Die politieke misbruik van woorde

Deur dr. Pieter Mulder

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

Hoekom het een land ʼn minister van verdediging en die ander land ʼn minister van oorlog? Wat die ministers doen is tog presies dieselfde. Die verskil lê in die woordkeuse. Propagandiste steek graag hulle werklike bedoelings agter mooi woorde weg: ʼn Minister van verdediging wat oorlog maak, klink darem baie beter as ʼn minister van oorlog.

“ʼn Joernalis en ʼn verantwoordelike kieser moet krities kan lees en luister,” was my boodskap aan my kommunikasiekundestudente in my doseerdae. Kan jy die werklike betekenis agter woorde raaksien?

Enkele voorbeelde

In die Verenigde Nasies se verslae lees ek van ekonomies agterlike lande wat dan onder-ontwikkelde lande word om daarna minder ontwikkelde lande te word en te eindig as ontwikkelende lande. Verskillende mooi woorde maar die probleem bly dieselfde.

Laurent Kabila het in 1997 president Mobutu Sese Seko gekritiseer weens ʼn gebrek aan demokrasie in Zaïre. Kabila raak daarna met geweld van Mobutu ontslae. Sy eerste besluit as nuwe president is om “Zaïre” se naam te verander na die “Demokratiese Republiek van die Kongo”. Sy tweede besluit was om alle politieke partye te verbied. Hoe demokraties was dit?

Voor Duitsland se eenwording het ek ʼn heftige argument met ʼn Amerikaner. Op TV moedig hy die kommunistiese Oos-Duitse atlete aan en hy jou die Wes-Duitse atlete uit. Sy argument: “Oos-Duitsland is aan Amerika se kant omdat ‘demokraties’ deel is van hulle amptelike naam: ‘Die Duitse Demokratiese Republiek’. Die ander Duitse atlete moet dan die kommuniste wees wat die haatlike Berlynse muur gebou het,” redeneer hy verkeerdelik.

Enkele Suid-Afrikaanse voorbeelde

Andrew Mlangeni is in 1964 in die Rivonia-verhoor saam met Nelson Mandela skuldig bevind en na Robbeneiland gestuur. Hy is onlangs dood. Ek het hom in die parlement leer ken as ʼn altyd vriendelike senior ANC-lid. In 1964 het die koerante na hom as ʼn “terroris” verwys omdat hy militêre opleiding in die buiteland gehad het en deel was van ʼn ANC-beplande geweld- en sabotasiepoging teen die destydse NP-regering.

In die media is hy vandag ʼn “vryheidsvegter” en nie ʼn “terroris” nie. Om te weet wat die polities korrekte woorde is om te gebruik, hang dus meer af van die datum, 1964 of 2020, as van die inhoud daarvan.

As jy by die ANC gewild wil wees, praat jy ook vandag van die “NP-regime” – nie “NP-regering” nie. ʼn “Regime” is ʼn tipe onwettige regering!

“Regstellende aksie” val in dieselfde klas. Jy durf nie daarna as “verkeerdstellende aksie” verwys net omdat jou kind met agt onderskeidings nie vir medies gekeur is nie omdat sy wit is. Ook die briljante eerste span hoërskool losskakel mag nie kla as die derde span se losskakel vir die Craven-week-rugbyspan gekies word nie. Dit is tog “regstelling” en nie “verkeerdstelling” nie, argumenteer die ANC. Vir my klink dit soos “gedwonge verkeerdheid” en ʼn yslike onreg wat ʼn nuwe geslag van wit gegriefdes skep.

Jy is ook in die moeilikheid as jy na “swart bemagtiging” as “elite bemagtiging” verwys omdat minder as 10% swart mense in 25 jaar daardeur bevoordeel is. As jy swart is beteken dit tog sekerlik dat jy wel bemagtig gaan word. Jou beurt kom – jy moet net nog ʼn bietjie wag terwyl jy steeds vir die ANC stem.

So van “beurt” gepraat. “Beurtkrag” is net so ʼn mooi woord. Beurtkrag klink so billik. Elkeen kry ʼn beurt. Wees net bietjie geduldig – jou beurt kom. Maar ek is uiters gefrustreerd want ek ervaar dit nie so nie. Ek sit in die donker, kan nie my werk doen nie, kan nie kos maak of TV kyk nie terwyl my vleis sleg word in die yskas sonder krag. Dit is nie “beurtkrag” nie – maar “geen krag”.

