Die probleem met vryheid

hand-gee-uitreik-hulp

Foto: Milivanily/Pixabay.com

Gedurende my skoolloopbaan is baie van my vorige en huidige politieke oortuigings gevorm. As tiener het ek graag, met gepaste bewondering, na die Amerikaanse televisiereeks The West Wing gekyk. Die uitgebeelde Demokratiese Party-president, het ek eers later besef, was heel ironies ʼn fiktiewe wenner van die Nobelprys vir Ekonomie.

Nou, jare later en ná talle kere se herkykery, stem ek nie met die meeste uitgebeelde politieke beleidstellings van die bekroonde reeks saam nie, maar waardeer nietemin steeds die invloed wat dit in my lewe gehad het. Dit het ʼn klein dog belangrike rol gespeel in die vorming van my huidige politieke oortuigings. Namate ons ouer word, is dit onvermydelik dat ons oortuigings en menings uitgedaag en verander sal word.

Die afgelope paar jaar was ek bevoorreg genoeg om by verskeie studente- en jeugorganisasies betrokke te wees. Aan die een kant van die politieke spektrum was ek deel van liberale leierskapsontwikkelingsprogramme en aan die ander kant deel van bewegings en platforms wat sterk klassiek liberaal is. Hoewel my beywering by hierdie organisasies vir sommige mense as teenstrydig mag voorkom, glo ek dat daar een ooreenkoms is in alles wat ek gedoen het, naamlik om mense te bemagtig en ons land se uitdagings aan te pak.

Om ʼn voorstander van vryemarkbeginsels en individuele vryheid te wees pas nie in die polities korrekte en stereotiepe idee van ʼn betrokke en barmhartige student nie. Daar bestaan ʼn opvatting dat slegs sogenaamde progressiewe of linkse mense omgee vir die armes en stemloses. Weens hierdie opvatting verwar dit ʼn groot groep mense om ʼn konserwatiewe of klassiek liberale jong Suid-Afrikaner te sien wat buite hul gemeenskap betrokke is, besig met maatskaplike opheffing, burgerlike opvoeding en maatskaplike betrokkenheid.

Hierdie opvatting moet egter uitgedaag en reggestel word. Die idee dat sosiale opheffing, burgerlike opvoeding en maatskaplike betrokkenheid deur privaat burgers moet plaasvind, pas presies in regse politieke en filosofiese beskouings, anders as die meeste Marxistiese en progressiewe argumente dat die regering hoofsaaklik hierdie rol moet vervul.

As aktiewe student op kampus, het baie van my vriende en kollegas met ongeloof geluister wanneer ek my politieke en ekonomiese menings geopenbaar het. Baie mense sukkel met die idee dat ʼn vryemark-verdediger gesien kan word as iemand wat omgee oor die lot van mense wat benadeel en in ʼn benarde posisie is.

Hierdie fout word egter gereeld gemaak. Dit strook nie met die kontemporêre politieke narratief dat ʼn persoon kan omgee vir die armes en stemloses terwyl daar geargumenteer word vir vryemark-kapitalistiese beginsels wat armoede sal verlig nie. In reaksie hierop word ʼn magdom politieke en rassebeledigings gebruik. Ondanks die sigbare en duidelike omgee vir die armes word daar dan blindelings en onnadenkend eienskappe toegeskryf aan jou as persoon, waarvan die meeste nie waar is nie. Net omdat ek in die mag van die vrye mark om ons land en wêreld te verander glo, beteken dit nie dat ek voor die hand liggende feite ontken nie.

Dit is onkundig en naïef om te ontken dat die meerderheid van die land se bevolking, histories gesproke, voorheen onderdruk en aktief teen gediskrimineer is. As ʼn vryemark-verdediger ontken ek nie hierdie gruwelike tragedie van ons geskiedenis nie. Ek besef hoe maklik ek in die posisie van talle slagoffers van ons verlede kon wees, weens dinge buite my beheer soos my melanienvlakke of my geslag. Ek erken dat ek bevoorreg is weens omstandighede voor en buite my beheer. Soos jy het ook ek geen besluit uitgeoefen oor in watter gesin ek gebore is nie.

Deur hierdie feit van ons verlede te erken word ek verder gemotiveer om te veg vir die vryheid van ʼn ieder en elk. Om hierdie feit van ons verlede te erken, behels nie blindelingse ondersteuning van die regering om die rol van gelykmaker te speel weens historiese diskriminasie en onteiening nie. Inteendeel, ek argumenteer dat ʼn te sterk en magtige regering juis die skuld gegee kan word vir die uitdagings wat ons tans in die gesig staar en die onregverdigheid wat ons land besmet.

