Die Rebellie van 1914

Die onderstaande praatjie is deur James Kemp by Buffelsfontein Beesboerdery gelewer tydens ’n herdenking van die Rebellie van 1914 op 15 September.

James Kemp. Foto: Verskaf

Inleiding

As ons oor rebellie praat, moet ons besef dat die gees van rebelsheid al vir honderde jare deel vorm van die Afrikaner se DNS. Dus, voor ons by die Rebellie van 1914 kom, kyk ons vlugtig na enkele ander voorbeelde van rebellies in ons geskiedenis.

Adam Tas

Adam Tas was die voorbok van ’n groep boere wat die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se administrasie aan die Kaap, onder leiding van goewerneur Willem Adriaan van der Stel, as korrup beskou het. Hulle het as Vryburgers bekend gestaan en ’n petisie of ’n “Klachtscrift” opgestel waarin hulle plaaslike ampsdraers daarvan beskuldig het dat hulle magte misbruik deur handelskontrakte toe te ken wat nie hul eie konflik van belange in ag neem nie (klink dit bekend?), en 63 van die 550 Kaapse Vryburgers teken dit. Sonder om die plaaslike amptenare daarvan in kennis te stel, word die petisie direk na die VOC se hoofkwartier in Amsterdam in Nederland gestuur.

Tas word op 28 Februarie 1706 in hegtenis geneem en in kettings na Kaapstad geneem waar hy van opstand aangekla en in die Swart Gat in die Kasteel de Goeie Hoop gegooi word. Die helfte van die ondertekenaars van die Klagskrif was Franse Hugenote en in daardie tyd was Nederland in ’n oorlog met Frankryk betrokke. Die VOC-owerheid (wat natuurlik ’n Nederlandse liggaam was) was bang dat die Vryburgers teen hulle sal draai en Frankryk sal steun en besluit toe om eerder vir Adam Tas en die Vryburgers vry te laat en Van der Stel terug te roep na Nederland.

Slagtersnek

Ons draai die horlosie terug na meer as 100 jaar gelede. In 1815 op ’n plaas naby wat vandag as Somerset-Oos bekend is, besluit ’n boer, Frederick Bezuidenhout om ’n Khoi-Khoi-werker se loon terug te hou omdat hy hom van diefstal verdink. Die werker het Bezuidenhout toe van aanranding gaan verkla by die landdros op Graaff-Reinet. Bezuidenhout is aangekla en het twee keer geweier om voor die hof te verskyn en is toe in sy afwesigheid skuldig bevind en tot een maand tronkstraf gevonnis. Steeds het Bezuidenhout geweier om aan te meld.

In daardie tyd was die Britse regering aan bewind en die Britte wou graag hul gesag oor die Boere aan die Oos-Grens vertoon. Hulle het ’n mag van 12 Khoi-Khoi-soldate onder leiding van ’n wit bevelvoerder gestuur om Bezuidenhout in hegtenis te neem. Hy het hom teëgesit en is deur een van die Khoi-Khoi-soldate doodgeskiet.

Op sy begrafnis het sy broer Johannes Bezuidenhout wraak gesweer en saam met ’n groep vriende het hy ’n opstand teen die Britse regering in die Kaap beplan. Een van hul kamerade, Hendrik Prinsloo, is kort daarna deur ’n mag van 70 soldate in hegtenis geneem. Die rebelle het onsuksesvol probeer om hom te ontset en uiteindelik het die rebelle op 18 November 1815 aan die Britse mag by Slagtersnek oorgegee. Johannes Bezuidenhout het hom verset en is doodgeskiet. Die ander is in hegtenis geneem en voor die hof gedaag. ’n Minder bekende feit van die Slagtersnek Rebellie is dat van die rebelle ook na Robbeneiland gestuur is. Altesaam 32 rebelle is uit die Oos-Kaap verban en ses van die rebelleleiers word op 20 Januarie 1816 ter dood veroordeel op ’n klag van hoogverraad. Een rebel, Willem Krugel, word later deur die Kaapse goewerneur, lord Charles Somerset, begenadig.

Op 9 Maart 1816 word Hendrik Frederik Prinsloo, Stephanus Cornelis Bothma, Cornelis Johannes Faber, Theunis Christiaan de Klerk en Abraham Carel Bothma in die openbaar gehang.

