Die land is in ’n staat van beleg

Polisiebeamptes probeer kalmte afdwing in Soshanguve waar woedende betogers paaie met brandende bande en klippe versper het. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency)

“Golf van protes spoel oor land.”
“SA burns ahead of elections.”

Dis maar twee van die afgelope naweek se koerantopskrifte in ‘n land wat in ‘n staat van beleg is.

Op ‘n kaart word die 13 grootste brandpunte aangedui: 7 in Gauteng, 4 in die Wes-Kaap, een in Limpopo en een in KwaZulu-Natal. Paaie word deur betogers gesluit oor dienste wat nie gelewer word nie, en dan word die “dienste” wat gelewer moet en kan word, gesaboteer of aan die brand gesteek. Brandweerwaens word met klippe bestook. Selfs Afrikaanse kerke het onlangs deurgeloop en is gevandaliseer.

In die Wes-Kaap was ‘n deel van die N2-lewensaar langer as twee dae geheel ontoeganklik. Voorts word die polisie ook besig gehou met onwettige grondbesettings.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek in ‘n toespraak sy kommer uit oor noodsaaklike projekte van miljarde rand wat deur gemeenskappe gesaboteer word omdat daar glo nie genoeg plaaslike arbeid betrek word nie. Wat ‘n mens laat vra of die konstitusie so verander moet word dat dit vir weermagbegeleiding kan voorsien vir die mense wat daar werk. Is ons in ‘n noodtoestand, want dan mag die weermag ontplooi word?

‘n Weermag wat, bygesê, nie eers ‘n skaduwee is van die een wat ons gehad het nie. Waar oud-MK-lede met die range van kaptein en hoër aangestel word. ‘n Vloot waarvan die hoof nie die kwalifikasie vir ‘n offisiersrang het nie. Offisiere wat medaljes dra waarvoor hulle nie kwalifiseer nie. ‘n Polisiemag waar 4 000 lede (32 in die topbestuur) misdaadrekords het.

‘n Mens sou graag wil hê dat daar ander kwalifikasies moet wees…

Cyril se nuwe treine word verwerp

Verlede week het die president stemme in die Kaap gewerf met die bekendstelling van die moderne treine wat nog ontplooi moet word – lugreëling en alles. Hulle kan teen 120 km/h loop, miskien op ‘n Eerstewêreldse spoorstelsel? R170 miljard gaan bestee word sodat treindienste betroubaar, veilig en vinniger beweeg. Maar hy is buite die stasie begroet deur ‘n groot groep ontevredenes wat probeer het om sy vertrek te verhinder omdat die basiese behoeftes nie aandag kry nie, soos beveiliging op treine en stasies.

In ‘n wydlopende artikel word ‘n vrou aangehaal wat sê haar eertydse rit van 30 minute duur nou drie uur. Veral meisies word op die treine bevoel, geteister en beroof. Treine loop met oop deure met mense op sy dak en mense word selfs uitgegooi. Treine word gesaboteer en die afgelope paar jaar is 174 treinwaens in die Wes-Kaap verbrand. Gaan Cyril se treine dit verander? Of moet daar gedink word aan gepantserde treine wat, soos in die Boereoorlog, deur stoomlokomotiewe getrek en deur die beste lede in die weermag begelei word?

Wat kan die ANC ná 25 jaar vier?

Pieter-Louis Myburgh se onthullende boek oor Ace Magashule se wandade moes in Sandton gekanselleer word weens dreigemente deur ANC-jeuglede. Polisie het toegekyk omdat hulle swak opgelei of medepligtig was, want dit raak ál moeiliker om die verskil te weet. Dit het gelei tot ‘n raakvat-spotprent waarin Magashule sê die ANC brand nie boeke nie, hulle kook dit.

Een van die jongste slagoffers is die musiekfees Oppikoppi, wat weens ‘n gebrek aan veiligheid nie sy 25ste verjaardag kan vier nie. Ouer lesers sal onthou hoe die Uniefees in 1960 ná 50 jaar gevier is met medaljes aan skoolkinders en ‘n groot skoolsaamtrek in Bloemfontein. Daar was iets om te vier: Goeie infrastruktuur en ‘n sterk regering.

Die ANC is nou 25 jaar aan bewind, maar geen fees word gevier nie – dalk omdat daar niks is om te vier nie? ‘n Kragvoorsiener wat op bedelknieë staan en die land in donkerte werp? ‘n Skoolstelsel waarvan die agteruitgang ingelui is met Kader Asmal se sluiting van onderwyskolleges? Waar ongekwalifiseerde “onderwysers” hul pad inkoop en van wie daagliks 41 000 net nie by die skool opdaag nie?

Wat gaan daar oor nóg 25 jaar gevier word?

ʼn Verkiesing, kitare en konsertmeesters

‘n Mens voel saam met ‘n hoogaangeskrewe kommentator soos William Saunderson-Meyer wanneer hy sê die Merk van die Dier is nie 666 nie, maar 80, as jy kyk na die volgende: 80% van die skole is disfunksioneel en word deur 80% van die arm kinders bygewoon waar 80% van die onderwysers aan beskermende vakbonde behoort.

