groei én gemeenskappe se taal, kultuur en identiteit.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Hansie ·

Uitstekende analise van die verskillende politieke strominge, alles maak meet sin, baie dankie!

Basjan ·

Nee, o aarde! Ek het groot bewondering vir die werk wat Flip Buys en Solidariteit doen, maar wraggies hier teen punt 8 van sy ellelange relaas moes ek opstaan en koffie drink om nie aan die slaap te raak nie! Is daar nie ‘n kort en kragtige manier om hierdie interessante tendens te beskryf/uiteen te sit nie? Langdradig.

skorra ·

Uitstaande artikel. Vir my persoonlik – met my meer beperkte verwysingsraamwerk – is veral neigings drie , vyf (met sy sentrifugale uitkoms) en die skynbare, maar tog logiese kontradiksie in tien baie verfrissend gestel en beslis iets om aan te herkou. Baie dankie Flip, ons dom outjies wat ook vir onsself probeer dink, maar gou in ‘n passer-situasie beland, het meer soortgelyke artikels nodig!

John ·

Die EU se eerste oogmerke is lankal vergete. Europa is gekaap deur ‘n verwoede bende wat selfs ‘n magtige leermag soetjies opgebou het. Navo slurp miljoene $€£ op om die bende se belange te beskerm en uit te brei. Die hoofkantoor is eintlik weer in Duitsland gesetel. Leiers in Brittanje, die VSA en hier en daar in Europa het wakker geskrik. Dalk te laat, want dit gaan ‘n bloedige oorlog afgee om die gang van hierdie roekelose korps weereens te stuit.

Maria Van Dieweeck ·

Referendums behoort meer te gebeur oor kwessies soos atoom krag, doodstraf ens.

Jordaan ·

Referendums werk net met ‘n opgevoede kieserspubliek wat darem min of meer ‘n redelike ekonomiese status geniet. Wat gaan gebeur as ‘n referendum oor grondeienaarskap gehou word in SA?

Piet Badenhorst ·

Sekerlik is daar groepe wat nie van die ontleding gaan hou nie, veral die wat weet dat hul ten gronde sal gaan as hul sal moet voorbestaan sonder n ander waarop hy kan Parrasiteer.

Santie ·

Puik. So klink dit as iemand ewewigtig redeneer. Almal is al sat vir kommentators wat begin met die oortuiging dat liberalisme en globalisme die hemel self is en tans deur al die -ismes en -fobies bedreig word. En dan volg die verdraaide redenasie met “bewyse” so geldig soos hoenderverloskunde om by hul spesifieke punt uit te kom. Lg. is die essensie van fopnuus. Dankie tog vir ons kommentators van die Solidariteit-groepering wat nie rede het om in daardie koor te sing nie. Geseende dag vir jou en hulle, Flip Buys!

skorra ·

Net so Santie! Jy het my gevoel beter verwoord as wat ek self kan!

hanno ·

Dis my indruk dat die Anglisistiese “nasiestate” eintlik “volkstate” is, soos wat die Anglisistiese “families” eintlik “gesinne” is, of verstaan ek verkeerd?

Albert Marais ·

Lyk vir my meer na ‘n babelse toring. Kan nie 26 verskillende lande in een pot gooi en dink dit sal werk nie.

Pietman ·

Goeie artikel. ‘n nasie bestaande uit vele nasies en belangegroepe is ‘n verdeelde nasie en sal inmekaar val. Voorbeelde, die VSA met vele belangegroepe soos verskillende rasse is hoogs verdeeld, so ook SA. Rasse stem in blokke, in so ‘n demokrasie word slegs die belange gedien van die ras met die meeste mense.In die proses word vele kulture onderdruk en vernietig. Homogene nasies staan ‘n beter kans op oorlewing. Japan het bv geen rassisme nie en kan al hul hulpbronne fokus op ekonomiese groei, verbetering van lewenskwaliteit, en die uitbou en beskerming van hul eie kultuur.

hanno ·

“Nasiestate” teenoor “volkstate” : Binne my wete is die VSA en Suid-Afrika voorbeelde van “nasiestate”, maar Europese state eerder voorbeelde van “volkstate”, of verstaan ek verkeerd?

Japie Venter ·

Die kwessie van “internasionalisme” (globalisering) teenoor nasionalisme is baie interessant en die meeste van ons kan sien waarheen die neiging deesdae is. Die groter klem op nasionalisme is na my mening ook vir ons Afrikaner volk n riem onder die hart. Die Afrikaner sal nie in n eenheidstaat in Suid Afrika oorleef nie. Ons sal moet op n manier groter selfbeskikking moet beding in n volkstaat van ons eie. My versoek is derhalwe dat leiers van Solidariteit leiding sal neem en van die huidige klimaat wat sterk in die guns van naassinalisme neig, gebruik saal maak om die saak van die Afrikaner weer op die agenda van internasionale gemeenskap te plaas. Ons moet openlik oor die gedagte van n volkstaat vir die Afrikaner praat en n gesprek begin oor waar so n staat gevestig kan word. Ons kan moontlik kyk na n 10de provinsie wat mettertyd na onafhanklikheid toe kan beweeg. Wil Maroela media nie vir ons n forum skep waar ons oor hiedie gedagte “brain storming” kan doen nie. Ek glo daar is n behoefte na so iets.

Ou Kreool Afrikaner Vlakvark ·

1) Solidariteit kan nie alle Afrikaanssprekendes se probleme oplos nie. Ons het baie Solidariteite nodig. 2) ‘n Volkstaat vir Afrikaners op ‘n eie grondgebied sal seker ‘n eerste prys wees maar dan moet die Afrikaners bereid wees om self ook waterdraers en houtkapppers te wees, onafhanklik van volksvreemdes. 3) Die swartmense sal oortuig moet word dat hulle voorouers ook kolonialiste was anders sal hulle nie te vinde wees vir Suid-Afrikaanse volkstate nie. 4) Daar moet vooraf duidelik uitgemaak word wat ‘n volbloed Afrikaner is want vele huidige Afrikaners is van kreoolse afkoms.

Bosveld ·

Uitstekend Flip. Jy praat reguit oor wat reg is of dan behoort te wees. Die wêrld “haa”Trump omdat hy reg doen wat reg is. Kyk dieper. Die hele gegil gaan oor globalisering of dan Een Wêreldstaat onde een heerser (die Antichris). Presies waarteen die Woord waarsku. Ons woon noodgedwonge maar teensinnig in Europa.vir die afgelope 11 Jaar. Ons ervaar ELKE dag die gekheid van ‘n gewaande Demokrasie onder die juk van Brussels. ‘n Boer mag nie begin ploeg alvorens Brussels nie ‘n datum gegee het nie. Die plaaslike regering word voorgeskryf oor belasting en en en en en tot naarword toe. Jou skape wat al 2000 jaar in die berge wei MOET uit want een of ander onverkose moroon in Brussels “dink” nie dis ‘n goeie idee vir “moeder aarde” nie. Jou vrugte en groente moet aan HIERDIE standaard van Brussels voldoen en dan is baie van die goed van so ‘n gehalte dat ‘n SA Boer nie sal waag om dit mark toe te stuur nie. Nee wat. SUid Afrika hier kom ons. My medelesers wat nie saamstem nie kan gerus vir my en Flip en Trump en almal wat ons sentimente deel beledig en verkleineer MAAR onthou dat : “My volk gaan ten gronde agv ‘n gebrek aan kennis. Dankie weereens Flip. Flip vir President.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.