ʼn Sprekende voorbeeld hiervan is dat ek persoonlik saamstem met die probleem wat deur die #FeesMustFall-beweging uitgelig is en waarvoor hulle veg. Dit is ʼn onontkenbare feit dat talle studente finansieel sukkel in ons universiteite. My kritiek teen #FeesMustFall en die sogenaamde valliste-beweging as geheel is nie gerig teen die stryd vir meer bekostigbare universiteitsfooie nie. My kritiek teen hierdie bewegings is teen hulle benadering, filosofiese grondslag en aksies wat daaruit vloei. Dit is egter belangrik om te onthou: Deur nie hierdie bewegings te ondersteun nie, kom nie eenvoudig neer op “nie omgee vir studente wat finansieel sukkel nie”. Net so, beteken dit nie jy gee niks om vir jou span as jy nie saamstem met die besluite en spelpatroon van ʼn sportspan se afrigter nie. Inteendeel, jou kritiek is juis omdat jy die beste belang van jou span ter harte neem. Die verskil is egter: As ʼn vryemark-verdediger glo ek dat die oorblywende ongeregtighede van ons verlede die maklikste en vinnigste opgelos kan word deur individuele vryheid ten volle vir elkeen te verseker.

Die einste ongeregtighede van ons verlede is veroorsaak deur ʼn tekort aan individuele vryheid vir almal en ʼn tekort aan geleenthede in die mark. Onderdrukking vloei natuurlik vanuit ʼn te magtige, baasspelerige en vryheid-vernietigende staat. Die oplossing, glo ek, is die vrye mark.

Niks in die geskiedenis van die mensdom het meer bewillig en bereik as die vrye mark om die mensdom uit armoede te lig nie. Die apartheidstaat het homself belemmerende mag toegeëien om te besluit wie mag en wie mag nie stem nie. Hoe kan ʼn regering vandag vir ons besluit wie mag geld hê en wat daarmee gedoen en nie gedoen mag word nie?

Kyk maar na die mensdom se geskiedenis oor eeue heen – dit skets ʼn duidelike en oortuigende saak dat ware vryheid (politieke, sosiale en ekonomiese vryheid) die grootste verlosser van die vasgevangene, voorsiener van kos vir die hongeriges en versorger van die armes is. Die getal mense in die wêreld wat onder die broodlyn lewe, is die afgelope 20 jaar gehalveer weens die nou bedreigde verhoging in ware vryheid.

Hierdie standpunt pas egter nie in die huidige populêre en oorheersende narratief nie. Die vorige paragraaf gaan sekerlik reaksies ontlok wat my voorreg probeer uitwys en my onderdrukkende kapitalistiese menings veroordeel. Maar dit spreek vanself dat hierdie aantygings teen my nie die feite verander waarop ek staan, of die menslikheid waarmee ek optree nie.

Mense wat ander en selfs ongewilde menings het oor hoe om armoede te beëindig maak hulle nie betreurenswaardig nie. Wat werklik betreurenswaardig is, is mense wat ʼn verskeidenheid menings oor oplossings vir armoede eenvoudig verontagsaam en verwerp bloot omdat dit nie by hulle persoonlike beskouings pas nie. Dit is egter ʼn debat oor beleid, nie die persoon nie.

As iemand wat vryheid voorstaan, het ek nog altyd gemaklik gevoel in enigiemand se geselskap wat ʼn verskil in ons land wil maak. Ek waardeer behoorlike en deeglike denke oor hoe ons land se uitdagings aangepak kan word. Ek waardeer kritiek van my eie politieke oortuigings net soveel as ander wat oop is vir kritiek teen hulle eie oortuigings.

Ek wil ook maar, net soos my rooikeppie-landgenote, armoede in ons land beëindig. Ons deel hierdie edele en noodsaaklike ambisie, maar ons debatte en gesprekke is besoedel met onnodige haat en kwaadstokery. Net omdat ek nie met jou wyses saamstem nie, beteken nie dat ek nie met jou doelwit saamstem nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris Beets ·

Daniel baie mooi gedoen as ons liewe mensies net wil toegee dan sal dit n groot verskil maak in almal se lewens arm, ryk, blind, halflyf sal die lewe aangenamer wees, dan sal daar minder gesteel word en minder moord gepleeg word maar ai die mense is gebrein spoel wie weet nog wat?

Verwonderd ·

Dit is alles goed en wel. Ons moet egter onthou dat die onderwysstelsel deur Naledi Pandor se “Outcome Based Education” lam gelê is. ‘n Vrye markstelsel is afhanklik van goed opgeleide mense in die regte sektore wat dmv die kennis wat hulle opgedoen het, gevolgtrekkings maak, en die mark so indefinitief stimuleer dat dit groei en werk skep. Die ANC regering dmv onbeholpe (of beplande) besluite, het ‘n kweekaarde geskep vir ‘n sosialistiese staat. Die #feesmustfall beweging vat die fondse van die universiteite weg en verswak die hoër onderwys in so mate dat die kwalifikasies een van die dae amper nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Kan SA nog ‘n daadwerklike 180 grade omkeer maak na ‘n hoë prestasie vrye markstelsel, as die bevolking uitgelewer is aan sosialistiese propaganda en swak onderwys?

