Die olifant in die kamer se naam is ras

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap (Foto: ANA)

Die arme DA. Om tussen ’n hamer en ’n aambeeld te beland, kan pynlik word.

Dis wat op die oomblik met Suid-Afrika se naasgrootste party aan die gang is. En dit beloof niks goeds vir sy ambisie om die heel grootste party te word nie.

Die olifant in die kamer se naam is ras. Soos ras die hele Suid-Afrikaanse politiek verskeur, verskaf dit ook die splytswam in die DA.

Helen Zille se aankondiging dat sy tot die aktiewe politiek wil terugkeer, het die party se leier, Mmusi Maimane, waarskynlik soos ’n nat vadoek in die gesig getref.

Formeel stel Zille haar slegs beskikbaar vir die pos van voorsitter van die DA se federale raad. As sy ewenwel die pyp rook, so moet Maimane waarskynlik vrees, kan sy hóm ook as leier van die party uitdaag.

Sy het weliswaar in ’n lang onderhoud met Rapport gesê sy sal Maimane steun as sy voorsitter word, maar sy het dit ook met ’n betekenisvolle stelling aangevul: Toe sy as leier uitgetree het, het sy gemeen haar opvolger móét swart wees, maar nou dink sy nie meer die ras is belangrik nie.

Waarmee sy éintlik sê die leier kan ook wit wees (en dus ook dalk sy self?).

Die DA en sy liberale Prog-voorvaders het van die begin af met ’n dilemma te make gehad. In welke mate moet hulle hul politiek deur ras laat beïnvloed?

Alan Paton se Liberale Party het homself in 1968 opgehef, eerder as om gehoorsaam te wees aan die Wet op Onbehoorlike Inmenging. Dié wet het politieke partye verbied om veelrassige lidmaatskap te hê, en dit het teen die Liberale se beginsels ingedruis.

Die Progge, in die Suid-Afrikaanse konteks van destyds ook behoorlik liberaal, het verkies om pragmaties te wees. Die Progge sou vir veelrassigheid veg, maar moes dus aan die praktiese politieke stryd meedoen – en moes gevolglik toegee aan die apartheidswet.

Met die verslapping van apartheid in die jare tagtig en negentig is ook dié wet op die ashoop gegooi. Trouens, die Grondwet bepaal nou by implikasie dat dit verbode is om lidmaatskap tot net een ras te beperk.

Vir ’n party soos die ANC is ras nie regtig ’n probleem nie. Die party het deur die jare van ’n beweging waaraan slegs swart mense mog behoort, ontwikkel tot ’n volledig nierassige groep.

Bowendien vorm wit mense ’n minimale persentasie van die ANC se lede en ondersteuners. Dis oorweldigend ’n swart party met ’n beduidende minderheid bruin mense en Indiërs.

Terug na die DA. Die afskaffing van apartheid het nie regtig die rasprobleem hier opgelos nie.

Die party het te make met ’n dilemma wat in die Suid-Afrikaanse bevolkingsamestelling opgesluit is. Die geskiedenis bring mee dat die DA en sy voorouers se nierassigheid altyd beperk is deur die feit dat dit meestal wit liberales was wat hulle ondersteun het.

As die DA ooit wil hoop om meer as ’n opposisieparty te word, moet hy die meeste stemme in ’n verkiesing kan monster. Dit beteken dat hy die meeste swart mense se steun moet kry.

’n Kragtige argument wat die ANC (en EFF) tot dusver teen die DA gebruik het, is dat dit die party van die wittes is (of, as jy regtig giftig wil wees, die Boere). Tot betreklik onlangs was die agtereenvolgende leiers almal wit, en dit geld ook vir die res van die leiding.

Vandaar Zille se logika: Die party sal “swarter” moet word as hy die regeringsmag van die ANC wil afneem. Vandaar dat sy Maimane grootgemaak het om by haar oor te neem.

Maar nou is daar twee probleme.

Een: Maimane is grotendeels ’n mislukking. Ná ’n briljante toespraak in die parlement waarin hy die korrupte pres. Jacob Zuma skitterend gekruisig het, het hy toenemend weggesak.

Meer nog, die party het na links begin beweeg in ’n poging om ANC-ondersteuners se stemme te trek. Dus is nuwe standpunte oor sake soos regstellende aksie, die afskaling van Afrikaans as openbare taal en diskriminasiesake (onthou u die skooldebakel van Schweizer-Reneke?) ingeneem.

Dit het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Enersyds was daar in die laaste algemene verkiesing geen sprake van ’n deurbraak onder swart kiesers nie; andersyds het veral Afrikaners in taamlike getalle na die VF+ oorgeloop.