Vier van die vyf galgtoue het gebreek en die omstanders het gesmeek dat die mans begenadig moet word. Hulle het gesê God wys die laksman tereg, maar die Engelse offisier het bloot beveel dat die mans weer gehang moes word.

Die Maritz-rebellie

Ons draai die horlosie 86 jaar vorentoe. Op 31 Mei 1902 word die Vrede van Vereeniging in die Melrose Huis in Pretoria onderteken. Die Boeregeneraals en hulle medestryders lê hul wapens neer. Die dag voor die ondertekening van die Vredesverdrag sê generaal Jan Smuts die volgende:

Broers, ons het besluit om tot die bittere einde te staan; laat ons soos manne erken dat daardie einde vir ons gekom het, in bitterder vorm gekom het as wat ons ooit gedink het. Vir ’n ieder van ons sou die dood ’n soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Maar ons buk voor Gods wil. Die toekoms is duister; maar ons sal die moed, die hoop, die vertroue op God nie prysgee nie.”

Twee van die ondertekenaars aan Boerekant is generaal Koos de la Rey en kommandant-generaal Louis Botha. Op dieselfde dag, presies agt jaar later, kom die Unie van Suid-Afrika tot stand met Louis Botha as die eerste minister van die nuwe bedeling. Die bitterheid onder Afrikaners loop steeds hoog – in daardie tyd was dit nie oumas en oumagrootjies wat in die Britse konsentrasiekampe tot sterwe gekom het nie, maar ma’s, susters en dogters.

Dit was iemand saam met wie jy voor die oorlog ’n huis gedeel het, iemand wat saam met jou in die stof voor die huis gespeel het of iemand wat op jou skoot gesit het terwyl daar saans boeke gevat is.

Dit was die tyd waarin die “Mislied” ontwikkel is. Op die wysie van God save the Queen het Afrikaners tydens openbare geleenthede die woorde van die Britse volkslied met die volgende vervang:

Ou vriend, sal jy vir my

’n vrag kraalmis laat kry,

vir my kontrei?

Ek sal die prys betaal

as ek die mis kom haal.

Maar dit moet kraalmis wees,

goeie mis en vars!

Daar was dus onder baie Afrikaners bitterheid oor die oorlog en die nuutgeskepte Unie van Suid-Afrika. Daar was selfs meer ongelukkigheid toe Engeland vier jaar later, in 1914, oorlog teen Duitsland verklaar. En boonop van die Afrikaners verwag om wapens op te tel teen hul voormalige bondgenote en vir dieselfde kroon wat vir daardie helkampe verantwoordelik was. En verder nog om Duits-Suidwes-Afrika binne te val.

‘n Kommando rebelle van 1914 nuttig ontbyt te velde. Foto: fak.org.za

Geluide van ’n rebellie het begin opklink.

Op 15 September in 1914 bedank generaal Christiaan Beyers uit sy posisie in die Unie se gewapende magte. Hy en generaal Koos de la Rey reis van Pretoria na Potchefstroom om na alle waarskynlikheid met generaal Kemp te vergader wat ’n bevelvoerder by die militêre kamp daar was. Daar was verskeie padblokkades onderweg na Potchefstroom. Die amptelike rede wat aangevoer is vir die baie padblokkades, is dat die polisie die padblokkades opgestel het om die Foster-bende vas te trek.

Die bende het banke, juwelierswinkels en drankwinkels beroof. Die generaals was skepties oor die padblokkades en het die vermoede gehad dat hulle dalk verhoed kan word om by Kemp uit te kom. Beyers het die motorbestuurder opdrag gegee om deur die padblokkade te ry en nie te stop nie. By Langlaagte het hulle weer geweier om te stop en die polisie het op die voertuig gevuur. ’n Opslagkoeël het generaal Koos de la Rey getref. Sy laaste woorde was: “Dit is raak Chrisjan”.

Kort na generaal de la Rey se begrafnis het generaals Christiaan de Wet, Christiaan Beyers, Jan Kemp en Manie Maritz besluit dat dit genoeg is.

