Die lewe is ’n stryd, maar…

Ernst van Zyl.

Waterpype wat bars, ’n motor se koppelaar wat ingee, ’n onverwagse rekening wat skielik betaal moet word, ’n nuwe regeringsbeleid wat jou onderneming pootjie of jou basiese vryhede beperk. Só is die lewe vrot van dié soort gesukkel van alle groottes. C.J. Langenhoven het dit só opgesom: “Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry, as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.” Mense beweer soms dat berge van molshope gemaak word, maar selfs ’n molshoop kan jou laat struikel en jou lelik laat grond vreet.

Ons wêreld was nog altyd vol idealiste wat vas glo dat die lewe sonder struikelblokke kan wees en dat enige gesukkel of onreg voortspruit uit die bose gekonkel van ander. Hierdie verwronge, utopiese uitkyk op die lewe het veral onder ons jonger geslag wortelgeskiet. Hierdie houding laat lugkasteelbeleide en -beloftes wat hulle van hul gesukkel gaan verlos, baie aantreklik en bevrydend klink. Die geskiedenis leer ons egter dat van die beleide met die gruwelikste, dikwels onbedoelde gevolge, hul oorsprong het in die naïewe oortuigings van idealiste, wat verkondig dat die mens ontketen moet word van die laste en onregverdighede van die lewe.

Marxiste sal jou opgewonde vertel van hul utopiese visie, waar almal vry lewe sonder sukkel en werk, en hul tyd dus beter kan benut deur luilekker op die groen grasbanke van rivieroewers te sit en skilder. Hulle sal jou probeer oortuig dat ’n gemaklike lewe sonder ’n gesukkel en leed, jou natuurlike staat van bestaan en jou verdiende loon is. Wat hierdie paradysdenkers egter altyd miskyk, is die feit dat die droom – dat ons in ons lewe ontslae kan raak van sukkel en swoeg – altyd sal eindig in ’n morsige en vernederende nederlaag teen die harde werklikheid. Daar is ’n goeie rede hoekom die paradys in die Bybel bewaak is deur ’n engel met ’n vlammende swaard. Dit is soos die Romeinse filosoof Seneca reeds 2 000 jaar gelede opgemerk het, “Fate leads the willing and drags along the reluctant.”

Om te baklei met die noodlot van ons verganklike vleeslike bestaan op aarde, sal altyd ’n ongelyke stryd bly waarin die mens bestem is om lelik tweede te kom.

Die Griekse mite van Sisyphus vertel van ’n man wat deur die gode veroordeel is om vir ewig herhaaldelik ’n rots teen ’n berg op te rol, net om dit weer te sien afrol sodra hy dit bo gekry het. Dit is hoofsaaklik simbolies van ons nimmereindigende beproewings in die lewe. Die lewe is ’n stamperige, stowwerige grondpad vol slaggate en opdraandes, wat jou soms laat voel of die sinkplaatpad se skommelende geskud nooit gaan eindig nie. Die Franse filosoof Albert Camus het oor die mite van Sisyphus geargumenteer dat die dapper stryd na die berg se hoogtes, op sy eie, genoeg is om ’n mens se hart te vervul. ’n Mens kan dus ook vir Sisyphus as ’n gelukkige sukkelaar indink. Om te bou op Camus se sentiment, sal ek bylas dat jy moet onthou dat jy nie alleen jou rots teen die berg hoef op te rol nie. As jy rondkyk, sal jy sien jy is omring deur jou familie, vriende en jou gemeenskap, wat almal worstel om soortgelyke laste teen die berg op te beur. Dit is hierdie geleentheid waar ons betekenis in ons lewenstryd kan vind, om die las van jou medesukkelaars rondom jou bietjie ligter te maak waar jy kan, al is dit net met ’n paar woorde van aanmoediging, troos of goeie raad.

Geen spieëlgladde see het al ooit ’n ervare skipper opgelewer nie. Put genot uit jou oplossing van die probleme wat jou oorval en sien elke ongerief as ’n uitdagende geleentheid om iets nuuts te leer of om te wys waarvan jy gemaak is. Natuurlik maak ’n Boer ’n plan, maar Boere vier dit ook lekker saam wanneer hul planne werk. Dit laat dink aan die leier van die A-Team, John “Hannibal” Smith se slagspreuk, “I love it when a plan comes together!”