Tweedens, die spreekwoord lui: Sukses het vele vaders, maar mislukking is ’n weeskind. Dus word die relatiewe mislukking van die DA by die stembus veral op één mens se brood gesmeer, die leier, Mmusi Maimane.

Suid-Afrika, synde ’n land waar ras steeds ’n uiters belangrike – dalk deurslaggewende – rol speel, word die kleur van Maimane se vel nou weer belangriker. Dis nie dat mense rondbasuin dat Maimane swart is en dat hy dus ’n mislukking is nie, maar onwillekeurig speel dit ’n rol hier in mense se agterkoppe.

Dit vind praktiese neerslag in ’n toenemende verdeeldheid in die party tussen konserwatiewe, liberale en Afrika-nasionaliste. Eersgenoemde twee groepe kom voort uit die ou Nasionale Party en die Progge; laasgenoemde uit die ANC.

Wat dit ’n verskeurende potensiaal gee, is dat die eerste twee groepe oorwegend wit en bruin is, en laasgenoemde oorweldigend swart. Daar het ons dus die olifant in die kamer geïdentifiseer, en sy naam is ras.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek pleit nie vir of teen ras as faktor om mense te identifiseer nie.

Mmusi Maimane en Helen Zille.

As politieke kommentator neem ek eenvoudig nugter waar: Al is dit waar dat identiteit veel ingewikkelder is as bloot iemand se velkleur, speel dit in die praktyk tog ’n rol.

Die morele ideaal is, soos Martin Luther King in sy beroemde “I have a dream”- toespraak gesê het, dat elke individu op grond van sy kwaliteite beoordeel word, pleks van sy velkleur (waaraan hy in elk geval niks kan verander nie). Dit is ook verkeerd dat mense se plek en regte in die samelewing deur hul ras bepaal word.

Tog bly ras blykbaar ’n faktor tussen mense – wit én swart – se ore. Dit sien jy toenemend ook in die DA, ’n party met ’n uitgesproke nierassige agtergrond.

As selfs die DA nie in eie geledere kan wegdoen met ras nie, hoe gaan die res van die rasbehepte Suid-Afrika daarin slaag?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pro-Zille ·

Mev. Zille, wys jou staal! Daar staan veel meer mense agter jou as wat jy ooit besef! Jy bly ‘n vrou van faam.

Anoniem ·

Ons kan maar net hoop dat die DA sy huis ‘n slag in orde kry, want ons kort ‘n sterk opposisie wat die ANC kan aanvat. Hoe die DA dit gaan regkry om die swart massas se stemme te werf, weet nugter alleen. Die VF+ sal net groei tot op ‘n punt met die oorloop van ‘n aantal gatvol Blankes vanaf die DA na die VF+, maar sonder swart stemme sal beide die DA en VF+ nie hond haaraf maak nie, hulle sal bloot ledetal uitruil. Die ANC sal ongelukkig nie maklik by die stembus geklop word nie.

Jerry ·

Snaaks dat toe Zille die leier was, was ras geensins ter sprake binne die DA nie. Die oomblik toe Maimane oorvat as leier, toe begin die poppe dans. Ek reken dat dit alles te make het met Maimane se verskuilde rasmotief en dat wit en swart in die party toe begin bloed ruik het met swart wat eweskielik ge-demand het om met regstellende aksie al die prominente poste te beklee. Hierdie aaklige raskwessie het sy kop lank voor die verkiesing begin uitsteek en dit was net n kwessie van tyd voordat dit die DA sou inhaal en verslaan. Wat die vrot verkiesinguitslae aanbetref is dit n bedekte seen ten einde die “root of the problem” te identifiseer, namens Maimane en sy agteraf gekonkelde rasgebaseerde motiewe. Die leier van die DA en sy swart strategiese vennote se kombuispolitiek het hulle ingehaal en as Zille haar sin kry gaan dit vir hulle bloots ry vir n baie lang tyd!

Charles ·

Dit amuseer my dat die ANC soos Leopold dit stel soms na die liberale (derhalwe so te se anti-Afrikaner in beleid en raamwerk) DA Party as die party van die “Boere” kan verwys.