Die meeste bevelvoerders, en ander deelnemers aan die rebellie, het eers uit hul posisie in die Uniemagte bedank. Een soldaat, kaptein Jopie Fourie, het egter nie. Sy motivering vir deelname aan die rebellie kan opgespoor word in ’n lewenskets uit die pen van JM de Wet:

Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie. Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan… en wanneer ek dink aan die 30 000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet help om sy eer omhoog te hou nie. Ek weet dat die regering my as ’n rebel beskou en in my teleurgesteld is. Ook is ek teleurgestel in die regering wat ek gehelp op die been bring het en waarvoor ek my bloed opgeoffer het… Wat ek gedoen het, het ek met oop oë en uit eie vrye oortuiging gedoen. Selfs is ek tot vandag toe nog oortuig dat God die onreg nie sal gedoë nie…”

Generaal Maritz was ’n bevelvoerder op die grens van die Duitse kolonie. Maritz is deur die Uniemagte beveel om met sy soldate in die rigting van Duitswes te beweeg. Hy het geweier. Toe word hy opdrag gegee om bevel af te staan. Weer het hy geweier. Toe word hy na Pretoria ontbied en weer het hy geweier. Maritz en sy magte het Keimoes beset. Hy is tien dae ná die besetting in die knie geskiet en na Duitswes geneem. Dit was op 22 Oktober 1914.

Die rebelleleiers word een ná die ander vasgetrek of verslaan. Generaal Christiaan de Wet word op 30 November 1914 op die Waterbury-plaas naby Vryburg in hegtenis geneem. Generaal Beyers verdrink terwyl hy poog om die Vaalrivier oor te steek. Generaal Kemp het homself later aan die Uniemagte oorgegee. Op Geloftedag in 1914 word Jopie Fourie by Nooitgedacht vasgetrek. Jopie en sy manne het nie ’n kans gestaan nie – vir elke rebel was daar 10 Unietroepe.

Kom ons kyk wat met elkeen van hulle gebeur het. Onthou, generaal De la Rey is nou dood. Generaal Beyers is ook dood. De Wet is ’n vonnis van ses jaar en ’n boete van £2 000 opgelê. Hy is aangehou by die ou Fort wat vandag die Grondwethof in Johannesburg is. Ná ses maande in die tronk is hy begenadig en vrygelaat. Generaal Kemp is tronkstraf opgelê, maar in 1916 vrygelaat. Generaal Maritz het dit tot in Duitswes gemaak, hy het daarna uitgewyk na Angola en daarna na Portugal en Duitsland gegaan. Ons gaan later kyk wat verder met generaal Maritz gebeur het. Ons kyk eers na Jopie Fourie. Onthou, hy is op Geloftedag (16 Desember) gevange geneem.

Die aand van 19 Desember word hy in kennis gestel dat hy met sonsopkoms doodgeskiet sou word met dié woorde: “Joseph Fourie, you are to be shot at daybreak”. Hy word daardie nag ’n ruk lank bygestaan deur ds. Neethling en ds. Bosman. Later begin hy briewe skryf. Hy skryf aan sy geliefdes, hy skryf sy testament en later skryf hy ’n brief aan die eerste minister, generaal Louis Botha. Hy spreek hom onder meer aan as generaal van die Britse troepe en die minister van Brits Suid-Afrika.

Die brief lui as volg:

Ek wil u om vergifnis vra indien ek teen u gesondig het. Ek gaan weg en… Oom Louis u stuur my. Ek hoop u voel nou lekker oor al die smarte wat u my familie aangedoen het. Groete aan generaal Smuts. Ek wens u beide ’n lang lewe toe, ja, so lank dat u die einde kan beleef van die boom wat u nou plant, en as die vrugte soet is, u daarvan kan proe. God red u siel en maak u hart week voor u volk. U getroue soldaat, Jopie Fourie.”

Wat word bedoel met daardie verwysing na die boom wat geplant word? Die antwoord daarop kan gevind word in ’n brief wat hy ’n paar uur tevore aan sy kamerade geskryf het. ’n Uittreksel uit daardie brief lui as volg:

Getroue Afrikaner-vriende en -vriendinne. Wanneer u hierdie brief ontvang, is Jopie by sy Hemelse Vader. Om vyfuur vertrek ek van hier op die reis na die ewigheid met die getroue Leidsman en Vriend Jesus. Ek het veel om u almal te bedank. Die boom wat geplant is en wat met my bloed natgemaak word, sal opgroei tot ’n groot boom en sal heerlike vrugte voortbring.