Die minister, Angie Motshekga, erken die vakbonde is om selfsugtige redes in beheer en dat hulle nie die belange van onderwys op die hart dra nie. Sy belowe dat die verrotting onder beheer gebring sal word. Sy doen dit al drie jaar lank, en niks het verander of sal verander nie. Sadou regeer steeds, en Ramaphosa sien hom as ‘n groot aanwins vir onderwys. Hy het ‘n paar jaar gelede immers gesê sommige mense hou nie van sterk vakbonde nie, maar die ANC verwelkom hulle.

Verkiesingstyd is natuurlik ook die tyd vir mooiklinkende beloftes waarvan weinig gerealiseer word. Soos Ramaphosa wat belowe dat daar in vyf jaar eenmiljoen huise in Alexandra gebou gaan word. Dis 548 huise elke dag, naweke ingesluit. Dalk is sy kennis van somme net so verdag soos Jacob Zuma se begrip van syfers…

Nou lê die verkiesing vir ons voor. Sommige distrikte het reeds verklaar dat dit ontwrig sal word. Die ANC gaan die eleksie binne met ‘n kandidatelys wat etlike erg verdagte kandidate insluit.

Daar is net een ding waarvan ons seker kan wees: Die ANC gaan aanhou om die kitaar te slaan, met of sonder Ramaphosa as die konsertmeester.

Dit alles laat mens voel soos ‘n gesiene rubriekskrywer dit bewoord het: Hy lees die dag se nuus laataand wanneer die kinders slaap. Met ‘n sweisbril.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Db ·

Ek het tot die besef gekom dat ek aan evalusie glo. Sommiges het opgestaan, regop begin loop en die grysstof begin gebruik. Ander het nog net geleer om regop te loop

John ·

Waarmee ons tans in SA besig is, is ‘n groot konsert, The Greatest Show on Earth, wat twee dwase en blinde prokureurtjies op die been gebring het met buitelandse borge… en omkoopgeld… mind you… wat die beskawing met 6 000 jaar gespring het na tot op hede. Ons speel nou die rolle van die swape en dwase vir die hoofrolspelers wat nie ‘n snars weet waaroor dit gaan nie… presies net dit.

Anoniem ·

Van die beste in Afrika tot die swakste. Voorwaar ‘n prestasie. Daar loop etlike duisende beter gekwalifiseerde soldate in die burgerlike samelewing rond.

PR ·

TV program van reis deur Afrika. Sien armoede, maar ook vrede. Sien onder andere Ruanda en Oganda met veskriklike verlede maar blykbaar nou rustig en met pragtige tonele. Sien ook nog ou koloniale name, hulle het blykbaar nie probleme daarmee. Ons het ook ‘n verskriklike verlede (apartheid), maar nou is ons op die rant van anargie. Gaan alles verander na die verkiesing? Die huidige regering steeds aan bewind, ander veglustige partye met mense wat ook maar weggebreek het van huidige regerende party.
Die oplossing is…..?

IK ·

Alles saamgevat in ‘n neutedop Org. Skrikwekkend die lugleegte tussen die ore.

Jerry ·

Die land is voorwaar in n staat van revolusionere beleg en wie moet ons tans daarvoor bedank? Beslis nie alleenlik die ANC/EFF nie, ons moet ook die opposisiepartye en burgerregteorganisasies bedank wie tot nog toe geen hond haaraf kon maak van wat aan die gang is en hoe om dit te stop nie. Die opposisiepartye en burgerregteorganisasies kon agv swak leierskapvisie en die afwesigheid van lewensvatbare teenrevolusionere strategiee nie die doelbewuste staatsmislukkings soos kaderontplooiing, staatskaping, BEE, regstellende aksie, dubbele standaarde, onwettige immigrasie, misdaad ens stop nie, nou hoe dink hulle gaan hulle die ANC na die verkiesing stop! Die opposisiepartye en burgerregteorganisasies het hulself genegeer tot magtelose gyselaars met toeskouerstatus en in die proses die ANC verhef tot n magtige heerser met alleenspelerstatus! Sonder uitsondering, blameer alle opposisiepartye en burgerregte die ANC vir die staatsmislukkings, terwyl dit nie mislukkings is nie, maar doelbewuste revolusionere suksesse wat die ANC nader neem aan verandering van kolonialisme na sosialisme. Tot tyd en wyl Opposisiepartye en burgerregteorganisasies, wie aan dieselfde teenrevolusionere kant van die draad staan, nie hulle verskille oorbrug nie en nie n gesamentlike teenrevolusionere strategie in plek stel nie, sal alles wat hulle doen en se teen hulself ingespan kan word deur die ANC en hulle ander revolusionere alliansies. Die manifestos kan dus nie die papier werd wees waarop dit geskryf staan nie. SA is voorwaar in n staat van revolusionere beleg en misleiding! Na die verkiesing is dit maar weer dieselfde storie van “Viva ANC Viva, Amandla”!

Biesie van Rooyen ·

Org, soos gewoonlik slaan jy die spyker op die kop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.