Die lewe in Afrika was nog altyd vol uitdagings en gevare, waarvan vele van hulle uniek is. Ons moet egter moed put uit die feit dat daar nog altyd in ons geskiedenis – en vandag steeds – vasbeslote roepingsgedrewe mense was en is wat gedurig nuwe oplossings gevind het en steeds vind vir die struikelblokke van hul tyd.

Wanneer Afrikaans aanhoudend aangeval en verdryf word op universiteitskampusse, bring Solidariteit byvoorbeeld hul eie, private Afrikaanse universiteit (Akademia) en kollege (Sol-Tech) op die been. Wanneer die regering se wanbesteding en wanadministrasie lei tot slaggate, vul AfriForum duisende daarvan elke jaar – met ’n glimlag. Wanneer moeilike tye soos droogtes en ’n drakoniese staat van inperking ons mense tref, staan gemeenskappe weer saam en ondersteun mekaar. Die mens was nog altyd ’n tropdier, omdat ons instinktief op mekaar moes staatmaak vir oorlewing en omdat ons tradisioneel ’n bestaan deel, waarin struikel, swoeg, sweet en sukkel aan die orde van die dag is. Die kragtige idee van ’n gemeenskap is dat mense nooit alleen kniediep deur die modder hoef te strompel nie en wanneer hulle uiteindelik weer droë, vaste grond bereik, vier hulle dit ook nie in eensaamheid nie. Galasiërs 6:9 bemoedig ons: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.”

Moet jou nie heuning om die mond laat smeer deur aardse paradysbelofte-smouse nie. Drome en soet beloftes van ’n mensgemaakte paradys op aarde vol absolute gemak en oneindige plesier sal altyd eindig in ’n bitter nagmerrie vol teleurstellings. Boonop, soos C.J. Langenhoven geargumenteer het, “het Adam en Eva die Paradys nie gewaardeer nie omdat hy hulle niks gekos het nie.”

Sonder om die bitter galsmaak van moeilike tye te ken, sal die goeie tye na niks proe nie. Die soetheid van ’n varswaterfontein word hoofsaaklik bepaal deur die hitte en droogheid van die woestyn waarin jy dit vind.

’n Belangrike kopskuif is dus nodig: die lewe is vol gesukkel, maar dit beteken nie ons hoef sukkelaars te wees nie. Ons moet onsself veel eerder sien as stryders. Stryders teen die struikelblokke en onregte van die lewe. Stryders teen die verval van ons gemeenskappe en huishoudings. Stryders teen wensdenkery, leuens en valse beloftes. En die belangrikste: stryders teen moedeloosheid.

Die lewe is ’n stryd, dus moet die waarheid jou swaard wees; en moed, gemeenskap, familie en geloof jou wapenrusting.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Ja Ernst, eers as mens besef die lewe is ‘n stryd, gaan jy met die regte gesindheid die stryd tegemoet. Hulle wat sukkel, is gewoonlik die wat nie hou van of bereid is om te sukkel nie, het ‘n eenvoudige wysgeer my eendag meegedeel. Dankie vir jou positiewe en bemoedigende bydraes. Julle by Afriforum dra vir ons die fakkel van hoop in donker dae.

MT ·

SOET IS DIE STRYD

I.D. du Plessis

Jy sê die stryd is verlore,
Ons nasie te arm en klein,
Ons taal uit ‘n drang gebore
Wat een van die dae verdwyn?
My broer, dit mag heeltemal waar wees.
Wie weet wat die toekoms gaan baar?
Miskien moet ons oormôre klaar wees.
Om weer hierdie droom te laat vaar;
Maar as ons net altyd moet strewe
Na wat tot oorwinning gaan lei,
Wat baat dan die stryd van die lewe
Waarin ons onseker moet bly?
Solank jou bedoelings maar goed is,
Gaan jy jou oor neerlae kwel?
Solank jy volhard en vol moed is –
Dis tog die probeerslag wat tel!
Nee, soet is die stryd vir die stryer,
Al moet hy uiteindelik verloor;
Maar die man wat sy deelname weier,
Is die man wat sy nasie vermoor.

Uit: Land van ons Vadere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.