Die volgende oggend is Jopie Fourie deur ’n vuurpeloton doodgeskiet. En daardie boom wat natgemaak is deur sy bloed, het vrugte na vore gebring. En generaals Botha en Smuts sou daardie vrugte proe. Vanuit hul eie party, die Suid-Afrikaanse Party, het hulle begin kritiek kry dat hulle hul Afrikanerbeginsels versaak het. Die breër Afrikanerbevolking het daardie sentiment begin eggo. Een van Botha en Smuts se voormalige partylede, Generaal JBM Hertzog, het hul felste kritikus geword en ’n nuwe party, naamlik die Nasionale Party gestig, en in 1924 neem hulle met die steun van die Arbeidersparty die regering oor. In daardie selfde jaar keer generaal Manie Maritz terug na Suid-Afrika en word in hegtenis geneem. Hy word skuldig bevind aan hoogverraad en drie jaar tronkstraf opgelê. Kort ná sy vonnisoplegging kom Hertzog egter aan bewind en begenadig hom en sê generaal Maritz sal net drie maande van sy vonnis uitdien.

Dit was ’n tragiese deel van ons geskiedenis. ’n Deel van die geskiedenis waartydens ons vier generaals, vier helde van die Anglo-Boereoorlog verloor het. Twee van hulle, De la Rey en Beyers is aan die dood afgestaan en twee van hulle, Smuts en Botha aan iets veel erger as die dood. Hulle name is as’t ware uit die heldeboek van die Afrikaner verwyder.

’n Goeie illustrasie hiervan sien ons in ’n staaltjie oor ’n predikant wat by geleentheid bid en sê: “Here, ons dank u vir ’n leier soos president Paul Kruger, ons dank u vir ’n bevelvoerder soos Andries Pretorius, ons dank u vir ’n held soos generaal Jan Smuts…” Hy bly ’n oomblik stil en aarsel voor hy verder gaan: “… tot 1910.”

Die Afrikanergeskiedenis het ’n manier om met mense te handel wat die knie buig – of dit voor die Union Jack, die BLM of die EFF is. Die geskiedenis het ’n manier om daardie mense uit die heldeboeke te verwyder. Dit is jou keuse of jy, in hierdie tyd, die knie gaan buig of bereid sal wees om te staan – al is dit ook voor ’n spreekwoordelike vuurpeloton.

Dit is jou keuse of jy die geskiedenis wil herhaal of geskiedenis wil maak.

Ek sluit af met Jopie Fourie se laaste woorde:

Hier is ’n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls te ontvang… so seker as ek u hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met sy dierbare bloed vir my sonde versoening gedoen het; en dat Hy nou kom om my by die hand te neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons, ons kan Hom voel…”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Therese ·

Pragtige stuk wat hartseer maak.
Die tragiese verloop van die Slagtersnek Rebellie van 1815 is nét so ‘n skandvlek op die Britte as die Konsentrasiekampe en Verskroeide Aarde-beleid van 1902.

Anoniem ·

Baie baie interessant Eerste keer datn ek hierdier geskiedenis lees en dit lê my baie na aan my hart

Kobus ·

Regter Lang het die Rebelle elk ‘n geweldige vonnis opgelê, sodanig so dat hul nooit uit hul skuld teen die staat sou kom nie. Hy het eintlik hul lewensreg weggeneem, so byvoorbeeld kry Generaal de Wet 7 jaar tronkstraf en ‘n 1000 pond boete.
Kort nadat hy sy laaste vonnisse uitspreek ontneem die Allerhoogste Lang sy lewe en hy sterf skielik om drie dae na die laaste vonnisoplegging begrawe te word.
Dan kom die volk en samel geld in en betaal die rebelle se boetes.
Ons dien ‘n God van Geregtigheid, weereens sal dit wees dat kort na alle geregtigheid ons ontneem word Hy weer Geregtigheid sal bewerk.

annie ·

… dns van rebelle… ons het eerder baie teenstand beleef en moes ongelooflik baie struikelblokke oorbrug wat eerder dui op moed en durf. Waarom onsself afkraak as rof en wild en voortvarend of ryg ons deesdae ons derms uit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.