Kom Ons Boks ·

Niks sal my meer opgewonde maak as die land weer vooruitstrewend word en armoede verminder word nie. Ek gee ook regtig nie om wie die regering van die dag is nie, solank die weet hoe om ‘n land te bestuur en die politiese wil het om almal te betrek by die ekonomie – to almal se voordeel. Ek wil he ons land moet weer kan kompeteer met die beste in die wereld. Ek stel ook regtig nie belang in negatiwiteit en twis nie maar meer en meer mense begin besef dat die regering van die dag jammerlik nie oor die vereiste kwaliteite beskik nie. Sonder effektiewe regering gaan armoede onkeerbaar versnel – en my en jou barmhartigheid stadig in ‘n bodemlose put verdwyn. Hoe help mens iemand wat nie gehelp wil word nie? Dit is miskien hoekom meeste van my linkse vriende lankal land-uit is.

Frans C ·

Die eerste vraag wat ‘n mens jouself moet afvra is hoelank die sg bevoorregting werklik
geduur het en wat daar voor die periode van die sg bevoorregting was.Dit is moeilik vir die jonger geslag meegevoer deur die huidige omstandighede om hulself in te denk dat daar
werklik ‘n blanke armoede probleem en hoë werkloosheid onder blankes was.http://scnc.ukzn.ac.za/doc/COMM/labour/Bell_Trevor_Unemployment_SA.pdf
“According to this particular indicator, the White unemployment rate rose strongly,
with only minor cyclical declines, from 2.4 per cent in 1918 to 11.4 per cent in 1928, before the Great Depression, and then despite a drop in 1929, increased two and a half
fold to a peak of 27 per cent in 1933. Nothwithstanding sharp declines thereafter, the unemployment rate amongst Whites on the eve of the Second World War was still
higher than it had been in 1926, when the problem of poverty and unemployment was
already considered a serious one1). That these figures reflect a very real, serious problem of unemployment amongst Whites which persisted over virtually
two decades, seems to be incontrovertible; and the possibility of a protracted period
of high and rising unemployment (whether one calls it “cyclical” or “structural”) is thus
clear. ”

Skolevoeding was tot en met 1953 nog in volle swang..Sien opvolg kommentaar.

Frans C ·

Blanke armoede was dus ‘n wesentlike probleem toe die NP aanbewind gekom het.Verder was die land gekniehalter deur kroniese tekorte op baie gebiede agv die 2de wêreldoorlog
en was talle terugkerende soldate werkloos.
Nou is dit opmerklik dat “https://businesstech.co.za/news/government/95983/south-africa-unemployment-is-worse-now-than-at-the-end-of-apartheid/”.

Dan moet ‘n mens jouself werklik die vraag afvra wie se skuld is dit nou eintlik dat soveel
Suid Afrikaners hulself in armoede bevind,is die vorige Blanke bewind totaal vir dit verantwoordelik en moet blankes nou aan ‘n skuldkompleks begin lei ? Is dit inderdaad nie die gevoelg van ‘n onbevoegde swart regering op alle gebiede wat die land tot feitlik rommelstatus met ellendige gevolge vir sy inwoners, met ‘n beraamde,na bewering 14% van die blanke bevolking wat ‘n plakkersbestaan voer.

Moet ons dan nie medelyde betoon nie,natuurlik as Christene bewys ons barmhartigheid
aan minder bevoorregtes, maar dit is nie nodig om met ‘n skuldige gewete rond te loop nie,soos die liberales so graag verwag.

Stephan de S ·

n Goeie artikel met baie waarhede en met opregtheid geskrywe. In sy ontleding van die oorsaak van armoede mis hy egter n deurslaggewende insig. Hy se dat ware vryheid die grootste verlosser van armes is. Hy se egter nie dat ware vryheid net volg op beskawing nie. Bekawing : beskaafde mense onderwerp die natuur……n voorvereiste vir rykdom……onbeskaafdes aanbid die natuur. L.g. se noodwendige gevolg is stagnasie en isolasie. In die R S A het twee geweldige struggles plaas gevind nl. die een om onbeskaafde stagnasie te verbreek en die ander een om hierdie proses in die wiele te ry. As ons n balansstaat moet opstel oor verliese en bates in hierdie proses kan dit nogal verbaas. Feit is rykdom kom nie sonder lees en skryf nie sonder losbreek uit verstarde tradisies gevorm in aanbidding van natuur en voorvaders nie deur kulture wie se tale nie eers werkwoorde in die toekomstige tyd besit nie. Die waarheid maak vry….voordat ons nie die waarheid aangaande die verlede ten volle verreken en erken bly n sinvolle debat met hoop ons ontwyk.

Ken2 ·

Die meerderheid was nie in hierdie land onderdruk nie, daar was aan hulle hul eie lande gegee, selfregering. Al waar hul regte ingeperk was was in ons dele.

Boshond ·

Ek waardeer Daniēl se standpunt en stem grootliks met hom saam. Maar ek sou dit wou saamvat in ‘n kort opsomming nl.
SA se mense is deur apartheid opgeneuk. Die ANC het die mense verder opgeneuk en sommer in die proses, die land ook.
Ten laaste, my stelling; die Afrikaan, en daarby bedoel ek die tradisionele bewoner van Afrika het sosialisme in sy gene. Dit is Afrika en spesifiek SA se grootste struikelblok teen vooruitgang en voorspoed.!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.