Dit wys jou hulle weet ook nie regtig mooi nie. Ek dink nie Zille (ek sal graag wil uitsluitsel he: is sy nou ‘n Jood, ‘n Afrikaner, of ‘n Afrikaner-Jood (as daar so iets bestaan) – want op Wikipedia is sy geplaas in die kategorie: Afrikaners?) gaan die DA kan red van ondergang nie- hulle onsimpatieke houding teenoor die ANC se mistasting en wegkalwing van Afrikaans (geen hulp van die DA se kant af nie- inteendeel- hulle jeugstrukture het lustig deelgeneem aan die grootse taalmisdaad teen die mensdom sedertdien dit in 2015 begin kop uitsteek het by openbare universiteite) en hul gebrek aan aksie as dit kom by die etniese suiwering van die Afrikanerboer het nie ongesiens verby gegaan nie, en die DA sal die groot meerderheid Afrikaners NOOIT weer sien nie.

Jack Klok ·

“Ras behoort nie die oorwegende faktor te wees in die bepaling van … maar tog speel dit ‘n rol”.

Ander beweer ons is nie-rassig dws kleurblind en dis waarheen ons moet streef.

Albei bogenemde stellings begaan ‘n radikale denkfout. Velkleur is oppervlakkig maar dis ongelukkig ook baie sigbaar en dis waarom mense daarin vaskyk.

Die werklike verskille lê veel dieper, bv ‘n gemeenskaplike waardestelsel, afkoms en tradisies, taal, geloof, kultuur en wereldbeskouing wat in ‘n groot mate oorvleuel is nodig aleer ‘n mens kan begin dink aan die bou van samehorigheid en nasie trots. ‘n Politieke ideologie of selfs stryd teen ‘n gemeenskaplike vyand is eenvoudig net nie genoeg nie. Pragtig klinkende woorde en slagspreuke is dikwels net die psierlike dukwerk op die buitekant van leë houers. Die DA is wat my betref, net soos sy voor ouers, ‘n leë houer sonder veel substansie.

Gert ·

Velkleur is meer as oppervlakkig. As mens kyk na die VSA waar swart en wit byna identiese kulture het, en dieselfde taal praat, dan sien jy hoe ‘n groot verskil daar inherent is. Die argument plaaslik was altyd dat as jy almal op dieselfde ontwikkelingspeil bring, sal rasverskille verdwyn. Ek het self half geglo aan daardie argument, maar vandag is dit baie duidelik dat dit ‘n onrealistiese droom was.

Johan ·

So vaal die DA ons hoop vir ‘n beter Suid Afrika.
Lyk eie belang en/of groeps belang speel maar altyd die hoofrol by politici.
Wat van ‘n slag saamwerk vir ‘n beter samelewing vir almal?

Judge Dredd ·

Almal preek altyd saamwerk – totdat hulle hoor met presies wat saamgewerk moet word.

sannie ·

Musi goed maar onervare. Kies hom oor 20 jaar dan sal hy weet wat om te doen.

John ·

Die een probleem van die DA is dat dit swart stemme nodig het, maar in die praktyk ligter stemme wil gebruik om die werksaamhede te laat vlot. Trollip en ‘n paar ander snare het nou na jare se swoeg en sweet plus die geleidelike agteruitgang nuwe ambisie tov leierskap. Zille het nog nooit goeie keuses gemaak tov party-leiers nie of doen sy dit doelbewus om die wit reènkoningin te bly wat voor kan dans tussen die anderstes. Dit sou bietjie siek wees om te glo dat jy alleen die ANC kan troef… tensy die ANC haar ook ‘n pos aanbied wat ‘n heel ander saak is; ‘n groot moontlikheid en dan spat die bloed blou.

Jerry ·

Onder Zille het die DA nie die ANC se rasgedrewe diskriminasie beleid ondersteun nie, maar beveg, waar onder Maimane die ANC se leiers beveg is, maar nie die ANC se rasgedrewe diskriminasie beleid nie. Dit vir my is die groot verskil tussen die twee dat Zille nie ras ingestel is nie, maar Maimane wel en het hy van die DA inderwaarheid n ANC lite party gemaak, wat jare gaan neem om te herstel, tensy Zille weer n kans gegee word om n rol in die party te speel! Trollip sal net soos Maimane n fout maak om Zille as n bedreiging te beskou. As daar nou een aktivis tannie is wie jy nie vyande meer wil maak nie, dan is dit Helen Zille. Sy sal vir jou blootsry tot by oom Daantjie in die kallerhok, al is jou naam Trollip!

Sinies ·

Die DA het hul lojaalste ondersteuners in die gesig geskop en stilgebly toe ander op hulle getrap het, ek dink nie hulle kan hiervan herstel nie.

hercu ·

ek is nie ‘n DA lid of aanhanger nie, maar die oomblik wat Helen Zille oorvat by Mmusi, sal julle die groot verskil sien!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.