Met die invul van elke regeringsvorm moet ek aftik of ek ʼn “African, wit, bruin of Asiër is. Skelm gekose woorde. Hoekom? Dit beteken net “Africans” kan van hier wees. Al die ander is vreemdelinge wat hier in Afrika net geduld word. Die fout met hierdie woorde is dat hulle appels met pere meng. Óf jy moet kleure alleen gebruik soos swart, wit en bruin, óf kontinente Afrika, Europa of Asië. Nou word dit gemeng. Ek is wit, maar ek is ook woonagtig in Afrika met geen ander paspoort nie.

ʼn Laaste geskiedenisvoorbeeld

Die Anglo-Boereoorlog het van 1899 tot 1902 plaasgevind – of is dit die Suid-Afrikaanse oorlog soos die ANC-regering dit herbenoem het? Hoe kan dit die Suid-Afrikaanse oorlog wees as Suid-Afrika eers in 1910 tot stand gekom het? My ouma, wat in die konsentrasiekamp was, het met jou geraas as jy daarna verwys het as “Boereoorlog” of “Anglo-Boereoorlog”. Dit is die “Engelse oorlog” want hulle het dit veroorsaak, het sy tot met haar dood volgehou.

As jy vandag aan debatte in die media of op sosiale media wil deelneem, word van jou verwag om te weet watter woorde is reg en aanvaarbaar en watter nie. “Verkeerd praat” is ʼn groot sonde. “Verkeerd praat” is die teenpool van “politieke korrektheid”.

Mark Fish, Pat Symcox en Boeta Dippenaar het die afgelope tyd dit gewaag om hulle mening oor #BlackLivesMatter uit te spreek. Omdat die woorde wat hulle gebruik het en hulle menings oor die saak van die sogenaamde konsensusmening afgewyk het, is hulle op sosiale media gekruisig en gevloek. Min ruimte word gelaat vir die sogenaamde “oop gesprek”.

ʼn Impulsiewe leier weet nie altyd wat hy sê nie. Daarteenoor weet ʼn strategiese leier presies wat hy nie sê nie. Daarom moet ʼn joernalis of kieser ook die vermoë ontwikkel om te luister vir wat berekend weggelaat is.

President Cyril Ramaphosa se swye oor plaasmoorde val in dié kategorie. Sy swye kan nie meer as ʼn onskuldige neutrale standpunt beskou word nie.

As van een taal na ʼn ander getolk word, verander woorde se betekenis ook maklik. In hierdie swaarmoedige tye moet ek miskien op ʼn ligter trant afsluit:

Regter Theunie Steyn wou met sy eerste toespraak as nuwe administrateur van die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) die inwoners met sy onpartydigheid beïndruk. Onwaar skinderstories het gelui dat die Broederbond en Vrymesselary in Suidwes-Afrika se sake inmeng. Daarom spring hy in Engels weg met:

“I have never been a member of the Broederbond.”

Tolk: “Die man sê hy het nie broers nie en het nooit broers gehad nie.”

Regter Steyn: “And I have never been a Freemason.”

Tolk: “Die man sê hy bou nie verniet nie.”

As die ANC maar net meer wou bou en minder propagandawoorde gebruik en minder afbreek, sal dit ook beter gaan. John Arbuthnot, ʼn Skotse skrywer en medikus van die 18de eeu, is reg toe hy gesê het: “Alle politieke partye sterf uiteindelik deur hulle eie leuens te glo.”

  • Dr. Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, parlementslid en professor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
david

Dankie dr Pieter…hierdie is nou werklik manna in ‘n droogtegeteisterde politieke wereld…….eintlik word die vinger na die media gewys…..en dan herinner die uistspraak van die Brit Edmund Burke my altyd–there are three estates of the realm…the Royalty the Clergy and the commoners….dan wys hy met sy vinger na die persbanke: and yonder sits the Fourth eatate…more powerful than them all…..sekerlik die mense met die meeste mag in die wereld vandag… Maar soos my ou geskiedenisonnie in matriek destyds gese het : hulle se die pen is magtiger as die swaard, maar hy wat die mag van die pen misbruik, sal… Lees meer »

Adam Adriaan

Baie briljante stuk. Die probleem met alle mense is dat hulle almal ‘n kultuur het waarmee hulle assosieer en party het die vermoë om ‘n beter of slegter oordeel te te openbaar. Die probleem hier is SA is dat die kultuur wat hier in SA geopenbaar word en die totale gebrek aan oordeelsvermoë die land so te sê reeds vernietig het.

Henk

Baie insiggewind Pieter. Joernaliste sal nooit vir jou lieg nie. Hulle sal vir jou altyd selektiewe inligting gee wat met hulle keuse van emosionele woorde ingekleur is. As hulle maar net gebly het deur die feite te rapporteer en die besluitneming en/of evaluaring van daarvan aan die leser oor te laat.